Filmresensie: Vir die voëls

  • 0

vir-die-voels_200

Film: Vir die voëls
Regisseur: Quentin Krog
Spelers: Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Elize Cawood, Nicola Hanekom

Vir die voëls het vier maande gelede afgeskop met ’n amper perfekte lokprent. Dit het my hardop laat lag, maar ook laat wonder of die vollengte rolprent so goed soos die lokprent sou wees. Die antwoord? Ja. Regisseur Quentin Krog en sy formidabele span akteurs, skrywers, ens, het hulleself oortref.

Simoné Nortmann (Irma) en Francois Jacobs (Sampie) is verbysterend in die hoofrolle – of die toneel nou komedie, drama of trane verg, hulle stel nie teleur nie. Veral Simoné se comedic timing is foutloos, maar as sy hartseer is, ruk dit jou.

Ek hoef niks te sê oor Elize Cawood en Nicola Hanekom nie. Hulle steel elke toneel. Magtag.

Die kamerawerk is uitsonderlik. (Die reël deesdae vir Suid-Afrikaanse films.) Die stilering is eksak. Van Sampie se hempies is iets om oor huis toe te skryf. Die simboliese gebruik van verskillende voëls, sigarette, ens, is innemend.

Die grootste verrassing is egter die ernstige temas wat aangeraak is. Ja, Vir die voëls is uiters geslaagd as ’n komedie, maar net so oortuigend as ’n drama wat temas soos die grensoorlog, drankmisbruik en geweld binne die gesin aanspreek. Een van die ontroerendste tonele is waar Sampie vir Irma sy grensoorlogdroom oorvertel. Verwag dus om te lag en te huil.

Die gebruik van die Fourth Wall-tegniek werk goed. (Irma kyk direk na die kamera en spreek die gehoor aan. Die ander karakters is onbewus daarvan en van wat sy sê.) Daar is twee goed wat bydra tot die sukses daarvan – ’n goeie draaiboek en ’n oortuigende vertolking. Daar skort niks met die draaiboek nie, maar dit is Simoné se vertolking wat dit laat werk, wat dit nie vreemd laat voel nie. Mens hang aan haar elke woord.

Dit is nie ’n perfekte film nie. Daar is vir my twee probleme. Een, net soos Noem my Skollie is die film heeltemal te lank. Na die eerste 100 minute het ek begin rondskuif in my stoel. Teen 120 minute het ek gewens die film wil net klaarkry. Dit maak afbreek aan als wat goed is aan die film. Sny die lang, stadige skote, of sny tonele wat hulself herhaal, maar sny asseblief. Dié spesifieke film moes nie verby 100 minute gegaan het nie.

Die tweede probleem is die behandeling van Irma se ouers. (Hier mag dalk ’n paar spoilers voorkom, so hou op lees as jy niks van die verhaal wil weet nie.) Ivan, ’n volslae alkoholis, rand Irma se ma deurgaans aan. Irma loop self later deur. Irma se ma kies haar man bo haar dogter en Irma vat die pad na haar ouma toe (’n perfekte Elize Cawood). Dié scenario lei dan tot Irma se koue voete (en behoort die spilpunt van die film te wees, en nie die liefdesverhaal nie).

Die week voor die troue daag Irma se ouers op. Jare en jare se trauma en verraad word dan in ’n oogwink vergewe en vergeet. Irma se pa, ’n beneukte, hardegat chauvinis, vroueslaner en alkoholis, gee oornag alkohol op sodat hy haar by die troue kan afgee. Ek weet dit is ’n komedie, maar as Sampie se genesing na die grensoorlog in soveel detail en met groot sorg hanteer is, kon hierdie faset ook meer aandag gekry het.

Dit bring my by Irma se ma, Alta. Die feit dat sy haar aggressiewe, alkoholis man bo haar onskuldige dogter kies, en bly kies tot aan die einde, word nooit aangeraak nie. Ten spyte van Nicola Hanekom wat soveel emosie en breekbaarheid na elke toneel bring, maak die draaiboek ook van haar ma ’n eendimensionele karakter.

Ek gee die film 7 uit 10.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top