Filmresensie: Vergeet my nie

  • 3

Vergeet my nie is, wel, vervelig. (Ek wou eintlik sê vergeetbaar, maklik om te vergeet, of iets in dier voege, maar het myself gelukkig in toom gehou.) Die flou kamerawerk, die eentonige klankbaan, die stomp dialoog, die narratief is als, wel, vervelig. So ook die lokprent en die plakkaat. Die film is boonop amper twee uur lank.

Goed, ek weet ek vergelyk dit met Huisgenoot se eerste film, Vir die voëls, wat besonders was – van die uitstekende lokprent tot die humor, toneelspel, boeiende agtergrondstories, ens. Hoekom nié die twee films vergelyk nie? Huisgenoot behoort mos van krag tot krag te gaan met hul films? En nie bloot ʼn volgende film vry te stel omdat die eerste een byna tien miljoen gemaak het nie?

Vir die voëls het weldeurdag oorgekom, asof dit met groot moeite aanmekaar gesit is met ʼn klem op emosionele diepte. Daarteenoor voel dit asof Vergeet my nie aanmekaargeflans oor ʼn naweek, ʼn made for TV-film, ʼn geldmaker wat die volk sal vermaak en dus nie veel vleis aan die been hoef te hê nie. Vir die voëls, daardie rare kombinasie van ʼn besonderse film wat ook uiters goeie vermaak is, het nie sy kykers so onderskat nie. Dit sal interessant wees om te sien of Huisgenoot se tweede film finansieel so suksesvol gaan wees soos hul eerste.

Vergeet my nie se snellerpunte is ooglopend en dus onoortuigend – Hugo wat “Lisa se klavier” sing en dan die ou in die kroeg wil klap; die bakleiery oor die Ministry of Sound-konsert; Mardaleen se jaloesie op Thea; Mardaleen se werksaanbod in Kaapstad. Jy sien dit op ʼn myl aankom.

Al die tonele tussen Mardaleen en die Britse skrywer Vivian (Fiona Ramsey) was stereotipies en stroperig. Cringeworthy, soos die Engelse sê.

Die enigste interessante aspek van die film is Sean-Marco Vorster wat geobjektiveer word. Hy is meestal hemploos, maar ook persoonlikheidloos.

Vergeet my nie is ʼn vervelige, haastig-aanmekaargeplakte film, waarvan die enigste doel was om geld te maak.

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Hoeveel van ons Afrikaanse films is iets waarop mens trots kan wees? Weinig. Dit gaan met Afrikaanse films soos dit gaan met Afrikaanse musiek. Dit is by uitsondering van goeie gehalte. Yl gesaai. En elke keer gaan martel ons onsself maar net weer omdat ons tog ons eie wil ondersteun.

  • Avatar
    Reney Warrington

    Ons filmindustrie is nog jonk, so ons moet vrot eiers te verwagte wees. Ek dink wil die standaard het baie verbeter. Poppie Nongena wat tans wys is meesterlik, en Toorbos wat in Mei uitkom is 'n belewenis. Ek sal aanhou plaaslike films ondersteun en maar my (subjektiewe) opinie lig oor die minder goeie inskrywings.

  • Avatar
    Maria-Magdalena van Vuuren

    Ek stem heelhartig saam. Onwillekeurig wil en sal en mag jy “VMN” met “Vir die voëls” vergelyk. Die akteurs se projeksie is regtig ongelukkig twyfelagtig. Alle fliekgangers kla dat die film skynbaar “te sag” vertoon word. Nadere betragting bring die gebrek aan duidelike uitspraak en projeksie na vore.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top