Two days, one night
Frans met Engelse onderskrifte
Regisseurs: Jean-Pierre en Luc Dardenne
Spelers: Marion Cotillard, Fabrizio Rongione, Batiste Sornin
In ’n fliekjaar wat tot dusver maar bedroewend was, wys daar in die volgende maande ’n paar goeie Europese films by die Cinema Nouveau-teaters. Hierdie fliek deur die bekende Dardenne-broers, Jean-Pierre en Luc, is die eerste daarvan.
Sandra (Marion Cotillard) was vir vier maande met siekverlof weens depressie. Op die Vrydag voor sy Maandag moet teruggaan werk toe, hoor sy dat die bestuurder haar medewerkers voor ’n keuse gestel het: Sandra verloor haar werk of hulle verloor hul jaarlikse bonus. Veertien van die sestien stem vir laasgenoemde, maar deur die teenstemmers se bemiddeling stem die bestuurder in tot ’n tweede stemming op die Maandag, dié keer ’n geheime stemming. Sandra het twee dae om haar kollegas te probeer oorreed tot ’n stemming ten gunste van haar, en in dié tyd word ’n hele wêreld van verbintenisse en onderstrominge geleidelik blootgelê.
Two days, one night is ’n “klein groot film”. Op die oog af is die gebeure herhalend en ook maar neerdrukkend, maar die kyker word geleidelik ingekatrol, en na die einde toe loop die trane. Dit wat ons in Suid-Afrika as armoede en deprivasie ken, is op die letterlike vlak soveel erger, maar alles lê op ’n glyskaal en mense bly mense – die eienskappe van hardvogtigheid en deernis ook.
Marion Cotillard se ingehoue, onderbeklemtoonde spel, wat haar vanjaar ’n Oscar-benoeming as beste aktrise besorg het, maak hierdie film al die kyk werd. Dit word van harte aanbeveel vir kykers wat meer soek as uiterlike aksie en groot fanfare – op ons kringloop is dit immers skaars genoeg.
Sterre: 4


