Draaiboek: Deborah Davis en Tony McNamara
Regie: Yorgos Lanthimos
Akteurs: Olivia Colman, Rachel Weisz, Emma Stone, Nicholas Hoult, James Smith
Hierdie fliek is loshande my favourite om vanjaar se Oscar-wenner te wees: in die kategorieë beste film, oorspronklike draaiboek, regie, kinematografie, aktrise (Olivia Colman, gelykop met Glenn Close vir The wife) en beste vroulike byspeler (Emma Stone).
En as dit sou lyk soos ’n uitvloeisel van #MeToo – ’n film wat fokus op drie vroue terwyl die mans net daar is vir versiering (letterlik, met daai oordadige pruike en grimering) – het dit in werklikheid andersom gewerk. Deborah Davis het die eerste draaiboek al 20 jaar gelede geskryf, terwyl regisseur Yorgos Lanthimos die projek reeds in 2008 aanvaar het. Dus is dit ’n film wat sy tyd moes afwag (met meer as ’n sweempie van soete wraak?).
Die historiese agtergrond is in hooftrekke korrek: die verhaal speel af in ongeveer 1708 aan die hof van die Britse koningin Anne (gespeel deur Olivia Colman), maar die eintlike mag agter die troon is haar ou vriendin lady Sarah Churchill (Rachel Weisz). Wanneer Sarah se verarmde familielid Abigail Hill (Emma Stone) by die paleis opdaag, sien sy gou ’n gaping om die sieklike koningin se guns te wen. Die stryd wat volg, is van titaniese afmetings. Wie wen? Die een wat laaste bly staan, natuurlik.
Wees gewaarsku: Hierdie fliek is satire en dis brutaal. Dis ook absoluut oorspronklik en eenvoudig briljant.
Sterre: 5