Filmresensie: Pain and glory

  • 0

Antoinio Banderas Asier Etxeandia in Pain and glory (Foto: Manolo Pavón en Nico Bustos)

Die nuwe Pedro Almodóvar-film, Pain and glory, vertel die verhaal van die regisseur en filmlegende, Salvador Mallo (Antonio Banderas). Salvador ly aan verskeie kwale wat op die ou einde veroorsaak dat hy nie meer films kan maak nie. 

Fisiese en emosionele pyn veroorsaak dat hy in ’n siklus van depressie verval. ’n Toevallige ontmoeting met ’n aktrise laat Salvador een van sy oud-kollegas, Alberto (Asier Etxeandia), opsoek. Hulle het vervreem geraak as gevolg van Alberto se dwelmverslawing en omdat Salvador glo hy het sy regie ignoreer in Sabor (rofweg vertaal as “proe/geur”), 32 jaar tevore ─ wat die film se boodskap soos Salvador dit wou hê, verander het. 

Alberto is steeds ’n dwelmgebruiker en soek ’n kans om weer op die verhoog te skitter. Ongelukkig is Salvador se risiko om in verslawing te verval, baie hoër as Alberto s'n en hul nuutgevonde vriendskap maak Salvador inderdaad afhanklik van heroïene, pynmedikasie en alkohol.

By ’n vertoning van hul gerestoureerde film, drie dekades ná uitreiking, daag die twee nie op nie, maar bly eerder tuis en gebruik heroïene. Maar daar kry Salvador die geleentheid om voor ’n groot gehoor vir Alberto te laat verstaan hoe hy sy verraad van 32 jaar tevore ervaar.

Hul nuutgevonde vriendskap ly amper skipbreuk, maar nadat Alberto ’n persoonlike monoloog op Salvador se skootrekenaar sien, oortuig hy vir Salvador om hom toe te laat om dit as ’n eenman-vertoning op te voer. Salvador stem in, op voorwaarde dat hy nie as skrywer gelys word nie. 

Hierdie eenvoudige aksie het ’n reeks gebeure tot gevolg. Dit lei tot ’n merkwaardige en baie teer herontmoeting wat afspeel in die vroeë tagtigerjare midde-in die seksuele- en dwelmvryheid wat saam met demokrasie gekom het, ná die val van generaal Francisco Franco.

Genesing begin stadig maar seker in Salvador se lewe plaasvind.

Salvador is ook regdeur die film te sien in Almodóvar se kleurvolle hemde en skoene. Baldadige rooi, groen, oranje en geel word nie net in kleredrag nie, maar ook in naelpolitoer, kombuisgereedskap en kunswerke uitgebeeld en skep onbewustelik die atmosfeer nog voor die dialoog begin.

Banderas groei en krimp saam met die storielyn en vang sodoende die karakter se sterk- en swakpunte perfek vas. Dis een van die beste vertonings wat ek nog van Banderas gesien het. Sy vermoë om ineen te krimp van pyn en amper as kluisenaar te leef maar op ander plekke sy selfvertroue en sin vir humor terug te kry, is verbysterend.

Die film het twee storielyne: Die hede, waarin Salvador en Alberto hulle vriendskap hervat en eersgenoemdeaan heroïene, pynmedikasie en alkohol verslaaf raak wat hom dieper in ’n wêreld van herinneringe laat verval; en die terugflitse, waaruit die tweede storielyn voortspruit. Die terugflitse onthul geleidelik hoe Salvador en sy ma, Jacinta (Penélope Cruz), as jong vrou tydens sy kinderjare in ’n armoedige, grotagtige huisie gebly het. 

Julieta Serrano lewer ’n puik vertolking as Salvador se ma in haar tagtigs en verklap kort voor haar dood dat hy nooit ’n goeie seun was nie. 

Dié toneel is hartverskeurend, veral in ag genome hoe na aan sy ma hy is; hoe onselfsugtig hy na haar belange omsien. En ook omdat die terugflitse na sy kinderdae baie min interaksie met sy pa uitbeeld.

’n Mens wonder deurgaans of die film totaal outobiografies is, want daar is vele ooreenkomste tussen Salvador se karakter en Pedro Almodóvar: van die kleredrag; die effe opstandige haarstyl en baard; tot die feit dat albei as jong seuns na ’n kloosteragtige skool gestuur is in die hoop dat hulle priesters sou word. 

Maar jy hoef nie ’n Almodóvar-kenner te wees om die film se impak oor aanvaarding, versoening en die wonderlike genesing wat vergifnis bring te geniet nie.

In ’n onderhoud in September by die Lincoln Sentrum in New York ná die film daar vertoon is, het Almodóvar gesê hy dink sy hele biografie is vertel in die 21 films wat hy voor hierdie een gemaak het. Maar dat hy baie vaal voorgestel word want soms staan hy agter karakters ─ ’n vrou of mense wat nie eers filmregisseurs is nie. Dit is die eerste maal wat hy homself as verwysing noem en na binne kyk met alle navorsing.

“Dis nie ’n outobiografie nie, maar ek word uitgebeeld in ’n meer intieme manier. Ek wil hê die kyker moet geraak word deur die film; ongeag of hy dink dis my outobiografie of nie. As skrywer is daar altyd fiksie gemeng met jou eie ervaringe. Realiteit verdwyn later in jou teks,” het hy in die bespreking vertel.

Jy kan ook nie die gevoel afskud dat baie van Salvador se pyn iepiekonders is nie. Jy wil amper jou geduld en simpatie met hom verloor ─ tot hy en sy sekretaresse en (enigste) vriendin by die dokter beland. Dit is egter opmerklik dat hy ligter en makliker beweeg ná ’n reeks gebeure en daarmee bedoel ek nie sjirurgie nie.

Hierop het Almodóvar gesê dat Salvador se eintlike pyn die feit is dat hy nooit weer films sal maak nie; dat sy verslawing nooit regtig dwelms word nie, maar eerder die begeerte om films te maak. “Die neem van heroïene op sy gevorderde ouderdom, is ’n vorm van selfmoord. Die ommekeer kom met sy ontvangs van ’n waterverfskildery, wat hom skielik na sy kinderdae terugruk.”

Leon van Nierop se resensie som dit mooi op: “Die doel van pyn ─ dus die verstaan van jouself deur jou emosies in film te verwerk, vorm nog een van die temas in hierdie aandoenlike, verbluffende kommentaar op die krag van film en huldeblyk aan menswees.”

Dié film is Spanje se amptelike Oscar-inskrywing vir die Buitelandse Rolprent-afdeling en het reeds twee toekennings ingepalm by die Cannes-filmfees vir Beste Akteur (Antonio Banderas) en Beste Komponis (Alberto Iglesias).  Die Oscar-nominasies word op 13 Januarie 2020 bekendgemaak en die amptelike Oscar-geleentheid vind op 9 Februarie 2020 plaas. 

Dit het beslis my stem: nie net vir die keurige kinematografie en fyn Almodóvar-uitmuntendheid wat daardeur vervleg is nie, maar vir die ongekende emosie wat die film by my ontlok het. Daar is soveel pyn opgesluit in eenvoudige handelinge of woorde van mense wat die persoon langs jou laat ineenkrimp sonder dat jy eers daarvan bewus is. 

Dié pyn lei mense op donker paadjies na selfvernietiging.

Vyf sterre ook vir Antonio Banderas wat jy aan die einde van die film teen jou hart wil druk.

Kyk die lokprent hier: 

Genre: Drama 
Regisseur: Pedro Almodóvar  
Met:Antonio Banderas, Asier Etxeandia, Leonardo Sbaraglia, Penélope Cruz, Julieta Serrano        
Lengte: 124 minute
Vrystellingsdatum: 6 Desember 2019

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top