Filmresensie: Moffie

  • 1

Moffie
Met Kai Luke Brummer en Ryan de Villiers
Regisseur: Oliver Hermanus
Geïnspireer deur André-Carl van der Merwe se roman

Dit is noodsaaklik dat die homofobie, indoktrinasie en brutaliteit teen homoseksuele in die apartheidsweermag ontmasker word. Christiaan Olwagen het dit geslaagd in Kanarie (2018) gedoen, en nou word dieselfde onreg in ’n ander gedaante aangespreek. Jong mans is gebreinspoel en is selfs dood in hul stryd om hul seksualiteit te aanvaar. Dié rolprent gee aan hulle ’n stem.

Alhoewel Moffie gedeeltelik daarin slaag om sy noodsaaklike boodskap tuis te bring, is daar gebreke wat aangespreek moet word. ’n Mens moet versigtig wees om nie goeie bedoelings sodanig te bewonder dat euforie daaroor die film verdrink nie.

Die spel is grootliks professioneel. Kai Luke Brummer is oortuigend as ’n jong man wat gedurende sy militêre opleiding bewus raak dat hy homoseksueel is. Hy word geviktimiseer, gebreinspoel, verneder en geterroriseer. Dit is prysenswaardig dat Nicholas van der Swart (Brummer) hierdie geestelike aftakeling beveg en oorleef het.

Ryan de Villiers lewer ook ’n bekwame vertolking as Dylan, ’n ambivalente karakter wat ’n stewige invloed op die weerlose Nicholas gehad het en ’n nugtere en menslike perspektief na sommige tonele bring.

Die rolprent lê egter nie altyd genoeg klem op die brutale militêre sisteem en onmenslik-uitputtende opleiding nie. Die akteurs oortuig ook nie altyd as fikse, opgeleide troepe nie. Boonop is hul netjiese hare nie gesny nie, wat nie sin maak nie. Deel van die aftakelingsproses was juis om almal gelyk te maak deur hul hare tot op die skedel af te skeer. Sodoende is die indoktrinasie en die ontkenning van individualiteit en seksualiteit gesmoor. Gruwelik.

Natuurlik word die rolprent uit ’n gayperspektief vertel sodat die gay gaze prominent is. Dit werk egter net gedeeltelik, want ongelukkig ontaard die rolprent soms in ’n blote verheerliking van die manlike liggaam sonder genoegsame subteks, veral wanneer karakters bloot poseer en die narratief onderbreek.

’n Voorbeeld is die lang vlugbalspelery wat lyk na ’n nabootsing van die homoërotiese toneel uit Top Gun (1986). Dit vervlak die storie, omdat die aandag te lank afgetrek word deur mooi manne wat lyf wys. Toegegee, dit word uit Nicholas se lus-word-perspektief vertel, maar word steeds oorbeklemtoon ten koste van temas soos oorlewing in ’n brutale militêre sisteem en die ontginning van die innerlike gaylandskap.

Die rolprent het ook spore van Beau travail (1999) in die idealisering van die gespierde manlike liggaam. Die kuns is juis om nie ten koste van die gang van die storie te verlief te raak op die manlike torso nie. Dit is nodig, maar moet gejukstaponeer word met die uitmergelende militaristiese opleiding, wat nie altyd hier gebeur nie. Sulke tonele neig om langdradig en selfverheerlikend te raak en die impak te skaad.

Nog ’n klagte. Die Engelse aksent en lig-in-die-broek-uitbeelding deur Hilton Pelser as sersant Brand pla. Waar hierdie gesagsfigure brutaal vreesaanjaend was (vergelyk Kanarie se korporaal), is dié sersant sonder persoonlikheid en boesem nie vrees in nie.

Geslaagde tonele sluit in die konfrontasie met terroriste later in die rolprent, asook die slaapsaktoneel, waar Van de Swardt opnuut bewus raak van sy aantrekking tot mans met gepaardgaande gewetenswroeging. Knap gedaan.

’n Toneel wat egter uit die toonaard van die film val, is die lang staptog van die adolessente Nicholas na ’n badkamer waar hy ’n kaal man sien. Hoekom so lank en van agter verfilm?

Maar uiteindelik moet ’n mens die vervaardigers en regisseur loof dat ’n genre wat gruwelik in Afrikaanse rolprente verwaarloos en gestereotipeer is, naamlik die LGBTQ+-film, hiermee aandag geniet. Dit wys net weer hoe menseregte, spesifiek gayregte, misken en vernietig is.

Dis ook onverstaanbaar dat Andre-Carl van der Merwe se 2005-roman, waarop die rolprent gebaseer is, so ontken en selfs geïgnoreer is in die reklame. Kykers word aangeraai om die roman te lees om die volle prentjie te kry.

’n Naskrif: Eergister in ’n voorportaal hoor ek jong ouens vir mekaar (in Engels) sê: “Jy gehoor die f*** faggots het nou hulle eie movie? Kom ons gaan soek ’n paar van hulle om hulle straight te n***.” Nou ja. Hoe meer dinge verander …

  • EL Brummer is ’n skuilnaam.

Kyk die lokprent hier:

Lees ook:

Internationally acclaimed Moffie is a film about "hurt and shame"

Moffie – an unfinished review

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top