Filmresensie: Military wives

  • 1

Regisseur: Peter Cattaneo
Met: Kristin Scott Thomas, Sharon Horgan, Greg Wise, Jason Flemyng, Emma Lowndes, Gaby French, Lara Rossi, Amy James-Kelly en India Ria Amarteifio
Speeltyd: 115 minute
Ouderdomsbeperking: 13
Suid-Afrikaanse vrystellingsdatum: 20 Maart 2020

Daar word tot vervelens toe films gemaak oor wat met die soldate gebeur wat vir maande in Irak, Afghanistan of Sirië diens doen. En soms is daar klein flitse van die vroue wat tuis wag. Military wives draai die kamera egter heeltemal om en fokus op die vroue wat agterbly, en in hierdie geval dié wat in ’n Britse militêre kamp wag.

Om iets te kry om die vroue mee besig te hou wat darem ook stimulerend en opbouend is, word al hoe moeiliker, veral as nie almal van hekel, boekklubs of tuinmaak hou nie. En as die kaptein se vrou besluit ’n koor moet gestig word, dan sal ’n koor gestig word.

Maar die vroue geniet ’n glas wyn en grappies maak om die spanning te verlig, terwyl hulle wag op mans en vroue wat dalk nooit weer gaan huis toe kom nie, baie meer as stywe kooroefening.

Veral nie as die kaptein se vrou nooit haar pêrels en netjiese klere verruil vir iets ligter en gemakliker nie.

Kate (Kristin Scott Thomas) is die kaptein se vrou. Sy het ’n seun verloor en het soos ’n oester toegeklap. Sy sluit almal uit en is dus nie die gewildste koorleier nie. Lisa (Sharon Horgan) is gemaklik, toeganklik en duidelik die vroue se gunsteling, en daar is vonke en lelike uitbarstings wanneer hierdie twee vroue die koor as persoonlike projek aanneem.

Die film wys ook tussendeur die sielkundige effek van die gewag: die wip van die skrik as iemand aan die deur klop; die vrees as die amptelike motor in jou straat afdraai. Want is hierdie dié nuus dat ’n geliefde in ’n kis huis toe kom?

Die koor vorder egter, ten spyte van menings- en persoonlikheidsverskille, en dinge word op ’n spits gedryf as hulle genooi word om in die Royal Albert Hall te gaan optree vir die Herinneringsdag-konsert.

As jy ’n fliekganger is wie se voet onbewustelik op maat van die musiek saamtik in films soos Calendar girls en The full Monty, is hierdie film beslis vir jou. Dat Peter Cattaneo die regisseur is, behoort al ’n bietjie van die suksesstorie te verklap: hy het weer ware gebeure gebruik om sy hartroerende storie te vertel.

Die film is gebaseer op die verhaal van die koormeester Gareth Malone wat in 2011 ’n groep militêre vroue onder sy vlerk geneem het toe hy aan die BBC-program The choir gewerk het. Navorsing het getoon dat koorsing help om stres en angs te verlig. Dit help ook diegene wat afgesonder of alleen voel.

Die stokperdjie vir ’n klein groepie vroue word toe ’n klein vlammetjie wat vuurtjies regoor die wêreld begin aansteek. Tans is daar meer as 2 300 vroue met een of ander militêre verbintenis in 75 Britse en oorsese kore.

Daar is iets omtrent films wat op ware verhale gebaseer is wat mens ekstradiep insluk, jou emosies soos ’n reusewasmasjien deurmekaar woel en half uitgedroog aan die ander kant uitspoel. Military wives is so ’n film.

Daar is aandoenlike oomblikke wanneer een van die vroue wel haar jong eggenoot verloor; die saamstaan van die ander vroue om haar te ondersteun. Die vroue besluit om ’n liedjie te skryf uit al hul briewe aan hul geliefdes in militêre diens en dan loop die trane.

Die enigste klein klippie in my skoen was die vinnige en oppervlakkige omkeer in die wedywerende verhouding tussen die twee hoofkarakters. Ek weet dit gebeur in die werklike lewe wanneer mense hul skanse laat sak, maar vir die film word dit so vinnig gedoen dat dit geloofwaardigheid verloor en vir my wegneem van die boodskap.

Maar as jy lus is vir ’n goeie huil, met ’n positiewe boodskap, is hierdie beslis die film vir jou.

Kyk die lokprent hier:

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top