Filmresensie: Mank

  • 0

Mank
Met: Gary Oldman en Amanda Seyfried
Regisseur: David Fincher

In Mank se geval is die brokkies geskiedenis rondom die veelbesproke draaiboekskrywer Herman J Mankiewicz se skryfproses amper belangriker as die rolprent self, want ons kry nie eintlik ’n geheelbeeld van die besope draaiboekskrywer nie. Min mense weet seker dat hy om en by 80 draaiboeke geskryf het, maar dat Citizen Kane sy laaste vollengtedraaiboek was, en sy grootste en mees kontroversiële. Hy het sy voet in ’n motorongeluk gebreek, wat nie veel daartoe bygedra het om sy bui te verbeter nie. Dus is die storie in erge pyn geskryf.

Mank moes dus ses weke in die bed in gips deurbring en die draaiboek dikteer, maar was dikwels so besope dat die stomme tikster nie geweet het wat hy dikteer nie. Ten spyte daarvan het hy ’n draaiboek, wat aanvanklik The American genoem is, sukkel-sukkel en drink-drink geskryf terwyl hy whiskybottels gebreek het. Hy was dikwels so dronk dat sy tong erg gesleep het en die woorde onduidelik was.

Mankiewicz het egter baie ervarings gehad voor en terwyl hy die draaiboek geskryf het. Hy het onder andere die reusekasarm van die koerantmagnaat William Randolph Hearst besoek (wat Xanadu in Citizen Kane sou word), rondgeloop op die gronde, wat eintlik ’n reusedieretuin was, en gekyk hoe die magtige miljardêr sy minnares, die siniese Marion Davies (wat ook as ontalentvol in die draaiboek uitgebeeld word), gespeel deur Amanda Seyfried, en die ander mense rondom hom gemanipuleer en verkleineer het. (Charles Dance is meer suksesvol in die rol, terloops.)

Maar die film gaan nie net daarom nie. Dit gaan oor die titaniese geveg van ego’s tussen die Hollywood-wunderkind Orson Welles en Mankiewicz, oor wie krediet vir die draaiboek moet kry. Welles was onverbiddelik, en so ook Mank. Albei se name het toe onder aan die draaiboek op die skerm verskyn, en daar wen hulle albei ’n Oscar vir die teks. Wie het die meeste tot die teks bygedra? Het Welles alles herskryf of net so geskiet?

Daar word nie veel van die eksentrieke, geniale Welles gewys nie, wat jammer is, want ’n mens sou meer wou geweet het oor sy motivering om sy baba aan ’n ander, moeilike en besope draaiboekskrywer te gee. Ook die proses en omstandighede waaronder die grootste rolprent van alle tye vervaardig is, word nie gewys nie, en dit maak Mank eintlik onvoltooid.

Boonop het ek as kyker nie alleen geïrriteerd geraak met die dronk man wat die rolprent domineer en dwarsdeur die verrigtinge vloek, skel en sleeptong praat terwyl hy suip nie, maar meer oor hom as mens te wete te kom. Dit is net wanneer hy ’n vloermoer voor Hollywood se magtigste ateljeebase, soos die wrede Louis B Mayer van MGM, gooi dat hy beïndruk, en hoeveel vyande hy vir homself in die proses gemaak het. Ook die feit dat hy nie wou luister om nie met die magtige Hearst te sukkel nie. Alhoewel die toneel te lank selfverheerlikend aanhou en David Fincher dit oordramatiseer, kan ’n mens nie anders as om jou te verstom aan Mank se domastrante vermetelheid om al die dinge kwyt te raak waaroor hy gepraat het nie.

Mank is ’n onewe, mank, teleurstellende rolprent, en David Fincher is hoeka, soos Welles, Hollywood se wonderkind met films soos Se7en, Fight Club, Gone girl, The social network en The girl with the dragon tattoo agter hom. Die fotografie is atmosferies en die musiek treffend, en sal bes moontlik vele (tegniese?) benoemings kry, maar ’n mens wonder waar al die juigende buitelandse resensies vandaan kom wat die rolprent as die groot Oscar-jagter gedoop het. “Meesterstuk. Manjifiek!” Bah, humbug sê hierdie resensent! En Gary Oldman se vertolking het nie naastenby die nuanse wat sy Winston Churchill in The darkest hour gehad het nie.

Mank, nou op Netflix, is ’n rolprent van verlore kanse. Wat jammer is. Al die materiaal was daar. Dalk het Fincher se ego en magsbelustheid (op stelle) in die pad gekom?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top