Filmresensie: Hotel Mumbai

  • 0

Draaiboek: John Collee en Anthony Maras 
Regie: Anthony Maras
Akteurs: Dev Patel, Armie Hammer, Nazanin Boniadi, Tilda Cobham-Hervey, Anupam Kher, Jason Isaacs

In die laaste paar dekades het terreuraanvalle deur ekstremiste algemeen geword. Een van die opspraakwekkendstes was die “besetting” van Mumbai deur tien Pakistanse Moslem-fundamentaliste in November 2008. Hierdie film konsentreer op een van die brandpunte: die superluukse Taj Mahal-hotel.

Dis opvallend hoe goed die draaiboekskrywers te werk gegaan het, want uit so ’n slagting kan daar sekerlik honderde verhale saamgestel word. Hotel Mumbai begin en eindig met ’n kelner, Arjun, puik vertolk deur Dev Patel. Hy was een van die personeel wat die dinamiese hoofsjef, Hemant Oberoi (Anupam Kher), gehelp het om talle gaste te red deur hulle na The Chambers, ’n eksklusiewe klub diep in die hotel, te neem. Die gaste op wie die verhaal fokus, is ’n Indiese vrou uit ’n skatryk familie (Nazanin Boniadi), haar Amerikaanse man (Armie Hammer), hul baba en sy oppasser (Tilda Cobham-Hervey), en ’n enigmatiese Russiese sakeman (Jason Isaacs).

Seker die treffendste aspek van die film is hoe dit daarin slaag om een van die aanvallers se menslike kant te wys. Vir die duur van die selfmoordaanval was die djihadi’s in selfoonkontak met die opdraggewer, net bekend as die Bul, en transkripsies van dié gesprekke is vir die draaiboek gebruik. Daaruit ontvou die tragiek van hoe skaars geletterde jongelinge uit die platteland gelok word met beloftes van geld aan hul families en hoe hulle tot moordmasjiene geïndoktrineer word.

Hotel Mumbai is ’n uiters relevante film, aangesien ekstremistiese terreur vandag omtrent enigeen op enige tyd kan tref en dit die kyker insig in dié verskynsel gee. Wees egter voorbereid op erg gewelddadige tonele.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top