Downton Abbey
Draaiboek: Julian Fellowes
Regie: Michael Engler
Akteurs: Maggie Smith, Michelle Dockery, Imelda Staunton, Hugh Bonneville, Allen Leech, Lesley Nicol
Die TV-reeks Downton Abbey was supergewild - vir ses seisoene, van 2010 tot 2015, het dit kykers vasgenael gehou. Vir almal wat nie die reeks gevolg het nie, bied die film nou die geleentheid om te sien waaroor al die hype gegaan het.
Die hooftema is die besoek van die koning en koningin van Engeland, wat tydens ’n plattelandse toer een nag by die Crawley-familie sal deurbring. Hope opwinding in Downton Abbey, uiteraard - die voorbereiding, die afwagting, die eer! Veral die kok, Mrs Patmore (Lesley Nicol), kan nie wag om haar slag te wys nie, maar dan arriveer die koning se persoonlike sjef - ’n Fransman! - en sy personeel om haar kombuis oor te neem.
Net soos die TV-reeks werklike historiese gebeure as agtergrond benut het, word dit in die film gedoen met die Ierse Rebellie, wat in 1927 sy hoogtepunt bereik het. Die Ier Tom Branson (Allen Leech), wat as werker in die hoëklasfamilie ingetrou het, word subtiel verdink van verraad teen die Britse vors. Dan is daar ook nog die plannetjies van grootmoeder Violet (die onvergelyklike Maggie Smith) om te sorg dat familielid Maud Bagshaw (Imelda Staunton) haar seun Robert (Hugh Bonneville) as erfgenaam aanwys.
Alles tesaam vorm dit ’n netwerk van hoof- en subintriges wat die aandag boei én sorg vir ’n goeie skeut humor wanneer die Downton Abbey-personeel saamstaan teen die koninklike “indringers”. Die laaste gesprek tussen Violet en Mary (Michelle Dockery) weerklink ook treffend tot in vandag se onsekere (Brexit-)tyd.
My enigste beswaar teen die film is dat dit effens lank raak en dat die einde oordoen is - dis nie nodig om élke storielyn so duidelik en presies vas te knoop nie. Byvoorbeeld, as daar een keer gewys is dat die jong wewenaar Branson nuwe liefdesgeluk gaan vind, is dit heeltemal genoeg.
Downton Abbey word hoog aanbeveel vir alle aanhangers van periodefilms.
Sterre: 3½