Filmclichés: die ongeskrewe kontrak

  • 2

Fotobron: Canva

Met die inperking is daar waarskynlik baie mense wat die leë, ledige ure verwyl deur na films, sepies en die stroom van minireekse te kyk. Elke genre, hetsy ’n romantiese komedie, ’n gruwel- of aksiefilm of spioenasiedrama, is deurweef met ’n voorspelbare onderbou. Sommige filmclichés is só ingeburger in die kinematografiese ervaring dat kykers skoon vergeet dat dit inderwaarheid clichés is – dit vorm deel van die ontvlugting wat ’n lekker film bied. Films bied vermaak; bitter min mense gaan Lars von Trier of Andrei Tarkovsky se meesterstukke naderhark om te ontspan. Met alle respek aan dié twee filmreuse, wat hulle besighou met die rolprent as kunsvorm of as estetiese belewenis. Filmclichés bied, as deel van die ontspanningselement, ’n reëlmaat van veilige voorspelbaarheid, byvoorbeeld as Ian Fleming se protagonis homself bekend stel en sê "the name's Bond, James Bond", maak dit volkome sin volgens die spelreëls van die narratief. Maar as Jan Rap en sy maat sou sê "die naam is Bakker, Koos Bakker", sou mens waarskynlik dink dis ’n grap, of dat ou Koos van lotjie getik is.

Filmvervaardigers maak mildelik gebruik van troop en clichés as tegnieke om te help om die storie te vertel, of om moeilik skryfbare dialoog te omseil, dikwels ten koste van die logika van die film. Moet films werklikheidsgetrou of lewensgetrou wees? Seer sekerlik nie. Op ’n ironiese vlak geniet kykers ’n film, ’n ongeskrewe kontrak wat as deel van die Hollywood-klatergoud en springmielies voltrek word. Vervolgens het ek ’n lys van 30+ van die bekendste filmclichés saamgestel, bloot om die draak te steek met ons fliekvlooie se gunsteling- (of holruggeryde) argetipes.

Deur die lens van ’n verkyker: Die kyker weet daardie dubbele "O" beteken dat hy saam met die karakter deur ’n verkyker kyk. Maar geen verkyker so fokale binnekant lyk so nie.

In films het bomme LED-tydkontroles. Dis ongelooflik dat die vyand, wat derduisende mense die ewigheid in wil stuur, ’n bom versteek wat wys presies hoeveel tyd daar oor is om dit onskadelik te stel. En dikwels is bomme colour-coded – die held moet net weet om die groen draad, en nie die rooie nie, te knip. ’n Ge-tiek-tiek-tiek-tiek vergesel die toneel om spanning op te bou – want die kyker se senuwees hang later aan ’n dun flenter by die aanhoor van só ’n horlosie. The dark knight rises is ’n goeie voorbeeld.

Let maar op: Wanneer ’n karakter terugkeer van die supermark af, steek daar ’n Franse brood bo by die kardoes uit.

Mense groet nie tydens telefoongesprekke in films nie – die woord goodbye ontbreek heeltemal; die protagonis of antagonis lui bloot af. Die kyker, verdiep in movieland, aanvaar dit so.

Third time lucky: Wanneer ’n karakter (gewoonlik die held) spook om iets reg te kry, kan jy maar daarop wed dat hy die derde keer gaan slaag, of hy nou ’n deur oopskop, ’n kar aan die gang kry of na ’n tou teen ’n steil bergkrans gryp.

In ’n film beteken ’n hoes die karakter is dodelik siek, behalwe wanneer hulle uit ’n brandende gebou kom. (En ek verwys nou glad nie na COVID-19 nie.) ’n Nies beteken iemand het verkoue; ’n hoes, wél ...

Karre ontplof altyd as dit teen ’n krans afstort. Soms ontplof die kar nog vóór dit die grond tref.

Geen onskuldige voetgangers word ooit omgery tydens ’n wilde jaagtog nie. Inkopiegangers steier dalk, en vrugtestalletjies kantel en spat die wêreld vol, maar niemand kry seer nie.

Gruwelfilms wemel van die vals alarms wat die kyker laat ruk van die skrik, byvoorbeeld wanneer die heldin ondersoek instel nadat sy ’n verdagte geluid gehoor het ... en ná ’n spanningsvolle opbou besef dis net die kat. Áltyd die kat. Killer-cat.

In films slaan donderweer en blitse gelyktydig. O, en wanneer dit reën, giet dit behoorlik. Geen mis- of sproeireën in Hollywood nie. En die reën val skielik en onverwags; die een oomblik is die hemel helder en oop en die volgende oomblik sous dit behoorlik. Ja, en nagtonele is altyd blou.

Wanneer ’n film in Parys afspeel, sal omtrent elke venster ’n uitsig op die Eiffel-toring hê – selfs die vensters aan die oorkant van die vertrek.

Aan die binnekant van ’n brandende gebou is daar gewoonlik baie vlamme, maar geen swart rook nie. ’n Bietjie wit rook wel, egter nie genoeg om die karakters se visie te blur nie; die held kan maklik sien wie om te red.

Wanneer ’n karakter sê dis die eerste dag by die werk, wéét maar: groot moeilikheid is op pad.

As die held moet tuisgaan in ’n goedkoop, verwaarloosde motel, dan sal die joint se naam op ’n groot, flitsende neonbord buite bly flikker.

Koeëlwonde beseer die held nie te veel nie. Nee wat, hy vat gereeld ’n koeël – gewoonlik in die skouer. Maar, in daardie einste skouers loop daar twee groot slagare wat tot noodlottige bloedverlies kan lei (maar ons held word mos nie daar getref nie).

In aksiefilms word karakters gereeld oor die kop geslaan, bewusteloos of komateus (net tydelik), maar sonder enige skade. Mens sou dink dat die impak en trauma van sulke harde houe sou lei tot harsingskudding of skedelbreuk, maar helaas ... Hierdie tonele kom in al Jason Statham se aksiefilms voor.

Filmkarakters voltooi selde hulle maaltye. Ná die dialoog, wat die eksposisie voortsnel, staan iemand op en los sy bord kos, waaraan hy skaars geraak het, net so en verlaat die huis (om te vertrek op ’n belangrike sending).

En dan wemel die silwerdoek natuurlik van superslim kinders. Hollywood is lief vir wunderkinder wat rekenaarnetwerke kan hack, vuurpyle bou, en lánk voor die grootmense weet as daar aliens of monsters is. Die kids is altyd slimmer as die grootmense. Hulle bestuur ook motors sonder dat hulle enige lesse genoem het. Daar's niks wat hierdie kinders nie kan doen nie ... behalwe as dit by skoolboelies kom.

Niemand betaal ooit vir ’n dop in ’n film nie. Die karakter kom in, bestel bier of whisky of iets generies en die kroegman bring dit dadelik ... maar die betaalslag ontbreek wonderbaarlik.

En dan die cliché-agtige dialoog. Die sin wat die meeste in mafia- en gangster-movies voorkom, is "Where is my fuckin' money?" – en jy weet die bloed gaan nóú vloei. En as die held in ’n aksiefilm beduie "There's no time to explain", dan gaan hy gaan hy verwoed fight; iewers ’n reuse haas uit die hoed trek. Dan, wanneer gaste kom kuier, sal ’n karakter opmerk "We've got company". Dis vreemd; in die "regte” lewe sou iemand eerder sê "Tommy is here." Maar as The X-files se Mulder vir Scully sou sê "We've got company", dan is daar beslis ’n alien of bonatuurlike wese in hulle midde. Ander gewilde clichés is "Don't die on me" en "I've got a bad feeling about this". Laasgenoemde ... groot, gróót gevaar of onheil, veral komende van die held.

Net in films sal ’n karakter aanhoudend en idioties "Hello? Hello!?" in ’n dooie gehoorbuis bly roep lank nadat die ander party (skurk, ontvoerder) afgelui het.

As die kyker ’n stel trappe in ’n fliek sien, vermoed hy onmiddellik dit voorspel iets dreigends. In gruwelfilms staan die spook gewoonlik bo- of onderaan ’n stel trappe. En hoekom hardloop die karakters (in nood) altyd teen die trappe óp, net om op die dak van die gebou gered te word? Hectic.

As die held iemand lights out slaan om sy klere of uniform te deps om sy voorkoms te kamoefleer, pas die klere altyd nommerpas. Dís die ware definisie van one size fits all.

Die antagonis en sy meelopers is horribale skuts. Dis vreemd – hulle skiet die hele tyd die held mis; dié cliché is volop in die aksie- en rillergenres. Wel, gemeet aan die reusebedreiging wat die skurk en sy meelopers inhou, sou mens darem verwag dat hulle opleiding in gevegskuns of ballistiek het. Die held, aan die ander kant, sal sy vyande een vir een neervel met ’n enkele skoot elk. Ook met martial arts is die opponente wonderlike gentlemen: ’n oormag bakleiers sal die held een op ’n slag takel, nooit gelyk nie.

In films kan vroue met enige skoene hardloop – van pantoffels, plakkies tot hoë hakke en stiletto's.

Gruwelfilms se onderbou wemel van clichés, soos reeds genoem. ’n Oorbekende slenter is waar die kyker aanvaar die skurk is dood, net om skielik weer "lewendig" te word en jag te maak op die held. Hierdie troop is tot vervelens toe gebruik in die slasher-films van die 80's; dis ’n goedkoop bangmaak-taktiek. Dit is selfs komies wanneer die noodlottig gewonde antagonis skielik regop sit of veerkragtig regop spring op sy voete.

As ’n reël arriveer en land die FBI altyd met ’n helikopter.

Die underdog wat seëvier is tiperend van boks- en basketbalflieks. ’n Depressiewe bokser wat alles verloor het (waarskynlik weens ’n menslike fout – ’n vae toespeling op die held in ’n Griekse tragedie) besluit om weer te boks. Daar is iewers ’n knorrige en ouerige afrigter (uit ’n sub-ekonomiese buurt) wat aanvanklik weier om die ou af te rig. Dan change hy sy mind en begin die vernederde bokser in aller yl te train, net om teen alle verwagting in ’n geveg teen ’n ou vyand te wen (gewoonlik in die laaste paar rondtes/minute van die fliek, terwyl die held voos geslaan en bebloed is). Die hartklop van ’n sportfilm is die coach en die goue lewenswyshede en inspirerende toesprake wat hy kwytraak.

Daar is ’n legio maniere om op die silwerdoek uit te beeld dat ’n karakter gesuffer het. ’n Vrou (dikwels die hoofkarakter) sal haar hare met ’n huisskêr afknip (in ’n dof verligte badkamer). Wel, in die "regte" lewe sal ’n vrou perdalks eerder ’n haarkapper besoek vir ’n styl wat haar gemoed opkikker en nie soos ’n martelaar en met groot melodrama haar lokke versnipper nie.

In Hollywood is selfs "lelike" karakters aantreklik. Hierdie resep word baie in romantiese komedies gebruik: ’n beeldskone aktrise (protagonis) dra oorgroot, sakkerige klere, ’n bril, geen makeup en ’n ponytail en hou haarself besig met die een of ander vreemde stokperdjie. Die held (hunk!) besef gaandeweg hoe beeldskoon sy nou eintlik is, alhoewel dit al lánkal is vir die obvious kyker. Want sien, die kyker hou sy asem op vir daardie scene waar sy met haar aandrok (na ’n makeover) die vertrek binnesweef en die held haar smagtend aanstaar. Kan minder aantreklike aktrises nie maar die rol van lelike eendjies speel nie, of is die troop dat die eendjie in ’n swaan moet verander?

Dit is so dat filmclichés diep in die narratief en spel van vermaak insny. Maar, ten spyte van die formule-agtige resepmatigheid van flieks, verwag die kyker steeds ’n vars, boeiende draaiboek, karakters wat diepgang en ontwikkeling toon en ’n intelligente ontknoping van die intrige. Dit is óók so dat clichés die silwerdoektroos aan die kyker bied dat die good guy sal oorwin; ’n tipe moraliteitsteater wat aanspraak maak op die magiese én die realistiese.

  • 2

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Nou praat jy, broer, maar het jy vergeet van die onderwyser ('n uitgewekene en buitestaander) wat 'n onstuimige klas moet oorneem en die diverse lot kinders op magiese wyse verander in klassieke musikante, kampioen bofbalspelers, ens. ens.?

    Die polisiekaptein is altyd swart, die ongehoorsame speurders onder sy bevel wit en swart, onwillig in daardie partnership in gedwing, of 'n ou man en 'n jong vrou (dink Clint Eastwood). Die terdoodveroordeelde is altyd swart, die bewaarders wit, en die beul ook. Nader aan't huis is die speurders altyd dronklappe, vervreemd van vrou en kind, by die werk geskors of op sy laatste waarskuwing; g'n nugter konstabel kan ooit 'n saak oplos nie.

    In die hof beken die skuldige altyd sy skuld op die laaste oomblik. Hy't gelieg tot nou toe, maar nou skielik oorval sy gewete hom, al was die kruisverhoor so subtiel soos 'n koevoet, en al weet hy die doodstraf is sy voorland.

    Ek vervies my gereeld: Dink die skrywers en draaiboekskrywers regtig ons is onnosel? Moenie antwoord nie, asseblief. Dit kan seermaak.

  • Jakkie Groenewald

    Nog 2 kamerategnieke wat tot vervelens herhaal word:
    1. Die kamera fokus op 'n motor wat stlhou (die kyker weet wie binne is) en dan verskuif die skoot na die teerpad net onderkant die deur wat oopgaan en om op die skoene van die karakter wat uitklim te fokus ... Hoekom?
    2. Die laaste toneel in die film waar die held en/of geliefde na 'n gelukkige lewe wegry ... die kamera fokus op grondvlak en soos die motor wegry, styg die kamera etlike meters die lug in ... Sug.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top