Film-resensie: The sound of my voice

  • 0

The sound of my voice

Regisseur: Zal Batmanglij

Rolverdeling: Brit Marling, Christopher Denham, Nicole Vicius, Richard Wharton, Avery Kristen Pohl


Hierdie fliek het my aan die wyse Shakespeare laat dink: There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy...

Peter (Christopher Denham) en sy meisie, Lorna (Nicole Vicius), is besig om ’n dokumentêre film oor godsdienstige kultusse te maak. Die groep wat hulle wil infiltreer, is gebou om ’n anderwêreldse jong vrou genaamd Maggie (Brit Marling). Hulle het reeds kontak gemaak, die streng keuringsproses geslaag en die nodige voorbereiding in die buitewêreld gedoen. Wanneer die film open, gaan hulle die eerste keer toegang kry tot die kultus se hoofkwartier en die binnekring, waar Maggie in beheer is. Soos dit met kultusse gaan, is dit ’n vreemde, vreemde werklikheid wat die paartjie daar aantref, en dis gou duidelik dat hulle uit hul diepte is, veral Peter.

Die verhaal vorder teen ’n flinke pas en hoewel dit in ’n beperkte aantal ruimtes afspeel, hou dit jou vasgenael. Wat oop eindes betref, kry hierdie film die eerste prys. Dae later wonder ek nog steeds oor die implikasies daarvan. Daar is subtiele aanduidings oor die uiteinde van Peter en Lorna se verhouding, maar dit kan net sowel op ’n ander manier vertolk word. Die kyker word nie met “bewyse” gelaat nie (ironies, terwyl dit om ’n dokumentêr gaan) – net met ’n hele paar prikkelende vrae.

Die meeste van die akteurs is nuwelinge, maar elkeen lewer geslaagde spel. Brit Marling, wat ons verlede jaar in Another Earth gesien het, is ook met hierdie film mededraaiboekskrywer en hoofaktrise. Sy is gemaak vir die esoteriese werk wat sy blykbaar verkies, en haar spel is onderbeklemtoon maar kragtig.

Vir oopkopgeeste word hierdie film beslis aanbeveel. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top