Film-resensie: Lucky

  • 0

Lucky

Regisseur: Avie Luthra

Rolverdeling: Sihle Dlamini, Jayashree Basavaraj, Vusi Kunene, James Ngcobo


Lucky is die soveelste sterk Suid-Afrikaanse film die afgelope paar jaar – voorwaar vir enige patriotiese fliekvlooi iets om op trots te wees. Die verhaal is gebou op ’n oorbekende gegewe, maar die twee uitstaande hoofakteurs maak daarvan iets baie besonders.

Die tienjarige Lucky (Sihle Dlamini) se ma word siek en gaan stad toe. Sy kom in ’n doodskis terug. Al wat Lucky van haar oorhet, is ’n kasset waarop sy vir hom ’n laaste boodskap gelaat het en die adres van sy oom in Durban. En, die heel belangrikste, sy belofte aan haar om te sorg dat hy skool toe sal gaan en geleerdheid kry. Om dié belofte na te kom, wil Lucky weg – stad toe.

Daar volg die gewone ellendes van ’n plattelandse kind wat hom alleen in ’n groot stad soos Durban begewe. Teen wil en dank vind hy ’n soort hawe by ’n verbitterde ou Indiërvrou (Jayashree Basavaraj), wat alleen in ’n swart woonbuurt oorgebly het en wat (heel verstaanbaar) agterdogtig en hardvogtig teenoor haar bure is. Lucky se soektog begin by sy ma en eindig uiteindelik by sy pa (knap gespeel deur Vusi Kunene).

Dat ’n storie wat so sonder sentimentaliteit vertel word, ’n mens so kan laat huil!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top