Resensie: Disconnect

  • 0

Disconnect

Regisseur: Henry Alex Rubin

Rolverdeling: Jason Bateman, Hope Davis, Andrea Riseborough, Michael Nyqvist, Alexander Skarsgard, Max Thieriot, Colin Ford, Jonah Bobo

Daar is kwalik ’n meer relevante tema vir ’n fliek vandag: die skynlewe wat die internet ons bied. Op fassinerende wyse word die karakters se virtuele wêreld blootgelê as ’n baie ongemaklike werklikheid van regte mense wie se kuberdade onherroeplike gevolge het.

Vier stelle karakters se paaie kruis deur middel van internetkommunikasie wat strek van kletskamers, bankbedrog en seksnetwerke tot kuberboelies. Elkeen van die betrokkenes dink dat dit wat hy of sy deur die privaatheid en anonimiteit van die internet doen, is weggesteek, niemand weet daarvan nie. Die waarheid is skrikwekkend anders. Soos die kuberspeurder dit stel: Alles wat jy op die internet doen laat ’n spoor, en dit kan presies nagespeur word. Dit wat jy in die geheim doen, word in die openbaar oopgevlek.

Die titel dui op hoe los mense van mekaar staan in die hedendaagse wêreld, hoe huweliksmaats, of ouers en kinders, elkeen as’t ware ’n eie, parallelle bestaan voer. Hierdie “disconnectedness” is egter bedrieglik, want ónder dit lê ’n netwerk van verhoudings waarvan jy onteenseglik deel is – die internetafkorting www staan nie verniet vir “world wide web” nie.

Veral interessant is die uitbeelding van mans. Manlike karakters oorheers die film; hulle stu die gebeure voort wat uitkring om die ou probleem van die (manlike) onvermoë om oor die pynlik persoonlike te kommunikeer. Maar die mees berekende misbruiker van mense is hier ’n vrou, en die uitdrukking van veg soos ’n leeuwyfie vir haar kinders is eerder op mans van toepassing.

Die groot rolverdeling speel uitstekend saam: akteurs soos Jason Bateman en Hope Davis, ook Alexander Skarsgard en Andrea Riseborough, wat onlangs deurgebreek het op die filmtoneel maar reeds groot indruk maak. Die Sweed Michael Nyqvist speel ’n klein rol onvergeetlik. En die jong nuwelinge, Max Thieriot, Colin Ford en Jonah Bobo, is manne wat ons in die toekoms hopelik weer sal sien.

’n Baie goeie film wat die kyker se morele beskouings behoorlik uitdaag – gaan kyk dit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top