
https://pixabay.com/illustrations/skulls-bones-skulls-bones-skeleton-2231280/
’n Persoon wat presteer in sy veld se besonderhede word verewig in ’n Wikipedia-blad. Maar wanneer jy ’n moordenaar is, neem jy jou grusame plek in op Murderpedia, ’n katalogus van die mees berugte moordenaars in die geskiedenis. Hierdie moordenaars het óók elk ’n Wikipedia-blad, al is hulle bydrae tot die mensdom een van verskrikking. Dis nogal ’n makabere tydverdryf om deur hierdie mense se profiele en donker nalatenskap te werk – maar dis geweldig interessant.
..........
Een van die dinge wat my opval is moordenaars se gesigte, veral hul oë en monde. Hulle het bitter, twintig-voor-vier monde. Ek weet nie of daar veel waarheid in fisionomie steek nie, maar die meeste moordenaars het dun lippe, wat geassosieer word met wreedheid. Moordenaars se oë is meesal leeg – of is dit dood? Koud? Soos dié van Jeffrey Dahmer of John Wayne Gacy. Ander se oë verklap weer ontsetting
...........
Een van die dinge wat my opval is moordenaars se gesigte, veral hul oë en monde. Hulle het bitter, twintig-voor-vier monde. Ek weet nie of daar veel waarheid in fisionomie steek nie, maar die meeste moordenaars het dun lippe, wat geassosieer word met wreedheid. Moordenaars se oë is meesal leeg – of is dit dood? Koud? Soos dié van Jeffrey Dahmer of John Wayne Gacy. Ander se oë verklap weer ontsetting: Daar is ’n wilde glans in Aileen Wuornos en Richard Ramirez se oë.
’n Vraag wat dikwels gestel word, is: Watter reeksmoordenaar was die ergste – ooit? Die antwoord is relatief en dit hang af watter kriteria gebruik word om ’n moordenaar se modus operandi te beoordeel. En natuurlik die getal slagoffers wat hy agterlaat. Ek moet bieg dat ek gesukkel het om die Amerikaanse reeksmoordenaar, kindermolesteerder, verkragter en kannibaal Albert Fish (1870–1936) se Wikipedia-blad gelees te kry. ’n Blote sinopsis van hierdie monster se lewe en misdaad is só ver verwyder van die werklikheid, dis eintlik surrealisties ... en hiermee bedoel ek “nagmerrie”, Fish se bisarre selfmutilasie en familiegeskiedenis van geestesversteurings in ag geneem. Soms is sekere verskynsels bloot te grusaam om in ordentlike geselskap oor te vertel.
Volgens misdaadkenners word Ted Bundy, eweneens ’n Amerikaanse reeksmoordenaar, verkragter en nekrofiel dikwels onder die topvyf-name van die gevaarlikste moordenaars ooit genoem. Bundy vertoon soos ’n anomalie teenoor sy moorddadige eweknieë. Sy optrede was dié van ’n verfynde, sjarmante en hoogs intelligente individu – wat uiteraard seker niks nuuts is wanneer dit by psigopatie kom nie. En dodelik aantreklik daarby (pun intended!); ’n gemoedelike en aangename ou; die soort wat ’n ma aan haar dogter sou voorstel. Wanneer ek aan Bundy dink, kom die mitiese en luciferiese beginsel van die engel van lig, wat die diaboliese sélf huisves, voor die oog. Bundy het ’n rein en heilsame voorkoms gehad en sosiale grasie het hom nooit ontbreek nie. Met kwalifikasies in sielkunde en die reg sou hy waarskynlik die laaste persoon op die polisie se lys van verdagtes gewees het – en dit is dan sy minnares wat die polisie ’n wenk gegee het omdat sy vermoed het Bundy is ’n gesoekte reeksmoordenaar.
’n Mens wonder inderdaad oor verskynsels soos goed en kwaad. En ná baie naleeswerk, films en dokkies het ek op hierdie interessante beskouing oor die Bose afgekom. Aan die woord is Fox Mulder van The X-files-faam:
When I first came to work with the FBI, I worked in violent crimes. I saw the worst of humanity; I saw monsters, and I wondered how they became that way – how these men became so evil. And there are psychological explanations: victims of their environment, victims of their parents, but the scientific explanations were never truly satisfied. And I began to think about evil like a disease, how it goes from man to man or age to age. Most of us walk around thinking that we’re incapable of any acts of evil, and we are. We can stifle that momentary urge to kill or to hurt; we have some kind of immunity to it. But I think it’s possible that there’s an occurrence in somebody’s life, a tragedy or a loss, that leaves them vulnerable; hurts their immunity to evil. And all of a sudden, at that point in their lives when they’re weakened, they’re open to evil ... and they can become evil.
Ted Bundy het erken dat hy 30 vroue vermoor het, maar kenners meen dat die getal véél hoër kan wees. Toe hy op 24 Januarie1989 in die elektriese stoel gesterf het, het 2 000 mense buite die Raiford-tronk in Florida gebraai, gejuig en klappers geskiet. Die volgende dag het foto’s van sy kadawer op koerantvoorblaaie verskyn: Die wêreld was verheug dat hierdie wreedaard tereggestel is. Maar nie alle reeksmoordenaars word gevang nie; ’n enorme frustrasie vir die polisie en families van die slagoffers.
Een so ’n voorbeeld is die Zodiac-moordenaar wat werksaam was in Noord-Kalifornië in die laat 1960’s en na bewering 37 mense vermoor het. Haas ongelooflik dat so ’n menslike predatoor kon wegkom! Nóg ’n moordlegende is die van Jack the Ripper, wat in 1888 in die Whitechapel-distrik in Londen sy bloedspoor gelaat het. Een van die eerste dinge wat ’n student van kriminologie leer, is dat moordenaars altyd foute maak. (Al is dit so minuskuul soos ’n haar wat op die misdaadtoneel agterbly.) Daar bestaan nie iets soos ’n perfekte moord/misdaad nie – net polisiebeamptes en ondersoekspanne wat leidrade miskyk of nie bymekaar kan bring om die raaisel op te los nie.
Om te verstaan waarom die duiwel los was in Londen in 1888, moet ’n mens iets van die donker Victoriaanse tydsgees van die dag verstaan. Die invloei van Ierse en Joodse immigrante in Engeland, en spesifiek die krotbuurte van Londen se East End en Whitechapel, het daartoe gelei dat hierdie agterbuurte uit hulle nate begin bars het. Volgens Londen se Metropolitan Police Service was daar in Oktober 1888 na bewering 62 bordele en 1 200 vroue werksaam as prostitute in Whitechapel. Ongeveer 8 500 mense het in die 233 goedkoop losieshuise slaapplek gesoek. Wanneer daar nie beddens beskikbaar was nie, het hierdie haweloses op tuisgeprakseerde hangmatte geslaap. Prostitute het hulle liggame verkoop vir ’n dak oor hulle kop – of vir drank. 80 000 inwoners in Londen se oorbevolkte krotbuurte was die slagoffers van endemiese armoede, siekte, wanvoeding, alkoholisme en geweld; mense van alle ouderdomme het in asblikke gekrap vir oorskietkos. Die kliëntebasis wat hierdie prostitute besoek het, was onder meer matrose, soldate of ander welgestelde mans in Londen.
Dit is dan teen hierdie deprimerende omstandighede wat die misterie van die Ripper-moorde beskou moet word. Die verhaal van Jack the Ripper het mettertyd deel geword oorlewering, volkskuns en pseudogeskiedenis, want die moordenaar se identiteit is saam met hom graf toe. Die polisie-ondersoek na 11 moorde tussen 1888 en 1891 het absoluut niks opgelewer nie. Die polisie was nie eens seker hóéveel moorde die Ripper gepleeg het nie, maar verwys met redelike sekerheid na die “kanoniese vyf (moorde)”. Die name van hierdie vroue was Mary Ann Nichols, Annie Chapman, Elizabeth Stride, Catherine Eddowes en Mary Jane Kelly. Prostitute – of sekswerkers, soos hulle vandag bekendstaan – was nog altyd kwesbaar; maklike prooi vir ’n moordenaar. Talle reeksmoordenaars maak dan jag op prostitute en maak hulle wreedaardig dood, soos ook die geval met die Yorkshire Ripper, Peter Sutcliffe, die geval was.
...........
Die legende van Jack the Ripper gee jou koue rillings en die moderne media se volgehoue bemoeienis met die saak speel steeds uit in dokumentêre, films en boeke. Die aanname dat die identiteit van Jack the Ripper nooit onthul kon word nie, is lank reeds ’n stadslegende. In die 1880’s was die gebruik van forensiese metodes en postmortem-ondersoeke nog in hulle kinderskoene, en die lomp en slordige hantering van die saak skree ten hemele.
.............
Die legende van Jack the Ripper gee jou koue rillings en die moderne media se volgehoue bemoeienis met die saak speel steeds uit in dokumentêre, films en boeke. Die aanname dat die identiteit van Jack the Ripper nooit onthul kon word nie, is lank reeds ’n stadslegende. In die 1880’s was die gebruik van forensiese metodes en postmortem-ondersoeke nog in hulle kinderskoene, en die lomp en slordige hantering van die saak skree ten hemele. Dokumente het uit die ondersoekers se lêers verdwyn en is intussen opgeveil. Dit sluit ook Jack the Ripper se uittartende briewe aan die polisie in. Een van die kopers van hierdie dokumente was die bekende Amerikaanse misdaadskrywer Patricia Cornwell. Meer as 130 jaar ná die Ripper-moorde het een van die verdagtes van weleer in haar visier beland: die Duits-gebore kunstenaar Walter Sickert, wat in Londen woonagtig was tydens die berugte slagting van prostitute. Nadat Cornwell en haar span forensiese kenners hierdie saak wéér deeglik nagevors het, het haar verstommende werk, Portrait of a killer: Jack the Ripper – case closed gevolg. Neem in ag dat die identiteit van Jack the Ripper al sedert 1888 vir ’n mediasensasie sorg en dat daar waarskynlik mense sal wees wat nié die Ripper-lêer wil afsluit nie. In dieselfde tydgleuf wat Jack the Ripper die Whitechapel-vroue vermoor het, was daar ook talle ánder onopgeloste moorde in dieselfde geografiese area. Die donker hart van Londen met sy vernietigende armoede het baie slagoffers geëis. Geregtigheid het nooit geskied nie.
Die potensiële reeksmoordenaar, aldus Cornwell, was Walter Sickert, ’n gerespekteerde kunstenaar en eksponent van die Camden Town Group se post-impressionistiese beweging in Londen. Hy word ook gereken as ’n belangrike Britse avant-garde-invloed van die middel en laat 20ste eeu.
In Portrait of a killer: Jack the Ripper – case closed lewer Cornwell noukeurig verslag oor Sickert as diaboliese en briljante man: die nokturniese predatoor wat op die mees ondenkbare wyse sy slagoffers vermoor het. Cornwell beweer dat Sickert oor die profiel van ’n psigopaat beskik – en dat sy kuns, sedert hy ’n seun was, die geweld, marteling en dood van vroue uitbeeld. Hierdie donker tematiek het dwarsdeur Sickert se oeuvre voorgekom. Volgens Cornwell is Sickert se kuns (hoe goed ook al) nie bloot “onskuldig” nie. As mens en kunstenaar was hy boos en beskadig; gedryf deur megalomanie en haat.
Sickert kom uit ’n vooraanstaande Duitse familie en het in die hoogste samelewingskringe beweeg, van aristokrate tot vooraanstaande skrywers en kunstenaars. In die laat 1800’s in Londen is die hoër klas met respek behandel, en omdat klassisme aan die orde van die dag was, sou die polisie waarskynlik ’n gesiene burger makliker oorgesien het ná ondervraging. Sickert was ’n geleerde man; gekultiveerd, dog vreemd en eksentriek; en as gerekende kunstenaar was dit onwaarskynlik dat ’n sensitiewe esteet versoen sou word met hierdie grusame reeksmoorde.
Die moorde op die prostitute in Whitechapel was die werk van ’n maniak. In alle gevalle is die slagoffers met ’n mes of dolk aangeval; hulle kele is afgesny, organe is uit die liggame verwyder, en die vroue se gesigte en geslagsdele is onherkenbaar geskend. Die moordenaar se kennis van die menslike anatomie het die polisie op die gedagte gebring dat die moordenaar moontlik ’n dokter of ’n slagter is. Maar Sickert was ’n hoogs intelligente en belese man met ’n wye algemene kennis. Om ’n persoon se baarmoeder, hart of nier anatomies korrek te verwyder, beteken nie noodwendig dat jy ’n dokter hoef te wees nie.
Sickert se huis in South Hampstead was ongeveer 20 minute se stap van die donker agterstrate waar die moorde gepleeg is. Dit klink na ’n toevalligheid, maar soos ’n lid van Cornwell se forensies span tereg opgemerk het: toeval ná toeval ná toeval. Steeds is daar mense wat die hipotese dat Sickert moontlik die moordenaar kon wees nie ernstig opneem nie.
Die belangrikste skakel tussen Walter Sickert en Jack the Ripper is die feit dat daar ooreenstemmende mitochondriale DNS (mtDNS) gevind is op koeverte en seëls van briewe wat deur beide Sickert en Jack the Ripper gestuur is. Genetiese mtDNS in hierdie geval dui op selle wat geïdentifiseer is uit die speeksel wat aan Sickert én die Ripper behoort het. Hierdie mtDNS is baie raar en behoort aan slegs 1% van die samelewing. As genetiese anomalie, beweer Cornwell, is laasgenoemde baie belangrik, indien nie deurslaggewend tot die saak nie – maar ’n mens kan ook redeneer dat al ís dit wonderbaarlik dat hierdie DNS na 114 jaar behoue gebly het, dit steeds stokou DNS is – getoets met moderne forensiese metodes. Die genetiese merkers in hierdie DNS stem ooreen, al kom dit van dokumente wat deels gedisintegreer het. Kritiek teen Cornwell se bewering is dat die betrokke briewe van baie hande verwissel het en dat dit bloot kan beteken dat een van die hanteerders ’n mtDNS-spoor op die dokumente gelaat het. Maar – wat van die seëls? As Sickert / die Ripper nie sy eie seëls natgelek het nie, wié het? Walter Sickert is na sy dood veras en het self geen kinders gehad nie. Sy sibbe het ook nie kinders gehad nie. Daar is/was dus geen genetiese bloedverwante om meer volledige DNS-toetsing te doen nie. Wat egter verstommend is, is dat Cornwell se span een van Sickert se verf-oorpakke forensies ontleed het en van dieselfde mtDNS as op die koeverte en seëls daarop gevind het.
Jack the Ripper se bloedspoor het in 1888 vir massahisterie gesorg – en die polisie se onbevoegdheid om so ’n komplekse saak op te los, blyk duidelik. Maar hulle het probeer: Daar is 2 000 verdagtes ondervra, ondersoek ingestel na 300 mense, en uiteindelik 80 verdagtes in aanhouding geplaas – maar almal is weer vrygelaat by gebrek aan genoeg bewyse om te vervolg. Volgens Cornwell is dit haas onmoontlik, wanneer ’n mens na hierdie syfers kyk, om te aanvaar dat die ware Ripper nié iewers op die polisie se radar was nie.
Die Metropolitan Police en Scotland Yard het 600 briewe van die vermeende Ripper ontvang – ’n massapsigose het in Engeland posgevat en selfs van die joernaliste wat berig het oor die saak is beskuldig van poetsbriewe. Maar twee van hierdie korpus briewe staan uit; eersgenoemde die “From hell”-brief wat in Oktober 1888 gerig is aan George Lusk wat betrokke was by die ondersoek. Die brief was vergesel van ’n stuk van ’n nier (menslike oorsprong; linkernier), verseël in ’n boksie. Hierdie brief en grusame vonds is ongeveer drie weke ná die moord op Catherine Eddowes ontvang. Die ondersoekers het vasgestel dat die stukkie nier wel korreleer met die tyd van die moord, en vir drie weke in alkohol bewaar was. Daar kon egter nie met sekerheid bepaal word of dié weefsel aan Eddowes behoort het nie; die kriminalistiek van die dag was nog nie gevorderd genoeg nie. Kenners vermoed tog dat hierdie brief en moordenaarstrofee van die ware moordenaar af gekom het en nie ’n poets was nie.
From hell.
Mr Lusk,
Sor
I send you half the Kidne I took from one women prasarved it for you tother piece I fried and ate it was very nise. I may send you the bloody knif[e] that took it out if you only wate a whil[e] longer
signed
Catch me when you can Mishter Lusk
Volgens Cornwell is hierdie brief die werk van ’n persoon wat wil voorgee dat dit van ’n analfabeet of halfgeletterde persoon af kom. Drukmerke in die skrif dui daarop dat die skrywer getalm en gekonsentreer het om doelbewus sy skrif te verander; die skrifvloei is nie spontaan nie. Daar is, interessant genoeg, geen spelfoute in die adres op die koevert nie. Dan is daar die duur skryfpapier wat die outeur gebruik het – en wat nie strook met die werk van iemand wat nie te gereeld ’n pen vashou nie.
..........
Volgens Cornwell is hierdie brief die werk van ’n persoon wat wil voorgee dat dit van ’n analfabeet of halfgeletterde persoon af kom. Drukmerke in die skrif dui daarop dat die skrywer getalm en gekonsentreer het om doelbewus sy skrif te verander; die skrifvloei is nie spontaan nie. Daar is, interessant genoeg, geen spelfoute in die adres op die koevert nie. Dan is daar die duur skryfpapier wat die outeur gebruik het – en wat nie strook met die werk van iemand wat nie te gereeld ’n pen vashou nie.
.............
Die tweede brief wat uitstaan, is die “Openshaw”-brief wat gerig was aan dr Thomas Openshaw, en wat volgens Cornwell oor dieselfde mtDNS as Walter Sickert se briewe beskik.
In 2018 het ’n forensiese linguis, Andrea Nini, wéér die verdagte briewe ontleed en bevind dat dit die werk van dieselfde persoon is. Volgens Cornwell was Sickert ’n begaafde kunstenaar wat links- en regshandig was en met hierdie uittartbriewe kat en muis met Scotland Yard en ander polisie probeer speel het. As kunstenaar kon Sickert verskeie handskrifte namaak, net soos die uiteenlopende style in die kuns wat hy beoefen het getuig. Hierdie handskrifte beskik egter oor dieselfde verskuilde idiosinkrasieë wat dui op die werk van een en dieselfde persoon. Verdere bewyse toon weer dat sommige van die Ripper-briewe in ’n sagte, waksagtige kryt geskryf is, tipies dié wat die kunstenaars van Sickert se tyd gebruik het. Die watermerke op die skryfpapier tussen Sickert en die Ripper toon dieselfde ooreenkomste, of is dit ook toeval? Net soos die sketse in van die gewraakte briewe die werk van ’n professionele kunstenaar is? Sóveel toeval, inderdaad. In Sickert se reeks skilderye, The Camden Town Murder, word die naakte liggaam van ’n prostituut wat vermoor is, getoon, met ’n man wat op die rand van die bed sit en na haar kyk. Na bewering het Sickert gespog dat hy dieselfde kamer in ’n losieshuis gehuur het as wat die Ripper – volgens die losieshuiseienaar – in 1888 gehuur het. The Camden Town Murder verklap heelwat van die modus operandi wat die moord omraam; inligting wat slegs die moordenaar op daardie tydstip kon geweet het. Hierdie moord is in 1907 gepleeg en vorm nie deel van die kanoniese vyf moorde nie. En van losieshuise gepraat: Sickert het graag – in die geheim – ingeboek in obskure oornagplekke in Whitechapel wat hy as studio’s gebruik het om te skilder. Sy vrouehaat veral teenoor prostitute, was welbekend.
Volgens Cornwell kommunikeer Sickert dieselfde kodes en simbole in sy kuns as in die Ripper-briewe; dinge wat nog nooit onder die vergrootglas geplaas is nie omdat niemand ’n welaf en gerespekteerde kunstenaar van reeksmoord sou verdink nie.
Die ooggetuies, gewoonlik ander prostitute wat in die omtrek van die slagoffers was ten tye van die moorde, se relase van die mans wat hulle gesien het, stem geensins ooreen nie. Die verwysing na soldate of polisiemanne word dikwels genoem. Óf die Ripper het sy voorkoms verander, óf hy was so vlugvoetig dat niemand ooit ’n oog op hom kon lê nie. Walter Sickert was bekend om sy voorliefde vir weermag- en polisie-uniforms wat hy by die Rooikruis gekry het ná die afsterwe van die mans, en wat hy gebruik het vir sy modelle se portretstudies. Vóór Sickert ’n loopbaan in die kunste begin het, was hy ’n akteur met die verhoognaam Mr Nemo – wat beteken “meneer niemand”. Hy was meertalig en het die kuns van rollespel, pruike en ander kamoeflering eerstehands verstaan.
Portrait of a killer: Jack the Ripper – case closed is óf gedeeltelik of ten volle die waarheid, óf Cornwell is heeltemal uit wans en het eintlik net ’n sensasionele narratief geskep wat goeie stof vir ’n boeiende film sou uitmaak. Dat sy ’n goeie betoog kan voer, ly geen twyfel nie. Die lys verdagtes in die Jack the Ripper-saak is intussen verminder na vier: Carl Feigenbaum, Francis Craig, Montague John Druitt en natuurlik Walter Sickert. (Aaron Kosminski is geskrap van die lys, omdat hy Jiddisj gepraat het en sy Engels swak was – die Ripper het goeie Engels gepraat.) Dit kan natuurlik ook wees dat Jack the Ripper figuurlik deur die krake geval het en nooit op die polisie se radar was om mee te begin nie. Dit is dalk alles blote spekulasie. En selfs al ís Cornwell reg oor Walter Sickert, sal haar teorie nooit (h)erken word as die waarheid nie. Want die stadslegende van Jack the Ripper moet voortleef. Niemand ken die waarheid nie. Niemand. Mr Nemo.


Kommentaar
Dankie vir die navorsing oor hierdie bisarre onderwerp! Ek mis egter verwysing na Charles van Onselen se teorie oor die identiteit van Jack de Ripper en sy Suid-Afrikaanse konneksie?
Miskien kan Nini vir ons ’n opinie gee?
Van Onselen konkludeer:
The meticulousness of van Onselen's research shows that The Fox and the Flies is as rich in history as it is in the detail and drama of Silver's career, as layer after layer of his life and times are revealed. And it has an extraordinary pay-off, for van Onselen contends that Joseph Silver's darkest secret lay in London in the autumn of 1888 when, before he embarked on his legendary life of crime, he was Jack the Ripper.
Kyk: https://www.amazon.com/Fox-Flies-Secret-Grotesque-Criminal/dp/B005Q5XL0U
Uitstekende artikel; getuig van deeglike navorsing.
Baie interessant om te lees en weereens goed nagevors. Baie geluk!