Experi-Maatjies: Wie is hulle?

  • 0

Nasionale Wetenskapweek vind van 27 Julie tot 3 Augustus 2013 plaas. Op Facebook verskyn daar 'n uitnodiging vir skoolkinders om foto's van hul tuiseksperimente te plak - en pryse te wen. Naomi Meyer het gaan ondersoek instel. Sy het met Madrie Portwig gesels, wat een van die stigters van Experi-Maatjies is.

Hallo Madrie, vertel asseblief vir ons lesers wie jy is en van Experi-Maatjies. Wat doen julle?

Ek is ’n ma met ’n passie vir wetenskap. Nadat ek my PhD in chemie voltooi het, het ek vir ’n paar jaar in die navorsingsveld gewerk totdat my kinders gebore is.

Ek het reeds van vroeg af eksperimente saam met my kinders gedoen en gesien dat die wêreld van die wetenskap vir jong kinders pret kan wees. Ek het besef dat daar ’n tekort aan wetenskapblootstelling aan jong kinders in Suid-Afrika is. Ek en my skoonsuster, Lindi – wat ’n agtergrond in onderwys het – het toe kragte saamgespan en so is die Experi-Maatjies-besigheid gebore.

Experi-Maatjies is ’n opvoedkundige, buitemuurse wetenskapprogram wat eksperimente gebruik om vir jong kinders in die grondslagfase te wys dat die wêreld van die wetenskap pret kan wees. Dit word gedoen deur gebruik te maak van interaktiewe projekte, oulike demonstrasies en eenvoudige eksperimente. Die klassies word een maal per week deur onafhanklike franchisees by verskeie skole in die land aangebied.

Word eksperimente dan nie in die skool deur leerders uitgevoer nie?

Alhoewel daar skole is wat reeds in die grondslagfase aandag gee aan wetenskap, vind ons dat, omdat basiese vaardighede soos lees en skryf in hierdie leerfase die primêre fokus is, onderwyseresse nie tyd kry om genoegsame aandag aan wetenskap en eksperimente te gee nie. Vanaf graad 4 word wetenskap formeel as vak in skole aangebied.

Waarom is wetenskap ’n belangrike en ’n praktiese vak vir leerders?

Wetenskap is deel van ons daaglikse lewe – ons gebruik wetenskap wanneer ons kook, tuinmaak, die rekenaar gebruik, motor bestuur, vir die verstaan van weerpatrone, ens. Ons kan nie die verband tussen wetenskap en ons daaglikse bestaan ignoreer nie. Wetenskap as vak moedig kinders aan om ondersoekend na die wêreld te kyk en vrae te vra oor hoe dinge werk. Experi-Maatjies bied aan jong kinders die geleentheid om binne ’n veilige omgewing self eksperimente te doen en idees te vorm wat belangrike boustene vir latere leerervarings is.

Julle bied Experi-Maatjies vir kinders in die grondslagfase aan. Is dit nie te vroeg om al op vyf te begin nie? Is dit nie tyd vir hulle om nog net te speel en nog nie ernstige eksperimente te doen nie?

Jong kinders is van nature nuuskierig oor en gefassineerd deur die wêreld om hulle. Hierdie nuuskierigheid maak dit die perfekte tyd om vrae te beantwoord en hulle sodoende insig te gee in hoe hierdie wêreld werk. Hierdie jong kinders kan dan sonder voorbehoud of vrees induik in onderwerpe soos fisika, biologie en chemie. By Experi-Maatjies glo ons ook dat ons kinders reeds vanaf ’n jong ouderdom wetenskaplik moet laat dink, want daar is nog so baie om te ontdek! Tydens die ontwikkeling van die program is daar klem gelê op die feit dat hierdie leerervarings pret moet wees. Experi-Maatjies poog om kinders se eerste blootstelling aan wetenskap ’n onvergeetlike leerervaring te maak!

Hoe kan ouers en die res van die gesin baat vind by Experi-Maatjies?

Die kinders kry na afloop van ’n klassie ’n Experi-pakkie om huis toe te neem. Die pakkie bestaan uit ’n briefie wat aan die ouers verduidelik wat in die klassie gedoen is en ’n eenvoudige eksperiment wat tuis gedoen kan word. Hierdie aspek bevorder ouerbetrokkenheid by die program en gee ook die geleentheid aan boeties en sussies (ouer of jonger) om in die leerervaring te deel.

Ek sien julle bied ’n kompetisie aan vir Wetenskapweek vanjaar. Vertel vir ons lesers hiervan. Kan kinders hieraan deelneem, al is hulle nie ingeskryf vir Experi-Maatjies nie?

Ons ondersteun Nasionale Wetenskapweek, aangesien ons voel dat dit ’n bewusmaking skep van die belangrikheid van wetenskap. Die kompetisie behels eenvoudig dat ’n mamma of pappa moet aansluit by ons Facebook-blad, www.facebook.com/ExperiBuddies, ’n foto moet plaas van haar/sy kind wat besig is met eksperimente, en dan kortliks vir ons moet vertel waarom hy of sy dit geniet om eksperimente te doen. Dus is die kompetisie oop vir alle kinders wat dit geniet om tuis eksperimente te doen.


Optimist, Pessimist ... Scientist!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top