Choreograaf en danser: Gregory Maqoma
Komponis: Simphiwe Dana
Klankontwerp: Andile Mpahlwa
Regisseur: James Ngcobo
Kitaar: Giuliano Modarelli
Kwartetsangers: Happy Motha; Bubele Mgele; Bongikosi Zulu; Linda Thobela
Verteller: Sbulele Gcilitshana
Gregory Maqoma lewer opspraakwekkende werk met sy interpretasie van die self in verhouding tot sy geskiedenis, kultuur, kuns, die samelewing en politiek. Exit/Exist is gevolglik vanuit hierdie konteks ’n fisieke interpretasie van die tradisionele, geskiedkundige en heroïese Xhosa-verhaal van Chief Maqoma, van wie Gregory Maqoma ’n afstammeling is. In Exit/Exist gebruik Maqoma die verhaal van Chief Maqoma, die 19de-eeuse krygsman wat geveg het om die Xhosa-tradisies in die Oos-Kaap te behou te midde van ’n koloniale disposisie. Na ’n uitgebreide internasionale toer kom hierdie produksie uiteindelik as’t ware tuis by die Nasionale Kunstefees te Grahamstad in die Oos-Kaap.
Maqoma handhaaf in sy choreografie ’n delikate balans tussen die tradisionele en eietydse invloede. Tesame hiermee is die produksie ’n suksesvolle integrasie van lewendige musiek en beweging. Vier sangers en ’n kitaarspeler begelei Maqoma om ’n volronde ervaring te skep. Al vyf musikante is in hul eie hoedanigheid merkwaardig en sorg tesame met Maqoma vir ’n sensoriese kragtoer. Alhoewel Maqoma merkwaardige vaardigheid ten toon stel, voel dit nie te alle tye asof die danser homself heeltemal aan die narratief oorgee en sodoende aan die gehoor blootstel nie. Gevolglik skiet die progressie van Maqoma se emosionele reis te kort en voel dit by tye asof Maqoma, ten spyte van tegniese presiesheid, nie werklik met die materiaal (verhaal en beweging) kontak maak nie. Dit kan wel wees dat dit die wyse is waarop Maqoma die verwarring van ontheemding van identiteit uitbeeld, maar ek het na meer van die danser gesoek. Die produksie is nietemin baie aangrypend en skep ’n unieke ruimte waarin die tradisionele verhaal, tradisionele en eietydse choreografie, lewende musiek en die belangrike vraag oor identiteit byeengebring word.
Die produksie se speeltyd by die Grahamstad-fees is ongelukkig verby, maar hou ’n oog daarvoor oop by plaaslike teaters.

