Die immer geliefde satirikus Pieter-Dirk Uys, sy alter ego Evita Bezuidenhout en die laaste minister van buitelandse sake in die apartheidsregering, Pik Botha, het die gehoor laat skater van die lag tydens die afgelope Woordfees, maar ook ernstig laat nadink.
Die 85-jarige Botha is hartlik deur die gehoor verwelkom en tannie Evita het spesiaal vir haar “darling” ’n geskenkie uit Darling saamgebring.

Evita Bezuidenhout en Pik Botha (Foto: Liné Enslin)
Die gewese minister en die oud-“ambassadeur” het mekaar hartlik op die verhoog omhels voordat die gesprek begin het. Saam met hulle op die verhoog was die gesprekleier Melanie Verwoerd en die joernalis Denis Cruywagen.
Die geleentheid was ter ere van die land se eerste demokraties verkose president, Nelson Mandela, wat vanjaar 100 jaar oud sou gewees het.
Die lighartige gesprek is telkens afgewissel met ernstige anekdotes oor hulle onderskeie ontmoetings met Mandela.

Melanie Verwoerd en Pik Botha
“Pik, julle donners het ons darem bang gemaak in die apartheidsdae,” het Evita onder groot gelag van die gehoor aan Botha gesê. Sy het nie net aan Mandela hulde gebring nie, maar ook aan FW de Klerk, wat Mandela se vrylating moontlik gemaak het.
Botha onthou hoe Cyril Ramaphosa langs Mandela gestaan het toe hy sy eerste toespraak as vry man op die Kaapse parade gehou het. Hy sê dit was ’n historiese voorspelling van wat vandag in die land gebeur met Ramaphosa wat nou Mandela se skoene volstaan.
Botha het ook vertel van die enigste keer toe hy Mandela snikkend hoor huil het. Dit was toe hy Mandela gebel het nadat hy en Winnie Mandela geskei is. “Ek het hom in die presidentswoning gebel waar hy stoksielalleen was om hom sterkte toe te wens. Mandela was baie alleen en dit was die enigste keer dat ek hom snikkend hoor huil het.”
Mandela se karakter is deur al vier die sprekers geëer. Na 27 jaar in die tronk het hy sy presidentskap sonder ’n sweempie wraak bedryf, asof hy nie ’n enkele dag in die tronk was nie, het Botha gesê. “Ons durf nie toelaat dat sy nalatenskap vertrap word nie.”
By een geleentheid het Mandela Botha gemaan dat die Nasionale Party sagter te werk moet gaan met die leier van die destydse Konserwatiewe Party, Andries Treurnicht. Hy het aan Botha gesê geen vorm van geweld sal blywende vrede in die land skep nie. Hy het geglo Treurnicht sal uiteindelik inval by die nuwe Suid-Afrika as hulle hom sagter behandel.
“Mandela is gedryf deur etiese waardes, sonder enige teken van wraaksug, en wat nooit eie eer nagestreef het nie.”

Denis Cruywagen en Evita (Foto: Liné Enslin)
Evita, wat verskeie kere die draak gesteek het met Zuma en die ANC, moes die gesprek vroeg verlaat aangesien sy glo dringende sake in die parlement gehad het om na om te sien.
Na haar vertrek het Pieter-Dirk Uys met ’n bofbalpet op sy kop op die verhoog gaan sit en staaltjies vertel van sy ontmoeting met Pik Botha en Nelson Mandela. Botha het Uys beskryf ’n “blikskottel met diep filosofiese en etiese waardes”.
Met verwysing na HF Verwoerd het Botha gesê die van Verwoerd behoort nie as ’n skeldnaam gesien te word nie. Hy het verwys na Verwoerd se rol tydens die destydse hofsaak oor die toekoms van Suidwes-Afrika, wat vandag Namibië is. Botha sê as dit nie vir Verwoerd was nie, sou Suid-Afrika die hofsaak verloor het en die land sou ten gronde gegaan het omdat Suid-Afrika met geweld en die steun van die Verenigde Volke-organisasie uitgedryf sou gewees het. “Verwoerd wou Namibië nooit vir Suid-Afrika gehad het nie en het altyd gesê die land moet onafhanklik word. “Mense weet nie dié goed nie, maar die waarheid moet uit. Ons moet by die waarheid bly,” het Botha gesê.
Aan die einde van die gesprek het die bejaarde Botha gesê hy is nie bang om dood te gaan nie. “Mooi is die lewe en mooi is die dood. Ek is nie bang om dood te gaan nie, want ek keer terug na God in watter vorm ek ook mag bestaan. Intussen waardeer ek elke minuut van my lewe en aardse bestaan,” het hy die gesprek afgesluit.
Kommentaar
Ons land gaan wonderlik vooruit ... Het ene Evita het dit ook kwytgeraak ...