Dis Dinsdagaand 5 Desember 2017. Jy het pas jou teatersitplek ingeneem. Dan sien jy dit: om jou mense en nogmaals mense. Volgens Google-inligting is daar plek vir 1 487 persone. ’n Verdere twee kan hulle rolstoele kom parkeer.
Die sterk musiek begin. ’n Requiem vir Evita Perón (Emma Kingston) word gesing terwyl sy in haar doodkis ingedra word. Ek begin dink aan wat ’n sterwe beteken. Sy wat so uitgestyg het na hooggeplaasdheid as die eggenoot van die president (Robert Finlayson), wat so vereer is deur haar volksgenote en so ’n lewe van voortdurende hoogspanning (“mad existence”) gevoer het ... In watter “dimensie” bestaan sy nou? Alles is so finaal verby. Sy kan niks uitvoer nie.
Sy kon nie onsterflikheid haal hier in Argentinië nie. Che (Jonathan Roxmouth) verwyt haar in sy “Oh What a Circus”: “You let down your people, Evita / You were supposed to have been immortal.” Haar omstredenheid skemer deur in Che se eerlike reaksie: “We’ve all gone crazy / Mourning all day and mourning all night/ Falling over ourselves to get all of the misery right.”
Hierna word ons teruggeneem na haar jongmeisiejare, na haar liefdeslewe toe. Veral is Che ’n verstandige gids vir ons. Kabaretsanger Magaldi (Anton Luitingh) toon ons hoe die lyflike ’n mens se lewenslot kan bepaal. Hoeveel nagte vol duisende sterre het hulle nie al beleef nie? (Jy onthou oomblikke lank joune.) Hoe dikwels kom ’n mens by “heaven’s door” uit? Maar Che waarsku Magaldi spitsvondig: Hy moet rekening hou daarmee dat hy dalk goeie seks gelewer het, maar hy sal nie noodwendig weer ontbied word nie. Jy mag maar bel, maar oproepe word nie gereeld beantwoord nie. Dan is daar nog die onsekerhede vir ’n jong “minnares” (Isabella Jane). Dit word so gou ’n bestaan van “Another Suitcase in Another Hall”.
Erotiek word ook humoristies uitgebeeld. Die manne kry skielik vreemde hande op hulle gulpe. Hulle kéér. Vir wat?
Die tweede bedryf handel meer oor Evita se huwelik, oor haar invloed op die landspolitiek. Hoe sy Juan Perón ondersteun. Hier vervul die agtergrondprojeksies ’n wonderlike inligtingsfunksie. Jy sien tonele uit die verlede, hoe hulle in werklikheid gelyk en opgetree het. Dit is wat daar gebeur het tydens militêre parades; só is die volksgenote opgerui tot patriotisme. Kyk hoe word fondse ingesamel vir welsynsdienste (“And The Money Kept Rolling In”).
In hierdie bedryf kom die laaste radio-optrede van Evita voor en haar sterwe. Visueel en teksgewys is dit besonder indrukwekkend.
Choreografie is ook belangrik in hierdie musikale werk. Die ensemble beweeg byna militaristies-sekuur as ’n falanks vorentoe of maak ’n ommekeer. As iemand nou ’n voet verkeerd sal sit of as ’n kop nie saam met die ander draai nie ... Kinders tree ook op. Veral een het in my estimasie gestyg. Hy’s al ’n langerige outjie. Eers staan hy skuins agter Perón. Dan beweeg almal weg, maar al te gou moet hulle omdraai en dadelik onbeweeglik vassteek. Die mannetjie stop sekuur; staan summier doodstil. Professioneel!
Emma Kingston se vertolking toon wisseling; sy skep kontraste. Sy gee nie net strelende, soet sang nie. Sy klink ook soms verbete, skerp en aggressief. Want haar sang en toneelspel vorm ’n eenheid. Haar groot én kleiner bewegings verhelder die betekenisse van die lirieke.
Kingston sing “You Must Love Me” ingehoue. Dit klink so opreg. As jy tot dusver deur die lewe gegaan het sonder uitsonderlike liefde, sal jy dit jóú lied maak.
Nawoord: NP van Wyk Louw beskryf in Maart 1937 ideale teatergangers. EVITA kan ook sekerlik vir hulle aanbeveel word: “Almal wat smart ken, wat nog rusteloos is ... wat in geslagtelike en ander sake onbevredig is; ... almal wat om iets onbereikbaars treur; almal wat die eintlike skoonheidsverlange ken ...” (Versamelde Prosa 1, bl 88-89.)
TIM RICE (lirieke) & ANDREW LLOYD WEBBER (musiek)
EVITA
Met Emma Kingston, Jonathan Roxmouth, Robert Finlayson, Anton Luitingh, Isabella Jane en verskeie ander as ’n ensemble.
’n Aanbieding van Pieter Toerien en David Ian, gebaseer op die oorspronklike West End- en Broadway-produksie.
Regisseur: Hal Prince; plaaslik: Anton Luitingh
Regisseur, musiek: Louis Zurnamer
Choreografie: Larry Fuller; plaaslik: Duane Alexander
In Kunstekaap tot 8 Januarie 2018


