
ID du Plessis begin sy doktorale tesis (1935), “Bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied”, met die woorde: “Hiermee ’n poging om ’n onderwerp te behandel waaraan tot dusver maar min aandag geskenk is, veral deur die Afrikaner, vir wie dit van meer onmiddellike belang is as vir enige ander deel van ons samelewing …”
Later in dieselfde jaar skryf hy oor sy “bedoeling om hoofsaaklik aanknopingspunte by die Dietse kultuur te beklemtoon” in Die Maleise samelewing aan die Kaap (1939): “Juis omdat hy deur sy godsdiensvorm teen uithuisigheid beskerm word, soek die Maleier sy vermaak in gesellige verkeer met sy familie en vriendekring. Hierdeur het die Lied tot sy reg gekom en menige aande word aan die sing van ou ballades bestee.”

Champ van Champs
Saterdagaand was dit die Champion of Champions-koorkompetisie van die Kaapse Maleierkoorraad. Agt mannekore uit volle bors – van vieruur die middag tot eenuur Sondagoggend – voor ’n waarderende gehoor van duisende. Koorsang, komiese moppies, gewyde Afrikaanse solo’s, Nederlandse liedere op Oosterse wysies. Die gehoor ken die meeste van die woorde en prewel singend saam. ’n Historiese geleentheid, waarskynlik die heel laaste keer dat Maleierkore in die Goeie Hoop-sentrum optree. Die einste saal wat sinoniem geword het met Maleierkultuur. Ons stadsraad staan op die punt om die gebruik van die Goeie Hoop-sentrum weg te teken ten gunste van ’n filmmaatskappy.
Goed en wel, finansiële state moet klop, maar bestaan daar nie so iets soos ’n intrinsieke kulturele waarde aan ’n eeue oue instelling wat die afgelope 76 jaar in die Maleierkore manifesteer nie? Is geldelike waarde al wat ooit waar is?
Die geskiedenis, argitektuur, kos en kultuur van Kaapse Maleiers word voortdurend gebruik om Kaapstad te verkoop as ’n een van die wêreld se mees gesogte toeriste-aantreklikhede. Is dit nie dalk payback time nie? Tyd dat ons en die Stad Kaapstad erkenning gee aan ’n unieke kultuur wat soveel bydra tot die kulturele diversiteit van ons reënboognasie.
Maar dit gebeur nie.

Athlone-stadion
“Die oorlewing van Afrikaans lê in skoolopleiding en op die Kaapse Vlakte,” kondig ’n radioaanbieder onlangs Marlene van Niekerk se benoeming vir die Man Booker-prys aan. Jippieee! dink ek, ek sien uit na baie meer skrywes uit die woelige pen van mnr en mev Trantraal.
Maar …. Wat van die Kaapse Maleiers hier tussen ons in Kaapstad? Wat van die 9 000 tot 15 000 mense in die Goeie Hoop-sentrum wat aand na aand na die mooiste, suiwerste Afrikaans van die Maleierkore luister, wat saam neurie as eeue oue Nederlandse liedere op Oosterse wysies gesing word? Wat van die supporters wat met mekaar Afrikaans praat, maar in Engels besigheid doen? Of 15 000 mense op die Athlone-stadion wat die verbymars van die spoggerige troepe van die Koorraad luidkeels toejuig en mekaar goedig spot op die guitigste Afrikaans, maar hulle kinders na Engelse skole stuur omdat hulle nie meer “tuis voel” in Afrikaans nie.

’n Ou oompie sien my mond hang oop wyl ek die flinke passies van die perfek-in-pas-marsjering van die De Jonge Studentetroep aangaap as hulle in donker snyerspakke en rooi fes op die kop ’n ruk gelede op Athlone-stadion verbymars. Hy staan nader. “Suster,” maak hy die toegewing om Afrikaans met my te praat. “Suster, sê jy vir my. Waar is onse mense daar waar Suid-Afrikaners versamel? By die World Cups en Wêreldbekers? Daar is Zoeloedanse en pryssangers. Tot al ’n taxi op die veld gery. En mense wat die volkslied tog te vreemd sing. Waar is ónse mense dan? Hoekom tree daar nie Maleierkore op by groot kultuurgeleenthede nie? Of een van ons marsjeertroepe by ’n Wêreldbeker? Sê jy virmy.”
“Weet nie, Oom," protesteer ek. “Het Oom die mooi foto’s en die onlangse artikel in Die Burger oor die Kaapse Maleierkoorraad in BY gesien?”
“Nee, man,” glimlag hy half verleë. “Ons lees hom nie juis nie. Daar’s nie veel in vir ons nie. Net op Maandag koop ek hom – ek’s mal oor sport.”
Dit het vir my gevoel met “hom” verwys die oom na Afrikaans en nie na die Afrikaans van die Kaapse Vlakte nie.
In 1972 pleit die geliefde ID du Plessis in ’n voorwoord van die boek van AA Balkema, The Cape Malay:
Through contact with the Europeans, they lost their own songs, learned those of Holland and kept them alive when the colonists took to the covert wagons on their long trek north. For these people from the East who have preserved for us part of our Western heritage, recognition will lead to even more faithful co-operation in service to South Africa.
Erkenning was daar sedertdien nie veel van nie.

Hertzoggies
Saterdagaand by die Champion of Champions het sprekers hartstogtelik gepleit vir die behoud van Afrikaans. Maar nie suiwer Afrikaans nie, Afrikaans soos ons hom praat – Kaaps – het een getier. “Ons sê nie ’uuuuuuie’ nie, ons sê ’ywe’.” Maar om my het ek “suiwer” Afrikaans gehoor; op die verhoog het die kore Nederlands en “suiwer”Afrikaans gesing – behalwe vir die moppie wat satiries is.
Kan dit wees dat Kaapse Maleiers weer voel soos hulle moes gevoel het na die verkiesing van generaal Hertzog?
Toe JBM Hertzog gestaan het vir eerste minister van Suid-Afrika in 1935, het hy twee beloftes gemaak. Hy het beloof as hy verkies word, gaan hy vrouens ook stemreg gee en – in sy eie woorde – “die Slamse gelyk maak aan blanke vrouedeur hulle ook die stem te gee”. Dit was net ’n kwessie van tyd of ’n lekker kleinkoekie verskyn op soettafels in die Bo-Kaap: Hertzoggies. ’n Oop soetkoekie met ’n klontjie appeljellie in die middel en eierwit met klapper bo-op. ’n Gebaar van dankbaarheid om generaal Hertzog se ligte gelaat en sagte hart te vereer.
JBM Hertzog is verkies as eerste minister (1935–1942) en in 1936 het wit vroue stemreg gekry. Die Maleiers … totaal vergete. Skryf hy in Die Maleise samelewing aan die Kaap, 1939:"Natuurlik het die frustrasie oorgekook en wel in ’n soetkoekie, ’n Twie’gevrietjie, om die verraad vir ewig te onthou. Dieselfde koekie met minder botter. ’n Harde, plat koekie met ’n twee-kleurige gesiggie op. Die een helfte pienk-versiersuiker, die ander helfte bruin-sjokoladeversiersuiker."
Simbolies van die wit man met die harde, donker hart en die gesig met twee kleure. Met spesiale geleenthede word die twee soetkoekies vandag nog op dieselfde bord bedien en die hartseerstorie oorvertel.

Distrik 6 herhaal
Géén ander fasiliteit in Kaapstad kan die tot 15 000 ondersteuners huisves vir die Kaapse Maleierkoorraad se jaarlikse koorkompetisies nie – net die Goeie Hoop-sentrum is groot genoeg daarvoor. Is dit nie skreiend dat volgende jaar, die jaar van die 50-jarige herdenking van die forced removals en die vernietiging van Distrik 6, ons weer toelaat dat ons kosbare Maleierkultuur verwilder word Vlakte toe, eerder as om gekoester te word in ons midde … tot voordeel van ons almal, veral van ons taal nie?


Foto's verskaf deur Anet Pienaar-Vosloo


Kommentaar
Ek Paul. Ek is met die Jonge Elsies Singkoor in Elsiesrivier. Ek is op soek na die woorde van "Groot Vogelen", 'n Nederlandse lied, se woorde, as iemand vir my kan aanstuur, asb?