Ervaring, verbeelding en politieke oordeel: by die lees van Max du Preez se Aanstap Boere

  • 7

Titel: Aanstap Boere
Skrywer: Max du Preez

ISBN: 9780624096863
Uitgewer: Tafelberg

Max du Preez se Aanstap Boere: ’n ooggetuie van die ontrafeling van wit mag in Suid-Afrika (Tafelberg, 2026) wek allereers waardering. Min Suid-Afrikaners van sy geslag het ’n lewe gelei wat so merkwaardig met ons geskiedenis verweef is.

Op skaars 22-jarige ouderdom betree Du Preez die joernalistiek (hoofstuk 2). Kort daarna beleef hy die Soweto-opstand van 16 Junie 1976 eerstehands – ’n ervaring wat sy politieke bewussyn ingrypend verskuif (hoofstuk 3). Dan volg ’n uitsonderlike loopbaan: parlementêre verslaggewer; korrespondent in Suidwes-Afrika gedurende die laaste jare van die onafhanklikheidstryd; ’n kort verblyf in Ierland (hoofstukke 5–9); werk by Engelse koerante (hoofstukke 10–12); deelnemer aan die Dakar-gesprekke van 1987 (hoofstuk 13); stigter en redakteur van Vrye Weekblad (hoofstuk 15); ’n eredoktorsgraad op 41; dokumentêre vervaardiger; en skrywer van historiese en politieke werke. Nou volg sy pas verskene memoir. Min mense het die wording van die nuwe Suid-Afrika so intiem beleef én help verwoord.

Die subtitel benoem sowel die krag as die beperking van die boek. Aanstap Boere is die relaas van ’n ooggetuie wat saam met die ontrafeling van wit mag beweeg het; meer as ’n memoir, maar ’n joernalistieke portret van daardie geskiedenis. Juis hierin lê die boek se betekenis én sy grens.

Sy vroeë loopbaan roep vanself vrae op. Hoe word iemand op 22 politieke verslaggewer en binne enkele jare een van die voorste parlementêre joernaliste van sy geslag? Was dit talent, historiese toeval, of iets van albei? Het die snel bewegende Suid-Afrika van die 1970’s en 1980’s jong mense gedwing om buitengewone verantwoordelikhede te aanvaar?

Du Preez beskik ongetwyfeld oor buitengewone joernalistieke gawes: Hy is nuuskierig, beweeg gemaklik tussen mense, herken ’n storie voordat ander dit selfs raaksien en het die moed om dit te vertel. Hy begryp die betekenis van ’n gebeurtenis, terwyl dit nog ontvou. Min skrywers kan die koors van ’n politieke oomblik so noukeurig registreer.

Du Preez is juis op sy beste wanneer hy naby aan mense en gebeure bly, wanneer ervaring in vertelling oorgaan en ’n politieke moontlikheid voor die leser oopgaan. Hy oortuig minder waar historiese afstand, vertolking en politieke oordeel nodig word. Nie omdat sy standpunte noodwendig verkeerd is nie, maar omdat hulle soms te regstreeks uit sy vormende ervaringe voortvloei en te weinig deur die latere geskiedenis én deur refleksiewe besinning getoets word.

Die memoir kan gelees word as ’n beweging tussen ervaring, verbeelding en politieke oordeel: Soweto 1976 as vormende ervaring; Dakar 1987 as daad van politieke verbeelding; en Suid-Afrika ná 1994 as toets waaraan daardie verbeelding onderwerp word. Daarmee kom drie maniere waarop ons die geskiedenis verstaan ter sprake: dié van die joernalis, die historikus en die politieke filosoof.

Ervaring: Soweto 1976

Die eerste beweging – dié van ervaring – ontvou reeds vroeg in Aanstap Boere. Du Preez beskryf hoe die Soweto-opstand van 16 Junie 1976 sy lewe verander het (43–5; 48–52). Anders as wit Suid-Afrikaners van sy tyd het hy dié gebeure nie vanuit ’n veilige voorstedelike sitkamer of universiteitskantoor aanskou nie. Hy was daar. Hy het die geweld, die vrees en die menslike tragedie eerstehands beleef. Só word Soweto die beslissende oomblik van sy politieke ontwaking.

Van daardie dag af verskuif Du Preez se politieke wêreldbeeld. Hy verloor sy geloof in die apartheidstaat en wy sy loopbaan toenemend aan die vraag hoe ’n ander Suid-Afrika moontlik gemaak kan word. Min mense het destyds die moed gehad om so openlik met hul eie politieke erfenis te breek. Daarvoor verdien Du Preez besondere erkenning.

Juis hier ontstaan ’n kritiese voorbehoud. ’n Beslissende ervaring kan ’n mens moreel wakker skud en tot optrede beweeg. Maar kan so ’n ervaring onveranderd die grondslag van ’n politieke visie bly? Of moet selfs ons diepste ervaringe in die lig van nuwe feite, mislukkings en onbedoelde gevolge hersien word? Die joernalis mag deur die oomblik verander word; die historikus en politieke filosoof moet vra hoe die betekenis daarvan mettertyd ontvou.

Dit is nie ’n rangorde van beroepe nie, maar ’n onderskeid tussen perspektiewe. Die joernalis werk vanuit die onmiddellikheid van ervaring; die historikus plaas dit binne ’n langer, dikwels teenstrydige verhaal; die politieke filosoof ondersoek die vooronderstellinge en normatiewe gevolge daarvan. Al drie is nodig, maar uitnemendheid in die eerste waarborg nie uitnemendheid in die ander twee nie.

Daarom het Aanstap Boere my aan Hegel (1770–1831) laat dink. Nadat hy in 1807 sy Fenomenologie van die gees voltooi het, was hy ’n kort tyd redakteur van ’n koerant in Bamberg. Dit was minder vreemd as wat dit klink: Denke ontstaan nie in afsondering van die wêreld nie. Tog het Hegel na die akademie teruggekeer, omdat ervaring alleen nog nie begrip oplewer nie. Begrip verg afstand, herinnering en die geduld om gebeure binne ’n groter historiese geheel te beoordeel.

Hierin lê Du Preez se krag én sy grens: Hy beleef die politieke werklikheid eerstehands en vertel dit meesterlik, maar nabyheid aan die geskiedenis lewer nie vanself historiese afstand op nie. Die vraag is hoe volledig ervaring later in politieke verbeelding en kritiese oordeel omgesit word.

Verbeelding: Dakar 1987

As Soweto 1976 die ervaring was wat Du Preez se politieke bewussyn verander het, is Dakar 1987 die oomblik waarop ervaring in politieke verbeelding oorgaan (178–95). Groot verandering begin nie bloot wanneer mense anders voel nie, maar wanneer hulle ’n ander toekoms begin voorstel. Vir Du Preez en ander deelnemers was Dakar meer as ’n ontmoeting tussen Afrikaners en die ANC. Hulle het dit gewaag om ’n demokratiese eenheidstaat met gelyke politieke regte te verbeel toe dit nog allesbehalwe vanselfsprekend was. Sonder dié verbeelding sou Suid-Afrika se betreklik vreedsame oorgang waarskynlik nie moontlik gewees het nie. Daarvoor verdien hulle erkenning.

Een episode belig die spanning van dié oomblik. Du Preez vertel hoe die historikus Hermann Giliomee gewaarsku het dat nie alleen Afrikanernasionalisme nie, maar ook swart nasionalisme ernstig deurdink moes word. Die opmerking het by Dakar weinig byval gevind (185–6). Die dringende taak was om ’n gemeenskaplike demokratiese toekoms te bedink; ’n waarskuwing oor toekomstige spanninge kon maklik na ’n verskoning vir die bestaande orde klink.

Dit is verstaanbaar, maar terugskouend betekenisvol. Die joernalis herken die moontlikheid wat op ’n beslissende oomblik ontstaan; die historikus vra watter ou spanninge daarin nuwe gestaltes kan aanneem; die politieke filosoof moet albei waarhede in hul spanning bedink. Du Preez verwoord die eerste meesterlik; Giliomee herinner ons aan die tweede; en die Dakar-deelnemer André du Toit probeer hulle filosofies saambedink.

Die eerste waarheid was dat Suid-Afrika geen volhoubare toekoms sonder ’n demokratiese eenheidstaat gehad het nie. Hier was die Dakar-generasie sy tyd vooruit. Die tweede was dat ’n gemeenskaplike staat nie vanself ’n gemeenskaplike politieke wêreld skep nie. Gelyke burgerskap beëindig ’n onregverdige orde, maar hef nie magsverskille, herinnering, taal, groepsvorming of botsende opvattinge oor die verlede en geregtigheid op nie. Dit verander die ruimte waarin hierdie spanninge hanteer moet word.

Hier lê Aanstap Boere se grootste betekenis én sy grens. Die boek wys meesterlik hoe ervaring in politieke verbeelding oorgaan, maar ondersoek minder indringend hoe daardie verbeelding later deur staatsmag, oorheersing deur een party, rasgebaseerde wetgewing, korrupsie, identiteitspolitiek en institusionele verval getoets is.

Dakar was dus nie die voltooiing van ’n politieke visie nie, maar die begin daarvan. Die joernalis kon die nuwe Suid-Afrika help verbeel; die historikus en politieke filosoof moet vra wat van dié moontlikheid geword het – en waarom die verwagtinge van 1987 en 1994 net gedeeltelik verwesenlik is.

Kritiese beoordeling: Suid-Afrika ná 1994

Die subtitel verklaar die boek se gewigsverdeling gedeeltelik: Byna 300 bladsye volg die ontrafeling van wit mag vóór 1994; ongeveer 50 moet die drie dekades daarna dra. Aanstap Boere is nie in die eerste plek ’n geskiedenis van die nuwe Suid-Afrika nie, maar ’n ooggetuieverslag van hoe die demokratiese orde moontlik geword het. Waar Du Preez die huidige Suid-Afrika beoordeel, beweeg hy egter verby ooggetuienis en word historiese vertolking en politieke denke noodsaaklik.

Ná 1994 was die vraag nie meer hoe apartheid beëindig moes word nie, maar hoe ’n volhoubare demokratiese eenheidstaat in ’n diep verdeelde samelewing opgebou kon word. Hoe word politieke eenheid met historiese, kulturele en ekonomiese verskille versoen? Hoe verander ’n bevrydingsbeweging in ’n moderne regeringsparty? Hoe beskerm burgers demokratiese instellings wanneer die morele gesag van bevryding in die alledaagse uitoefening – en misbruik – van mag oorgaan? En hoe beoordeel ’n voormalige dissident ’n regering waarmee hy die demokratiese ideaal deel, maar waarvan hy die praktyk toenemend afwys?

Dit is nie geringer vrae as dié van die stryd teen apartheid nie. Hulle verg ’n ander soort moed: nie alleen om ’n onregverdige orde te verwerp nie, maar ook om die gebreke van die daaropvolgende orde konsekwent te deurdink. Sulke vrae verdien meer as ’n epiloog.

Juis hier keer Giliomee se Dakar-vraag soos ’n spook terug. In 1987 kon dit die dringendheid van die oomblik vertroebel; ná 1994 word dit deel van die werklikheid wat beoordeel moet word. Dit beteken nie dat die demokratiese ideaal verkeerd was nie, maar dat elke historiese ideaal aan sy gevolge, nuwe magsverhoudinge en onvervulde beloftes getoets moet word. Politieke oordeel begin wanneer ’n mens selfs jou beste politieke verbeelding aan die latere geskiedenis blootstel.

Teen hierdie agtergrond is Du Preez se slot betekenisvol. Hy sonder Solidariteit en AfriForum (296–327) vir kritiek uit. Tereg waarsku hy dat teleurstelling met die demokratiese staat in politieke onttrekking kan oorgaan; dat selfstandigheid tot selfgenoegsaamheid kan verhard; en dat die ideaal van ’n gemeenskaplike Suid-Afrika deur ’n enger gemeenskapspolitiek verdring kan word. Dié kritiek verdien ernstige oorweging: Afsonderlike instellings, hoe suksesvol ook al, bied nie vanself ’n antwoord op die vraag hoe Suid-Afrikaners ’n gedeelde politieke wêreld kan opbou nie.

Dit beteken nie dat Solidariteit en AfriForum bloot uit nostalgie of afsonderingsdrang ontstaan nie. Hulle mobiliseer ervaringe wat talle mense ná 1994 opgedoen het: staatsverswakking, institusionele verval, kulturele onsekerheid, plaasmoorde, regstellende aksie en gebrekkige dienslewering. Om dit te erken, is nie om hul politieke antwoord te verdedig nie. Dit verklaar hul aanklank; dit regverdig hulle nie. Ervaring kan probleme sigbaar maak en doeltreffende optrede voortbring, maar lewer nie vanself ’n toereikende historiese vertolking of omvattende politieke visie nie.

Juis hier word ’n ooreenkoms tussen die teenstanders sigbaar, maar geen morele of politieke gelykwaardigheid nie. Du Preez beroep hom op eerstehandse joernalistieke ervaring; Solidariteit en AfriForum op die ervaringe van hul lede en die verhaal wat hulle daaruit bou. Du Preez onderskat die omvang van wat ná bevryding skeefgeloop het. Sy teenstanders maak van staatsverval, kulturele onsekerheid en uitsluiting die grondstof van ’n verskraalde gemeenskapspolitiek wat die gedeelde Suid-Afrika makliker prysgee as opbou. Albei sien werklikhede raak, maar bly aan hul eie ervaringswêrelde gebind. Wat ontbreek, is historiese afstand en politieke denke wat ons verby abstrakte inklusiwiteit en selfgenoegsame afsondering kan neem. Du Preez help ons nie ver genoeg nie; Solidariteit en AfriForum nog minder.

Aanstap Boere laat die leser uiteindelik met groot waardering, maar ook met ’n mate van twyfel. Du Preez vertel meesterlik hoe lede van ’n generasie apartheid anders leer sien en ’n demokratiese alternatief help verbeel het. As joernalis is hy op sy sterkste: teenwoordig, moedig, oplettend en ’n begaafde verteller van beslissende oomblikke. Ons kry die onmisbare getuienis van hoe die nuwe Suid-Afrika moontlik geword het, maar nie die historiese herbesinning en politieke denke wat ons kan help verstaan waarom dit so diep vasgeloop het en hoe ons daaruit kan beweeg nie. Vir hierdie ooggetuienis is ’n mens Du Preez diep dankbaar; tog bly dit jammer dat hy ons uiteindelik nie verder help sien nie.

  • 7

Kommentaar

  • Dit is 'n weldeurdagte bespreking, dankie daarvoor. Ek het enkele opmerkings. Subjektiwiteit is deel van ons menswees. (Ek ken net een ware objektiewe mens.) Maar dit hang af of dit jou besit, en of jy darem ook soms eenkant toe kan staan. My ervaring met Max is dat hy meestal die bal speel. Ja, sy interaksie met die Solidariteit en Afriforum is voorspelbaar en hy het seker al oor die lyn getrap, maar hy het hulle darem meermale ook krediet gegee. Ek dink die probleem is dat hulle onder 'n vaandel beweeg wat nie 'n mooi verlede het nie. Dis seker moeilik om te bewys, maar ek dink nie daardie vaandeldraers was pro-Nuwe Suid-Afrika nie. Nou kom hulle met indrukwekkende argumente oor die post-1994 slagoffers. In isolasie gesien is baie van hulle beswaarpunte geldig, maar dit gaan nie op 'n weegskaal werk nie. Laaste punt: ek dink nie die oogmerk met die boek was om 'n 360 grade bespreking van die geskiedenis te wees nie, eerder om bepaalde sienings en optrede te bekyk?

  • Dis 'n baie sinvolle resensie wat Pieter Duvenhage hier gedoen het van die Afrikaanse weergawe van Max du Preez se nuutste boek. Sy beoordeling is grootliks geldig, behalwe vir twee sake. Hy meen eerstens 'Du Preez onderskat die omvang van wat ná bevryding skeefgeloop het'. Tweedens sluit Duvenhage af deur te beweer 'dis jammer dat hy ons uiteindelik nie verder help sien nie'.

    Beide die beweerde 'leemtes' in die boek val egter volledig buite die uitdruklike bestek van Du Preez se fokus. Ek verstaan die versugting van 'n filosoof soos Duvenhage om tog ook 'n langer-termyn beoordeling van die geskiedenis en huidige situasie te kry as bloot net 'n joernalistieke ervaring. Du Preez gee egter nie voor dat hy 'n filosoof, historikus of anders soort akademikus is wat 'n gepoogde 'objektiewe' relaas skryf oor wat hy ervaar het nie. Hy is en bly 'n politieke joernalis met 'n baie progressiewe uitkyk op die lewe.

    Hy som bloot sy persoonlike waarnemings, ervarings en gevolgtrekkings sover op teen die agtergrond van sy baie konserwatiewe Afrikaneropvoeding en groeiende skeptisime oor sekere perspektiewe oor Afrikaners en Christelike-Nasionalisme wat hy saam met sy moedersmelk oor tyd ingekry het. Dit het hy uitstekend gedoen. Die boek is 'n politieke oorsig oor sy persoonlike siening van sekere hoofmomente uit sy verlede en hede, en nie 'n omvattende teoretiese vooruitskouing oor die toekoms van die land nie.

    Dalk is Duvenhage self of ander historici of politieke wetenskaplikes wat kans sien daarvoor, beter in staat om daardie leemte te vul? vul

  • Jan Greyvenstein

    Uitstekende resensie. Geloofwaardigheid word verdien. Joernaliste moet objektief bly. Max notuleer duidelik nie die totale verval na 94 nie. Hy kan nie. Dit pas duidelik nie by sy politieke agenda nie. Wie is Max Fu Preez vandag? Het hy nog waarde? Die boek indeling is insiggewend. Biskop Tutu het die moed gehad om erg krities na beide kante te wees. Du Preez, kan dit ongelukkig nie wees nie. Ek het elke stap tot demokratisering ondersteun. Ek is steeds hardwerkend in die sisteem. Ek is egter ontnugter deur dit wat Pieter Duvengage hierbo noem. Ongelukkig is Max soos baie mense gou om dit uit te wys en stadig om dit analities te ontleed en uit te wys. Vra ek die retoriese vraag aan my reisgenote toe ons deur 'n vervalle Suid- Vrystaatse dorp ry: Hoe gaan dit hier oor 20 jaar lyk? Het die arme mense 'n toekoms?

  • Die paaie in die Vrystaat, Noord-kaap, Noordwes, Oos-kaap en Mpumalanga is nie die stadsjapies se probleem nie. Ook nie die vervalle dorpe nie. Mens verwag enige dag ook 'n nasionale ramp weens die situasie met water. Ook dit sal apartheid en Jan van Riebeeck se skuld wees.

  • Charl-Pierre Naudé

    Dankie vir hierdie boek, Max du Preez. En ook dankie aan Pieter Duvenage vir die soort resensie wat boeke soos hierdie een beloon met die soort nadenke wat die publikasiegebeurtenis daarvan absoluut die moeite werd maak.

  • Cornelius Henn

    Ek sit hier met ’n dubbele koffie en ’n stukkie vars beskuit. Buite is dit stil. Ek het Duvenage se resensie van Max du Preez se Aanstap Boere nou twee keer gelees, en al die kommentaar daaronder.

    Hy is deurdag. Hy gee Max die ervaring – Soweto, die jare by Vrye Weekblad, Dakar. Hy sê Max is op sy beste wanneer hy naby aan die mense en die gebeure bly. Dit is waar. Max het nooit voorgegee dat hy ’n filosoof of sistematiese historikus is nie. Hy is ’n joernalis wat ’n lewe lank probeer het om te sien wat voor hom gebeur en dit so eerlik moontlik neer te skryf. Die boek is ’n ooggetuieverslag, en dit moet as sodanig gelees word.

    Maar Duvenage sit die vinger op iets wat dieper lê. Hy sê Max se oordeel vloei te direk uit daardie vroeë ervaringe, en dat die latere geskiedenis nie hard genoeg teen daardie ervaring gemeet is nie.

    Maar hoe lees ’n mens die land wanneer die ankers nie meer daar is nie?

    Ek kom ook uit die era waar die Kerk te dikwels die apartheidsorde geheilig het, en waar “ankers” soms net ’n mooi woord was vir eksklusiwiteit. Ek het ook my lewe lank teen daardie misbruik gestaan.

    Maar wanneer ek na die dorpe kyk, na die paaie, na die water, na die stil geweld teen gewone mense, voel ek die leemte waarvan die geskiedenis ons al so lank waarsku. Iets het losgeraak wat nie net met beleid of korrupsie verklaar kan word nie.

    Die twintigste eeu het hierdie patroon onverbiddelik gewaarsku. Wanneer die diepste ankers – die Kerk, die organiese gesin, die moederhart – stelselmatig afgebreek word, laat magspolitiek nooit die vakuum leeg nie.

    Die Sowjetunie het dit bewys. Die Kerk is gemarginaliseer, die gesin ideologies ontmantel, en die mens as die maat van alle dinge verklaar. Die gevolg was erge verval. Toe die mure val, was dit nie sekulêre humanisme wat die orde herstel het nie, maar die volhardende teenwoordigheid van die altaar. Die skild in Poetin se hand is feilbaar, maar onder daardie skild kan die sakramente vandag weer bedien word.

    Dieselfde dinamiek speel nou in groot dele van die Weste af. Die gesin word 'n kontrak, geloof word private bygeloof, en die leemte word gevul deur geldmagte en burokrasie.

    Was Dakar net verbeelding? Of was dit die enigste verantwoordelike ding om in daardie oomblik te doen? Ek dink laasgenoemde. Maar ek wonder of ons genoeg nagedink het oor wat gebeur wanneer die ou ankers afgebreek word en die nuwes nie stewig genoeg geplant word nie.

    Die kommentare onder Duvenage se stuk lees soos ’n spieël van die land. Party verdedig Max as “net ’n joernalis”. Ander sê hy wil nie die verval ná 94 regtig in die oë kyk nie. Een praat van die paaie en die water en soek die skuld by die verlede. ’n Ander stuur skakels. Almal praat verby mekaar, elkeen vanuit sy eie pyn.

    Ek wonder of die werklike probleem nie juis dit is nie: dat ons almal – progressiewes, konserwatiewes, teoloë, joernaliste – so vas sit in ons eie ervaring dat ons die ander se ankers net as dreigemente sien.

    My beskuit is klaar. Die koffie is koud.

    Die fasciste het geval. Die leemte is daar. En die kinders betaal.

    Miskien is dit al wat oorbly: om te bly kyk, selfs wanneer die prentjie leliker word as wat enigeen in 1976 of 1987 of 1994 verwag het. En om te erken dat ervaring alleen, selfs jou eie, nie genoeg is wanneer die ankers self begin verdwyn nie.

    My knie buig voor Christus alleen. Ek erken die skild in Rusland wat die altaar en die gesin nog beskerm – nie omdat die skild heilig is nie, maar omdat chaos erger is.

    Dit is nie ’n politieke voorkeur nie. Dit is die les van die geskiedenis.

    Boeregroete,
    Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top