Erla-Mari Diedericks (1960’s–)

  • 0

Gebore en getoë

Erla-Mari Diedericks is op ’n Vrydag in die 1960’s in Port Elizabeth gebore – “en die volgende Vrydag het my aanneemouers my gaan haal”, vertel sy aan LitNet. Sy is die enigste kind van haar aanneemouers. Haar ma, Aletta Diedericks, is vroeë vanjaar (2026) oorlede en dit was eers met haar afsterwe dat Erla-Mari gehoor het dat haar geregistreerde naam Emellene Swart was. Haar ma was ’n nooi Swart en haar pa se van was Swanepoel. “Dis nogal iets om jou regte te naam te sien kort voor jou sestigste verjaardag” (aan LitNet).

Oor haar aanneming vertel Erla-Mari aan Stephanie Nieuwoudt dit is iets wat altyd deel van haar sal wees: “Dit is deel van my identiteit, maar dit bepaal nie meer my geluk of ongelukkigheid nie” (Beeld, 30 Mei 2011).

Sy spandeer haar laerskooljare aan die Laerskool Verkenner en haar hoërskooljare bring sy deur aan die Hoërskool Framesby – albei in Port Elizabeth (nou Gqeberha).

Oor onderwysers wat sy uit haar skooljare onthou, vertel sy dat Andre Stassen vir hulle Afrikaans gegee het en eenmaal vir “my mooi verduidelik het dat ek in my een opstel die woord ‘organies’ en ‘orgasmies’ omgeruil het”.

Maar sy sal veral die bibliotekaresse onthou wat haar eerste vyf boekies vir haar gegee het toe sy vier jaar oud was: “Daarna het ek altyd al my boeke by haar uitgeneem en my eerste boek vir haar gegee om in die biblioteek te sit. Dit was ’n baie spesiale oomblik.”

Op Netwerk24 (28 Oktober 2020) vertel Erla-Mari dat sy as tiener enige Kaaps-Hollandse boek, asook verbode Afrikaanse en Engelse boeke, verslind het: “Hoekom? Want daar was seks in. In die Kaaps-Hollandse boeke was dit eerder die suggestie daarvan – ’n aantreklike Franse edelman wat haar van rowers red en haar opraap op sy swart hings en haar styf teen sy gespierde manlike lyf druk.

“Enigiets van André P Brink het ek van die rakke gegryp – wat my Afrikaanse onderwyseres verskriklik beïndruk het en dalk my loopbaan as skrywer gevorm het – maar dit was alles agter die stoute paragrawe aan.

“Ek het in die aardrykskundeklas die eerste verbanne oorsese boek in die hande gekry. Ek was in standerd nege. Die wilde seuns wat altyd agter in die klas gesit het, het my gereeld gespot oor ek ’n boekwurm was.”

Verdere studie en werk

Ná skool is Erla-Mari na die Universiteit van die Vrystaat, waar sy haar dramagraad behaal, asook ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands. Later verwerf sy ook ’n nagraadse diploma in vertaling en redigering aan die Universiteit Stellenbosch.

Haar eerste professionele stuk skryfwerk was vir Beeld se rubriek “Deurloop” toe sy 24 jaar oud was. Deesdae werk sy voltyds as joernalis, asook (steeds) as rubriekskrywer vir Netwerk24, en, sê sy aan Elretha Britz, “om skrywer en joernalis te wees, is die perfekte kombinasie van nuus, aksie, feite, fiksie en kreatiwiteit. Geeneen van die twee bring ’n goeie inkomste in nie, maar met die twee saam kan ’n mens die pot aan die kook hou” (Netwerk24, 4 Junie 2020).

Sy was getroud en het een seun, wat die liefde van haar lewe is. Sy was blootgestel aan huishoudelike geweld en sy sê aan Nieuwoudt dat toe dit die eerste keer gebeur, sy ’n gevoel van die dramatiese beleef het: “Wanneer dit die eerste keer gebeur, dink jy dis passie. Dis eenmalig. Dan gebeur dit weer en weer en jy weet dis nie net ’n gereelde ding nie, maar ook deel van jou lewe.”

Soos baie ander vroue het sy dit aanvanklik verswyg. Sy het later haar man verlaat en hulle is geskei. Sy woon in Bloubergstrand in die Kaap saam met haar twee katte.

Hierdie ervarings het gelei tot die skryf van haar eerste boek, wat in 2011 deur Zebra Press uitgegee is onder die titel Sin, sushi & survival.

Niewoudt beskryf Sin, sushi & survival as ’n boek oor pyn: “fisiek en geestelik en ’n desperate soeke na genesing. Dis ’n boek oor seks wat jou oë laat rek. Maar dit gaan veral oor ’n vrou wat amper heelhuids anderkant uitkom nadat haar man haar jare lank aanrand, sy van hom skei en met haar lyf en ’n rits mans – ’n paar keer selfs in ’n seksklub – die gat in haar hart probeer heelmaak. Amper heelhuids, want daar is nooit klinkklare antwoorde of oplossings vir probleme en vraagstukke nie. Die meeste mense loop hul lewe lank met die onsigbare merke wat die lewe laat.”

Nieuwoudt het verder geskryf dat die onderwerpe wat in die boek uitgelig word, baie ernstige sake is, “maar daar is nooit ’n nou-wil-ek-my-polse-sny-oomblik vir die leser nie. Want die skrywer is sardonies, ironies en gewoonweg snaaks. Sy noem ook ’n ding op sy naam, soos dit dikwels in die volksmond gehoor kan word.”

Erla-Mari sê ook aan Nieuwoudt: “Ek dink dis my eerlikheid wat mense laat lag, want hulle herken hulself.”

Die beeld wat met die lees van hierdie memoir vir die leser oopgaan, is een van ’n sterk vrou, maar een “wat ook op vele vlakke weerloos is en soos miljoene ander bekommerd is oor selluliet, ekstra kilogramme en plooie”.

Op Goodreads skryf Erla-Mari self oor Sin, sushi & survival: “This was NOT the book that I wanted to write. It is, however, the book I had to write. What I think of the book? Well since it is about my life, I wish the plot was different! Some characters I wished died a horrible death, others I wished kept on living, and some characters I am so thankful are in my life.

“I like the ending though and would not change it for the world! Every week I get emails from women who have read the book – the women with the broken bones and hearts – but not broken souls ... no NOT broken souls ... They tell me how it made them laugh and cry and gave them validation. That is the best review any writer can wish for.”

Op IOL skryf Refilwe Thobega só oor Sin, sushi & survival: “A journalist by profession, Diedericks is not new to the written word and it shows in her writing. She has it all – the flow, pace and structure. She knows when to draw you in and when to relax, vividly showing all the details and when to step back just a little.

“Most female readers will relate and even identify with the writer, who, like most of us, is not perfect, but tries to make perfect sense of her own confusion by starting over. She survived. Bottom line? Life goes on. And all that matters is what you make of it.

“This memoir would make a great film, I think. The pages turn as she ‘cuts’ from scene to scene. Perhaps it’s not such a good thing for a novel, though. Yet, it is a definite must-read. Adults only.”

Christiaan Boonzaier is die onderhoudvoerder met Erla-Mari in Beeld (12 September 2019) oor haar volgende boek, Seks, leuens en die internet. Hy skryf dat Erla-Mari se internetafsprake met mans só “pynlik en wispelturig” was dat sy besluit het om daaroor te begin skryf. Sy het begin om hierdie belewenisse in ’n reeks rubrieke op Netwerk24 met mense te deel, totdat LAPA-Uitgewers dit raakgesien het. Hulle het Erla-Mari gevra om hierdie soeke na liefde in boekvorm weer te gee.

Erla-Mari, wat haarself beskryf as ’n “kenner van alles wat verkeerd kan gaan in ’n verhouding”, vertel aan Boonzaier dat die boek nie net gaan oor seks en halwe waarhede nie: “Op die oppervlak gaan die boek oor ’n vrou in haar 50’s wat weer op dating sitesgaan en besef die see is vol vrot visse – en ’n goeie vangs gaan maar sukkel. Maar daar is ook dieper-onderliggende temas van selfondersoek en vrees vir oudword, ouers wat doodgaan, skete en pyne waarvan jy nie meer ontslae kan raak nie, en daardie knaende stem wat jou vra of jy bereik het wat jy wou en of jy die regte besluite geneem het.”

Met die skryf van Sin, sushi & survival het sy haarself deur seks probeer vind, maar met Seks, leuens en die internet was die skryf daarvan die terapie wat sy gesoek het om haarself te vind, asook om dit wat sy nodig het, onder oë te neem: “Ek het vir myself geskryf om uit te klaar hoekom ek so soek na iemand, hoekom ek dink ek nie sonder ’n man oor die weg kan kom nie, en hoekom dinge nooit uitwerk nie.

“Maar ek het besef dat my vrae en my struwelinge universeel is – en dis nie net vroue wat in ’n wrede wêreld na ’n sielsgenoot en ware liefde soek nie, dis mans ook.”

In haar bespreking van Seks, leuens en die internet skryf Lourensa Eckard: “Die boek lees soos memoires, seks-memoires, oor ’n vrou wat op 50 vir die eerste keer eerlik met haarself kan wees, ná herhaalde mislukte verhoudings. Steeds hang haar soeke na ’n sielsgenoot oor elke sin en hoofstuk.” (Beeld, 26 Augustus 2019)

In 2020 verskyn Diedericks se Agter grendels, en wel as ’n e-boek. Sy het die boek vinnig geskryf en sê aan Elretha Britz dat die boek perfek inpas by die polemiek waarvan Deon Maas destyds (2020) gesê het dat boeke nie aanlyn geplunder sal word as e-boeke goedkoper is nie: “Agter grendels kos R49,00 en niemand het nou ’n verskoning om die boek te steel nie. Dit is goedkoper as ’n pakkie kondome.” (Volksblad, 5 Junie 2020)

Oor gebeure wat uitgeloop het op die publikasie van Agter grendels vertel Erla-Mari aan Britz dat sy gedurende die staat van inperking deur LAPA gevra is om erotika te skryf met die spesifieke doel dat dit net aanlyn sou verskyn: “Dit het my vier dae geneem van vurige, onverpoosde skryfwerk en ek het uiteindelik hygend klaargemaak. Dit was omtrent al hygery wat in my huis plaasgevind het.”

Met haar volgende verhaal, Dominique (2021), begeef Erla-Mari haar op die terrein van domestic noir – “’n blik op vreesaanjaende gebeure wat in die huislike of werkomgewing plaasvind,” som sy dit op by https://bookserladiedericks.wordpress.com.

Sy beskryf ook hoe sy ’n geel plastieksak oor haar kop getrek het sodat sy kon ervaar hoe dit voel om so te versmoor: “Ek trek die plastieksak oor my kop. ’n Geel mistige vrees sak oor my. My hart klop nie vinnig nie. Dit is ’n cliché. My hart word vasgesuig deur die plastieksak en meteens kan niks meer asemhaal en niks meer klop nie. Een sekonde, ek ruk die sak af.

“Wéér sit ek die sak oor my kop. Die dodelik gladde plastiek suig vas teen my vel, my neus, my mond. Haal vlak asem, vlak. Met elke teug suig die sak stywer om my gesig. Klam geel angs verstop my luggate. Ek ruk die sak af, drink ’n glas whiskey vir die senuwees. Nooit, ooit weer nie.”

Die hoofkarakter, Dominique du Randt, is ’n skilder en sekswerker. Sy vermoed dat sy “bekruip” word en besoek die sielkundige Martin du Plessis om sy hulp in te roep om uit te vind wie die bekruiper is.

Jo Els lewer haar lesersindruk van Dominique vir LitNet: “Wanneer ’n bra se streppie losglip en grondwaarts val, stort menige man se sedelike en/of morele waardes ook na benede. Dit het my ’n rukkie geneem om tot die besluit te kom om Erla-Mari Diedericks se Dominique aan te koop, want ek was inherent versigtig, gegewe my middeljarige plattelandse status, om nie die indruk te wek dat die witwarm tonele in die boek (soos ek gehoor het) die enigste rede sou wees om die boek te lees nie. Die voorblad waarsku mos reeds: ’nie vir sensitiewe lesers nie’ – en dis nie om jou af te skrik van gru-moordtonele nie.

“Ek ontvang toe vir Dominique, maar was nie heeltemal voorbereid op courtisane nie. Die roekelose skaduwee. Die kontras tussen lig en donker. Die boek strek veel verder as streppies en fyn goetertjies – dit ontwikkel in ’n sielkundige riller wat ek nog selde in Afrikaans teëgekom het.

“Diedericks ontbloot die skadukant van die wêreld van die sekswerker. Die vrou wat gewillig, of geforseerd, in hierdie bedryf staan. Of dan lê, onderwerp aan die ‘kliënt’ se soms bisarre wellustigheid. En in hierdie bedryf is daar mans wat gevoelloos gebruik maak van geleenthede en ongeskonde wegstap. Dis die vrou wat met die etiket agterbly. Hoeveel mans op eindelose kursusse en seminare ontwikkel nie weg van die huis die dapperheid om ’n klub van ongure reputasie, ’n ontkleedansklub, by te woon nie? Maar terwyl mans agterna rondom ’n kroegtoonbank met ’n glas bier hul ondervindinge bespreek, is daar ander mans wat obsessies ontwikkel. Dan raak pret en plesier ’n dodelike kat-en-bang-muis-speletjie.

“Ek het Dominique inderdaad ‘tintelend’ gevind – soos Kerneels Breytenbach in ’n onderhoud gesê het – maar ook dieper en donkerder ontdekkings gemaak. Dis ’n fyn uitgewerkte, deeglik nagevorste sielkundige riller wat my aandag van bladsy 1 tot die slim ‘ontknoping’ op bladsy 257 behou het. En helaas was dit gepas dat ek die boek klaargelees gekry het skuins na middernag een weeksaand, by ’n leeslamp in ’n donker huis ... want dis die regte tyd vir die boek. Dominique, en dan courtisane, is die geheimenisse van die nag. Jy durf hulle nie helder oordag onder ’n wilgerboom langs ’n rivierstroompie aan nie.

“Dit was my eerste Erla-Mari-boek, en aangesien my voorliefde misdaadfiksie is, sal ek nog bitter graag verder wil lees van hierdie begaafde skrywer. Bly te kenne, Erla-Mari. Jy het ’n paar grense hiermee verskuif.”

Jonathan Amid skryf in Rapport van 16 Mei 2021 baie vleiend oor Dominique: “Die ganse verhaal ‘torring’ as ’t ware aan groter knope in ons gewelddadige samelewing: fisieke en emosionele geweld teenoor vroue; ongelyke gender- en magsverhoudings; die menswees en regte van sekswerkers; en die rol van fiksie as maklik verteerbare medium om gesprekke oor ongemaklike maar belangrike onderwerpe aan te wakker.

“Daar’s ’n ontknoping wat jou na asem laat snak en behoorlik laat wonder, vertellings wat tussen die hede en verlede flits, verskeie karakters se verhale wat met mekaar ineenstrengel en goed knoop, en ’n magdom sekstonele, beskrywings en besinnings wat heelwat lesers warm onder die gordel sal kry, maar veral ook in diepe ongemak sal dompel.

“Die hoofkarakter is ’n beeldskone, sensuele vrou wat haarself kreatief uitdruk in gewaagde selfportrette en wat ondanks die letsels van haar traumatiese verlede vol verlies en emosionele geweld haarself in die wêreld laat geld. […]

“Die mens agter die masker – Dominique as vrou, dogter, eggenoot, vriendin en kunstenaar – word uiters behendig en met groot teerheid deur die skrywer vasgevang ondanks die algehele wêreldbeskouing wat die roman openbaar. […]

“Die roman slaag op verskeie vlakke die toets. Ondanks die oordadige of onsubtiele frase of beskrywing en te veel adjektiewe wat nou en dan kop uitsteek, is Dominique onderhoudend en slim geskryf, met genoeg afwisseling van tonele, ruimtes en karakters, terwyl die versnellings van pas, kort hoofstukke en verskeie intriges behendig saamgesnoer is.

“Dominique gaan ongetwyfeld die wenkbroue laat lig: Sex sells, ja, maar wie sou kon raai hoe bekwaam Diedericks as erotiese spanningskrywer sou wees?”

JB Roux skryf só: “Dominique se traumatiese kinderjare dreig om ’n bygesleepte motivering vir haar leefstyl te wees eerder as ’n volwaardige katalisator, maar al bied die gegewe soveel slaggate waarin die skrywer sou kon trap, kán sy ’n storie vertel: Dominique is geïnspireerd en dit voel nooit asof seks bygesleep is as sensasionele skoktegniek nie. Alles in dié verhaal maak sin en daar is geen rede hoekom grafiese seks nie die ruggraat van ’n goed geskrewe spanningsroman, eintlik ’n sielkundige riller, kan wees nie, as jy lus het vir ’n anderster roman.” (Netwerk24, 19 April 2021)

In 2022 verskyn Die bewonderaar, wat Dominique se karakter verder neem. In hierdie sielkundige riller is Dominique in ’n psigiatriese hospitaal. Sy is die hoofverdagte in die wrede moord op haar aanneemma. Haar sielkundige, Martin, is die enigste persoon wat haar glo dat sy agtervolg word.

Oor haar navorsing vir Die bewonderaar vertel Erla-Mari aan Elna van der Merwe van Huisgenoot (22 Julie 2022) dat sy nie ’n psigiatriese hospitaal kon gaan besoek nie, aangesien dit tydens Covid was, dus was sy aangewese op onderhoude met mense: “Ek het ook na baie beeldmateriaal oor psigiatriese hospitale gekyk. Ek het ook intens navorsing gedoen oor psigopate en dissosiatiewe persoonlikheidsafwykings.”

Sy erken ook teenoor Van der Merwe dat sy dit geniet om speletjies met mense se koppe te speel: “My boeke is ’n skaakspel waarin ek my volgende skuif altyd onverwags maak. Rillers spreek tot my donker kant.”

Op LitNet gee Jo Els ’n lesersindruk van Die bewonderaar: “Die Bewonderaar volg direk op die vorige riller Dominique wat meer elemente van erotika bevat, gegewe die karakter Dominique se skadukantlewe as ’n hoogbetaalde gesellin. Sy is as gevolg van ’n wreedaardige moord, waar sy die hoofverdagte was, vir waarneming in Molenberg Psigiatriese Hospitaal terwyl die geheimsinnige agtervolger in Dominique steeds haar geestestoestand teister en dit regkry om deur die omheinings en sekuriteit van so ’n inrigting haar, en die leser, se nekhare te laat rys. Molenberg self word ook ’n belangrike en sentrale ‘figuur’ in die hele verhaal.

“Ek glo dat Erla met hierdie werk stewig nesskop in die genre van sielkundige rillers. Haar navorsing is deeglik en oortuig my van totale realisme in hierdie rillende fiksie. Die karakters is uiteenlopend kleurvol; sommige sal deernis ontlok terwyl ander intens ontstel. Die eendjiepantoffels van die uitspattige pasiënt Mandy laat jou glimlag, en dan besef jy waarvoor sy in so ’n hospitaal beland het. Die psigiater Ann is buite die norm van wat enige pasiënt in ’n staatsinstelling sou verwag, met haar verfrissende en uiters-oorspronklike terapie.

“Die agtervolger, oftewel die ‘Bewonderaar’ se identiteit bly ’n totale geheimenis en die onthulling daarvan, en die redes hoekom hy so ’n koue gevoelloosheid het, was vir my ’n vuishou in die maag.

Die Bewonderaar het my mateloos beïndruk, en bevat beskrywings wat nie aanbeveel sal kan word vir sensitiewe lesers nie. Dis ’n uiters uitdagende boek in alle opsigte, en die deurlopende snaarstywe spanningslyn word puik volgehou.”

En in sy lesersindruk skryf Stefaans Coetzee op LitNet dat Erla-Mari se agtergrond as joernalis, resensent en ontwikkelaar van manuskripte baie tot haar uitnemendheid as skrywer bydra: “Sy pas al die reëls toe om spanning te skep: vreesaanjaende booswigte, klemmende atmosfeer (die gewese tronk wat nou as psigiatriese hospitaal dien en die akwarium), barbaarse geweld, kort hoofstukke, kort sinne – soms net enkele woorde – en waar nodig kru taal.

“Haar teks is knap geredigeer, maar dit is nie waar dit ophou nie. Daar is groot moeite met die omslag gedoen. Die betekenis agter die treffende voorblad word op bladsy 79 verduidelik. Die skilderye in die klub is deur verskeie kunstenaars geskilder, maar almal is van Ophelia, wat op William Shakespeare se toneelstuk The tragedy of Hamlet gebaseer is. ‘Elke skildery is van ’n kaal vrou. Onder water. Besig om te verdrink. Vroue met oop monde en meestal geslote oë. Soms is hul oë wel oop, glasig of starend. Skrikwekkend starend. Vroue met kaal borste, na benede getrek deur die water se koue liefdeshand. Ander weer in deurskynende rokke, hul doodsbleek vel bedek met besitlike varings en slykerige waterplante.’

“Die Bewonderaar gaan beslis as een van die groot rillers van die dekade onthou word. Lees dit!”

En weer is Jonathan Amid vol lof vir Erla-Mari se Die bewonderaar (Rapport, 19 Junie 2022): “Die bewonderaar is aanloklik verpak as roman vir volwassenes en bly deurgaans ’n kloustrofobiese, deeglik nagevorste sielkundige riller wat jou lank aan die raai hou. Diedericks jaag die bloeddruk behoorlik op en haar storie-elemente word iedereen met vrug ontgin en funksioneel aangewend. Op geen vlak stel die verhaal of die karakterisering teleur nie. […] Noemenswaardig is hoe jy as leser nooit te ver verwyder van die gebeure of karakters voel nie; hoe die spanning deur doeltreffende afwisseling tussen ruimtes binne en buite die psigiatriese hospitaal gerugsteun word. Verwag veel minder seks en heelwat meer sadisme.

“Wat egter veel meer uitstaan bo die grense van fatsoenlikheid wat hier uitgedaag word, is Diedericks se insluiting van die interteks van Hamlet se Ophelia, soos in Chris Karsten se Die versoeking van Thoman Maas. ’n Hoogtepunt hoe die skrywer ’n vernuwende, verskriklike werklikheid uit bekende gegewe skep wat jou verbeelding gevange neem.

“Die bewonderaar is op vele vlakke uiteindelik ’n voortsetting en verdieping van die sentrale vraagstuk: Hoe kyk ons na vroue? Sowel in die sin van hoe daar gekyk word na vroue as objekte en liggame verwyder van menslikheid, subjektiwiteit en gemeenskap, as hoe ons versuim in pogings om na vroue – oud en jonk, in elke gewaad en rol – om te sien en hulle te beskerm en te koester. Hou jou asem op en spring aan die diepkant in van dié dapper boek.”

Erla-Mari se volgende boek, Die kontrak, wat in 2023 by LAPA gepubliseer is, is die eerste van vier titels in die nuwe “Stoom 18+”-reeks. Dit is verhale in ’n “wilder seksuele styl”, en volgens die uitgewers bestaan daar ’n behoefte aan sulke boeke vir Afrikaanse lesers wat meer erotiese liefdesverhale wil lees; stories wat “hulle stomend dog stylvol op ’n sterk emosionele en fisieke belewenis saam met die heldin neem”. (Rapport, 26 Februarie 2023)

In die weke nadat Die kontrak verskyn het, verskyn dit pal op Amazon se Top 10-lys, sowel as onder die Top 10 van die Nielsen Book-scan, en is dit ook herdruk.

Op Netwerk24 (13 Maart 2023) is Anschen Conradie die resensent van Die kontrak: “Marike se verbreekte verlowing noop haar om haar lewenskoers te herbesin. ’n Advertensie om as muse vir ’n draaiboekskrywer te werk, is soos manna uit die hemel. Die werkkontrak, opgestel deur ’n prokureur wat as ’n bliksoldaat beskryf word en haar uitdruklik verbied om op haar werkgewer, Brett, verlief te raak, was aanvanklik vir haar geen struikelblok nie, maar die hart laat hom nie voorskryf nie.

“Dis op die oog af ’n eenvoudige sinopsis met ’n relatief voorspelbare uitkoms. En tereg ook so, want die publikasie verskyn onder die Romanza-druknaam; ’n voorspel tot aantreklike hoofkarakters, welvarendheid en eksotiese ruimtes. Die belofte om die leser goed te laat voel, sal kwalik nagekom kan word met hoofkarakters wat met lang hare in die ore en nikotienbevlekte vingers in hul neus krap.

“Die verwagting van die titels in die ‘Stoom +18’-reeks is natuurlik die insluiting van die seksueel meer eksplisiete en die skrywer slaag uitstekend daarin om hierdie tonele sonder oordrewe kruheid aan te bied; dis in aanvaarbare taal geskryf, poog nooit om te skok nie en alle deelnemers is instemmende volwassenes.

“Humor word doeltreffend aangewend om leesgenot te verseker, daar is ’n amusante voorval met tepelplakkers, ’n uitgesproke vriendin en Marike se ongekunstelde groet aan ’n regter in die hoë hof was ’n persoonlike humor-hoogtepunt.

“Dis belangrik om by die evaluering van enige publikasie die wysheid van Einstein toe te pas en nie ’n vis te beoordeel aan sy vermoë om boom te klim nie. ’n Romanza se hoofdoel is om te vermaak en te laat ontspan; om gelees te word met ’n plak sjokolade eerder as ’n woordeboek. Die kontrak voldoen in alle opsigte daaraan. Dis romantiese ontvlugting met ’n sterk erotiese inslag en prettige humor.”

In haar resensie van Die kontrak in Rapport van 26 Februarie 2023 skryf Annelise Erasmus dat wanneer iemand ’n boek resenseer, word nie net die boek bespreek nie, maar ook die skrywer. En in die geval van ’n romanza is dit nie regverdig nie, aangesien die skrywer aan bande gelê word omdat die skryf van ’n romanza volgens ’n resep moet geskied. En dat daar dus nie plek vir oorspronklikheid is nie.

Erasmus skryf verder: “Wanneer die skrywer klaar verantwoording gedoen het vir al die verwagte clichés en storielyne in die teks, is die toegelate woorde uitgeput.

“Diederiks is ’n goeie skrywer – dit is duidelik in haar ander boeke en haar joernalistieke skryfwerk. Sy weet ook hoe om ’n sensuele, erotiese sekstoneel te skryf, maar daardie tonele is ongelukkig nie in Die kontrak nie. Soms skemer wel ’n humorsin deur, of sy spot met dít waarmee sy besig is of haar lesers terg, maar dan word sy weer teruggeruk en beperk deur die vereistes van die genre.

“Sy skryf dié boekies waarskynlik maklik en vinnig vir ekstra inkomste én dit voorsien in ’n sekere behoefte in die mark, maar dit sou onregverdig wees om haar as skrywer ernstig hiervoor te evalueer.”

Erasmus sluit dan haar resensie so af: “Om en om beweeg hierdie ‘resensie’ met geen uitweg nie, net soos die uitgewer geen uitweg het as om weer iets nuuts te probeer nie, en net soos die skrywer nie ’n ander uitweg het as om die resep te volg en die genre te respekteer nie. Almal is slawe van die verbruiker en wat die verbruiker verlang. Laastens is dit nie regverdig om iets negatiefs te sê oor die romanzaleser nie. […] Daar is ’n rede waarom die resep gewild is, ’n rede waarom lesers terugkom vir nog. Dalk is dit juis omdat dit voorspelbaar en sonder uitdagings is – dus presies die teenoorgestelde as die werklikheid wat by die dag meer onseker en vreesaanjaend word. Ek sou ook myself in ’n enigmatiese, beroemde, skatryk, aantreklike man se arms wou verloor as ek kon. Dit is onregverdig om nie daardie behoefte by lesers te verstaan en erken nie.

“Net soos sy aantreklike helde en heldinne bly die romanza – en al die partye wat daarby betrokke is – in ’n beskermde wêreld. En dis dalk goed so.”

Hierdie bespreking deur Annelise Erasmus het die wors in die hondehok laat beland, en op sosiale media het die vere gewaai, skryf Sidney Gilroy (Rapport, 26 Maart 2023). Van een opinie (“Daar is plek vir hierdie tipe boeke, kyk dan hoe verkoop dit?”) tot ’n ander (Kan ons net ophou om boeke se waarde aan hul verkoopsyfers te koppel?”).

Die redakteur van Rapport gooi ook sy stuiwer in die armbeurs (Rapport, 26 Maart 2023) en som die “bloedige geveg” só op: “So hou koelkop in die stryd van skrywers: Moenie erotika vlak kyk nie. Of skrywers nie. Of genres nie. Om Alice in Wonderland aan te haal: ‘We’re all mad here.’“

Met haar volgende boek, Salemstraat, wat in 2023 gepubliseer is, keer Erla-Mari terug na die genre van huishoudelike noir. Sy begin die verhaal met die hoofkarakter, Emilee, wat haar man, ML Lambrecht, in die bors skiet – dít nadat dit algemene kennis was dat daar heelwat gevalle van huishoudelike geweld en doodsdreigemente was.

“Twee sterk vroue – die afgetrede psigiater, dr Ann, en die vurige jong prokureur, Liz, met die vinnige mond en swak vir hoëprofiel-egskeidingsake – gaan nou krap en nogmaals krap, want daar is meer geraamtes in Salemstraat as wat daar instapkaste in die Mount Nelson is,” skryf Jonathan Amid in Rapport (18 Junie 2023).

Hy gaan voort: “Een ding is seker: Erla Diedericks skryf nooit dieselfde boek twee keer nie, en Salemstraat sal nogmaals lesers nie ’n oomblik verveel nie. Diedericks hou aan om haar skrywerslem te slyp en haar manier van kyk te verskerp, en met elke boek, ongeag die genre of konvensies, sê sy iets van waarde oor die lot van vroue en die uitdagings en gevare wat hulle in die huis, by die werk en op straat moet trotseer. Nie eens in die huis of gemeenskap is vroue beskut teen ekstreme vorme van mishandeling en emosionele en fisieke geweld nie.

“Salemstraat se prosa is dalk funksioneel gestroop eerder as vertonerig en die uiteenlopende stemme van die hoofkarakters goed ontwikkel en herkenbaar, maar wat deurgaans uitstaan, is Diedericks se slag met subteks. Nou en dan verduidelik die skrywer iets in meer detail in die mond van ’n karakter, maar dit is juis dit wat tussen die reëls staan, wat gewys en geïmpliseer en aan die leser se eie verbeelding oorgelaat word, wat aan die roman veel trefkrag verleen. So ook is dit maklik om die kort hoofstukke, afwisseling van perspektiefkarakters en speelse dog ernstige ironie uit te sonder. Wat jou bybly, is hoe die skrywer, soms moedswillig, maar altyd vlymskerp, nooit toelaat dat haar vrouekarakters stilgemaak word óf dat mans die laaste woord inkry nie. Beskou haar skrywe as ’n korrektief op pogings om vroue van hul bekoring, mag of stem te onthef. […]

“Salemstraat se kinkel [in die kabel] is van so ’n aard dat ’n mens net kan vermeld dat ’n sekere rigtingbepalende besluit elke leser sal dwing om hul eie vooroordele en idees oor mishandelde vroue te heroorweeg. Die laaste derde is dan wanneer daar ’n heerlike konfrontasie tussen skrywer en hoofkarakter uitspeel. Dis hier wat Salemstraat van vermaaklik en vol binnepret oorgaan na veelvlakkig en waar Diedericks haar lesers uitdaag om haar te vertrou en volkome buite hul gemaksones te beweeg.

“’Never trust the teller, trust the tale,’ het DH Lawrence verklaar. Salemstraat is gitswart vermaak en slinkse ontspanningslektuur.”

Anne-Marie Burger bied haar lesersindruk van Salemstraat op LitNet aan: “In hierdie straat kruip daar meer weg as die kat wat gesoek word. Dit is wat Erla Diedericks met elke hoofstuk ontbloot, meesterlik uit die perspektief van elke karakter in elke hoofstuk.

“Salemstraat is soos ’n legkaart waarvan die stukkies van elke item in die prent in afsonderlike sakkies gesit is. Jy trap in ’n baie fyn-beplande strik as jy dink dit maak die legkaart maklik.

Die boek lees maklik en heerlik. Voordat jy jou kan [sic] kry, is beurtkrag lankal verby en skyn jou leesliggie saam met die bedlampie tot die volgende fase weer die lig van die bedlampie afsit. Jy bly egter steeds lees, met of sonder Eskom se toestemming. Salemstraat is ’n kragtoer van al wat ’n emosie en sosiale kwessie is.”

Die geheime klippieklub, Erla-Mari se volgende boek, is die tweede boek wat deur VivA-Uitgewers uitgegee word en kan slegs aanlyn gelees word. Hiermee keer sy dan ook terug na die kortverhaal – in 2012 is V-verhale as ’n e-boek uitgegee.

Erla-Mari vertel aan Christa Steyn-Bezuidenhout van Maroela Media dat die storie van Maria, ’n Griekse vrou wat naby haar in Kaapstad gewoon het, haar belangstelling geprikkel het. Maria het vertel dat hulle ’n “geheime klippieklub” het wat uit vroue bestaan wat klippies verf en dit wegsteek met die doel om iemand daarmee te bemoedig: “Ons skep en versamel kleurvolle klippies en steek dit weg in openbare plekke vir ander om te vind. Met hierdie klippies hoop ons om ’n boodskap van hoop en liefde te versprei.” (Uit die kortverhaal “Maria” in Die geheime klippieklub)

Erla-Mari kon nie die storie vergeet nie, sê sy aan Bezuidenhout: “Wat my veral bygebly het, is hoe vroue amper enige ding sal gebruik om uit te reik na ander mense, te help, iets te skep en kreatief te wees. Vroue kan dit maar net nie help om te wil omgee nie.”

In die bundel word vyf vroue – Khoe, Hanna, Maria, Elmarie en Khloe – se verhale deur temas wat universeel is, aanmekaar geheg. Elkeen beleef op elkeen se eie manier gevoelens van verlies, afskeid, rou en waagmoedige situasies: “Ek beskou dit as vryheidsverhale. Die stories eindig op so ’n manier dat lesers saam met die vroue gaan ervaar dat hulle nie net op ’n mishoop gelaat word nie. Ek wil hê dit moet ’n gelukkige gevoel by mense wek.”

Op LitNet verskyn Trisa Hugo se lesersindruk van Die geheime klippieklub: “Kan daar nog oorspronklike verhale en karakters uitgedink word ná al die jare waarin die gereedskap slegs 26 letters is? Tog verskil elke boek, selfs by genrefiksie waar die storie rondom ’n spesifieke struktuur gebou word? Erla-Mari Diedericks se vyf kortverhale in Die geheime klippieklub wat onlangs by ViVA-Uitgewers verskyn het, is so oorspronklik dat dit jou verbluf laat.

“’n Welbekende aanbieder van skryfskole het jare gelede gesê daar is net sewe universele temas in fiksie. As ’n mens begin oplees daaroor, sien jy dat daar nie regtig ooreenstemming is nie, maar die feit bly dat dit beperk word tot ’n handvol. ’n Tema wat deesdae dikwels in fiksie voorkom wat ek nie op al die lysies raaksien nie, is vrywording. Erla-Mari se Die geheime klippieklub sou dit by enige lys van temas kon voeg as dit nie reeds daar is nie.

“Erla is ’n baie veelsydige en produktiewe skrywer in verskillende genres. Haar onlangse Salemstraat het weer bewys hoe styf sy ’n spanningslyn kan trek met fleurige taalgebruik sonder dat dit in mooiskrywery ontaard. Haar woorde in elke boek ontplof in jou mond as jy na asem snak oor haar besondere beelde wat sy gebruik. Dis geen wonder dat die boek so goed ontvang is deur lesers nie.

“Die geheime klippieklub is geen uitsondering nie. Dit bestaan uit vyf verskillende kortverhale oor eons heen wat elk apart gelees word, maar terselfdertyd al hoe stywer aan mekaar vasgeknoop word. Klippe is ’n saambindende faktor en speel ’n sleutelrol in elke verhaal. Die titel is jammerlik misleidend en mag dalk die idee gee van ’n gesellige groepie vriendinne wat bymekaarkom en hulle geheime deel. Dit is allesbehalwe die geval.

“Die stories rondom die klippe gee die gevoel van ’n verhaal binne ’n verhaal, ’n klip binne ’n klip, soos ons soms in die natuur teëkom waar ’n klip op die oog af skurf en bruin is, maar binne gevul met ametiskristalle. […]

“Die geheime klippieklub verskyn by ViVA-Uitgewers waar dit slegs aanlyn gelees kan word. Die irritasie van elke keer aanteken en deur die proses gaan as jy net gou twee bladsye wil lees, moet jou egter nie terughou nie. Jy wil die werk eers los en hierdie verhale klaar lees – dis Erla-Mari Diedericks op haar beste! Hierdie besondere samestelling van kortverhale verdien om ’n volledige roman te wees.”

In 2024 verskyn daar weer ’n spanningsverhaal onder Erla-Mari Diedericks se naam onder die titel Swyg. Swyg het binne ’n kort rukkie die agtste plek op die gesaghebbende Nielsen-lys van topverkoperboeke gehaal en daaroor is Erla-Mari verheug.

Sy het ook ’n baie hoë profiel op sosiale media en het ook ander skrywers ingespan om Swyg te bemark. Sy vertel aan Carla van der Spuy (Maroela Media) dat sy ’n WhatsApp-groep, “Pouse”, begin het omdat sy glo dat skrywers deesdae hulle eie bemarking moet doen. Sy bemark nie net haar boeke daar nie, maar ook ander skrywers se werk.

Sy glo vas in karma, sê sy verder aan Van der Spuy: “En ek glo dat die een hand die ander was. Slegte resensies kan ’n boek breek. Veral as die redigering nie goed was nie en talle spelfoute deurgelaat is. Ek doen redigering en manuskripontwikkeling en skryf self resensies op vryskutbasis.

“Ek dink nie mens moet voorgeskryf word wat jy kan en nie kan skryf nie, en dat jy net moet skryf wat jy wil skryf. Ek het baie pret gehad om Swyg se storielyne soos ’n legkaart in mekaar te laat pas.”

Surene Esterhuizen gee haar lesersindruk van Swyg op LitNet: “Erla skryf slim, maar jy word óók met die banale gekonfronteer. Erla is beslis nie ’n bang skrywer nie. Sy sien kans vir enige onderwerp. Ek is weer eens verstom oor dit wat sy met Swygopgetower het. Ten spyte van een van die eerste resensies wat aan die negatiewe geraak het, bly Swyg op die top-verkoperlys!

“Met Swyg skep Erla weer eens karakters wat baie uiteenlopend is, en ’n mens kan net wonder hóé die klomp uiteindelik by mekaar gaan inskakel. Wees verseker daar is altyd reason behind her madness! Elke karakter het ’n plek in die uiteindelike plot wat ontrafel gaan word.

“Diedericks neem ons terug in tyd na 2009 en 2011. […] Ann Marais is weer een van die karakters wat, op Vanessa Wessels se aandrang, haar besoek by die Molenberg-psigiatriese hospitaal, toe sy begin onthou wat in 2009 gebeur het die aand toe haar kamermaat op ’n sensasionele manier met ’n draadhanger vermoor is.

“Ons maak kennis met digter en dosent, Didi Donkermann, in die terugflitse en haar seun, Louis. Ons ontmoet ook haar studente Frederik, Vanessa en Christie, en later ook vir Magrietjie en Ton by ’n huispartytjie. Mens besef eintlik dat Didi totally screwed up is en dan verstaan ’n mens die karakter, Louis, wat ná al die jare steeds sy ma se stem in sy kop hoor, baie beter.

“Daar is ’n paar kru woorde in die boek, maar dis nie steurend nie en word geheel en al in konteks verwoord.

“My gunstelingaanhaling uit haar boek is: ’nou weet jy. Daar is net een manier om te leer om weer op te staan – en dis om nie bang te wees vir val nie’ (bl 109). Is ons nie maar almal bang vir val nie? Swyg kry ’n besliste ses uit vyf sterre by my! Dis ’n moet-hou-boek en ek sal dit beslis weer op ’n latere stadium lees.

“Erla hou jou aan die raai tot reg op die einde. Ek het dit nie sien kom tot en met ... Wanneer jý Swyg lees, sal jy presies weet van watter oomblik ek praat! Elke boek van Erla is beter as die vorige een. Sy stel die verwagtinge vir haar volgende boeke baie hoog.”

Riette Rust sluit haar bespreking van Swyg só af: “In geheel gesien is Swyg ’n goedgestruktureerde lekkerlees roman. Die pas is vinnig en humor volop, soos die man wie se drankasem besopenheid onder die voëls in die agterplaas veroorsaak. Dis bykans onmoontlik om Swyg se ontknoping te voorspel, so slim is dit. Dit tyd van swyg is inderdaad verby.” (Netwerk24, 17 November 2024)

Vir Ilza Roggeband (Netwerk24, 21 Oktober 2024) is Diedericks besig om haar mojo as skrywer te kry: “Sy het ’n besonderse gawe met woorde en haar beskrywings en dialoog verdien spesiale vermelding.”

Maar dan wys Roggeband op “klein jakkalsies in die wingerd” met betrekking tot die teksversorging: “In die hoofstukke wat terugflitse na 2009 is, word daar onder meer geskryf van een van die karakters se Spotify-speellys, maar Spotify is eers in Maart 2018 in Suid-Afrika beskikbaar gestel. Dieselfde met Uber, wat eers in 2013 na Suid-Afrika gekom het.”

Maar as die leser hou van vinnige en soms vuurwarm misdaadfiksie en bereid is om verby hierdie foute te lees, is dit die moeite werd om te lees.

Erla-Mari vertel vir Nini Bennett-Moll (op Boekboetiek) meer oor haar volgende roman, Bonsaimeisies, wat in 2025 by LAPA gepubliseer is: “Dit gaan oor ’n forensiese psigiater, Ann Marais, wat saam met haar stiefdogter gaan vakansie hou in die fiktiewe dorpie Benedal, want sy is uitgebrand. Sy is egter skaars daar of ’n vreemde dogtertjie probeer haar van die trappe afgooi en as sy in haar oud-kollega Mossie vasloop, vertel hy haar van ’n reeksmoordenaar wat ’n vreesaanjaende bewind in Benedal voer. Die Tuinier, soos die moordenaar genoem word, ontvoer, martel en vermoor agtienjarige meisies. Ann word gekonfronteer met haar donkerste vrese wanneer sy probeer keer dat haar agtienjarige stiefdogter nie volgende op die lys is nie en sy ’n psigopatiese reeksmoordenaar en kenner op die gebied van marteling moet raadpleeg oor wie die Tuinier moontlik kan wees. Daar is trekke van Silence of the Lambs, dis spannend en daar is drie eindes waarvan die laaste een die mat onder die leser se voete sal uitruk.”

Bennett-Moll stel dit aan Erla-Mari dat sy nie bang is om kontroversiële temas in haar boeke aan te durf nie en dat haar boeke nie vir sensitiewe lesers bedoel is nie. Hierop is Erla-Mari se antwoord: “Ek dink nou weer glad nie ek skryf kontroversieel nie. Ek skryf oor werklike gebeure. Kontroversieel? Nee, eerder die harde realiteit waaroor mense nie graag praat nie: seksuele misdaad, huishoudelike geweld, die onderwêreld van dwelms, sekshandel, internet dating – daai klas van ding is deel van my lewe omdat ek ’n joernalis is. Dis ook alledaags – wat meer verklap oor die zeitgeist as oor myself.

Die meeste mense sal wel my boeke kan hanteer – ek los die gruwelike besonderhede altyd aan die
leser se verbeelding oor en beskryf nooit in detail nie.

“Kru taal? Ag nee man dis net f.. en dis ’n goeie, kragtige Afrikaanse woord wat ’n taalmonument van sy eie verdien.

“Ook – erotika is so ’n gelaaide woord. Aan die einde van die dag, is dit net doodgewone seks. Weer
eens – dis alledaags, ’n feit van die lewe. Shit and sex happens. Dis een van die redes waarom seks soms kop uitsteek in my spanningsromans. Nie net is dit ’n onlosmaaklike deel van die menslike bestaan nie, seks word dan ook deur mense gebruik om die ander een mee te verlei, te manipuleer, te verneder, te beheer – om liefde mee te bewys, maar ook mag en afkeur. As skrywer gebruik ek dan ook soms seksuele gedrag (wat ek vas glo ’n ware refleksie van ’n mens se werklike natuur is) om my karakters se persoonlikhede en motivering mee uit te beeld. Mense het seks. Punt en klaar. Op enige plek – selfs ook tussen die blaaie van ’n boek.”

Anschen Conradie is een van die persone wat Bonsaimeisies op Goodreads bespreek: “Die invloed van die verlede op die hede is ’n sentrale tema, nie net ten opsigte van Ann as protagonis nie, maar ook ten opsigte van die ontwykende moordenaar en elkeen van die karakters wat Ann se ruimte deel. […]

“Ineengevleg met die teks, wat die spanningslyn behou deur kort hoofstukke te gebruik, is joernaalinskrywings deur die moordenaar, wat na homself verwys as Die Tuinier en na sy slagoffers as Bonsaimeisies, afgelei van sy unieke, grieselrige martelmetodes. Sy voornemens word wel aan die leser verklap, sy identiteit nie, ’n tegniek wat die opbou van afwagting suksesvol verhoog.

“Die gebruik van evokatiewe metafore, eerder as geykte vergelykings, dra by tot die skep van ’n atmosfeer ryk aan die belofte van eksplosiewe gebeure. Sommige hiervan is die skrywer se eie werk, ‘... die berge pers gekneus deur die dag wat was’ (22) en ‘Elke keer as sy op die dorp kom, is dit asof die vingernaels van verval nog ’n groter laag van die beskawing afgekrap het’ (30), terwyl intertekstuele verwysing ewe gepas daarby aansluiting vind, ‘... monsters are not born, they are made’ (Shelley, 6) en ‘It is such a secret place, the land of tears’ (De Saint-Exupéry, 139).

“Bonsaimeisies vergestalt die vrees wat volg op die wisselwerking tussen die boosheid van die psige, en die fors majeur van natuurkragte, en lewer ’n boeiende bydrae tot die spanningsgenre met die klassieke eggo’s van Dickens en Christie.”

In haar Boekevat op LitNet bespreek Deborah Steinmair Bonsaimeisies: “Erla Diedericks is besig om vir haar ’n nis in ’n nismark oop te skryf – ek sien haar jongste misdaadroman is al weer op die topverkoperlys. […]

“Die roman is van meet af aan en regdeur hoogs spannend. Later verdink jy almal behalwe Ann en Maya. Daar is heelwat lokbokkems en die einde sal jy nooit sien kom nie, en daarmee het ek ’n probleem. Ek verkies die Agatha Christie-model waar die leser voel dat as sy genoegsaam aandag geskenk het, sy die boosdoener sou kon identifiseer. Ek is reeds gewoond daaraan dat ek aweregs en toondoof is en my smaak in mans verdag, maar die vryer wat met Ann se hart wegstap, sou nie my keuse wees nie.

“Dit het regdeur my aandag behou en ek kon nie ophou lees nie. Misdaad is groot in Afrikaans. Ek hoop Diedericks vind baie lesers.”

Erla-Mari vertel aan Analize Viljoen (Parys Gazette) meer oor die karakters in Bonsaimeisies: “Dit is losstaande, maar het dieselfde karakter as my vorige twee verhale. Die karakters in Bonsaimeisies is almal uiteenlopend op die oog af, maar het een ding in gemeen [sic] – hulle is interessant en sterk.

“Daar is ’n dogtertjie wat die hoofkarakter van die trappe probeer afstamp, ’n man met ’n gure verlede in die weermag (Bosman), daar is Eve wat ’n plantkundige is maar wat ’n uiters ontstellende jeug gehad het, en dit probeer besweer met plante en maanlig.

“Dan is daar die bobbejane wat self karakters is en reageer op die wreedheid van die mens. Daar is Ann Marais, ’n eksentrieke maar uiters slim en bekwame vrou wat ’n psigiater is, maar allermins perfek en met demone (onder meer drank) van haar eie worstel.

“Lesers sal meegevoer word deur die interessante karakters, maar ook hul eie vrese en behoeftes in die boekmense herken.”

En Erla-Mari verduidelik aan Viljoen hoe die storie organies gegroei het, aangesien sy al ver met die skryf van die storie was en nog nie geweet het wie die moordenaar in Bonsaimeisies is nie: “Ek begin gewoonlik met ’n frase in my kop en ’n uiters vae verhaal wat heeltemal verander soos wat ek skryf. Ek is vas oortuig my karakters praat met my, en ek hoor hulle in my kop – of dalk is ek net heeltemal waansinnig en het ek geleer om my waansin in woorde te omskep.”

Tussen haar spanningsromans bly Erla-Mari ook nog aan die skryf van titels vir die Romanza-reeks. Sy vertel aan Christa Steyn-Bezuidenhout (Maroela Media, 16 Junie 2026) dat die ouderdom vir haar nuwe perspektiewe gebring het: “Hoewel my Romanza-karakters dikwels jonger is, behoort die liefde nie net aan die jeug nie. Ek is byna 60 en besef oumense vry ook, en ons het ook liefdesake wat uitgesorteer moet word en romantiese vure wat ons op allerlei plesierige maniere kan bly stook.”

Met haar jongste boek, Jagspinnekop, wat in 2026 op die rak verskyn het, is Erla-Mari terug by “prosedurele rillers”, soos Anschen Conradie dit op Goodreads noem.

Conradie som hierdie nuwe riller só op: “In 1988 word ’n jong student, Irma Bekker, verkrag, vermink en vir dood agtergelaat. Haar aanvallers word skuldig bevind en tot langtermyngevangenisstraf gevonnis. Sy neem daarna ’n nuwe identiteit aan.

“In die hede word die lyke van vier vrouens afkomstig uit Kaapse voorstede in die Durbanville-gebied gevind. Al vier was aktief op dieselfde pasmaatsoekplatform, is in hulle vyftigs, blond en ’n grieselrige aandenking wat op die tonele gelaat word, is ’n indikasie van ’n reeksmoordenaar aan die werk. Die aard van die aandenkings toon ’n onheilspellende ooreenkoms met die 1988-aanval en gee aanleiding tot die bynaam ‘Jagspinnekop’.

“Suzette Fourie, ’n profileerder, se hulp word ingeroep. Die narratief wissel tussen haar perspektief, dié van Marinda, die slagoffer van gesinsgeweld aan die hand van ’n haar drakoniese eggenoot, en dié van Annmari,’n vereensaamde weduwee.”

Oor waar die idee vir Jagspinnekop ontstaan het, vertel Erla-Mari aan Phyllis Green (Sarie, 11 Augustus 2026): “Die idee het by my opgekom toe ek van die ‘Tall Hot Blonde’-moordsaak gelees het. ’n Middeljarige man, Thomas Montgomery, het aanlyn voorgegee om ’n 18-jarige vlootoffisier te wees en ’n middeljarige vrou, Mary Shieler, het haarself voorgedoen as haar jong dogter. ’n Dubbele liegspul dus. Intussen het Brian Barrett, ’n kollega van Thomas, ook by die ‘jong blondine’ betrokke geraak, met die uiteinde dat Thomas vir Brian doodgeskiet het. Ironies het hy toe eers ontdek sy geliefde is ’n middeljarige huisvrou. Aanvanklik wou ek net op dié storie fokus, maar dit sou dan net een vrou se storie wees, en ek wou ’n paar vroue se storie vertel. Daar’s wel elemente van die Shieler-geval in die boek.”

Erla-Mari moes heelwat navorsing doen vir Jagspinnekop, en oor haar navorsing in die algemeen brei sy uit teenoor Phyllis Green: “Die navorsing kry my soms onder. Daarby werk ek met nuus by Netwerk24 en ly aan depressie, maar dan gaan stap ek langs die see of drink ’n bottel wyn. Soms albei. Mens moet maar kophou wanneer jy dié soort verhale skryf. Nie net delf jy in die donker dieptes van ’n psigopaat se psige nie, maar ook in dié van gewone mense en natuurlik jou eie. Jagspinnekop het nie gefokus [op] waarom hy moor nie, maar waarom vroue die kans waag om ’n vreemdeling wat hulle net van die internet af ken, te ontmoet en hulself aan moontlike gevaar bloot te stel. Wat dryf jou daartoe? Eensaamheid is ’n groot dryfkrag. By my is dit verveling. Nooit goeie redes om ’n besluit op te skoei nie.”

Dat sy juis die metafoor van die jagspinnekop vir haar jongste boek gebruik het, verduidelik sy aan Phyllis Green. Sy is verskriklik bang vir spinnekoppe en toe sy ’n tuinspinnekop in haar suurlemoenboom reg by die deur waar sy na haar tuin en motorhuis loop, gekry het, was sy erg getraumatiseerd: “Daar was geen manier hoe ek haar sou kon vermy nie en ek maak nie spinnekoppe dood nie. Sy was so ’n swart-en-geel-nommer en nie klein nie. Ek moes elke dag verby tippe-tone soos ’n voortvlugtige wat enige oomblik deur ’n skerpskutter getref kan word. Ek was so bang die ding spring op my. Ek’t toe opgelees oor die spinnekop om myself te vergewis van hoe gevaarlik sy is. Hoe meer ek myself opgevoed het, hoe minder bang het ek geraak. Sy’t selfs ’n naam gekry (Wednesday). Ek het elke dag met haar geselsies aangeknoop. Toe sy die dag nie meer daar is nie, was ek hartgebroke. ’n Soortgelyke situasie gebeur dan ook met een van die karakters in die boek.

“’n Jagspinnekop daarenteen is ’n ander soort dierasie as ’n tuinspinnekop en afkomstig van ’n verskillende soort familie. Hulle weef nie ’n web nie. Al is dit ironies genoeg ’n internetweb waarin my jagspinnekop jag, het ek spesifiek dié tipe gekies omdat hulle in die skadu leef en hulle slagoffers koelbloedig en doelbewus jag. Die jagspinnekopwyfie kan spesifiek wreed wees en is bekend daarvoor dat sy die mannetjie tydens paring vreet. Selfsugtige wreedheid speel ’n groot rol in die boek.”

Op LitNet verskaf Jannes Erasmus sy lesersindruk van Jagspinnekop: “Smooch is ’n gewilde platform vir mense wat iets – of iemand – soek. Daar kan jy flirt, fantaseer en jouself in jou eie woorde herskryf. […] Dit is ’n besonder goeie vertrekpunt vir ’n spanningsroman, maar Diedericks is slim genoeg om nie bloot Tinder-met-’n-reeksmoordenaar daarvan te maak nie. Die interessantste deel van Jagspinnekop is die onsekerheid wat rondom identiteit ontstaan. […]

“’n Spinnekop wag in ’n web; Diedericks se Jagspinnekop wag op die web. Maar sy druk gelukkig nie die beeld tot vervelens toe nie. Die digitale wêreld word eenvoudig die plek waar mense hul eensaamheid, begeertes en ongelukkigheid aan vreemdelinge beskikbaar stel. ’n Moordenaar hoef nie meer ure lank iemand se huis dop te hou om iets van haar lewe te weet nie. Mense vertel hom self.

"Dit maak die vroue in die roman ook interessanter as blote toekomstige slagoffers. Hulle soek aandag, seks, geselskap, ’n uitweg of miskien net die gevoel dat iemand hulle nog raaksien. Diedericks moraliseer nie daaroor nie. Sy verstaan dat dit juis die alledaagsheid daarvan is wat die gevaar laat werk. Suzette moet hierdie wêreld binnegaan om die Jagspinnekop te vind, en dié besluit gee die roman sy beste spanning. […]

“Diedericks plant haar verdagtes en leidrade met genoeg selfvertroue dat ek meer as een keer gedink het ek het die storie uitgesorteer, net om kort daarna weer iemand anders skeef aan te kyk. Die spanning lê in die onbetroubaarheid van amper elke ontmoeting.

“[In Jagspinnekop] is die metode moderner en op ’n manier selfs meer ontstellend [as in Bonsaimeisies]: Die Jagspinnekop hoef nie eers ’n identiteit vir sy slagoffers te skep nie. Hulle het reeds self een vir hulself aanlyn geskep.

“Jagspinnekop is daarom vir my ’n besonder geslaagde spanningsroman. Dit lees vinnig, maar die ongemak bly langer as die raaisel. Want wanneer die moordenaar uiteindelik sy masker verloor, bly ’n ander vraag oor: Hoeveel van die mense met wie ons elke dag op ’n skerm praat, ken ons eintlik? En hoeveel van ónsself wys ons werklik vir hulle?”

Stefaans Coetzee resenseer Jagspinnekop vir Rapport (30 Augustus 2026): “Die beste misdaadromans probeer daarom nie die leser kul nie. Hulle wys hom alles – maar leer hom om verkeerd te kyk. Erla Diedericks verstaan hierdie beginsel goed.

“Goeie misdaadfiksie gaan nie daaroor om die leser verkeerd te laat raai nie; dit gaan daaroor om hom met die regte antwoord te laat sit sonder dat hy die hele waarheid verstaan. Sy bied doelbewus ander moontlikhede aan. Alles is reeds daar. Eers ná die slot begin die broodkrummels werklik betekenis kry. Dit is die kenmerk van ’n goeie ontknoping. […]

“Soos haar gebruik van bekende Suid-Afrikaanse geweldsake, dien dit eerder as vertrekpunt om manipulasie, identiteit en die lang skadu van geweld te ondersoek. Die werklikheid gee die roman geloofwaardigheid. Diedericks se konstruksie gee daardie werklikheid betekenis. Daarom rus die roman nie op een heldin nie. Suzette, Marinda en Annmari dra elkeen ’n deel van die groter verhaal. […]

“Een van die roman se sterkste metafore groei juis uit Marinda se wêreld. ’n Swart-en-geel tuinspinnekop wat in haar suurlemoenboom kom woon, word ’n terugkerende beeld. Die simbool voel nooit aangeplak nie. Die spinnekop verskyn eers bloot as deel van Marinda se leefwêreld. Later begin die leser die simboliese verband trek. Daarom voel die beeld organies.

“Wanneer die laaste legkaartstukkie in plek val, besef jy dat Diedericks jou nooit probeer mislei het nie. Sy het jou eerder gedwing om oor jou eie leesgewoontes te twyfel. […] Miskien is dit die grootste kompliment wat ’n spanningsroman kan verdien: nie dat dit sy geheim tot die einde bewaar nie, maar dat dit jou ná die slot laat terugblaai. Dan besef jy iets ongemakliks: Jy was nooit in die spinnekop se web nie. Jy het hom die hele tyd dopgehou, sonder om te besef hy bekruip jóú.”

Vir Willemien Aukema (Netwerk24, 17 Augustus 2026) lees Jagspinnekop maklik. Daar word swaar onderwerpe aangeraak, maar die storie sal nie die leser se hart breek nie: “Die weergalmings van geweld teenoor, en op die ou einde deur die slagoffers, laat die leser toe om gedagte-wentelings te maak oor wat sy self in so ’n situasie sou doen.

“Diedericks verstaan haar lesers. Sy weet wat werk en sy kry dit reg om ’n boeiende verhaal binne ’n beperkte bladsytal vas te vang. Sy skep teenstellings, knoop storiekabels en stryk kinkels op ’n effektiewe, dog ongejaagde manier uit. Sy verseker dat haar karakters se stories deeglik en met die nodige erns ontknoop word.

“Een van die belangrikste teenstellings bly deurlopend die jukstaposisie van wyfie- teenoor mannetjiespinnekop-gedrag. Wyfiespinnekoppe kan net so dodelik soos hul manlike teenvoeters wees, maar hulle maak gewoonlik gebruik van ingewikkelde webbe in plaas van oordadige krag.

“Die boek behou ’n goeie tempo en lees vinnig. Dis die ideale naweekontvlugting. Diedericks se goed nagevorste en akkurate skryfstyl dra telkemale by tot ’n uiters geloofwaardige uitbeelding van die jagter-prooi-verhouding.

“Dalk kom jy tot dieselfde slotsom: Sekere spinnekoppe verdien nie om vrygelaat te word nie. Trap hom dood.”

Erla-Mari beskou haarself as ’n feminis. “Kant en klaar (pun intended),” sê sy aan Bennett-Moll. “Die vroue in my boeke is nie altyd perfek of slagoffers of selfs die perfekte slagoffer nie, maar hulle is altyd effe gebroke wesens (is ons almal nie maar nie) wat sterker is as wat hulle self besef. Hulle maak ’n plan, hulle oorleef – soos wat elke vrou moet in ’n oorwegend patriargale wêreld.

“Ek voel dat hierdie hele skouerophalende houding van ‘boys will be boys’ en ‘dis nou maar ’n man vir jou daai’ of ‘wat verwag jy, hy is ’n man’ of ‘that is what men are like’ moet end kry. Hierdie gerieflike verskoning vir dikwels verfoeilike en gevaarlike manlike gedrag is een van die wortels van die kwaad. Mans moet verantwoordelik gehou word vir hul gedrag. En ’n vrou wat aandring op haar regte en respek is nie soseer ’n feminis as net ’n vrou wat soos ’n mens behandel wil word nie. Ek self is mishandel in my huwelik en is ’n kampvegter vir vroueregte en die beskerming van vroue teen geweld.”

Publikasies

Publikasie

Sin, sushi & survival: a memoir

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781770221420 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Zebra Press

Literêre vorm

Memoires

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

V-verhale

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781920625702 (E-boek)

Uitgewer

Boekemakranka

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Still standing

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781869199272 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Romanse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Seks, leuens en die internet

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799393446 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Memoires

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Agter grendels

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639604961 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Wenkbrou (E-boek)

Literêre vorm

Erotiese romanse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Dominique

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780639607085 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Wenkbrou

Literêre vorm

Erotiese riller

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die bewonderaar

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780116355099 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Sielkundige riller

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die kontrak

Publikasiedatum

2023

ISBN

9781776359974 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Romanza Stoom 18+

Literêre vorm

Erotiese romanse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Salemstraat

Publikasiedatum

2023

ISBN

9781776359745 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die geheime klippieklub

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780639795690 (sb)

Uitgewer

Pretoria: VivA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Swyg

Publikasiedatum

2024

ISBN

9781776359646 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

iterêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die lys

Publikasiedatum

2024

ISBN

9781779875471 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Romanza Stoom 18+

Literêre vorm

Erotiese romanse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Bonsaimeisies

Publikasiedatum

2025

ISBN

97817779860279 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die reünie

Publikasiedatum

2025

ISBN

97817779875846 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Romanza Stoom 18+

Literêre vorm

Erotiese romanse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Jagspinnekop

Publikasiedatum

2026

ISBN

9781779860675 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Erla-Mari Diedericks

Artikels deur Erla-Mari Diedericks

(Die samesteller kan nie die volledigheid van hierdie afdeling waarborg nie. Daar mag leemtes wees.)

Erla-Mari Diedericks se LitNet ATKV-skrywersalbum is oorspronklik op 2026-10-13 gepubliseer.

Bron:

  • Knipselversameling van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel (Wyno Simes en Annelien Diedericks) vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top