Erfskandes deur Trisa Hugo: ’n lesersindruk

  • 3

Erfskandes
Trisa Hugo
Uitgewer: Boekemakranka
ISBN 9781928268017

Selfpublikasie het gekom om te bly, maar het ongelukkig ’n swak reputasie opgebou as gevolg van die gebrekkige taalkundige versorging en algemene afronding wat ongelukkig dikwels hierdie werke kniehalter. Dit is natuurlik verstaanbaar dat skrywers nie altyd die middele het om van ’n professionele taalversorger en verkieslik ook ’n manuskripontwikkelaar gebruik te maak nie. Die e-boek het immers nie voldoen aan die aanvanklike verwagtinge nie en dis bekend dat baie min nuwe skrywers ooit meer as 50 boeke op die internet verkoop.

In hierdie lig gesien is Erfskandes ’n welkome uitsondering. Die dienste van ’n professionele manuskripontwikkelaar is gebruik en die taalversorging is goed. Die kritiese leser hoef dus nie bang te wees dat dit ’n minderwaardige stuk werk is nie.

Die verhaal draai om die bejaarde broer en suster Jannerik en Vya, wat besef dat hulle die einde nader en dat daar geen erfgenaam vir die plaas en ander bates is nie. Die spanningslyn word gebou rondom die plan wat Jannerik beraam om hierdie situasie aan te spreek en hoe dit hulle broerskind Willem en sy vrou raak. ’n Tragedie uit hulle kinderdae spook ook nog steeds by hulle en bind die hede en die verlede saam in die sin dat daar telkens ’n onskuldige kind betrokke is.

Die verhaal word afwisselend uit die oogpunt van hierdie vier karakters vertel, maar dis veral Vya wat na vore tree met haar outentieke binnestem wat aan die leser die lyding wat die verlede steeds vir haar veroorsaak, duidelik teken. Vya se taalgebruik is tekenend van ’n ouer generasie Afrikaanssprekendes en help mee om haar karakter volrond en oortuigend te maak. “Al wat sy gedink het voordat sy kamer toe is, is dat oorle’ Ma in haar graf omdraai in hierdie donkere nag. Dat sy selfs in haar dood langs die man moet lê wat haar soveel bittere dae besorg het, is erg genoeg.”

Die manier waarop Vya haar liefde betoon deur die boerekos wat sy maak eerder as woorde, spreek my besonder sterk aan. “Die reuk van vleis wat wil-wil brand laat haar na die kombuis haas. Die skaapboud het droog gebak, en die sousies wat onder in die bak gevorm het, is nou taaierig en bruin. Nét reg. Kos is darem die een ding wat uit haar hand kom wat altyd reg is. Die smaak, reuk en tekstuur. Dis een ding waarvoor sy altyd geprys word. Min mense het nog onvervuld van haar tafel af opgestaan, al het hulle hulle monde vol oor die oordaad. Sy hoor mos.”

Haar smagting na ’n kind van haar eie hou sy vir haarself, maar selfs vir haar as bejaarde het die gemis nog nie verdwyn nie.

Ook Vya se aftakeling tot ’n hulpelose sieke in die ouetehuis word aangrypend geteken.

In wese is Erfskandes ’n aanklag teen die vergrype van die verlede en die volgehoue geheimhouding daarvan. Vya se lyding as bejaarde vrou as gevolg van die gruwel wat sy as dogtertjie gesien het, bevestig die hedendaagse kennis van die gevolge van kinderondervindings waar die kind geen leiding of terapie ontvang het nie, soos dit in vroeëre geslagte gebeur het en ongelukkig steeds dikwels gebeur.

Die verhaal lees vlot en telkens kom ’n nuwe kinkel te voorskyn wat die leser verras. Dis egter die tekening van die twee bejaardes en die interaksie tussen hulle wat vir my die hoogtepunt van die boek is. Die interaksie tussen hulle spreek van ’n gevestigde patroon waar min woorde uitgespreek word, maar waar begrip sowel as pyn op ’n dieper vlak lê.

“Nou wat is dit dan met jou vanaand? Dis laat, ek wil kooi toe.”

“Sit. Ons moet praat.”

Sy het geskrik, sy wou nie weer oor die dinge van vergange dae praat nie. Wat verby is, is verby. Sy het lankal vergiffenis afgebid. Nee, afgesmeek. Haar knieë is deurgebid. Hoe minder sy daaroor dink, hoe beter. En haarself het sy lankal vergewe, en dit is tog wat tel. Dit was haar saak. ’n Saak tussen haar en haar God.

“Hier sit ons. Ons beste jare is verby, en ons het geen kind of kraai nie.” Jannerik het eers met ’n vuurhoutjie in sy pyp gekrap en dit toe uitgeklop. Hy het weer tydsaam uit die blinkgevatte twaksak gestop. “Nie jy nie, en nie ek nie. Wat gaan van ons goed word?”

Op ’n subtiele vlak sien die leser ook hoe Vya Jannerik as die leier en haar meerdere aanvaar, want sy woord is wet, al is sy planne vir haar ontstellend. “Jannerik het nie teëpratery aanvaar nie. Hy het vir hom opgeruk en dan het hy vir dae die verte sit en instaar. Dit was baie makliker om hom maar te laat begaan en net aan te gaan met haar dag.”

Net so aanvaar sy hoe haar lewe verloop het as die wil van God waarteen sy haar nie durf verset nie.

Waar die bejaardes, en veral Vya, oortuigend en simpatiek geteken is, kom die twee jonger karakters Willem en Charien nie as volronde persoonlikhede na vore nie. Hoewel daar gepoog word om Charien se gedrag teen die lig van haar agtergrond te verklaar, word sy nooit ’n karakter waarmee ek werklik simpatie en empatie kon hê nie.

Erfskandes is in wese ’n boek oor die krag van familie, maar ook die gif wat in families kan skuil. Die boek word aanbeveel vir lesers wat realistiese verhale verkies.

  • 3

Kommentaar

  • Dankie, Alta. Ek is angsbevange dat mense dit sal lees, en ook angsbevange dat hulle dit dalk nié sal lees nie.

  • Mariëtte, die boek sal binnekort in gedrukte formaat beskikbaar wees. Ek sal hier laat weet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top