Erfenismaand en ’n gedenkboek aan Hoërskool Franschhoek: bydraes versoek

  • 0

Foto verskaf – met erkenning aan Franschhoek se toeristekantoor: https://franschhoek.org.za/contact-us/

’n Eeu oue instelling sonder ’n opgetekende geskiedenis is soos ’n rivier waarvan niemand weet waar dit ontspring nie. Daarom het die plaaslike tak van die Rotariërklub van Franschhoek besluit om twee vryskutjoernaliste, Tienie en Elkarien Fourie, opdrag te gee om ’n gedenk- en erfenisboek van die Hoërskool Franschhoek saam te stel.

Foto van die skool van 1909 verskaf – koerantuitknipsel uit die argief

Die skool het in 1850 in ’n geboutjie op die terrein van die NG Kerk begin. Dit is verbasend dat daar nie vroeër van owerheidsweë voorsiening gemaak was vir die formele onderrig van kinders nie, maar die skool is een van die oudste regeringskole in die land. Dit is ook in hierdie vrugbare vallei waar die Hugenote, vlugtelinge ter wille van hul geloof, Suid-Afrika se gerespekteerde wynkultuur begin het. In die annale van die skool kom ’n klomp familiename herhaaldelik voor wat daarvan getuig dat die nakomelinge van die Hugenote steeds geen rede vind om hiervandaan te vertrek nie.

Foto verskaf – met erkenning aan Franschhoek se toeristekantoor: https://franschhoek.org.za/contact-us/

Soos dit met elke instelling gaan wat lank bestaan, het die skool se lotgevalle deur die jare gedy en getaan, en tans is daar opwindende ontwikkelings in die pyplyn wat die toekoms rooskleurig laat lyk. Die skrywers wil baie graag hoor van enigeen, soos oudleerlinge of -onderwysers, wat in Erfenismaand ’n bydrae wil maak tot die ideaal van ‘n geskiedenisboek oor die skool. Die Fouries woon naby Franschhoek en kan gekontak word by [email protected] of [email protected].

Foto verskaf – met erkenning aan Franschhoek se toeristekantoor: https://franschhoek.org.za/contact-us/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top