Erfenis-tameletjie, |UMIS !GOMSIB

  • 0

Foto deur Iris deur Pixabay

Dis alweer daai tyd van die jaar, die tyd wat daar rondgeval word om te wees binne-in jou eie “raampie”. Die proses waar daar op jou !NOMAS (wortel) gefokus word. Plus dit raak die tyd wanneer die Qwerty-krygers die vermetelheid het om jou goed te vra soos: “Het jy bewyse?”; “Bring jou DNA”; “Jy is te gemeng.”

Klink bogenoemde frases bekend? Wel, as jy iets kan raaksien, weet dis wat jy teëkom, veral wanneer jy met ╪NISA (trots) jouself identifiseer in jou Khoi-identiteit. Soms raak dit moegmakend wanneer jy al wat ’n “bedenklike” vraag is, moet beantwoord. Waarom tog? Het ons dan nie ’n progressiewe Grondwet nie wat in haar Handves van Menseregte twee artikels insluit, wat sê dat jy die reg het tot vryheid van denke en vryheid van assosiasie?

Soms moet jy jou ook afvra: Waarom is Erfenisdag so gemaak dat ons Khoi-mense wat almal as kleurlinge identifiseer, met opset verkleineer word? Ek kan ╪AIHO (onthou) as jong kind as ons na Iziko gegaan het op skooluitstappies, hoe ons Khoi-mense uitgebeeld is as “kaalgat barbare”. Dan wonder jy soms: Is dit waarom ons mense so TOAXA (skaamte) het en liewers verkies om ander kultuurgroepe se tradisionele klere te dra? (Ek weet dit klink verregaande, maar trauma en leegheid doen sulke dinge op jou subconscious mind.)

In erfenis het taal ook baie waarde, en ons Khoi-mense het ook daai trauma en geweld ervaar waar ons GOWAS (taal) van ons geneem is, met veral kerke wat ook ’n rol in dié aspek gespeel het. Partykeer sal ek so kyk en wonder: Sal ons weer, veral in die Wes-Kaap of Kaapkolonie, soos ons Khoi ABOXAN (-voorvaders) in die 16de, 17de en 18de eeu TSEKOROBE (daagliks) futloos KhoiKhoi !HOA (praat)? Ek was nou al in die Namakwaland en suidelike punt van die grens van die Noord-Kaap met Namibië, en glo my die mense is nog ╪NISA (trots) op hulle Nama |UMIS (-erfenis). (Nama-mense is die Khoi-groep wat in die suide van Namibië en die meeste areas in die Noord-Kaap gevestig is, soos Namakwaland, ensovoorts.)

Met dit is een belangrike aspek wat ek geleer het by my een Khoi KAIKHOES (-elder), dat woorde dra krag en dat daai woorde wat krag dra, het een groot effek op jou menswees, want onthou ook dat KhoiKhoi se MIS (woorde) lê in nederigheid en om ander te !GOASIB (respekteer). Wat jy ook moet in erns opvat, is dat as jy KhoiKhoi vertaal in Afrikaans, dit beteken tog: “Die mens van mense”, en dis wat ons Khoi-mense is. Mense van mense wat almal met respek behandel het, en toe word ons menslikheid van ons ontneem en ons NAM (tong) word gesny uit ons MIDI (woorde). Ek weet dit sal nou lyk of die skrywer soos ’n klakous klink wat in die verlede lewe, maar KAWAKAWAS (restourasie) is een belangrike element wat ons moet introspeksie oor doen, want elke persoon het ook sy of haar ANUSIB (selfwaarde) wat hom of haar plekkie onder die son moet kan regstel.

Baie kere as mens kyk na sosiale media, sal ons Khoi-mense ge-gaslight word deur ons te brandmerk as gewelddadig, onmenslik, kultuurloos, taalloos, maar waar trek jy die streep as daar een samelewing is wat hierdie mense se KHOISIB (menslikheid) van hulle ontneem het? As ons al hierdie faktore in ag neem en empatie het met die mense wat al hierdie negatiewe, stereotipiese gedrag aan toegedien word, sal ons miskien beter verstaan en nie net dié mense alewig wil onderdruk nie, of sê: “Hou op om in die verlede te lewe.” Wel, die verlede is ook iets waar ons moet kyk wat in die hede aangaan, en hoe dit die toekoms vorm. (Is dit nie wat Geskiedenis ons op skool geleer het nie?)

My wens is net dat ek of ander Khoi-mense wat as kleurling gesien word, daardie !NORA (vryheid) sal hê om ten minste “TAWEDES, MATISA?” (Hallo, hoe gaan dit) te kan sê met ╪NISA (trots).

Ek sien hoe ons mense Nama-stap, Nama-musiek luister en met kitare, konsertinas en banjo’s speel. Daai tradisionele traan het geloop waar ek met ╪NISA (trots) kan sê dat ons mense sal nie meer vir GAXA !NA ([die] scam of klug) val dat ons niks is en almal is geregtig om oor ons ╪HANU-O!NA|GORAS ╪AIS (diskriminerende gedagtes) te koester nie.

Wel, ek sal maar dit sê:

Ti |ons ge a Jeffrey Oarasib Hartzenberg, tita ge a ╪nisa oananoagub KhoiKhoi.

//

My naam is Jeffrey Oarasib Hartzenberg; ek is ’n trotse afstammeling van die Khoi.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top