Ere aan Adam Small

  • 5

'n Plakkaat van 'n huldigingsgeleentheid aan Adam Small waarby digters en skrywers opgetree het (links) en 'n foto van Suné van Rooyen (foto: Facebook)

  • Adam Small is oorlede. Lees nog huldeblyke aan hom. Op Donderdag 30 Junie 2016 is 'n huldigingsgeleentheid vir hom gehou. Suné van Rooyen deel haar gedagtes oor Adam Small by hierdie geleentheid met LitNet.

Goeienaand almal

Hierdie is nie ‘n verering van Adam Small se oeuvre in die ware sin van die woord nie. Ek is seker almal hier het al die afgelope klompie dae iets daarvan gehoor. Nee, hierdie is eerder ‘n tribute aan of getuienis van die invloed wat Small en sy werk op mý lewe gehad het.

Weet, ek kan nie eers onthou presies wanneer ek vir die eerste keer met Small se werk in aanraking gekom het nie. Maar dis ook niks nuutsie. As julle enigiemand vra wat my ken sal hulle vir julle vertel ek is verskriklik vergeetagtig. Anyway, wat ek wel kan onthou is die gevoelens wat sy werk binne my aangeraak en wakker gemaak het. Ek kan onthou toe ek vir “Doemanie” gelees het en ek regtig die verontwaardiging kon voel toe hy sê “’n Profiet van Jesus djy?! ‘n Proefiet?!”. Ek meen komaan, wie van julle het okie gevoel asof julle met julle hanne oppie heupe wil staan en sê: “Djy’s nie eers ‘n profiet se gattie!”? Uhm ... uhm, verskoon my taal – sorry ... not sorry.

Oe! En kan ek han vergeet hoe lekker ek gelag het toe ‘n chommie van my vir “Oppie parrara” perform’it. Mense, kan daai kind nou vir jou ‘n performance opsit! Ek het dai mêrrim skoons uitgelag. Ek kon sien hoe loop sy da oorie parrara met haar neus innie lig en heupies wat saam met haar hakke se klik-klak heen en weer swaai. Mmm, daai antie kort ‘n blêrrie piece of my mind as djy  vi my vra.

Maar dis nie regtig wat ek wil vertel nie. Ek wil eintlik vertel van wat toe hier binnekant my aan’ie gebeur was. Ek het so gesit en kyk na die woorde wat daar staan en ek dink by myself: “Haai jinne kyk nou net so ‘n man. Hoe kry hy dit reg om sy eigene soorte Afrikaans so neer te sit? Op papier!” Joh, ek was in awe. Ek meen ma, joh, dis dannie standaardtaal nie. Dis han hoe die mense praat. En terwyl ek so Small se werk lees en hoe meer ek daarmee in aanraking gekom het, was dit elke keer amper soos ‘n bevestiging vir my. Dis asof ek hom kon hoor fluister hier in my oor: “Praat jou taal, meisiekind, gooi hom daar uit. Sit hom op skrif. Wys hom virrie wêreld en maak hom joune.”

So vanaand staan ek hier voor julle almal. ‘n Trotse meisiekind uit die hartjie vannie Noord-Kaap en danksy Adam Small en sy werk het ekkie ‘n skaam haar op my kop vir die taal wat ek praat en hoe ek hom praat nie. Vir dit sal ek altyd vir Small vereer. Hy was ‘n voorstander van Kaaps, maar deur sy onverskrokke aksies het ek geleer om ‘n voorstander te wees vir mý Afrikaans. Hy het my onbewustelik geleer dat my Afrikaans aanvaarbaar is – néé, eintlik het hy my geleer dat my Afrikaans kwaai is, dis ntja!

En ek hoef nie skaam te wees om hom te praat net soos my ma vi my kom geleer het van kleinstyd affie.

Ek dank u.

Suné van Rooyen

  • 5

Kommentaar

  • annette le Grange

    Suné van Rooyen, die antie salueer jou vir die wonderlike beeldspraak wat jy nou geskryf het, hete onse Adam Small sou opreg trots gewees het op jou meisiekind, dankie dat jy en ons moedertaal so baie lewendig hou.

  • Zelrene September

    Mal Mal Mal, dis hoe ek voel oor Adam Small se gebryk van Os Afrikaanse Taal. Ek praat en skryf net so lekka in sy style. Lank Liewe is Taal ...

  • Sune vanaand lees ek wat jy skryf en sien hoe ek saam kan praat en jy tot my siel deurdring. Ons is verewig met ons moedertaal in gegee met die bottels melk en leer loop en tel en skryf. Ek kan nie anders om myself te ontdek en my eie ek te erken in my diepste drome.
    Adam Small het my taal wêreldvry gemaak. Dit is tere oomblikkies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top