Equus: ’n teaterresensie

  • 0

Foto: Jesse Kramer

Die persvrystelling beskryf Equus as die “ikoniese sielkundige riller; ’n visueel-dinamiese ontdekking van die komplekse verhoudings tussen toewyding, mite en seksualiteit”.

In die rolverdeling is Sven Ruygrok as Alan Strang, Graham Hopkins as dr Martin Dysart, met Monique Basson, Maggie Gericke, Andrew Roux, Marc Goldberg, Cassandra-Tendai Mapanda en Len-Barry Simons.

Die grootste gedeelte speel in die Rokeby Psigiatriese Hospitaal in suidelike Engeland af. Die stel word deur slim beligting in verskillende agtergronde verdeel en is om die beurt die psiagiater se spreekkamer, die stalle waar Alan gewerk het, en sy ouerhuis.

Dit beskryf voorts dat toe die tiener, Alan Strang, se patologiese fassinasies hom ses perde se oë laat uitsteek in ’n Hampshire-stal, hy by die psigiater dr Martin Dysart beland wat agter die kap van die byl moet kom oor sy buitengewone gedrag.

“Soos Dysart in Alan se wêreld van verdraaide spiritualiteit, passie en seksualiteit verstrengel raak, begin hy sy eie lewe in heroënskou neem.”

Die magistraat, Hester Salamon (Cassandra-Tendai Mapanda) smeek later by die psigiater (Graham Hopkins) om die kind te help, want hy is in pyn. Waarop die dokter met ’n intense versugting antwoord dat hy nog nooit só onverskrokke galop het soos Alan nie.

“Ek het my eie wêreld laat krimp, geeneen anders kan dit vir jou doen nie,” mymer hy; en dan die wete dat hy met sy behandeling en medikasie aan Alan ’n “normale” lewe kan gee, maar dat hy as dokter die jong seun se passie gaan vernietig en hom tot middelmatigheid gaan reduseer.

Sven Ruygrok is algemeen bekend vir sy rol as Rambo in die Spud-films, maar dis sy ernstiger rolle die afgelope paar jaar wat hom onder meer die Fleur du Cap vir beste ondersteunende akteur in Epstein laat wen het.

Sy spel is roerend en rou en hy neem jou saam op ’n uitmergelende reis waar hy homself, sy ouers en sy onverstaanbare liefde vir ’n perd, Equus, bevraagteken. Gooi dan geloof en ’n oorbeskermende ma in die mengsel en dis ’n resep vir teleurstelling.

Graham Hopkins was nog altyd een van my gunstelingakteurs, en in hierdie rol, waar die baadjie en hemp daardie aks te groot is, die hare effe verslaap is, en die houding een van ’n verslane man is, pas hom soos ’n handskoen. Jy word deel van sy versugting oor “professionele menopouse”, maar besef ook dat die soeke na betekenis in sy eie lewe hom magteloos laat teenoor die passie en lewenslus van die jong Alan. Alan sien daardie verlange en gemis in die psigiater se lewe en op een plek antwoord hy op die dokter se stelling dat hy as jong seun ongelukkig is, met ’n teenstelling dat die dokter ook ongelukkig is.

Ek is lanklaas by Theatre on the Bay so deur applous opgesweep ná ’n uitdagende, ontstellende toneelstuk. Hoewel daar dele van die stuk was wat ek gevoel het ek is nou alleen in die woud, het ek darem gou weer my pad deur die donker teruggevind.

As jy weer ’n slag wil introspeksie doen oor die sin van die lewe, die gejaag na wind, gaan kyk bietjie na binne in die veiligheid van die donker teater.

Equus

Met: Sven Ruygrok, Graham Hopkins, Monique Basson, Maggie Gericke, Andrew Roux, Marc Goldberg, Cassandra-Tendai Mapanda en Len-Barry Simons.

Deur: Peter Schaffer

Musiek: Charl-Johan Lingenfelder

Regisseur: Fred Abrahamse

Stel: Marcel Meyer

Choreografie: Marc Goldberg

Theatre on the Bay tot 20 April.

Kaartjies deur Computicket.com of die Theatre on the Bay-kaartjieskantoor (021) 438-3300.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top