Ennio Morricone: meester van die klankbaan

  • 1

Ennio Marricone (bron: Wikipedia)

“Hy gebruik note sorgvuldig, maar een vir een, asof hy eiehandig ’n katedraal bou,” het iemand eendag terloops oor Ennio Morricone, moontlik die grootste rolprentkomponis ooit, gesê. Maar hierdie is geen los note wat toevallig met instrumentsement aanmekaargelas word om ’n wysie te vorm nie. Vir Morricone gaan dit daarom om die siel van die film raak te vat. Om die boodskap wat die regisseur wil oordra te belig en hoe sy musiek nie alleen die toon of atmosfeer kan aangee nie, maar integraal deel van die beeld kan word.

Ennio Morricone het musiek geëet, gedrink en geslaap sedert sy sesde verjaarsdag. Hy het vroeg by sy pa geleer om die trompet te speel. (Sy pa het onder andere trompet gespeel om spaghetti in die borde te sit.) En dit het die jong seun met die deurmekaar hare geïnspireer om gestalte aan musiek te begin gee. Hy wou komponeer. Soos ’n wafferse klein Mozart het hy sy eerste komposisie reeds op ses voltooi. “Ek het die stuk papier waarop ek dit geskryf het, lankal verbrand; dis nie belangrik nie,” het Morricone eendag erken.

Die trompet sou op skool en later by ’n musiekkonservatorium in Rome ’n toonaangewende rol in sy lewe speel. Maar ook in sy musiek. Dink maar aan die trompet wat dikwels luidkeel-onverwags in sy bekendste komposisies, veral die spaghetti-Westerns, ander klanke onderbreek het.

Vir Morricone, wat sy liefde vir musiek gekry het deur veral radio te luister (hy het begin deur radiokenwysies en musiek te komponeer), was komposisie vroeg al deel van sy DNS. Hy het aanvanklik ander se musiek verwerk, of vriende gehelp om hul wysies na iets luisterbaar te verbeter.

Maar dit is film wat hom éintlik aangetrek het. Alhoewel hy meer as 500 rolprentklankbane gekomponeer het, was dit ’n klasmaat, Sergio Leone, wat die kollig eintlik op Morricone laat val het. Hy het ’n vroeë Morricone-komposisie op ’n ou 78-plaat raakgeluister, Morricone gekontak en uitgeroep: “Dis waarna ek soek!” So het hulle ontdek dat hulle eintlik saam op skool was. Maar ook dat daar soveel krag in musiek is dat selfs die taaiste, mees skouspelagtige Western dit nooit sou kon oorheers nie. Morricone se klankbane het soos koeëls oor die silwerdoek gespat. Hulle wou van geweet wees.

Toe Leone hierdie amper-vergete komposisie van Morricone hoor, het hy gevra dat die jong komponis dit moet verwerk. “Maar ek wou verras. Musiek moet nooit vervelig raak nie,” onthou Morricone; “dit moet die gehoor onverhoeds betrap. Saggies nader sluip en dan onthuts, tintel en aandag opeis.” En so is seker sy bekendste tema vir die epiese A fistful of dollars (1964), met sy kenmerkende fluitgeluide, For a few dollars more (met sy onheilstromme en fluite), en natuurlik The good, the bad and the ugly (1966) gebore, uit hierdie vroeë Morricone-probeerslag.

Laasgenoemde was een van die min rolprenttemas wat lank op trefferparades geboer het, en slegs die eerste vyf note het reeds die storie vertel. Daar word beweer dat Morricone vir sommige van Leone se Westerns eers die musiek geskryf het voordat die kameras gerol het. Baie tonele is toe deur hierdie musiek geïnspireer, of spesiaal daarvoor geskiet. Dit is dikwels ook op die stel vir die akteurs gespeel terwyl hulle doenig was met dialoog.

The good, the bad and the ugly se musiek was egter uniek. Morricone het wel van viole en ander snaarinstrumente gebruik gemaak, maar het toe (vermetel vir daardie tyd!) geluide soos windmasjiene, klokke (selfs beesklokke!), driehoekies, klappers, mondfluitjies, trompies en verwronge stemme aangewend. Na die kenmerkende aanvangsnote, wat eintlik Clint Eastwood se kenwysie sou word, het soprane die klanke gemaak waarin hulle hul stemme vermom en verwring het om soos wolweroepe te klink. In die agtergrond was mans wat uitroepe gemaak het, nes die “Sean! Sean! Sean!”-uitroepe in A fistul of dynamite, ook bekend as Duck you sucker (1971). Hierdie stemme het uit die doderyk om aandag geroep, maar op ’n ironiese manier. Dit het gespot, weerklink en honend gelag terwyl die res van die tema daarna gevolg het.

Maar dan natuurlik, dalk een van sy grootste komposisies ooit: Once upon a time in the West, (1968), waarin die stem van ’n mezzosopraan gebruik is om die bloeddorstige Western-landskap te besing, te streel, hartseer te raak, teer, vleiend en nostalgies te word, maar ook as waarskuwing sou dien vir die bloedbad wat sou volg. Saam met Maurice Jare se onsterflike Lawrence of Arabia-tema is daar min musiek wat ’n verlate woestynlandskap so treffend kon beskryf soos die Leone-rolprente op die maat van Morricone se musiek. Dink aan die onheilspellende klaviernote wat soos bloed gevloei het tussen die ander klanke in hierdie Westerns.

Maar dan was daar die ironiese donker-komiese ritme van Le clan des Sicilliens (1969), ’n huppelstappietema waarin ligweg met die Mafia gespot is. Dit was, soos die meeste Morricone-temas, musiek wat jy kon neurie, maar tog ook met onverwagse klanke wat ’n teenpool gevorm het met die ondergrondse bedrywighede van die karakters. ’n Parmantige, donker, spottende tema wat die onderduimsheid met bravade onderstreep het.

Ander bekende temas is natuurlik die panfluit-ode aan jong misdadigers in Once upon a time in America se slagting van die jonges wat onder die Brooklyn-brug plaasvind, die gebruik van fluite in sy meesterlike The mission-temas (1986), moontlik sy gewildste en bekendste musiek. Hy het nooit ’n Oscar hiervoor gekry nie. Dit was een van die min kere waar die gehoor teleurgesteld gereageer het toe Beyond midnight, waarin daar nie soveel oorspronklike musiek was dat dit ’n Oscar verdien het nie, daardie jaar bekroon is. Dit het Morricone, in sy eie woorde, nogal seergemaak.

Hy sou vir Stanley Kubrick gewerk het in A clockwork orange (1971), maar Leone het vir Kubrick gesê dat Morricone nog aan een van sy klankbane werk, wat onwaar was. Morricone kon Leone dit nooit vergewe nie. “Kubrick het nooit daarna weer met my gepraat nie,” onthou hy.

Morricone se magdom luisterryke en meesleurende musiek het inderdaad ’n katedraal van rolprenttemas gebou, trompie vir viool vir fluit vir trom vir mondfluitjie vir stem vir klokkespel vir perdepote vir mandoliens.

Onthou ook sy ander Oscar-benoemde klankbane vir Days of heaven (1979), The untouchables (1988), Bugsy (1992) en Malèna (2001). Hierdie was meer onopsigtelike musiek, maar steeds met die kenmerkende Morricone- aandagtrekkende klanke. “Musiek moet aandag trek. As die gehoor dit nie hoor nie, werk dit nie,” het hy in ’n onderhoud verklaar.

Moet ook nie sy polsende skrikmaakmusiek vir 1982 se The Thing vergeet waarin hy ’n hartklop vir ’n virus beskryf deur middel van tromme nie. Hy skryf ook musiek vir Quentin Tarantino, en laat selfs toe dat daar van sy musiek in sy rolprente gebruik word, en toe hy die oorspronklike musiek vir The hateful eight (2015) te skryf, het hy uiteindelik sy welverdiende Oscar vir beste klankbaan in 2016 gekry. Dit na ’n troosprys-Oscar vir sy bydrae tot rolprentmusiek in 2007.

Op YouTube is daar onlangs ure se tonele uit sy bekendste rolprentklankbaan-oomblikke geplaas. Ook huldeblyke waarin gewys word hoe die verskillende klanke in The good, the bad and the ugly gemaak is. En herinnerings aan sy onsterflike musiek (“Here’s to you”) uit Sacco & Vanzetti (1971) asook The Battle of Algiers (1966) se dreigende en soms morbiede temas.

Hier is een van die weinige rolprentkomponiste wie se musiek nie alleen sekere beelde opgeroep het met slegs enkele note nie, maar waarna sonder beelde geluister kon word. Majestueuse klankbane wat vir dekades na sy dood steeds soos monumente sal bly staan. Die films mag vergeet word (The bird with the crystal plumage, 1970 en My name is Nobody, 1973) maar sy musiek is blywende herinneringe. Hy was dikwels geringskat of ongewaardeerd omdat hy so skaam was, nooit eintlik van komplimente gehou het nie, en gou van die verhoog af verdwyn het nadat hy ’n orkes gedirigeer het. Maar staande ovasies wat minute lank geduur het, het hom teruggelok.

“Ek hou nie daarvan dat ek net onthou word vir die paar Westerns waarvoor ek musiek geskryf het nie,” het hy gekla. Maar sy bydrae was so oorweldigend, en daar was soveel onvergelyklike musiek, dat Morricone nooit getipeer kon word nie. Dink aan sy liriese, dikwels sentimentele maar verbysterende mooi musiek vir Cinema Paradiso in 1988 wat nie eers vir ’n Oscar benoem is nie. Ook nie vir sy musiek vir die Sean Connery-mislukking The red tent (1969) nie. Hierdie klankbaan moet ook gereken word onder sy heel beste, maar mees onbekende en skaars kriewel-in-die-nek-temas, weer met ondersteunende, harmonieuse stemme waaruit die suiwer stem van ’n sopraan dan groei.

Hy het tot kort voor sy dood nog gekomponeer aan The Canterville Ghost (2020). “En hy het waardig gebly tot aan die einde, selfs nadat hy geval het en beseer is,” het sy familie laat weet.

“Die musiek moet sê wat die rolprent nie sê nie en wat jy nie kan sien nie,” was een van sy bekendste aanhalings.

Wat ’n man. Wat ’n komponis. Wat ’n bydrae. Wat ’n voorreg om na sy musiek te kon luister.

Ciao Maestro.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top