Enkele woorde oor Henning Snyman

  • 0

Henning Snyman (foto: Naomi Bruwer)

Hoe meer die nuus van Henning se heengaan ingesink het, hoe meer het die impak van sy lewe op almal wat hom geken het, duidelik geword.

Saam met Annette, sy eggenote wat hom so vroeg vooruitgegaan het, was hy (en ook sy) geliefde en uiters bekwame dosente – volgens getuienis van baie oudstudente, die beste wat hulle gehad het. ’n Fyn humorsin het ook nie ontbreek nie: in ’n fonetiekklas, waartydens die spraakorgane ook ter sprake was, het een van die studente onbedaarlik aan die hik gegaan, en Henning het met ’n knipoog opgemerk: “Meneer, u het blykbaar ’n onrustige diafragma!”

Hy was geëerd en gerespekteerd onder sy kollegas, een van ’n seldsame klas filoloë wat ewe tuis was in die linguistiek (veral die semantiek) as in die letterkunde, en daarby ook ’n musiekkenner en ‑liefhebber. Hy kon werklik met gesag oordeel as akademikus. ’n Opvallende kenmerk was dat hy sy uitstaande intellek met sy geloof kon integreer, en die insigte van die wetenskap as deel van die goddelike openbaring geïnterpreteer het.

Ons het oor die jare sy aan sy om die tafel by die redaksiekomiteevergaderings van die Bybelvertaling gesit, met verwondering oor die werk waarmee ons besig was. Hy het sy stempel duidelik afgedruk op die hierdie vertaling – ’n mens sal sy literêre voetspore oral in die teks kan volg. In sy gesprekke met alle belangstellendes en belanghebbendes oor hierdie vertaling het hy sy insig in die waarde daarvan helder en duidelik oorgedra. Daarvan getuig ook die artikel wat hy in 2014 in LitNet hieroor gepubliseer het, en wat nog steeds via die Bybelgenootskap se webblad gelees kan word.

As vriend en mens (’n ware heer, altyd vriendelik, beheerst en nederig) het hy by almal wat sy pad gekruis het, agting afgedwing en oral met opregte belangstelling in sy gespreksgenote se wel en wee ware vriende gemaak.

Ná meer as ’n dekade van noue samewerking en vriendskapsontwikkeling sal ek, as agtergeblewene, hom geweldig mis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top