Enkele verklarings vir die strafregtelike vervolging van diere gedurende die Middeleeue en Renaissance

  • 0

 

 Opsomming 

In die periode tussen die negende en negentiende eeue is meer as twee honderd gedokumenteerde verhore van diere opgeteken. Die diere sluit onder meer donkies, bulle, dolfyne, varke, rotte, skape, wolwe, slakke, ruspes, insekte en kewers in. Wat vandag lyk na ’n sinlose en bisarre praktyk, was in die Middeleeue roetine: die beskuldigdes (diere) is formeel gedagvaar en voor ’n hof gedaag; diere het die reg op verdediging gehad en is ook gevonnis, byvoorbeeld gehang, verbrand of toegesluit in ’n tronk. Diere kon ook onder kerklike sensuur geplaas word, al was hulle nie deel van die Katolieke Kerk nie. Diere is soos hulle menslike beskuldigde eweknieë behandel, al kon hulle nie praat, die hofverrigtinge volg of aanspreeklik gehou word vir hulle dade nie. In ’n poging om hierdie verskynsel te verklaar, ondersoek die artikel verskeie moontlikhede. Gevolgtrekkings waartoe gekom word, is dat die Katolieke Kerk diere as lede van die samelewing moes gereken het. Deur marteling en wrede teregstellings van diere het die geleerde elite die boodskap na die ongeletterde massas uitgestuur dat niemand verhewe is bo die Kerk en staat nie, en dus nie die lang arm van die gereg kon ontduik nie. In ’n sekere sin het diereverhore en openbare teregstellings van diere gedien as ’n tipe moraliteitsteater, en die Kerk het, deur die ongeletterde massas se vrese en bygelowe uit te buit, sy mag en invloed in die gemeenskap so herbevestig.

Abstract

Some explanations for the criminal prosecution of animals during the Middle Ages and Renaissance

During the period between the ninth and nineteenth centuries, more than two hundred animal trials were documented. Animals put on trial included donkeys, oxen, dolphins, pigs, rats, sheep, wolves, snails, worms, insects and beetles. What today seems like a senseless and bizarre practice appears to have been acceptable in the Middle Ages and during the Renaissance. The animals were formally tried in open courts, had the right to legal representation and were sentenced, which included hanging, burning or incarceration. Certain animals were subjected to excommunication by the Catholic Church, although they were not members of the Church. These animals were treated the same as humans, even though they were unable to speak, follow court proceedings or be held liable for their actions. In an effort to explain this phenomenon, the article traces a few possibilities. It is concluded that the Catholic Church appears to have regarded these animals as members of their communities, with the torture and cruel sentences inflicted on these animals sending a strong message to the illiterate populace of the Middle Ages that nobody is above the Church and state and could not, therefore, escape the long arm of the law. Animal trials may also have served as a type of morality play, exploited by the Church to play on the fears and superstitions of illiterate people in order to strengthen the influence and power of the Church over the community.

1. Inleiding

Meer as twee honderd gedokumenteerde strafverhore van diere het in die periode tussen die negende en negentiende eeue n.C. plaasgevind (Ewald 1995:1903–4). Diere wat in hierdie periode vervolg is, sluit in: donkies, kewers, bloedsuiers, bulle, ruspes, hoenders, koeie, honde, dolfyne, muise, vlieë, bokke, sprinkane, perde, molle, varke, rotte, slakke, termiete, wolwe en ’n verskeidenheid goggas (Evans 1988:265–85). In 1474 is ’n hoenderhaan byvoorbeeld vervolg omdat hy probeer het om ’n eier te lê. Ten spyte van die dapper verweer van die verdediging, dat die lê van die eier ’n onwillekeurige daad was en nie strafbaar deur wetgewing nie, kon dit die haan nie van die brandstapel red nie, aldus Evans (1988:162–4).

Wat beskou is as aanvaarbare praktyk in die Middeleeue, blyk vandag bisar en sinloos te wees. Dit is vreemd dat elemente van skuld (in ’n morele en juridiese sin) aan die vervolgde diere toegedig is. Ons kan ons tereg afvra watter doel die vonnisse kon dien, aangesien daar geen betekenisvolle kommunikasie tussen mense en diere bestaan het nie.

Dit is inderdaad vreemd dat denkers van die laat Middeleeue en moderne Europa ’n aksie ingestel het, en ’n saak teen muise aanhangig gemaak het, of die openbare teregstelling van varke as rasioneel beskou het. Ongelukkig is die literatuur oor die vervolging van diere beperk, met die uitsondering van bydraes gedurende die 1890’s tot die vroeë 1900’s deur Evans (1988), Von Amira (1891), D’Addosio (1892) en Tobler (1893).

2. Die aard en kenmerke van diereverhore

Diereverhore het in verskeie dele van Europa, veral in Frankryk, Switserland, Trioel, Duitsland, Nederland en Spanje, plaasgevind. Die regsformaliteite en -terminologie wat gebruik is tydens die verhoor van mense, is ook gevolg en toegepas tydens die verhoor van diere. Regters, advokate, geregsbodes en laksmanne is hulle normale tariewe betaal, soos blyk uit voorbeelde aangehaal deur Dinzelbacher (2002:407).

’n Onderskeid is getref tussen die verhore van huishoudelike diere wat ’n persoon beseer of doodgemaak het en voor ’n sekulêre regbank gebring is, en aksies teen ’n klomp gevaarlike insekte of knaagdiere wat grootskaalse skade aan voedselvoorrade soos graan of wingerde aangerig het en voor ’n kerkregtelike tribunaal gedaag is. Volgens Evans (1988:313) is huishoudelike diere wat voor sekulêre regbanke gedagvaar is, gewoonlik die doodstraf opgelê: hulle is gehang of lewend begrawe.

Wilde diere is nooit aan regsaksies onderwerp nie, en interessant genoeg, ook nie honde nie. Vervolgens beweer Evans (1988:140) dat diere wat potensieel kon gaffel of iemand deurboor, gereeld vervolg is, en waar laasgenoemde diere skade aangerig het aan lewelose voorwerpe, siviele eise vir kompensasie teen die eienaar(s) van die diere ingestel kon word. Kerkregtelike of ekklesiastiese howe, aan die ander kant, het maniere soos kerklike sensuur en beswering gebruik in die geval van insekte en knaagdiere, want ’n kerkregtelike regter was nie bevoeg in causa sanguinis nie, en kon nie enige kanonieke strawwe oplê nie. Dit is waarom die Katolieke Kerk byvoorbeeld nooit ketters die doodstraf opgelê het nie, maar sou die Kerk van mening wees dat ’n ketter die dood verdien, is hy of sy oorgelewer aan ’n sekulêre hof vir formele vonnis.

Die modus procedendi in ekklesiastiese verhore moes ’n proksie (gevolmagtigde) aanwys wat met behulp van ’n amptelike boodskapper die taak opgelê is om die dier aan te sê om op ’n gegewe datum persoonlik voor die hof te verskyn. Tydens die dag van die verhoor sou een van die beskuldigde diere deur die regter beveel word om sy medebeskuldigdes in te lig om die betrokke gebied waar die oortreding gepleeg is, voor ’n sekere datum te ontruim. Soms het dit gebeur dat ’n dier “toegestem” het, en dan het die gelowige gemeenskap God in hulle gebede geloof en geprys. Maar in die meeste gevalle, soos ’n mens kan verwag, het laasgenoemde nie gebeur nie, en is die regsproses voortgesit. Dan sou die regter die skuldige dier vervloek, onder sensuur plaas en hom beywer om die dier te vernietig.

In 1522 is die Autun-rotte deur ’n ekklesiastiese regbank vervolg. Die verhoor het nie net die aandag gevestig op Chassenée, die betrokke regsgeleerde wat as regsverteenwoordiger ter verdediging van diere opgetree het nie, maar het ook gelei tot die publikasie van sy werk getiteld Consilium primum, quod tractatus jure dici potest, propter multiplicem et reconditam doctrinam, ubi luculenter et accurate tractatur quaestio illa: De excommunicatione animalium insectorum (A treatise on the excommunication of insects). Laasgenoeme werk moes ’n bestaande leemte gevul het, want dit is twee maal herdruk: in 1581 en weer in 1588 (Evans 1988:162–4). Sy vertoog dek ’n verskeidenheid onderwerpe, van die behoorlike formulering van ’n klag tot die uitreik van regkennisgewings en pleitstukke, die behoorlike verteenwoordiging van verdediging, prosedures wat gevolg moet word tydens verhoor, en die oplê van vonnisse. Voorts haal Chassenée aan uit die Ou en Nuwe Testament, en verwys hy na skrywers soos Vergilius,Ovidius, Cicero en Aristoteles, die Institutes van Justinianus, en verskeie partristieke teoloë.

Indien die regsgesag van Chassenée se vertoog in twyfel getrek word, moet mens ook in gedagte hou dat hy ’n gerespekteerde skrywer was oor wetgewing in Boergondië, bekend as die Commentaria super conuetudinibus Burundiae, laasgenoemde die standaardverwysingsraamwerk vir Franse regslui tydens die Renaissance.

Om terug te keer na die Autun-verhoor: Chassenée het die oorspronklike bevel wat die rotte beveel het om op ’n spesifieke hofdatum voor die regbank te verskyn, teengestaan, want die beskuldigde rotte was oor ’n wye gebied in die platteland en in verskeie dorpe versprei (Evans 1988:19–20). Vervolgens is nog ’n hofbevel uitgereik wat van elke kerkkansel in dié betrokke areas afgelees is om dus seker te maak dat alle relevante rotte behoorlike kennisgewing ontvang het. Weer het die rotte versuim om op te daag, en Chassenée was genoop om die hof te vra vir uitstel, en so sy kliënte kans te gee om reëlings te tref om na die area waar hulle gedagvaar is, te reis. Die redelikheid van laasgenoemde versoek is toegestaan en ’n derde hofdatum vir die rotte se verskyning is bepaal.

Hierdie keer was Chassenée voorbereid indien sy kliënte nie opdaag nie: sy oortuigende argument rakende regverdige hofprosedure was dat indien beskuldigdes nie opdaag vir ’n verhoordatum in ’n onveilige omgewing nie, die hofbevel verontagsaam mag word. Hy het aangevoer dat sy kliënte ongewild was in die omgewing en ook bang was vir hulle natuurlike vyande – katte. Katte was nie in ’n neutrale posisie in laasgenoemde dispuut nie, aangesien hulle na bewering aan die kant van die klaers gestaan het, en hy het versoek dat die hof help om die katte in toom te hou en te keer dat hulle sy kliënte teister. Weer kon die hof nie fout vind met die argument nie, maar kon dit ook nie op ’n verhoordatum vir die rotte besluit nie, en het dit sine die verdaag. Vonnis by verstek in die guns van die rotte is hierna toegestaan.

Nie lank na die rotte-verhoor nie het wynboere in 1545 in ’n dorp in St. Julien aksie geneem teen snuitkewers wat wingerde besmet het (Evans 1988:37–49). Die saak is nooit vir verhoor op die hofrol geplaas nie. Maar 41 jaar later, in 1587, is die kewers gedagvaar om voor die hof te verskyn. Na lang samesprekings is daar aan die beskuldigdes ’n stuk bar grond geskenk waarop hulle kon woon. Die verdediging het egter die aanbod verwerp, omdat die stuk grond inderdaad droog was en dus die mynregte van die klaers sou benadeel deur die bewoning van die beskuldigdes in daardie gebied. Volgens Evans (1988:49) blyk dit onseker watter wending die saak geneem het, want die hofverrigtinge (wat 29 bladsye beslaan het) is deur insekte beskadig en gevreet. Dit is ook nie verbasend dat laasgenoemde beskuldiges onder sensuur geplaas is nie (Dinzelbacher 2002:409).

In die kantlyn van bogenoemde hofdokumente verskyn ’n lys uitgawes verbonde aan die saak: drie florins is betaal aan die kenners om die grond wat aan die insekte toegeken is, te besoek; sestien florins is betaal vir administratiewe onkoste, seëls ingesluit; en drie florins is betaal aan die vikaris wat as die biskop se amptenaar opgetree het (Evans 1988:49–50).

In gevalle waar bestialiteit voorgekom het, is die betrokke dier ter dood veroordeel saam met die persoon wat die daad gepleeg het. Evans (1988:148–9) verwys na ’n man genaamd Potter wat saam met ’n koei, twee verse, drie skape en twee sôe tereggestel is. In 1642 het ’n jeugdige werker erken dat hy omgang gehad het met ’n merrie, ’n koei, twee bokke, verskeie skape, twee kalwers en ’n kalkoen. Hy is tereggestel nadat al die betrokkke diere doodgemaak is (Ewald 1995:17). Oortreders wat skuldig was aan sodomie (”die naamlose misdaad”), is swaar gestraf: soms is die betrokke persoon en dier saam lewend verbrand.

Die vonnisse van diere het op verskeie maniere geskied: sommige diere is lewend begrawe en ander verwurg voor hulle verbrand is. Gevangesetting het ook plaasgevind: varke is in tronke toegesluit, onder dieselfde onstandighede as hulle menslike eweknieë.

3. Verklarings vir die bestaan van diereverhore

Volgens Dinzelbacher (1996) kan die verskynsel van diereverhore verklaar word aan die hand van Middeleeuse persepsies van sonde, vrees en bygeloof. Die Middeleeue was inderdaad ’n tydperk in die geskiedenis van die mens wat gekenmerk is deur vrees en krisisse (Delumeau 1990:189), en ekstreme maatreëls is ingestel om wet en orde te handhaaf. Dinzelbacher (1996:406) beweer dat diereverhore die indruk geskep het dat owerhede volhard om wet en orde op ’n streng en koöperatiewe wyse te handhaaf, selfs al was die beskuldigdes nie mense nie. Op sy beurt het dit daartoe gelei dat diere ook as lede van die gemeenskap, waarin reg en geregtigheid gegeld het, beskou is.

Berman (1994:314–5) beweer dat die daarstel van diereverhore tydens die Middeleeue ’n maatreël was om ’n mate van harmonie in gemeenskappe te skep: ’n antwoord op natuurkragte waarteenoor die mens magteloos gestaan het.

3.1 Kommunikasie

Dit is inderdaad vreemd dat die amptenare betrokke by diereverhore werklik geglo het dat diere die vermoë het om die hofverrigtinge en vonnisuitspraak te begryp. Historici glo wel dat laasgenoemde die geval moes gewees het, want volgens ’n dokument van 1452 is skadelike insekte gedagvaar om op ’n spesifieke tyd voor die hof te verskyn en hulle weergawe insake die klagtes teen hulle (responsura de his quac sibi obiicientur) aan die hof te stel (Dinzelbacher 2002:405).

Volgens Dinzelbacher (2002:405–6) dui ’n hofdokument uit 1478 daarop dat meikewerlarwes wat voedselvoorraad in Berne besmet het, voor die hof gedaag is ten einde hulle verhaal aan die biskop oor te dra (zuo erschinen und iren glimpf zuo erzellen). Daar is geglo dat die betrokke diere oor die vermoë beskik het om te verstaan wat met hulle gebeur, soos die erns van die aanklag, die dagvaarding en die moontlikheid van kerklike sensuur, alhoewel hulle nie amptelike lidmate van die Katolieke Kerk was nie.

Die verhoor van diere het dus onder andere die doel gedien om kognitiewe beheer uit te oefen oor onverklaarbare of onafwendbare gebeure, wat dan weer as baie bedreigend deur die bygelowige massas in die Middeleeue ervaar is.

Interessant genoeg berig ook die Bybel oor kommunikasie met diere. Ons lees byvoorbeeld in Genesis 3:4–5 dat Eva met ’n slang gepraat het; in Numeri 22 praat Bileam se donkie met hom; en in Jona 2:10 het die Here die vis beveel om Jona uit te spoeg. Dit is moontlik dat die Katolieke patriarge hulself ook die vaderregtelike reg toegeëien het om met diere te praat, soos God in laasgenoemde teksvers gedoen het.

Tot die negentiende eeu was dit ook algemene praktyk om diere verbaal in te lig oor die dood van ’n boer. In die laat Middeleeue is daar geglo dat diere gedurende Kerstyd met hulle meesters kon praat, aldus Dinzelbacher (2002:413).

Die doel van openbare teregstellings van skuldiges kon moontlik dien om ander diere af te skrik om nie soortgelyke misdade te pleeg nie. Dit is egter vergesog, want dit sou impliseer dat ander vierpotige toeskouers die gebeure vrywilliglik sou wou bywoon.

3.2 Sosiale faktore

Die sosiale voordeel verbonde aan die teregstelling van diere was om gevaarlike diere te elimineer wat weer iemand kon doodmaak. Vandag word gevaarlike diere of hondsdol honde om dieselfde rede van kant gemaak. Dit verklaar nog nie die uitgerekte hofprosedures om diere se skuld tydens diereverhore vas te stel nie; nog minder die vonnisse wat opgelê was. Varke wat kinders doodgetrap het, is dikwels voor teregstelling vermink of geslaan, wat suggereer dat die bedoeling was om diere vir hulle dade te straf.

Afgesien van die “afskrikwaarde” wat openbare teregstellings van diere vir ander diere ingehou het, wonder ’n mens of die boodskap nie eerder op die ongeletterde Middeleeuse bevolking gerig was nie, naamlik dat niemand die lang arm van die gereg kan vryspring nie, en selfs diere wetsgehoorsaam moes wees. Volgens Evans (1988:265–85) word die idee onderstreep deur die feit dat die beskuldigde diere aangetrek was in klere om die erns van die hofverrigtinge te onderstreep – asof die beskuldigdes mense was.

Die dramatiese impak van diereverhore herinner aan moraliteitsteater, ’n medium waarmee die Kerk en Staat hulle mag aan die massas herbevestig het, asook hulle vermoë om misdaad met wortel en tak uit te roei.

Volgens Kieckhefer (1976:47) het die Middeleeuse geleerde elite ’n algemene Middeleeuse Weltanschauung, wêreldbeskouing, geskep wat egter die spirituele en materiële persepsies van die ongeletterde Middeleeuse bevolking grotendeels oorskadu het. Wat wel bekend is, is dat die deursnee Middeleeuse burger sterk beïnvloed is deur eksterne faktore, byvoorbeeld relieke, pelgrimstogte en rituele. Onlangse navorsing dui daarop dat daar moontlik gedurende die veertiende of vyftiende eeu ’n verbrokkeling van die tradisionele gesinstruktuur in sekere dele van Europa plaasgevind het (Herlihy 1972:1–10). Dit kon op sy beurt weer as sneller gedien het in die soeke na sekerheid en struktuur onder die mense. Die openbare teregstellings van diere het dus met dramatiese impak die eliminasie van sosiale gevaar geïllustreer.

3.3 Personifikasie en simboliek

Die Switserse regsgeleerde Eduard Osenbrüggen het in sy 1868-bydrae tot Duitse en Switserse regsgeskiedenis gepoog om die verskynsel van diereverhore te probeer verklaar in terme van ’n teorie, naamlik dié van personifikasie (Osenbrüggen 1868:139-49). Deur die daad van personifikasie word die dier in dieselfde kategorie as mense geplaas, en was dus onderhewig aan dieselfde strafsanksies. Hy baseer sy teorie op die feit dat diere in die Middeleeuse beskouing as lede van die gesin (en huishouding) gesien is. Laasgenoemde korreleer ook met sekere Middeleeuse praktyke, soos dat plaasdiere mondelings ingelig is oor die dood van hulle eienaar.

Salisbury (1994:71) beweer dat mense in die twaalfde eeu, ten spyte van die mens se dominium oor diere, ook begin verstaan het dat daar ooreenkomste tussen mense en diere bestaan. Daar is talle voorbeelde van verhale wat die dierewêreld as ’n spieëlbeeld van menslike waardes en gebreke voorhou; ook is daar duidelike beskrywings van die band tussen mens en dier in manuskripte, beeldhoukuns en argitektuur tydens die Gotiese periode. Die alledaagse gebruik van die sogenaamde “bestiaries” (Bestiarum vocabulum) was uiters gewild gedurende die twaalfde eeu in Frankryk en Engeland. Dit het bestaan uit ’n kort beskrywing van die geskiedenis van elke dier, tesame met ’n skets en ’n kort morele les (Hassig 1999:x–xi). Diereverhore kon dus daartoe bydra om die ontologiese afstand tussen mens en dier te laat krimp.

Volgens die personifikasieteorie van die agtiende-eeuse Franse historikus Guillaume-Hyacinthe Bougeant (1757:6–13) is diere eintlik duiwels geïnkarneer in diere se liggame, en hulle dra hemel en hel in hulle saam. Daar is egter geen bewys dat sy siening ondersteun is deur diegene wat diere vervolg en verhoor het nie.

Ironies genoeg was duiwels in die Bybel wel aangetrokke tot varke, want toe Jesus duiwels uit ’n besete man wou uitdryf, het hulle Hom gesmeek om in ’n trop van sowat twee duisend varke in te vaar, waarna die varke versuip het (Markus 5). In Openbaring 18, met die val van Babilon, word duiwels en bose geeste ook met diere in verband gebring. Voorts wemel die boek Openbaring van die diaboliese wat parallel gestel word aan diere, soos paddas, ’n draak, die dier self (wat Satan voorstel) en die dier met die sewe koppe en tien horings (Openbaring 17), wat ook in verband met die bose gebring word. In die boek Daniël is daar verwysings na verwronge skaap- en bokramme met horings, en ander monsteragtige wesens met horings. (Mens kan spekuleer of die idee van ’n duiwel met horings dalk sy neerslag in die Bybel gevind het. Hier dink mens ook aan die mitologiese sondebok(motief).)

Die fait dat diereverhore formele en amptelike prosesse was, laat die vraag ontstaan hoe dit in verband gebring kan word met die algemene regspleging van daardie tye, spesifiek strafregpleging.

3.4 Strafregpleging

Regspleging in die vroeÑ‘ Middeleeue is gekenmerk deur eenvoudige hofprosedures, gebaseer op geskrewe en mondelinge getuienis, asook die gebruik van sogenaamde beproewings (“ordeals”). Gedurende die feodale tydperk in sentraal-Europa is geen onderskeid getref tussen die siviele en strafregtelike aspekte van ’n klaer se bewering van skade aan sy persoon of eiendom nie, en ’n slagoffer se familie het gewoonlik ’n eis of aksie teen die oortreder ingestel (Watkin 1999:409).

Sodra die saak aanhangig gemaak is, is bewys van die wandaad of oortreding vereis, wat dikwels deur middel van spesifieke “beproewings” vasgestel is. ’n Persoon se onskuld kon bewys word deur ’n gloeiende yster vir ’n afstand van nege voet (net minder as drie meter) te dra, ’n arm of been in kokende water te dompel, of in yskoue riviere of damme gegooi te word (Henderson 1910:314–7). Indien die kokende ketel waarin die oortreder se hand of been gedompel is, hewig begin swaai het terwyl die priester God gevra het om die beskuldigde se skuld of onskuld te bewys, was dit ’n aanduiding van die beskuldigde se skuld. Het die wonde op ’n persoon se hande drie dae na die dra van die gloeiende yster steeds gebloei, was dit ’n aanduiding van die skuld van die beskuldigde. Hierdie praktyk was deels gebaseer op die gedagte dat ’n slagoffer of vermoorde se bloed na vergelding “roep”.

Indien ’n oortreding plaasgevind het, maar die slagoffer se familie geen klag gelê het nie, kon die feodale landheer die beskuldigde aankeer en by wyse van trompetgeskal aankondig dat die beskuldigde aangehou word op grond van ’n spesifieke beweerde oortreding en dat die slagoffer en laasgenoemde se familie hulself as aanklaers moet voorberei.

Bogenoemde primitiewe akkusatoriese proses van die feodale tydperk is geleidelik vervang met die inkwisitoriese proses (ordo iudiciarius) afkomstig uit die kanonieke reg.

Die Katolieke Kerk, wat gekant was teen die gebruik van beproewing om skuld of onskuld te bepaal, het geleidelik onder invloed van die Germaanse gewoontereg meer inkwisitoriese kenmerke in die kanonieke reg ingevoer. Hoewel daar algemeen aanvaar was dat ’n beskuldigde ’n reg op ’n verhoor gehad het, het dit geensins ’n waarborg gebied van spesifieke prosesregtelike regte nie (Beckerman 1995:6–8). Kerkregtelike howe kon egter self regsverrigtinge teen ’n persoon inisieer, gebaseer op ’n gerug van ’n onsedelikheid, byvoorbeeld.

Die feit dat beide bogenoemde akkusatoriese en die inkwisitoriese proses afkomstig uit die kanonieke reg saam bestaan het tydens die elfde tot die dertiende eeu, moes baie verwarring en onsekerheid onder die ongeletterde bevolking geskep het. Hierdie onsekerheid is ongetwyfeld op ’n spits gedryf met die instelling van die Inkwisisie van die dertiende eeu, wat ex officio teen beskuldigdes kon optree sonder om hulle vooraf in te lig oor die saak teen hulle of die aard van die beskuldigings. Die ondervraging van beskuldigdes het met behulp van marteling geskied, en was hoofsaaklik daarop gerig om die name van medepligtiges of ’n bekentenis te verkry (Watkin 1999:411–5). Bekentenisse moes op ’n later stadium deur addisionele getuienis geratifiseer word, anders was die bekentenis ongeldig. Blote suspisie dat ’n persoon skuldig was, het sterk bewysregtelike krag gehad. ’n Gebrek aan bewys het nie die persoon se onskuld bewys nie; inteendeel, daar is aangeneem dat ’n persoon onskuldig was totdat hy of sy verdink (in plaas van skuldig bevind) is. Dit is dus geensins verbasend dat die afwesigheid van ’n klaer in die inkwisitoriese proses tot ’n styging in die getal vervolgings gelei het nie (Watkin 1999:416). Die toename in vervolgings is ook bevorder deur die migrasie van mense as gevolg van die Swart Pes gedurende die veertiende eeu, asook vrees vir die dood, bygeloof, algemene angstigheid en verwarring wat in hierdie tyd geheers het.

In hierdie lig gesien kan diereverhore beskou word as pogings om die vreesaanjaende, onverklaarbare en onbeheerbare elemente van die Middeleeuse bestaan te hanteer, spesifiek deur van ’n formele en openbare ritueel gebruik te maak ten einde die bekende morele en regsorde van die tyd te “herstel” (Berman 1994:292–3).

Die verhoor van diere kan moontlik ook verklaar word, en in verband gebring word met, die vervolging en verhoor van sogenaamde hekse tydens die Middeleeue. Hulle het in dieselfde geografiese areas plaasgevind, asook in dieselfde tydsperiode. Ook is beide diere en hekse voor ekklesiastiese en sekulêre howe gedaag. Volgens Robbins (1959:9) was die praktyk van heksery ’n fiksie wat bedink is deur teoloë en vervolgers met geen kennisopvatting of grondslag oor populêre aannames en praktyk nie.

Laasgenoemde idee is verder uitgebrei deur Kieckhefer (1976:47), wat beweer dat teoloë en regslui ’n prominente rol in die verhoor van hekse gespeel het: die klagtes van towery in die algemeen het gelei tot dié van “diaboliese dade”, en op hulle beurt het die geleerde elite hul siening oor towery so probeer verstaan en verdedig. Tydens die Middeleeue kon regsaksie ingestel word teen ’n dier of ’n heks sonder dat daar ’n klaer was. Dit was ’n belangrike taak van die ekklesiastiese en sekulêre hoogwaardigheidsbekleÑ‘rs om kettery uit te roei. Heksery is gesien as ’n vorm van kettery, en diere wat misdrywe gepleeg het wat tot lewensverlies of die beskadiging van voedselvoorraad gelei het, is oor dieselfde kam geskeer.

In die lig van voorgaande bespreking ontstaan die vraag wat die rol van Middeleeuse regsgeleerdes in die vervolging van diere in hierdie tydperk was. Dit moet in gedagte gehou word dat regsaksie aanhangig gemaak kon word sonder ’n eiser of klaer – vanselfsprekend ’n baie voordelige situasie wat die vervolging van hekse en diere betref het.

Alvorens daar na juridiese sienings gekyk word, moet melding gemaak word van twee aksies onder die Romeinse reg wat betrekking het op skade wat deur diere aangerig is, naamlik die actio de pauperie en die actio de pastu (Van Zyl 1977:353). ’n Kenmerk van die toepassing van beide hierdie aksies was dat die eienaar die betrokke dier wat die skade veroorsaak het, moes oorhandig, of alternatiewelik die skade aan die slagoffer moes vergoed. Indien die dier oorhandig is, kon die slagoffer hom op die dier wreek. Met verloop van tyd het dit gebruik geword om eerder die skade geldelik te vergoed, en teen die tyd van die vroeÑ‘ klassieke Romeinse reg het die oorhandiging van die dier in onbruik verval. Dit is onwaarskynlik dat hierdie Romeinsregtelike aksies enigsins verband hou met die diereverhore, behalwe dat die teregstelling van die diere in beide gevalle ten doel gehad het om ’n wanbalans wat ontstaan het, reg te stel.

4. Juridiese sienings

St. Thomas Aquinas, een van die mees gesaghebbende filosowe van die Middeleeue, beweer in sy Summa Theologiae II (1613:76,2)dat diere nie aangekla en skuldig bevind kon word nie, want hulle kan nie woorde verstaan of rasioneel dink nie, en het dus nie beheer oor hulle aksies nie. Hy verwys na die Bybel, en haal ’n gedeelte aan waar Jesus ’n vyeboom vervloek het. St. Thomas kom tot die gevolgtrekking dat direkte petisies aan God gerig, en die beswering van die duiwel, die oplossing is, aangesien die duiwel diere kan laat sondig.

Indien God ’n dier vervloek, moet die vloek nie gesien word as die vervloeking van die dier as sodanig nie, maar as ’n indirekte manier om ’n rasionele agent te vervloek. Die vervloeking van diere as irrasionele wesens is sinneloos en sou onwettig wees (est odiosum et vanun et per consequens illcitum), en om diere te vervloek as deel van God se Heilige Plan, kon potensieel godslasterlik wees (1613:90,3). Alternatiewelik, indien diere vervloek word as instrumente van Satan, kon dit dan indirek verklaar word as ’n vervloeking van Satan. In Genesis 3:14 het God self die slang (Satan) vervloek. Dit blyk dat die Middeleeuse patriarge vele vaderregtelike projeksies (soos in die Bybel gevind) self toegepas het. Die vervloeking van diere as gesante van Satan was ’n algemene aanname in die Middeleeue, want die Bybel verwys na bose geeste metafories of simbolies as diere, byvoorbeeld die slang, draak, leeu, leviatan, ensovoort (Evans 1988:55). Die afleiding kan gemaak word dat diere wat onskuldig was en nie in staat was tot culpa nie, nie net gestraf was vir hulle eie oortredings nie, maar dat dit gedien het as ’n soort religieuse simboliek om Satan te intimideer en vrees by hom in te boesem.

Bogenoemde verklaring blyk aanvaarbaar te wees, gesien in die lig van die Katolieke Kerk se siening dat demone / gevalle engele hulle mag as intelligente wesens kan gebruik om in ’n materiële wêreld te handel en materiële kragte vir hulle eie (bose) gewin te manipuleer. Die Katolieke Kerk het geglo dat plekke, diere, mense en lewelose dinge vatbaar was vir diaboliese beÑ—nvloeding. Deur beswering, met behulp van sout en water, het God Sy gelowige dienaars toegerus met bonatuurlike krag en beskerming teen die aanvalle van die duiwel (Catholic Encyclopaedia, p. 1914). Die vermoede bestaan dat laasgenoemde rituele die idee herbevestig het dat alle dinge, lewend en nielewend, onderwerp was aan ’n tipe religieuse ondergeskiktheid. Dit verduidelik dat daar geloof moes gewees het in die effektiwiteit van die vervloeking van ongediertes en ander diere. Dieselfde argument geld vir die openbare teregstelling van diere.

5. Deodands

’n Rare, maar uitgediende, gebruik in die Engelse reg, bekend as deodands (letterlik: “aan God gegee”), afkomstig uit Joodse en Germaanse gebruik en tradisies, bepaal dat ’n item (lewend of nielewend), wat tot die dood van enige rasionele wese gelei het, aan die koning of keiser verbeurd verklaar is en aangewend moes vir vir “hoÑ‘r” of edele doeleindes of ter verdeling onder die armes (Blackstone 1765–9, ongenommer). Byvoorbeeld, as ’n persoon van ’n stilstaande perdekar afgeval en gesterf het, was beide die perd en perdekar as deodands verklaar en aan die staat oorhandig. Die oorsprong van hierdie praktyk kan moontlik teruggevoer word na ’n vergeldingsbehoefte en om die toorn van God te ontkom, of alternatiewelik om die die slagoffer se siel te vertroos.

As ’n verskynsel van die Engelse gemene reg (Kynell 2000:214) is hierdie praktyk egter nie op die vasteland toegepas nie en is dit onwaarskynlik dat dit verband hou met die diereverhore wat hier bo bespreek is.

6. Slot

Verskeie faktore het aanleiding gegee tot en ’n rol gespeel in die instandhouding en regverdiging van diereverhore. Hierdie faktore kan kortliks soos volg saamgevat word:

  1. Die sosio-ekonomiese agtergrond van die Middeleeuse gemeenskappe, wat  gekenmerk is deur onsekerheid en angs wat voortgespruit het uit die Swart Pes en ander epidemies, ekonomiese depressie, sosiale agteruitgang van gesinstrukture, en ander sosiale konflikte.
  2. ’n Behoefte aan ’n effektiewe en sigbare administrasie van mag en regspleging om wet en orde te handhaaf en ’n verstaanbare begrip van en beheer oor onverklaarbare gebeurtenisse te vestig.
  3. Die idee van die dierewêreld as ’n spieëlbeeld van menslike waardes en gebreke, en die behoefte aan diereverhore, wat die ontologiese afstand tussen mens en dier laat krimp het. In terme van personifikasieteorieë kon skuldige diere op dieselfde wyse as hul menslike eweknieë gestraf word; alternatiewelik het die straf (byvoorbeelddeur die dier te hang of onder sensuur te plaas) ’n intimiderende uitwerking op Satan gehad, en as afskrikmiddel gedien.
  4. Die vervanging van die akkusatoriese proses deur kanonieke of kerkregtelike regsprosedures, met ander woorde, dat verrigtinge ex officio in die afwesigheid van ’n formele klag kon plaasvind. Marteling is ook ingestel as ’n metode om getuienis en bewyse in te win. Dit verklaar die wrede martelings wat diere tydens openbare teregstellings moes deurmaak.
  5. Die invloed en geloof in die effektiwiteit van religieuse rituele, soos duiwelsbeswering, en dat alle lewende en lewelose dinge onderwerp was aan ’n soort religieuse oorheersing. Dit verklaar waarom diere onder sensuur geplaas of vervloek is.

Deur die verhoor en vervolging van diere het die Katolieke Kerk sy mag en invloed oor die mens herbevestig. Die Kerk het die vrees en bygeloof van die ongeletterde massas uitgebuit, wat weer daartoe gelei het dat lidmate meer afhanklik van die Kerk, sy rituele en regsprosesse geword het. Die Kerk se amptelik erkenning van en deelname aan diereverhore het legitimiteit daaraan verleen. Die openbare aard van die diereverhore het op teatrale wyse ’n sterk morele boodskap oorgedra en terselfdertyd onverklaarbare en onafweerbare gebeure sinvol binne ’n bepaalde wetlike struktuur geÑ—ntegreer.

Bibliografie

Aquinas, Thomas. 1613. Summa Theologiae ll. Digitale weergawe van Summa Theologiae I—III by http://www.newadvent.org/summa/3076.htm. (4 Mei 2010 geraadpleeg)

Beckerman, John. 1995. Towards a theory of medieval manorial adjudication: The nature of communal judgments in a system of customary law. Law and History Review, 13:1–22.

Berman, Paul Schiff. 1994. Rats, pigs, and statutes on trial: The creation of cultural narratives in the prosecution of animal and inanimate objects. New York Law Review, 309:288–326.

Bougeant, Guillaume-Hyacinthe. 1739. Amusement Philosophique sur les Langages des Bêtes. Geneve: Chez Pierre Gosse. http://www.archive.org/details/amusementphiloso00bouguoft. (1 Mei 2010 geraadpleeg)

Bybel, Die. 1983. Nuwe standaardvertaling. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Kaapstad.

Catholic Encyclopaedia. 1914: Exorcism. http://www.newadvent.org/cathen/05709a.htm. (20 April 2010 geraadpleeg)

D’Addosio, Carlo. 1892. Bestie delinquenti. Napoli: Pierro. http://www.archive.org/details/bestiedelinquen00addogoog. (29 April 2010 geraadpleeg)

Delumeau, Jean. 1990. Sin and fear: The emergence of a western guilt culture. New York: St Martin’s.

Dinzelbacher, Peter. 2002. Animal traits: A multidisciplinary approach. Journal of Interdisciplinary History, 32(3):405–21.

—. 1996. Angst im Mittelalter. Schöhningh: Paderborn.

Evans, Edward Payson. 1988. The criminal prosecution and capital punishment of animals. Londen: Faber & Faber.

Ewald, William. 1995. Comparative jurisprudence (1): What was it like to try a rat? University of Pennsylvania Law Review, 143(6):1889–2149.

Hassig, Debra. 1999 (red.). The mark of the beast: The medieval bestiary in art, life and literature. New York: Garland.

Henderson, Ernest. 1910. Select historical documents of the Middle Ages. Londen: George Bell & Sons.
 
Herlihy. David. 1972. Mapping households in medieval Italy. Catholic Historical Review, 58:1–24.

Kieckhefer, Richard. 1976. European witch trials: Their foundations in popular and learned culture. Kalifornië: University of California Press.

Osenbrüggen. Eduard. 1868. Studien zur Deutschen und Schweizerischen Rectsgeschichte (vii: “Die Personificirung der Thiere”, 139–49). Schaffhausen: Uitgewer onvermeld.

Robbins, Rossel Hope. 1959. Encyclopaedia of witchcraft and demonology. New York: Crown Publishers.

Salisbury, Joyce. 1994. The beast within: Animals in the middle ages. Londen: Routledge.

Tobler, Gustav. 1893. Thierprocesse in der Schweiz. Bern: Napoli. http://urts96.uni-trier.de:6632/minev/Bibliographie/bibliographien/tier-im-mittelalter-allgemein-2/tier-in-der-kultur-des-menschen/recht/bookreference.2007-01-18.0205211131. (20 April 2010 geraadpleeg)

Von Amira, Karl. 1891. Thierstrafen und Thierprocesse. Innsbruck: Wagnerische Universität
http://urts96.uni-trier.de:6632/minev/Bibliographie/bibliographien/tier-im-mittelalter-allgemein-2/tier-in-der-kultur-des-menschen/recht/bookreference.2007-10-05.9010175034. (15 April 2010 geraadpleeg)

Watkin, Thomas Glyn. 1999. A historical introduction to modern civil law. Aldershot: Ashgate.

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top