Enkele opmerkings oor Harris Dousemetzis se The man who killed apartheid

  • 3

Enkele opmerkings oor Harris Dousemetzis se The man who killed apartheid1

It is nought good a slepyng hound to wake. – Chaucer2

Foto: Handré Brand

  1. Inleiding

Tydens die onlangse Woordfees op Stellenbosch was Harris Dousemetzis (’n politieke wetenskaplike en ’n dosent in regeerkunde / internasionale aangeleenthede aan die Durham Universiteit) persoonlik teenwoordig in die Boeketent tydens die bespreking van sy nuwe boek The man who killed apartheid. Die boek (ISBN978-1-4314-2754-3) word deur Jacana Media uitgegee, beslaan 483 bladsye en bevat volledige bronverwysings. Dit is boek nr 12 van die Africa Lives-reeks waarin die fokus geplaas word op die postkoloniale intellektuele geskiedenis van Suid-Afrika.

Die boek handel oor die wel en wee van Dimitri Tsafendas, die Grieks-Portugese bode wat Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 in die parlement in Kaapstad met ’n dolk vermoor het.

Tydens die bespreking van sy boek het Dousemetzis self in geen onduidelike terme nie die doel van die publikasie uitgespel: “Die historiese rekord oor Tsafendas moet reggestel word. Wat oor hom in die verlede gesê is kom op infame leuens neer. Die Van Wyk-kommissie van ondersoek het die feite verdraai. Hoekom sou vier verskillende priesters positief praat oor die karakter van ’n man wat moord gepleeg het? Hulle almal sê presies dieselfde dinge oor Tsafendas.” Hy voeg by: “Liza Key se persoonlike nota, wat saam met ’n bos blomme by Tsafendas se begrafnisdiens afgelewer is, som hom presies en akkuraat op, naamlik: displaced person, sailor, christian, communist, liberal fighter, political prisoner, hero.

Historiese revisionisme het te make met die heroorweging of hersiening van aanvaarde beskouings of teorieë oor ’n gebeurtenis wat in die verlede plaasgevind het. Die huidige historiese beskouings oor Tsafendas as ’n skisofreniese moordenaar moet (aldus Dousemetzis) omskep, gewysig en reggestel word tot dié van ’n heldhaftige, polities gemotiveerde vryheidsvegter.

Dit lyk op die oog af of ’n tipiese eenkantige hipotese deur middel van die navorsing soos in die boek uiteengesit, getoets word.

Onderliggend aan die proses van historiese revisionisme lê ’n breë spektrum houdings, persepsies en beskouings van mense wat ten nouste gekoppel is aan die bestaande teorie wat gewysig moet word. ’n Maklike en eenvoudige proses is hierdie onderneming deur Dousemetzis en Loughran gewis nie. Wie beskik byvoorbeeld oor ’n mandaat om te besluit dat ’n historiese rekord “reggestel” behoort te word? Berus die besluit by ’n individu, ’n groep, ’n kommissie, of die Departement Justisie en die regbank? Wat behels ’n geloofwaardige historiese rekord indien historiese feite hoofsaaklik op die interpretasie van historiese gebeurtenisse berus? Watter teoretiese konsepte vorm die onderliggende basis op grond waarvan die regstelling van ’n historiese rekord plaasvind? Wat is die implikasies van moontlike weerstand wat met die hersiening van ’n historiese rekord gepaardgaan? Is hier nie dalk sprake van ’n doelbewuste poging om slapende honde wakker te maak wat eerder moes bly slaap het nie? Hoe gaan die honde reageer wanneer hulle wakker word?

Benewens boeke deur Dousemetzis en Henk van Woerden onderskeidelik, ’n video-opname deur Liza Key, ’n artikel deur Zuleiga Adams en ’n drama deur Antony Sher, is die publikasies wat na die Tsafendas-kwessie verwys maar dun gesaai. Geen ander Suid-Afrikaanse navorser het nog die taak aangepak om werklik diepgaande argivale navorsing oor Tsafendas te onderneem wat amptelik in boekvorm of in die vorm van ’n geakkrediteerde artikel gepubliseer is nie. Wat sou die redes hiervoor wees? Betroubare Suid-Afrikaanse portuurgeëvalueerde literatuur sou beslis die spektrum bronne aanvul wat die basis van ’n poging tot historiese hersiening uitmaak.

Gedramatiseerde weergawe van die opspraakwekkende moordtoneel deur Sher (2003:78)

  1. Doel

In hierdie artikel word kortliks kommentaar gelewer oor veral drie aspekte wat in Dousemetzis se boek na vore kom, en wat onsekerheid by die leser kan laat ontstaan. Eerstens word die aard en implikasies van die gebruik van ongestruktureerde onderhoudvoering as ’n navorsingsmetode bespreek. Tweedens word gekyk na die implikasies van houdingsverandering wat met die hersiening en wysiging van ’n historiese rekord gepaardgaan. Laastens word op enkele voorbeelde gewys waar die korrektheid van die rapportering van inligting in die boek bevraagteken word.

  1. Ongestruktureerde onderhoudvoering

Onderhoudvoering is ’n belangrike kwalitatiewe data-insamelingsmetode en noodsaak gevolglik hoëkwaliteit verbale interaksie tussen die deelnemer en navorser. Dié metode word dikwels in navorsing van ’n eksploratiewe en beskrywende aard gebruik. ’n Wye verskeidenheid onderhoudvoeringsmetodes is moontlik wat op ’n skaal kan wissel van ongestruktureerd tot gestruktureerd. By eersgenoemde vind ’n spontane gesprek plaas oor ’n onderwerp waaroor navorsing gedoen word, terwyl by laasgenoemde ’n reeks voorafopgestelde vrae beantwoord moet word. Semigestruktureerde onderhoudvoering sluit aspekte van beide benaderings in. Onderhoudsvoerders moet goed onderleg wees in aktiewe, en ondersteunde luistervaardighede en behoort presies te weet wanneer en hoe om “dieper te delf” om meer detail oor relevante kwessies wat ter sprake is, te ontgin.

Ongestruktureerde onderhoudsvoering (dis juis dié metode wat deur Dousemetzis en Loughran in hul navorsing gebruik is) staan ook bekend as in-diepte onderhoudsvoering of kwalitatiewe onderhoudsvoering. Die onderhoudvoerder baseer gewoonlik sy vraagstelling op die voorafgaande response van die deelnemer. Die validering van die data (maw die verbaleresponspatroon van die deelnemers) is altyd ’n moeilike, indien nie ’n onmoontlike taak nie by ongestruktureerde onderhoudvoering. Die navorser probeer om ’n deeglike begrip te vorm van ’n deelnemer se wêreldvisie tydens ’n ongestruktureerde onderhoud. By hierdie tipe onderhoudvoering is die basiese doel om deur middel van interaksie tussen die onderhoudvoerder en deelnemer ’n groter mate van die insig in die deelnemer se perspektiewe te bewerkstellig.

Die nadele van hierdie metode sluit in dat dit beslis nie ’n tydsekonomiese proses is nie. Die gevolg is dat die getal geleenthede per deelnemer noodwendig beperk moet word. Opeenvolgende onderhoude met dieselfde deelnemer is die uitsondering eerder as die reël. Opvolgonderhoude is dikwels oneffektief omdat die deelnemer dan fokus op spesifieke areas waarin hy/sy belangstel, en nie noodwendig waarop die navorser moet fokus nie.

Die inligting wat verkry word, is moeilik veralgemeenbaar, en die aard van die data is minder geskik vir statistiese ontleding en hipotesetoetsing. Die tipe data is ook vatbaar vir sydigheid, wat betreklik lae geldigheid en betroubaarheid impliseer. Onder sekere omstandighede is deelnemers geneig om nie die waarheid te vertel nie, of om halwe waarhede kwyt te raak. Geheuedistorsies oor tydsverloop kan ook voorkom, en die navorser se eie styl en persoonlikheid kan selfs ’n onbedoelde invloed op die responspatroon van die deelnemer uitoefen.

Die ideale scenario is waar een opgeleide onderhoudvoerder ’n enkele deelnemer per sessie hanteer met inagneming van die koste- en tydsfaktor. In die geval waar die vrae wat aan verskillende deelnemers gevra word, van mekaar verskil, is die duplisering van dié navorsing onmoontlik. Die data wat deur middel van onderhoude verkry word, is ook moeilik om met ander tipes data te vergelyk.

Die groot hoeveelheid data en aantal transkripsies wat deur middel van ongestruktureerde onderhoudvoering gegenereer word, is gewoonlik moeilik om sinvol te groepeer, onderling te vergelyk en objektief te ontleed. Vanuit ’n etiese hoek gesien kan onderhoudvoering met die fokus op sensitiewe areas onbedoelde emosionele reaksies by sommige respondente aan die gang sit, wat tot foutvariansie aanleiding gee. Dit is ook feitlik onmoontlik vir ander onafhanklike navorsers om die betekenis (maw die inhoudsgeldigheid) van die waargenome response te kontroleer. Indien objektiewe kontrole onmoontlik is, plat die vlak van vertroue in die resultate van die opnames ook af. Omdat verteenwoordigende resultate onmoontlik is, word veralgemening van die resultate beperk of uitgesluit.

Die wetenskaplike basis van ongestruktureerde onderhoudvoering kan sinvol verbeter word indien die navorser van ’n bepaalde teoretiesebegrondingsmodel gebruik maak. ’n Voorbeeld van so ’n benadering is “begronde teorie”. Hierdie teorie maak voorsiening vir sekere basiese gemeenskaplike strategieë, soos dat data-insameling en data-ontleding gelyktydig plaasvind; dat basiese sosiale prosesse wat in die data vervat is, ontleed word; dat die identifisering van opkomende (emergent) idees plaasvind; dat tentatiewe induktiewe kategorieë saamgestel word om die waargenome prosesse te verklaar; dat die kontrolering, uitbreiding en verfyning van die tentatiewe kategorieë na robuuste kategorieë plaasvind; en dat die finaal-saamgestelde kategorieë geïntegreer word in ’n teoretiese raamwerk wat die waargenome sosiale prosesse wat bestudeer word, verklaar.

Volgens die bronnelys in Dousemetzis se boek (ble 451–5) het die skrywer van 106 ongestruktureerde onderhoude gebruik gemaak, terwyl die getal onderhoude in die teks as 137 aangegee word (bl 371). Redes vir hierdie verskil in die getal onderhoude is egter onduidelik. Dit mag die gevolg van ’n blote tikfout wees, of ’n oorsigfout, of addisionele onderhoude kon gevoer gewees het vir die doeleindes van die verslag wat aan die Departement Justisie oorhandig is.

Die volgende punte van kritiek kan teen Dousemetzis se metodologie van onderhoudvoering geopper word, soos dit in die teks van die boek beskryf word:

  • Dit is onseker of Dousemetzis self die rol van die onderhoudvoerder in die 106 onderhoude gespeel het, en of hy van hulp gebruik gemaak het. Indien hy van hulp gebruik gemaak het, is dit verder onduidelik watter tipe opleiding die assistente in ongestruktureerde onderhoudvoering ontvang het. Dit is ook onduidelik wat die kwaliteit van Dousemetzis se eie opleiding was, indien hy wel enige opleiding in onderhoudvoering ontvang het.
  • Dit is onduidelik of opvolgonderhoude met alle of slegs sommige van die respondente gevoer is. Die redes waarom, of die redes waarom nie, ontbreek in die teks. Dousemetzis sê wel in sy onlangse reaksie op Gustaf Pienaar dat hy op ’n deurlopende basis kontak met die deelnemers gehad het, maar dis onbekend met watter deelnemers, wat die redes hiervoor was, en presies wat tydens die opvolgonderhoude plaasgevind het. Dit is duidelik dat ’n erkende teoretiese rasionaal in sy metodologie ontbreek.
  • Die resultate soos deur middel van die 106 onderhoude verkry, kan nie geverifieer word nie. Hierdie komponent van die navorsing kan ook nie gedupliseer word nie. Dousemetzis sê wel die onderhoude is op klankband opgeneem, en dat die bandopnames saam met die verslag aan die Departement Justisie ingehandig is, maar indien ’n logiese teoretiese rasionaal in terme van ontleding en interpretasie ontbreek, watter geldige gevolgtrekkings kan die staat uit ’n reeks bandopnames se rou data maak? Hoe gaan die betroubaarheid van die response bewys word?
  • In die boek word verder ook nie verduidelik hoe vir die onbedoelde effek van die onderhoudvoerders op die deelnemers as ’n bron van foutvariansie gekontroleer is nie. Die wyse waarop die voorkoming van sosiale wenslikheid in die responspatrone hanteer is, word nie bespreek nie. Dit benadeel die geldigheid en betroubaarheid van die data.
  • Daar word nie in die teks aangedui van watter teoretiesebegrondingsmodel tydens die onderhoudvoering gebruik gemaak is nie. Dit is onverskoonbaar dat nagelaat is om hierdie aspek volledig te bespreek, veral omdat die wetenskaplike geloofwaardigheid van die navorsingsproses daardeur benadeel word.

Dit sou ’n billike verwagting wees dat die wyse waarop die metodologie by die gebruik van ongestruktureerde onderhoudvoering in hierdie boek meer gedetailleerd beskryf word. Indien van fokusonderhoude gebruik gemaak is, behoort die vrae wat gebruik is duidelik uitgespel te gewees het, asook die wyse waarop die data-ontleding plaasgevind het. ’n Kritiese benadering ten opsigte van kwalitatiewe data-insameling behoort deel van die basiese kennisarsenaal van enige navorser te vorm. Dousemetzis illustreer en verduidelik wel die gesigsgeldigheid van sy metodologie, maar in dié proses word die inhoudsgeldigheid en veral die konstrukgeldigheid van sy data-insamelingsmetode verswyg.

  1. Houdingsverandering en sosiale beïnvloeding

Die konsep houding word omskryf as ’n positiewe, negatiewe of neutrale evaluering van ’n persoon, objek, aksie of konsep.

Die spektrum van houdings van enige persoon of groep persone ontwikkel onder andere uit aangeleerde gedragspatrone soos nabootsing en rolmodellering. Houdings sluit altyd drie oorvleuelende komponente in, naamlik ’n affektiewe komponent (emosies wat met ’n bepaalde konsep of objek geassosieer word), ’n kognitiewe komponent (kennis en standpunte waaroor ’n persoon beskik), en ’n gedragskomponent (predisponerende neiging om op ’n bepaalde wyse op te tree).

Houdings speel ’n deurslaggewende rol waar uitdrukking gegee word aan die individualiteit van ’n persoon, en by die projeksie van persepsies op eksterne objekte (’n ego-verdedigende funksie). Houdings is ’n meganisme wat ’n persoon gebruik om uitdrukking te gee aan kennis en insig oor belangrike kwessies en gebeurtenisse. Dit sluit laastens ook ’n utilitêre strewe in wat ’n doelbewuste poging is van ’n persoon om sy gedrag sodanig te rig dat positiewe versterking (beloning) meer dikwels as negatiewe versterking (bestraffing) die gevolg van sy optrede is.

Die houdings wat ’n persoon handhaaf, kom ook nie noodwendig altyd duidelik in sy gedrag na vore nie. Enkele kompliserende faktore sluit die volgende in: (i) Die subtiele druk wat deur die neiging tot konformering uitgeoefen word, kan aanleiding daartoe gee dat eksterne gedragspatrone nie met innerlike oortuigings ooreenstem nie. (ii) Impulsiwiteit kan veroorsaak dat ’n persoon te vinnig reageer sonder om sy houding teenoor ’n persoon of ’n kwessie deeglik vooraf te oorweeg en behoorlik in ag te neem.

Die meeste mense strewe na situasies waar hul houdings en gedrag sinvol belyn is. Sou dit egter nie die geval wees nie (bv waar ’n persoon homself as eerlik beskou, maar terselfdertyd vir korrupsie ondersoek word), ontstaan kognitiewe dissonansie en beleef die persoon gevolglik ’n ongemaklike strestoestand. Dissonansie lei nie altyd tot houdingsveranderinge nie. Die effek van dissonansie kan verminder word deur die gebruik van verdedigingsmeganismes soos eksterne blaamverwyt of eksterne lokus van kontrole.

Oorreding is ’n verdere bepalende faktor in ’n houdingveranderingsprogram, en dit vorm ook die basis van sosiale beïnvloeding. Die sukses van oorreding hang daarvan af of die houdings van die ontvangers van die boodskap suksesvol in ’n bepaalde rigting verander al dan nie. Belangrike vereistes vir die kommunikeerder (of die bron van oorreding) is oorredingsvaardighede en geloofwaardigheid. Hierdie veranderlikes is dikwels die sleutel tot ’n doeltreffende oorredingspoging. ’n Individu of ’n groep mense wat geteiken word (met ander woorde die ontvangers van die oorredingsboodskap), bevind hulle in ’n bepaalde omgewing (die konteks), en word blootgestel aan bepaalde inligting (die boodskap). Oorreding is meer suksesvol wanneer beide kante van die saak duidelik in die boodskap aangebied en beredeneer word. Indien slegs die een kant van die meriete van ’n saak beredeneer word, is oorreding normaalweg minder suksesvol.

Spontane versus weldeurdagte houdingsverandering (bron: https://opentextbc.ca/socialpsychology/chapter/changing-attitudes-through-persuasion)

Hieruit blyk dat houdingsverandering ’n uiters komplekse proses is weens die invloed van ’n wye verskeidenheid faktore, soos individuele persoonlikheidsverskille, konformering, ego-verdediging, impulsiwiteit, utilitêre strewes, dissonansie en sosiale beïnvloeding.

Die vraag ontstaan of die skrywers (wat na regte die rol as kommunikeerders of die bron van Tsafendas se boodskap vertolk) volledig rekening hou met hierdie faktore en die gepaardgaande kompleksiteite van menslike gedrag. Die antwoord hierop is onduidelik, omdat hierdie kwessies nie volledig in die boek bespreek word nie.

  1. Akkuraatheid van rapportering van inligting in die teks

Enkele voorbeelde in die teks word vervolgens kortliks bespreek wat illustreer dat inligting wat in die teks oorgedra word, nie noodwendig altyd presies en akkuraat gedoen word nie.

  • Generaal Kreipe

Op bl 132 word die ontvoering van Heinrich Kreipe, die Duitse militêre goewerneur van Kreta gedurende 1944, bespreek. Daar word verwys na die rol van Costas Kargakis wat vir die Griekse weerstandbeweging geveg het en by die ontvoering van die generaal betrokke was. (Dousemetzis maak hier gebruik van ’n persoonlike onderhoud met die Tsafantakis-gesin as bron. Kyk voetnota 99, bl 411.) Dié stelling oor Kargakis is gekontroleer deur die Warfare History Network (https://warfarehistorynetwork.com/daily/commando-kidnapping-capturing-general-kreipe-on-crete), asook die nuusblad Ekathimerini.com (http://www.ekathimerini.com/208542/article/ekathimerini/life/accounts). Dit blyk dat die naam van Kargakis nie deur hierdie bronne as ’n lid van die Kretaanse weerstandbeweging wat by Kreipe se ontvoering betrokke was, aangegee word nie. Verder het die ontsetting van Kreipe vanaf die kus van Kreta na Egipte met behulp van die Britse Spesiale Bootdiens plaasgevind, en daar word nie na ’n duikboot verwys soos Dousemetzis aan die einde van die tweede paragraaf (bl 132) beskryf nie.

  • Mediese Vereniging van Suid-Afrika

Op bl 12 word beweer dat die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging uit die Wêreld Mediese Vereniging “geskop” is weens “the persistence of questionable reporting by physicians”. Geen bronverwysing word vir hierdie stelling in die teks aangegee nie. Raadpleging van bronne soos https://www.cambridge.org/core/journals/medical-history/article/expulsion-of-south-africa-and-rhodesia-from-the-commonwealth-medical-association-194770/46D87A39B1AD1044C125467325513A02, en https://pdfs.semanticscholar.org/b760/4ecc43dc9ba7631a35c55eaff205d00d04aa.pdf dui egter daarop dat die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging in 1970 uit die Mediese Vereniging van die Britse Statebond verban is. Dit blyk verder dat politieke redes die hoofmotivering vir hierdie besluit was, en beslis nie twyfelagtige professionele vaardighede van mediese praktisyns soos Dousemetzis beweer nie. Dié gegewens word dus, net soos die gebeurtenisse in verband met Kreipe, nie akkuraat gerapporteer nie.

  • Die Wechsler Bellevue

Tsafendas se Wechsler Bellevue-toetsprofiel word op bl 259 gepubliseer. Die vraag ontstaan of daar meer as een Wechsler-profiel van Tsafendas beskikbaar was, en indien wel, hoekom slegs een profiel gepubliseer word. Interpretasies van die kognitiewe vermoëns van ’n bepaalde toetsing is meer akkuraat indien twee of meer profiele met mekaar vergelyk word.

Verder ontbreek die nieverbale IK-telling in die gepubliseerde profiel. Enige sinvolle en eties aanvaarbare interpretasie van intellektuele vermoë is onvolledig en ongeldig indien die nieverbale komponent buite rekening gelaat word.

In die laaste paragraaf (bl 259) word verwys na Lambley wat Tsafendas se Wechslerprofiel aan ander praktisyns vir interpretasie voorgelê het. Die vraag is of dit eties korrek is om ’n profiel van ’n enkele kognitiewe toets te gebruik om psigopatologiese simptome daaruit af te lei. ’n Psigometriese toets is vir ’n bepaalde doel opgestel, en in die geval van die Wechsler is die toets primêr ’n intelligensietoets, en nie ’n kliniese instrument om psigopatologie te diagnoseer nie. Waarom is Tsafendas se Rorschach- en Tematiese Appersepsieprofiele nie ook “blind” aan hierdie praktisyns vir interpretasie voorgelê nie?

  1. Gevolgtrekkings

Die wyse waarop van ongestruktureerde onderhoudvoering in hierdie boek gebruik gemaak is, het duidelike tekortkominge in Dousemetzis se hantering en beskrywing van die toepaslike metodologie uitgewys. Dit plaas gevolglik duidelike vraagtekens oor die inhoudsgeldigheid van die inligting, veral betreffende die wyse waarop die persepsies van die respondente deur middel van die 106 persoonlike onderhoude verkry is.

Die proses om sielkundige houdingsverandering te bewerkstellig is ’n komplekse onderneming. Daar bestaan aanduidings in die boek dat voor die hand liggende implikasies van konsepte soos oorreding, houdingsverandering en sosiale beïnvloeding nie behoorlik met die implikasies van die hersiening van ’n historiese rekord gekoppel word nie.

Enkele voorbeelde is ook uitgewys waar inligting in die boek nie korrek en volledig oorgedra is nie. Dit laat onvermydelik die vraag ontstaan of daar moontlik ’n deurlopende patroon van hierdie aard in die boek kon wees waarvan die gemiddelde leser dalk onbewus is.

Behoort die honde wat Dousemetzis in die proses wakker maak, nie dalk eerder rustig voort te slaap nie? Dousemetzis het ’n ander opsie uitgeoefen; gevolglik behoort hy kritiese vraagstelling oor sy metodologie te verwag.

Eindnotas

  1. Die skrywer lewer in hierdie artikel onafhanklike kommentaar. Hy is nie verbonde aan enige amptelike groep, instansie, beweging of party nie. Geen finansiële steun is vir die doeleindes van hier artikel ontvang nie.
  2. Chaucer in Troilusand Criseyde word ontleen aan: https://idioms.thefreedictionary.com/let+sleeping+dogs+lie.

Bibliografie 

Adams, Z. sj. Demitrios Tsafendas and the subversion of apartheid’s paper regime, Kronos, 40:198–224. http://www.scielo.org.za/pdf/kronos/v40n1/09.pdf.

Botha, L en L Meyer. 2019. Onderwysers se persepsies oor die moontlike impak van die afwesige vader op kinderontwikkeling. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 59(1):54-66.

Botha, WF, FJ Lombard, GJ van Wyk, L Rademeyer, BPD Gabriels en H Fourie. 2009. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Dertiende Deel. R. Stellenbosch: Buro van die WAT.

Charmaz, K en LL Belgrave. 2012. The Sage Handbook of Interview Research. The complexity of the craft. https://dx-doi-org.ez.sun.ac.za/10.4135/9781452218403.n25.

Chaucer in Troilus and Criseyde word ontleen aan: https://idioms.thefreedictionary.com/let+sleeping+dogs+lie

Combrink, PD. 1970. The history of the Commonwealth Medical Association, with particular reference to the membership thereof of the South African Medical Association. South African Medical Journal, 19 September, ble 1067–9.

Cook, S. 2011. Evaluation of unstructured interviews. Revise Sociology. https://revisesociology.wordpress.com/2011/05/04/8-evaluation-of-unstructured-interviews.

Dousemetzis, H. 2019. Response to Gustav Pienaar’s “impressions” of The man who killed apartheid. LitNet, 21/3/2019. https://www.litnet.co.za/response-to-gustav-pienaars-impressions-of-the-man-who-killed-apartheid/

Dousemetzis, H en G Loughran. 2018. The man who killed apartheid. Aucklandpark: Jacana.

Fox, N. 2006. Using interviews in a research project. The National Institute for Health Research: East Midlands / Yorkshire & the Humber. https://www.rds-yh.nihr.ac.uk/wp-content/uploads/2013/05/15_Using-Interviews-2009.pdf.

Key, L. 1999. A question of madness. Johannesburg: Key Films.

McKeachie, WJ, CL Doyle en MM Moffett. 1976. Psychology. Reading, Massachusetts: Addison-Wesley.

Passer, M, R Smith, N Holt, A Bremner, E Sutherland en M Vliek. 2009. Psychology the study of mind and behaviour. Londen: McGraw-Hill.

Petty, RE en P Brinol. 2010. Advanced social psychology: The state of the science. Google Books, 217–59. https://scholar.google.co.za/scholar?hl=en&as_sdt=0%2C5&q=attitude+change&oq=attitude#d=gs_qabs&u=%23p%3DamSeFhj0SJQJ.

Pienaar, G. 2019a. Harris Dousemetzis se omstrede biografie oor Tsafendas: nóg ’n leser se indrukke. LitNet, 27/2/2019. https://www.litnet.co.za/harris-dousemetzis-se-omstrede-biografie-oor-tsafendas-nog-n-leser-se-indrukke/

Pienaar, G. 2019b. Tsafendas-verhoor: Dié keer vanuit ’n regsperspektief. Die Burger, 19 Januarie, 8.

Rivis, A. sj. Attitudes and attitude change. https://www.google.com/search?rlz=1C2ARAB_enZA657ZA657&safe=active&source=hp&ei=6TeXXNHGEYqHjLsP6baHqAU&q=attitude+change+theory&oq=&gs_l=psy-ab.1.4.35i39l6.0.0..9266...1.0..0.261.261.2-1......0......gws-wiz.....6.hj3ff1tLGvY.

Rossetto, KR. 2014. Qualitative research interviews: Assessing the therapeutic value and challenges. Journal of Personal and Social Relationships. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1177/0265407514522892.

Rowley, J. 2012. Conducting research interviews. Management Research Review, 35(3/4):260–71.

Sher, A. 2003. I.D. Londen: Nick Hern Books.

Van Woerden, H. 2000. Domein van glas. Soos vertaal deur Antjie Krog. Kaapstad: Queillerie.

  • 3

Kommentaar

  • Ek sal graag sien dat die skrywer dieselfde "onafhanklike" kritiese vraagstelling toepas op die volgende vraag: Is daar genoeg gronde om die honde wakker te maak?

  • Avatar
    Timothy Witherspoon

    Dear Mr Dousemetzis, I am an American, not a South African, and have no family in South Africa or any South African heritage or any other tie to South Africa. I looked at the first page of your book on Amazon and saw this: "Stokkiesdraai, St. Lucia, a modest coastal resort town in Natal." Even I know that Stokkiesdraai is not in St Lucia, that it is not a resort town and that it is not in Natal. So my first reaction, after only reading the first page, is that this author is either incredibly sloppy or doesn't know what he's talking about.
    You can imagine how offensive I found the tone of your response to the people who have criticized your book. Methinks the lady doth protest too much! In other words, you know good and well that you are a sloppy researcher and can't take criticism, so you lash out at anyone who finds the slightest thing wrong with your "research".This is not particularly surprising from someone who is willing to defend a cold-blooded murderer. It seems you have no scruples. I think that people who disagree with you would be well-advised to steer clear of you. If you find murder acceptable, there is no telling what you might do.
    Timothy Witherspoon, USA

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top