Endler Konsertreeks met Annette-Barbara Vogel en Pieter Grobler

  • 0

Min beter maniere om ’n Vrydagaand deur te bring as met goeie musiek in die Endler. En Annette-Barbara Vogel en Pieter Grobler het Vrydagaand gesorg vir goeie musiek.

Witold Lutoslawski (1913–1994) se “Partita vir viool en klavier” is weliswaar geen lekker luistermusiek nie. Hierdie Poolse komponis het lelik deurgeloop onder die destydse kommunistiese owerhede, wat sy vrysinnige musikale eksperimente nie altyd waardeer het nie. Natuurlik nie maklik vir enige leek om altyd hierdie soort komposisies te waardeer nie. Gelukkig is Vogel ’n uitmuntende violis met ’n verbysterende tegniek, en waar die musiek soms wanklankig op die uwe se ore geval het, kon ek my wel heerlik vergaap aan die aanskoulike virtuositeit van die vrou wat haar viool met die vaardigheid hanteer wat ek sukkel om met ’n besem te bereik.

Ellen Zwilich is ’n komponis van wie gewone sterflinge selde hoor. Tog was sy sowel die eerste vrou wat ’n Pulitzerprys vir komposisie gewen het, as die eerste vrou wat ’n doktorsgraad aan die Julliard-skool verwerf het. As ’n student van Elliot Carter en Roger Sessions was haar vroeëre werke primêr van die atonale avant-garde-variasie. Dit was goed om bekendgestel te word aan hierdie dame se “Romance vir viool en klavier”. Alhoewel die werk vir my die sentimentele lirisme van ’n “Romance” gemis het, was daar, soos die programnotas sê, tog “liriese momente” wat strelend was.

Ferenc Liszt (1811–1886) se “Grand duo concertant vir viool en klavier” was pure luistergenot – vurig en intens, só dat dit die sigeuner in jou siel wakkermaak.

Die slotwerk was Frédéric Chopin (1810–1849) se “Sonate in G-mineur vir tjello en klavier”, oorspronklik gekomponeer vir en opgedra aan die komponis se groot vriend en tjellis Auguste-Joseph Franchomme wat hom tydens sy siektegeteisterde later jare bygestaan het. Vogel het die tjello-deel vir viool verwerk. Opvallend in hierdie werk was die kontras tussen die twee instrumente wat die indruk geskep het van ’n goedgestruktureerde gesprek. Die largo-deel met sy dromerige, nagtelike stemming was ’n persoonlike gunsteling. Maar die rondo het my ook meegesleep.

’n Aand in goeie geselskap deurgebring.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top