The book of joy en lewensvreugde: ’n tweegesprek tussen die Dalai Lama en Desmond Tutu

  • 2

"We are meant to live in joy […] this does not mean that life will be easy or painless." (Bladsy 224)

Titel: The book of joy
Skrywers: Dalai Lama, Desmond Tutu en Douglas Abrams
Uitgewer: Penguin, 2018
ISBN: 9781784756291 

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

 

Inleiding

Waarom word boeke gelees?

Die antwoord is voor die hand liggend. Omdat leeswerk soveel voordele vir die leser inhou. Benewens die uitbreiding van kennis oor bepaalde onderwerpe, kan lesers byvoorbeeld nuwe perspektiewe oor maatskaplike kwessies ontwikkel. ’n Leser van ’n boek kan op grond van die leeservaring meer begrip toon vir komplekse interpersoonlike verhoudings. Lesers kan selfs groei toon wat moreel-etiese waardes betref op grond van wat gelees word.

The book of joy hou al hierdie voordele in en nog meer.

Die boek beslaan 351 bladsye en bestaan uit samevattings van ‘n reeks gesprekke wat oor ’n tydperk van een week strek tussen die Dalai Lama en Desmund Tutu. Die dialoog handel oor die aard, implikasies, belewing en onderliggende verbandhoudende komponente van lewensvreugde (joy) as ’n kenmerkende eienskap van die volwasse persoonlikheid. Die reeks gesprekke word gefasiliteer deur die Amerikaanse skrywer Douglas Abrams, en vind plaas in Dharamsala, Indië, tydens die viering van die Dalai Lama se 80ste verjaarsdag op 6 Julie 2015.

Die inhoud van die teks getuig van ’n besonder ewewigte en realistiese benadering tot die onderwerp. In hoofstuk 2 word struikelblokke en slaggate geïdentifiseer en bespreek wat verhoed dat lewensvreugde by mense in die algemeen ten volle tot sy reg kom. Die belemmeringe sluit onder andere in die rol van vrees, stres en angs, frustrasietoleransie, eensaamheid, lyding en algemene siektetoestande.

In hoofstuk 3 kom die agt sogenaamde pilare waarop die konstruk lewensvreugde gebou is aan die beurt. Dit sluit in vier persoonlikheidseienskappe: perspektief, nederigheid, humor en aanvaarding, en vier waardebeginsels, naamlik vergifnis, dankbaarheid, meelewing (compassion) en vrygewigheid.

Die boek word afgesluit met ’n reeks oefeninge (joy practices) op grond waarvan die teoretiese beskouings soos in die teks aangebied, in die praktyk toegepas kan word.

The book of joy is ’n universele bron. Die boodskap is toeganklik vir alle mense – adolessente, volwassenes en bejaardes uit alle kultuurgroepe en geloofsoortuigings.

 

’n Mening oor die inhoud

Dit is opmerklik dat Douglas Abrams deurgaans bondige opsommende interpretasies van die belangrikste fasette van die dialoog soos dit tussen die twee geloofsleiers ontwikkel, op strategiese plekke in die teks invoeg (kyk bl 201 – die laaste paragraaf is ’n goeie voorbeeld).

Die teoretiese konsepte wat in die gesprekke na vore kom, word verder met wetenskaplike navorsingsbevindings toegelig. Op dié wyse voeg Abrams ’n sinvolle balans tot die teks toe. Dié bespreking van hierdie navorsingstudies sou volledigheidsonthalwe met bronverwysings aangevul kon word.

Die primêre fokus van die boek is die funksionering van die menslike persoonlikheid, op sigself ’n uiters komplekse verskynsel. ’n Breë spektrum faktore het ’n bepalende invloed op die dinamika van die volwasse persoonlikheid. Enkele addisionele aspekte wat hier genoem kan word is: die rol van die aktiwiteit van die sentrale en outonomiese senustelsel, hormonale faktore en die deurslaggewende invloed van primêre persoonlikheidseienskappe op sekondêre persoonlikheidseienskappe. Dit illustreer die kompleksiteit van die tema wat in die boek aangepak word. Hierdie is egter addisionele kwessies wat buite die bestek van die boek val.

Hierdie enkele leemtes is waarskynlik meer van akademiese belang. Die boek kan ook (bo en behalwe die spektrum voordele wat ’n universele publikasie van hierdie soort op sigself inhou) oorweeg word as ’n teks vir biblioterapie in kliniese psigoterapie.

 

Biblioterapie

Kliniese biblioterapie is ’n tegniek wat deur geestesgesondheidspraktisyns gebruik word. Dit is ’n aanvullende terapeutiese metode om ’n breë spektrum emosionele en gedragsprobleme in terme van spesifieke terapeutiese doelstellings te hanteer. Die pasiënt werk selfstandig deur ’n gestruktureerde boek. Dit kom neer op ’n begeleidende selfhelpmetode. Psigoterapeute vind dit veral nuttig as ’n metode om die bespreking van moeilike kwessies terapeuties te fasiliteer.

Die rol van die terapeut is om die pasiënt te ondersteun en te motiveer soos wat daar deur die boek gevorder word, en om ook vrae wat gestel word, op ’n deskundige wyse te beantwoord.

Biblioterapie word selde as ’n alleenstaande tegniek gebruik, en vorm meestal  ’n komponent of integrale deel van ’n bepaalde behandelingsprogram. Sodanige behandelingsprogram kan diverse benaderings insluit, soos kognitiewe terapie, gedragsmodifikasie, progressiewe ontspanning, medikasie of selfs hipnose.

Deurdat die inhoud van die aanbevole boek gelees en terselfdertyd by die terapeutiese proses geïntegreer word, word addisionele inligting vir die pasiënt beskikbaar gestel; ontwikkeling van die selfkonsep kan plaasvind; insig in ’n spesifieke situasie of persoonlike ervaring kan ontwikkel; alternatiewe oplossings vir probleemsituasies word voorsien; bespreking van en ’n fokus op die kernprobleem word gestimuleer; nuwe waardes en houdings ten opsigte van die pasiënt se kernprobleem kan ontwikkel; die pasiënt kom tot die besef dat hy/sy nie die enigste persoon is wat met daardie tipe dilemma worstel nie.

 

Vereistes vir ’n biblioterapeutiese teks

Die psigoterapeut moet vooraf deeglik vertroud wees met die inhoud van ’n teks wat as biblioterapiemateriaal gebruik word. Deeglike kennis van die leemtes in die publikasie is ook ’n vereiste. Die boek moet ‘n onlangse publikasie wees, en betroubaar en relevant ten opsigte van die pasiënt se behoeftes. Die inhoud behoort gendersensitief te wees, kultuurverskille te respekteer en verkieslik ten volle inklusief te wees. ’n Deeglike assessering van die pasiënt behoort vooraf gedoen te word, veral wat leesbelangstellings en -vaardighede betref. ’n Persoon met ’n geskiedenis van lees- en leerontwikkelingagterstande behoort eerder nie aan biblioterapie blootgestel te word nie.

 

Gevolgtrekkings

The book of joy kan sonder twyfel vir ’n breë spektrum lesers aanbeveel word. Vir sommige kan die boek aanvaarbare leesstof wees omdat dit ’n kruiskulturele en interkerklike onderbou het. Vir ander lesers kan die inhoud op sigself ’n direkte of indirekte bydrae lewer tot die ervaring van meer lewensvreugde as wat voorheen die geval was.

Die boek kan ook onder spesifieke omstandighede as ’n nuttige bron vir biblioterapie in die professionele praktyk benut word, veral in verband met kwessies waar gebrek aan sin en betekenis in ’n ernstige bestaanskrisis by ’n pasiënt ontwikkel.

By die lees van die boek ontstaan die besef dat meer grondige navorsing voortaan oor die konstrukgeldigheid van vreugde onderneem behoort te word. Fyner onderskeidings tussen vreugde en ander aanverwante begrippe, soos geluk (happiness) en ekstase, behoort gemaak te word. Navorsers tref deesdae ook ‘n onderskeid tussen individualistiese versus gedeelde vreugde (affiliative joy), en ook tussen intense, opgewonde vreugde versus bedaarde of rustige vreugde (serene joy).

The book of joy slaag beslis die toets as ’n universele teks en ook as ’n potensiële biblioterapeutiese teks. Daarbenewens behoort die aard van die konstruk vreugde en die agt onderliggende pilare voortaan krities onder die vergrootglas geplaas te word.

 

Eindnota

Louis Vlok (kliniese sielkundige in privaatpraktyk) word bedank vir sy professionele mening oor die inhoud van hierdie artikel voor publikasie.

 

Bibliografie

 Johnson, MK. 2020. Joy: a review of the literature and suggestions for future directions.  The Journal of Positive Psychology, 15(1):5–24.

 https://www.tandfonline.com/doi/full/10.1080/17439760.2019.1685581.

 DOI: 10.1080/17439760.2019.1685581.

Lama, D, D Tutu en D Abrams. 2018. The book of joy. Londen: Penguin.

Pehrsson, DE en P. McMillen. 2007. Bibliotherapy: Overview and implications for counselors (ACAPCD-02). Alexandria, VA: American Counseling Association.

Resources for sensitive topics. Bibliotherapy. https://sites.google.com/site/resourcesonsensitivetopics/bibliotherapy.

Science.gov. Sample records for bibliotherapy. https://www.science.gov/topicpages/b/bibliotherapy.

  • 2

Kommentaar

  • Charl Cilliers

    0ngelooflik as dit net die reeks gesprekke oor ’n tydperk van een week dek!
    Ek hou van die skrywer se koppeling aan biblioterapie en die direkte verwysing na die aanhaling op p224 is sielsoekend!

  • Wysheid en vreugde ... die onderbou vir ’n mense se gelukkige/sinvolle bestaan word deur hierdie twee here se ontmoeting
    versinnebeeld. Hul voetspoor op die wêreld is navolgingswaardig.
    Hierdie boek het groot waarde vir almal met deernis vir die lewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top