
Cruise. Dink jou in: Dis die tagtigerjare; jy is jonk en gay en woon in Londen. Jy glo jy is onsterflik, verhewe bo die hartseer, dood en teleurstelling. Die lewe is vol geleenthede. Dis nagklubs en fuif en drank en enigiets denkbaar wat gesnuif kan word, alles op jou voorstoep. Daar is malse oomblikke van wilde seks met vreemdelinge in stegies en publieke toilette wat die pyn van verstoting deur ouers, sibbe en vriende effe verdof.
Die Olivier-genomineerde toneelstuk Cruise wat tans in die Kaap te sien is, het staande ovasies in Johannesburg gekry. Die oorspronklike Britse Cruise was die eerste toneelstuk wat uit die pandemie gebore is en in die Londense West End by The Duchess Theatre aangebied is en toe op publieke aanvraag en uitstekende resensies oorgeplaas is na die Apollo-teater, wat in September 2022 ten einde geloop het. Suid-Afrika is die eerste land naas Brittanje waar dit speel.
Dis natuurlik Cruise wat niks te make het met ’n luukse skip of jag nie – maar eerder die uitkyk vir ’n seksuele maat vir ’n vinnige gekafoefel in die donker – sonder voorwaardes en beloftes. Die lewe is ’n emosionele skoppelmaai van die goeie tye, maar die afsondering van familie en vriende wat nie jou leefstyl aanvaar nie.
Maar dan word jy en jou lewensmaat met MIV/vigs gediagnoseer. Die dokter gee julle vier jaar om te leef. Daar is geen kuur, geen medisyne om die pyn te verlig nie. Vriende om julle sterf – sommige binne weke, ander binne maande ná diagnose.
Julle verkoop alles, huur ’n eenslaapkamerwoonstel, eet uit, dans, kuier en bederf jul vriende. Die sirkel van jul bestaan is beperk tot die grense van die Londense Soho-woonbuurt, waar al die gay mans mekaar min of meer ken – en die meeste al by mekaar geslaap het.
Maar dan haal die dood een van julle drie jaar later in en gaan – vir eers – by die ander een verby.
Dis die ware verhaal van Michael Spencer en sy “laaste aand op aarde”. Die toneelstuk speel meestal af in ’n inbelsentrum vir LGBTQIA+ inbellers, waar niemand gekritiseer word of skeef aangekyk sal word nie. Dis bloot ’n hulplyn as jy alleen is. Dis ’n veilige hawe vir dié wat op daardie stadium in ’n baie enger wêreld as vandag leef. Wat net wil gesels. Minder verstote voel.
Michael en sy lewensmaat “Slutty Dave” moet die onvermydelike in die oë kyk en daarmee saamleef.

Michael verklaar op ’n stadium dat “ons die eerste generasie gay mans is wat vry kan leef”, maar later word hierdie woorde onwaar, as hy en Dave besef dat hulle nooit werklik vry was van ’n gevreesde, ongeneeslike siekte nie, wat destyds deur die koerante as “gay-kanker” of die “gay-plaag” bestempel is.
Hulle gooi hul heelhartig in hul werk, vermy seks en Dave wil selfs nie eers meer uitgaan nie. Dis egter by ’n vriend se disko waar die musiek en dans vir hulle lawing bring. “Hierdie musiek wil jou nie laat goed voel nie; dit wil jou goed laat besef hóé jy voel,” verklaar Michael.
Die fases van rou kom in vreemde maniere tot uiting en op ’n stadium verklaar Michael dat hy effe ontnugter is dat dit al is waaroor die lewe gaan, al is waaroor die liefde gaan. ’n Mens het gehoop vir soveel meer.
Nadat sy lewensmaat wegval, is die dae donker en hy verklaar teenoor ’n vreemdeling: “Ek het my reismaat verloor. Hy was die houer van my geskiedenis; die houer van my lewensjoernaal. Dit voel asof my lewensspieël gebreek het.” Hierop antwoord die vreemdeling dat geen mens met stukke spieël kan reis nie, hy moet dit agterlaat en aangaan met sy lewe.
Hy volg dié raad en beskryf die volgende dag as die “eerste dag van die res van my lewe”, maar hou steeds die vierjaarsperdatum in sy agterkop.
Sy 30ste verjaardag is toe bittersoet: Hy het langer as die vier jaar oorleef, maar onthou ook al sy vriende wat nooit 30 kon ervaar nie.
Medikasie kom, mense se lewens word gered en dinge verloop relatief normaal daarna.
Maar Michael erken teenoor ’n vriend: “As hierdie siekte straight wit mans getref het, was daar baie spoediger medikasie.”
Daniel Geddes speel verskeie rolle in die stuk en deur net sy postuur en stemtoon te verander, kry elkeen van daardie karakters voor jou oë lewe. Die stel is drie hol strukture wat ’n stegie/publieke toilet, disko en die inbelsentrum voorstel. Hy beweeg tussen die strukture en trek net later ’n baadjie aan, verder is dit drie klein melkstoeltjies en beligting wat die atmosfeer verander.
’n Mens kan nie eintlik glo dat hierdie virus skaars vier dekades gelede die doodsvonnis vir duisende regoor die wêreld was nie. Die persverklaring lui: “Hierdie eenmanstuk is soms ’n emosionele skoppelmaai, ander kere ’n skreeusnaakse ode aan die gay-kultuur in die 80’s en hoe MIV/Vigs die gemeenskap vir altyd verander het. Dié opvoering in Suid-Afrika is baie gepas, aangesien 2022 die 40ste herdenking was van die aankoms van die MIV/Vigs-pandemie op die Afrika-kontinent.”
As jy gaan oplees, is daar natuurlik baie menings oor presies waar en wanneer die virus kop uitgesteek het, maar dis vir jare weggesteek en afgemaak as iets anders, omdat daar ’n stigma aan gekleef het.
Daniel vertel: “Om ’n rol van hierdie omvang en lof aan te neem, was super opwindend en het my nederig laat voel. Dit was veral senutergend om in Jack se skoene te tree as die oorspronklike skrywer/akteur. Kan ons reg aan sy stuk laat geskied?”
Hy gaan voort: “Die antwoorde van die Johannesburg-gehore in Desember was ’n dawerende ‘ja’. Hierdie toneelstuk is só belangrik, en besonders mooi.”

Met ons bywoning is die Avalon-ouditorium by die Tuiskomssentrum (die voormalige Fugard-teater) stampvol. Die gehoor is oorwegend mans en meestal ouer gay mans. Toe die teater verdaag, staan hulle buite in die kroeggedeelte rond. Dis stiller as gewoonlik wanneer mense by ’n teater uitpeul vir iets om te drink.
Skielik is 40 jaar ’n oogknip gelede. En die werklikheid en hartseer van vriende verloor aan MIV/Vigs sommer weer vlak. En die geskinder, die uitsluiting en vingerwys van die samelewing na gay mans word na die oppervlak geruk.
Dis die woorde van regisseur Josh Lindberg in die programnotas wat my bybly: “Ek was dadelik aangetrokke tot Cruise as ’n magtige verhaal van aanvaarding van andersheid. Ek wou ’n wêreld skep waar elke individuele storie ’n tuiste gevind het – en daar is baie. ’n Ruimte waar elke gehoorlid se persoonlike storie tuis gevoel het. Dit is wat so ’n ruimte vereis, wat soveel stories en individue eenvoudig moet hê, maar ongelukkig in afwesigheid na smag. Niemand moet voel dat hulle nie genoeg is óf dat hul storie nie erken word nie.
“Ek begin altyd met ‘hoe kan ons ’n gehoor roer’. Met regie kyk ek net soveel na ons gehoor as na die akteur/s; dit was ’n ooglopende voorreg om hierdie storie en ons produksie met ons gehore te deel in ons eerste speelvlak in Jozi. Hul reaksies was stewig geanker in ’n gedeelde onthou-ervaring, een wat soveel pyn, verlies, ontdekking en vreugde dra (selfs vir diegene wat nie deur daardie dekades geleef het nie). Die warm en gul ontvangs het my diep geraak.
“Hierdie toneelstuk is perfek relevant hier in Suid-Afrika, binne ons huidige tyd. Nou meer as ooit (ongelukkig) moet ons wêreld nog soveel verder reis in terme van aanvaarding van almal, om ‘elke dag te leef asof dit jou laaste is, in die hede’.
“Hierdie storie kan aanklank vind by individuele stories en kan ’n tuiste vind by elkeen van ons.”
Sela.
Cruise
Met: Daniel Geddes
Oorspronklike teks: Jack Holden
Oorspronklike musiek: John Patrick Elliott
Beligting: Jane Gosnell
Stelontwerp: Wilhelm Disbergen
Avalon-ouditorium, Tuiskomssentrum, Caledonstraat, Kaapstad tot 30 April – Woensdae tot Vrydae om 19:30, Saterdae om 17:00 en 19:30 en Sondae om 14:30.
Kaartjies via Quicket
- Foto’s: Odette Putzier

