Emigreer of bly: Is die gras werklik groener aan die ander kant? deur Stephan Joubert: ’n lesersindruk

  • 4

Foto van Stephan Joubert: NB-Uitgewers

Emigreer of bly
Stephan Joubert
NB-Uitgewers
ISBN: 9780796322272

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Die ongemaklike onderwerp van emigrasie is ’n goeie onderwerp om boeke oor te skryf. ’n Onderwerp wat sekerlik nooit uitgeput sal kan raak nie. Nodeloos om te sê het die keuse om te emigreer of nie, verreikende implikasies, nie net vir die individu nie, want dit strek veel wyer tot by die geliefdes, die gemeenskap, en uiteindelik die hele land. Niemand weet regtig hoeveel Suid-Afrikaners elke jaar emigreer nie, maar dat hulle emigreer, en dit in groot getalle, is nie bloot ’n vae vermoede nie.

Elke emigrasie is anders. Vir baie families is die besluit om hulle wortels uit te trek baie voorspoedig. Suid-Afrika is nie ’n land wat goed bestuur word nie en massas mensepotensiaal word jaar na jaar hier vermors terwyl die politici hulself besig hou met magspeletjies vir geld en posisies, alles onder die sambreel van ubuntu en Wet 108 van 1996.

Oor geweld en veiligheid hoef ’n mens sekerlik nie eens veel uit te wei nie. Suid-Afrika is een van die gevaarlikste lande op aarde. Ons polisie is nie daartoe in staat om die land se inwoners te beskerm nie. Inteendeel; die polisie self vrot van misdadigers. Verkragting en geweldsmisdaad is aan die orde van die dag, met so tussen 50 en 60 moorde per dag, oftewel ongeveer 20 000 per jaar. Dan praat ons nog nie eens van dienslewering nie. Watertekorte is ’n algemene verskynsel terwyl Eskom nie daarin kan slaag om die land van elektrisiteit te voorsien nie. Al hierdie dinge maak die opsie van emigrasie uiters aanloklik vir menige Suid-Afrikaner.

Reeds vroeg in sy boek maak Joubert dit egter duidelik dat hy nie die verskaffer van maklike antwoorde is nie: “As jy hierdie boek wil lees om ’n vinnige antwoord op die ry-of-bly-kwessie te kry, moet dit liewer nie lees nie” (15–6). Ter inleiding stel hy dit ook dat emigrasie geensins uniek aan Suid-Afrika is nie. Daar is altyd mense wat besig is om rond te trek, en dit gebeur op die meeste plekke op aarde. Soos wat ’n mens lees, so skemer Joubert se eintlike opinie op die saak ook tog maar deur, en blyk dit dat hy nie regtig so neutraal staan as wat hy te kenne probeer gee nie. Trouens, ek moes geweet het dat die boek ook maar uiteindelik die vorm van ’n soort “preek” sou aanneem, gegewe Joubert se agtergrond as teoloog. Die Bybel word natuurlik kort voor lank nader gehark. Wat is God se wil? vra Joubert aan die hand van die boek Jakobus. Nie wat ek wil nie, maar wat God wil. Gaan die lewe net oor myself? Oor wat die beste is vir myself?

So borduur Joubert voort. In die proses sleep hy ook vir Josua en Kaleb by die saak in, die Israeliete se verkenners van die Beloofde Land wat nie op hulle eie insigte vertrou het nie, maar eerder op God se beloftes. Dit voel kompleet later soos 16 Desember, iewers op ’n klein dorpie in ’n warm klipkerk, soos wat Joubert die leser met teologiese argumente bombardeer. Op een punt maak hy egter ’n baie sterk argument as volg: “Die mense in Europa en ander Eerstewêreldlande is regtig nie net Afrikaanse mense in ’n vermomming wat toevallig Duits, Hollands of verskillende vorme van Engels praat nie. Vir my is die verskil tussen daar en hier die verskil tussen spontane verhoudings en warm gasvryheid, en afstandelike verhoudings” (37). Op dié manier borduur Joubert voort in sy kritiek teen emigrasie. Dis die media. Die media maak mense negatief oor ons land. Dis wat jy daarvan maak. Of jy nou hier is of daar is, jou ervaring is alles in jou kop (klink lekker Zen en Boeddhisties). Wat het koning Salomo gekies toe God vir hom ’n keuse gegee het? Het hy geld gekies? Voorspoed? Nee, Salomo kies wysheid bo alles!

Ander troefkaarte wat Joubert speel, is onder meer die volgende: Jy sê jy emigreer “vir jou kinders”, maar is dit werklik vir jou kinders? Of is jou kinders net ’n dekmantel vir jou selfsugtige self? Hy verwys ook na die vroeë Christendom: “Dit lyk my die vroeë Christene was beter met bly as met ry” (116). Die lewe daar is duurder as wat jy nou besef! Jy gaan jou familie mis. Wat van jou ouers en al die bekende mense en plekke? En dan, in wat waarskynlik as Joubert se heel grootste troefkaart beskou kan word: Jou kinders gaan “daar” dalk ateïste word! Ja, daardie lande daar oorsee is bekend vir al hulle sekulêre idees, hulle humanisme en al daardie dinge. Dit is ’n pynlike werklikheid. Die horribale gedagte daaraan darem! Wat baat dit jou jy en jou kinders wen die wêreld maar verloor julle siele? Aldus die Bybel … Onthou, Australië, Kanada, Engeland, daardie tipe plekke gaan nie goed inwerk op jou kinders se Christelike oortuiginge nie …

Joubert probeer nie regtig hard om in sy boek objektief bly oor die onderwerp van emigrasie nie – die boek verval uiteindelik maar grootliks in ’n lang preek oor die euwels daaraan verbonde om jou wortels uit te trek. Nee, hy veroordeel darem ook nie diegene wat die land verlaat direk nie (wel op subtiele maniere), maar uiteindelik is dit tog maar duidelik waar sy sentimente in die saak lê, en dat hy mense oor die algemeen eerder probeer ontmoedig as aanmoedig om Suid-Afrika te verlaat.

  • 4

Kommentaar

  • Nou wat wil jy nou eintlik sê, Mnr van der Merwe? Moet ons dr Stefan Joubert se boek lees of nie? Dit is dr Joubert se opinie, waarmee jy saamstem of nie. Hy was self is Nieu-Seeland en het "teruggekom". So ek dink hy kan met gesag praat. Of hy nou Bybelse figure inbring of nie, dit is sy reg, is nie ter sake nie. Hy gebruik dit slegs as die "uitwyking" het jare gelede al plaasgeving. Is jy nie dalk te krities oor dr Joubert se boek omdat hy 'n teoloog en Christen is nie? Die spreekwoord lui mos as jy 'n hond wil slaan, sal jy 'n stok kry. Wat is jou opinie, ry of gly. Motiveer asb?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Nee wat, ek gaan nie vir jou sê of jy dit moet lees of nie. Dis seker darem 'n besluit wat jy self in staat is om te neem. Laat ek dit dan maar so stel: as lang argumente uit die Bybel jou kos is, dan sal jy moontlik dié boek baie geniet. Dit het my nie oortuig nie. Groete daar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top