Die Wonderwerker: Deur en deur die wag werd

  • 0


Die Wonderwerker

Regisseur: Katinka Heyns

Rolverdeling: Dawid Minnaar, Elize Cawood, Marius Weyers, Anneke Weidemann, Kaz McFadden

Katinka Heyns se langverwagte fliek oor Eugène Marais is hier, en dit was deur en deur die wag werd.

Die verhaal speel af in 1908, op die Van Rooyens se plaas Rietfontein in die Waterbergdistrik. Marais (Dawid Minnaar), op pad na Nylstroom, arriveer doodsiek aan malaria. Hy word verpleeg deur die boervrou Maria (Elize Cawood) en die jong Jane Brayshaw (Anneke Weidemann), wat ná die verwoesting van die Boereoorlog deur die Van Rooyens ingeneem is. Marais, sonder huis of haard, se verblyf verleng tot maande en ’n komplekse stel verhoudings ontwikkel in dié tyd op Rietfontein.    

Die film gee ’n besonderse insig in Marais as mens: sy belangstelling in die medisyne en die sielkunde, sy intuïtiewe aanvoeling vir mense sowel as diere, wat aan hom die naam “die wonderwerker” besorg het, en sy oorspronklike wetenskaplike navorsing oor bobbejane en termiete, wat tot vandag toe internasionaal erken word. Dit alles rus egter op die donker ondergrond van sy verslawing aan morfien, wat hier in alle naaktheid uitgebeeld word.

Soos alle goeie kuns transendeer hierdie film van die spesifieke (’n huisgesin van vyf mense in ’n afgeslote ruimte) na die universele (dít wat voorkom in alle menseverhoudinge). Net soos die begaafde en lewenswyse Marais worstel met sy verslawing, worstel elk van die ander gesinslede met hul eie donkerheid – almal behalwe Jane, wat hier net lig is (vir haar sou die donkerte van verlies eers later kom).

Soos Heyns dit gestel het: Dawid Minnaar ís Eugène Marais in hierdie film – wat ’n vertolking! En Elize Cawood wys weer dat sy ’n aktrise van wêreldformaat is. Ook Marius Weyers (Gys van Rooyen) lewer kragtige spel, terwyl die twee jonges, Weidemann en McFadden, nie ’n tree terugstaan in hierdie uitgelese geselskap nie.

Laastens moet ek die draaiboek deur Chris Barnard noem: nog selde in ’n Afrikaanse film, indien ooit, het ek sulke goeie dialoog gehoor – elke woord nét reg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top