Elzette Steenkamp gesels met Catherine Snel oor die Afrikaanse Taalmuseum se opvoedkundige projekte

  • 0

Vertel ons meer van die opvoedkundige projekte en geleenthede wat vir 2012 by die Taalmuseum beplan word.

Klik hier vir inligting oor die Taalmuseum se opvoedkundige projekte.

Die Afrikaanse Taalmuseum (ATM) bied opvoedkundige programme wat veral fokus op die behoud van inheemse kennisstelsels en tradisies en moedertale (veral Afrikaans). Hoekom is dit so belangrik om ’n sin vir kulturele identiteit en behorendheid by leerders te kweek?

Taal is ’n baie kragtige instrument, veral vir die bewaring van ons tasbare én nietasbare erfenis. Dit is die medium waardeur mense uitdrukking gee aan hul gevoelens, hetsy deur middel van dig, sing, skryf ens. Leerders moet dit nie net as ’n gegewe beskou nie, maar moet ook die belangrike historiese, kulturele en sosiale waarde daarvan besef, want taal verskaf tog ook kulturele identiteit en behorendheid. Maar belangriker nog is om hul taal in konteks met veral die ander inheemse tale te plaas.

Museums het ’n reputasie as stowwerige, vervelige plekke waar kinders gesien en nie gehoor mag word nie. Hoe keer julle hierdie siening op sy kop?

Die ATM huisves ’n moderne multimedia-uitstalling wat visuele en oudiovisuele materiaal sowel as interaktiewe aktiwiteite insluit. As gevolg hiervan is ons opvoedkundige programme ook baie interaktief en bied dit vir leerders ’n nuwe leer-ervaring. Hier leer leerders van hoe Afrikaans klink in die verskillende dele van Suid-Afrika deur te luister na ’n opname van groepstaal en taalvariante. Ons het ’n uitstalling oor naamgewing, soos plekname, byname en strandhuisname en ’n spesiale les is daarrondom geskep. Een van die uitstallings handel oor volkstaal en een tema fokus op kinderspeletjies. Daar is ’n opname oor kinderspeletjies en ’n les is ook hiervolgens aangepas. Baie van ons lesse vir skole is aangepas na aanleiding van ons uitstallings.

Hoe kan skole betrokke word by hierdie programme?

Skole kan ons kontak by 021 872 3441 of ’n e-pos stuur aan opvoeding@taalmuseum.co.za. Skole kan ook ons webwerf besoek by www.taalmuseum.co.za.

Wat is die grootste uitdagings wat julle opvoedkundige inisiatiewe belemmer?

Baie skole vind dit moeilik om die busvervoer na die museum te dek. Baie van die leerders se ouers is werkloos of verdien ’n minimum-arbeidsloon en kan dus nie uitstappies na plekke soos museums bekostig nie. Baie skole is “geen-skoolgeld”-skole en is afhanklik van staatsubsidies.

 
Catherine Snel
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top