Catherine Snel het haar formele opvoeding by die Universiteit Stellenbosch ontvang, waar sy ’n BA-graad en toe ’n nagraadse diploma in museumkunde behaal het. Haar loopbaan in die museum-milieu het in 2001 by die universiteitsmuseum, of Sasol Kunsmuseum, begin, waar sy veral aan die kultuuruitstallings gewerk het. In 2002 het sy Oudtshoorn toe getrek, waar sy vir die Kangogrotte se Interpretasiesentrum gewerk het. Haar rol was om die Interpretasiesentrum suksesvol te bestuur. In 2004 is sy as kurator by die Afrikaanse Taalmuseum aangestel.
As museum- en erfenispraktisyn het sy oor ’n wye spektrum terreine ondervinding opgedoen en blootstelling gekry. Sy het ook die geleentheid gehad om aan baie betekenisvolle projekte en programme te werk en hierdeur het sy ook aktief deelgeneem aan die bewaring en beskerming van ons land se diverse kollektiewe erfenis.