Elvis Blue: "Ek wil regtig nog altyd doen presies wat ek nou doen"

  • 1

Die immer gewilde sanger Elvis Blue het pas ’n nuwe Afrikaanse album vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Hallo Elvis, geluk met die onlangse vrystelling van jou nuwe album, Êrens in die middel van nêrens. Hoe is die reaksie daarop tot dusver en hoe voel jy terugskouend oor dit wat julle reggekry het? 

Baie dankie, Henry! Ek is bly om te sê die reaksie tot dusver is baie goed – so ’n album is mos maar ’n uitknipsel van ’n mens se lewe oor ’n sekere tydperk. Hierdie is ’n uitknipsel in musiek van my lewe oor die laaste twee jaar. Ek het ’n redelik lang tyd geneem om te skryf aan die album en die opneem daarvan het ek ook bietjie meer tyd aan spandeer as aan vorige albums. Ek skryf gewoonlik nogal baie materiaal voordat ons by die studio ingaan, maar ek dink dis veilig om te sê vir hierdie album het ek meer geskryf as nog ooit voordat ons die 11 snitte gekies het.

Elvisgroot1web

Hoe het julle wat betref opname en produksie anders met hierdie album omgegaan as met jou vorige vrystellings? 

Ek het hierdie ronde met ’n paar ander musikante en ook ’n vervaardiger met wie ek nog nie van tevore gewerk het nie, gedoen om te verseker dat ek vars kreatiewe insette het om die beste uit my uit te haal.

As ek reg tel, is Êrens in die middel van nêrens jou negende studio-album, en daarbenewens is dit ook jou tweede Afrikaanse album. Dit moet omtrént ’n uitdaging wees om ná soveel musiek wat reeds geskryf en uitgereik is, steeds met oorspronklike en vars musiek vorendag te kom. Waaraan skryf jy dit toe dat jy kan aanhou om met nuwe materiaal vorendag te kom? Is daar ’n geheim of ’n resep om te volg in hierdie verband?

Ek moet eerlik wees en sê ek voel partymaal onkreatief, en ek is definitief nie altyd mal oor die goeters wat ek neerskryf nie. Ek dink mens is maar alte dankbaar vir wat jy voel jy mee kan woeker. Dit gesê, bring elke album, net soos elke seisoen in die lewe, nuwe dinge op jou pad, en dit is daai nuwe dinge wat jou hopelik dryf om te gaan sit en skryf. Gelukkig vir my was daar baie nuwe dinge in my lewe in die afgelope paar jaar. Alhoewel dit nie noodwendig die skryfproses makliker gemaak het nie, en ek baie keer mismoedig en onkreatief gevoel het, weet ek dat die feit dat ek besig is om op ’n paadjie te stap, my iets gegee het om mee te werk. En dit is al waarvoor enige skrywer ooit kan vra.

Soos gemeld, is hierdie jou tweede Afrikaanse album. Jy hou egter aan werk in beide Afrikaans en Engels – watter een van die tale is vir jou gemakliker om in te skryf en op te tree, en waarom? 

Ek verkies om in Afrikaans te skryf – dit is my moedertaal en die taal waarin ek dink en droom. Tog geniet ek dit om ook in Engels te skryf, veral om saam met ander in Engels te skryf. Ek sukkel dikwels om in Afrikaans saam met ander te skryf, maar geniet dit meer in Engels. Ek was gelukkig genoeg om ’n paar maal saam met oorsese skrywers met groot CV’s te kon skryf, en ek leer verskriklik baie uit daardie proses.

Die Afrikaanse musiektoneel is ook natuurlik ’n dier op sy eie manier – hoe ervaar jy die verskil in ontvangs van jou Afrikaanse en Engelse musiek wat optredes, verkope en radiospel betref? 

Afrikaanse musiekliefhebbers is uiters lojaal – hulle ondersteun kunstenaars, en ek moet sê ek is uiters dankbaar daarvoor. Alhoewel my Engelse musiek goed ontvang is, en ek ook in Engels optree, weet ek dat Afrikaanse kunstenaars in Suid-Afrika uiters dankbaar kan wees vir die wonderlike mense wat hulle ondersteun.

Jou vorige Afrikaanse album het talle toekennings ingepalm - Tempo, Sama, Ghoema ... Laat hierdie soort erkenning die druk toeneem wanneer ’n mens weer gaan sit om aan ’n album te skryf? 

Ek gaan jok as ek sê ek is vry van daardie druk, maar ek moet ook bylas, die druk is nie noodwendig as gevolg van toekennings nie. Ek kyk na die kunstenaars wat ek bewonder, en een van die redes waarom ek hulle bewonder is hulle vermoë om ’n lang loopbaan te hê, met musiek wat mense diep raak. Dit is my grootste droom, en die feit dat ek daardie droom het, beteken daar is druk.

Die storie loop dat jy die snitte vir die album uiteindelik uit meer as 60 liedjies gekies het. Hoe werk daardie skryfproses by jou en hoe weet jy wanneer ’n liedjie góéd is? 

Ek weet dat ’n liedjie goed is as dit my laat dink en laat voel, maar mens moet seker maar ook onthou wat vir een ou goed is, werk nou nie noodwendig vir ’n ander nie.

Binnekort sal jy by die Vrystaat Kunstefees te sien wees in ’n solo-produksie genaamd Horison, waarvoor jy die hulp van Deon Opperman ingeroep het. Hoe het julle by mekaar uitgekom, en in hoe ’n mate het Deon se bydrae die produksie soos dit daar sal uitsien, gevorm? Bedoelende, hoe verskil dit van ’n "gewone" Elvis Blue-vertoning? 

Ek het vir Deon ontmoet toe ons saamgewerk het aan die produksies wat ek en Laurika Rauch saam met hom gedoen het, getiteld Hart en see. Sonder twyfel iemand wie se passie my grootliks inspireer. Daar is raakpunte met ’n “gewone Elvis Blue-vertoning” omdat ek my liedjies speel. Maar Deon het my baie gehelp om nie net die vloei van die produksies aanmekaar te sit nie, maar ook om te verwoord waaroor my liedjies gaan, en om mense sodoende op ’n reis te neem.  

Sal jy voorts soortgelyke projekte wil aanpak? 

Ek sal vir seker!

’n Onlangse nuusberig in Rapport oor dalende CD-verkope het jou as volg aangehaal: “As jy die vermoë het om goeie konserte te hou, gaan jy geld maak. Maar op net CD-verkope gaan jy sukkel. Ek wil soos enige musikant eerder albums verkoop, maar ek is meestal op die pad.” Tog reik jy nog vollengte-albums uit, vergeleke met musikante wat verkies om enkelsnitte op ’n streep aanlyn vry te stel. Wat is die waarde van ’n vollengte-album nog vir jou? Hoe dink jy sal hierdie element van musikant-wees verander oor die volgende paar jaar, en hoe sien jy jou plek daarin? 

Dit is baie moeilik om alles te sê wat jy wil sê in drie minute. Ek self koop nog steeds vollengte-albums en ek glo daar is baie mense wat dit steeds doen. Ek dink darem dit sal nog ’n rukkie neem voordat vollengte-albums “uitsterf”. Tog weet ek dat die geld wat musikante maak, lê grotendeels in optredes en ek is gelukkig dat ek mal is daaroor om op te tree – dit bly een van my gunsteling-dinge om te doen. Alhoewel mens soms verskriklik na jou huis verlang, is om te toer en om voor mense my musiek te speel iets waarvan ek gedroom het van kleins af.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Elvis Blue, in so verre jy dit kan beheer? 

Ek weet mens moet hier ’n lys groot projekte gee, en dinge wat beïndruk! Maar ek wil regtig nog altyd doen presies wat ek nou doen, en ek wil aanhou skryf, opneem en vertonings doen. Ek sal hard werk om te verseker dit bly moontlik.

Elviscoverweb.jpg

  • 1

Kommentaar

  • Abram Swanepoel

    Hi Elvis. Wat het jou geïnspireer om die lied "Al die deure was toe maar maar die hemel was oop" te skryf?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top