Elton die verskriklike April verloor dit deur Carin Krahtz: ’n boekresensie

  • 0

Elton die verskriklike April verloor dit
Skrywer:   Carin Krahtz
Uitgewer:  Tafelberg
ISBN: 9780624081852

Al voel Elton April hy is die “main man” van sy eie storie, verloop dinge nie altyd soos hy dit wil hê nie. In die vorige aflewering, Elton amper famous April en Juffrou Brom (2015), is Elton ʼn laerskoolseun wat met die alledaagse uitdagings te doen kry. Dis nie vir hom maklik by die huis nie en sy Afrikaans-onderwyser help hom om sy talent vir woorde en taal te ontgin.

In hierdie tweede Elton April-boek gaan hy hoërskool toe. Hy en sy ma woon in ʼn aftreeoord, waar sy ma die inwonende verpleegster is. Elton se eerste dag by die skool is ietwat van ʼn ramp. Sy beste pel is na ʼn ander skool, hy het sy toon oopgestamp en sy nuwe skoolskoen druk sy toon dat dit klop, en hy laat nie die beste eerste indruk by die matrieks nie.

Elton se humeur blyk ook gereeld die oorhand te kry, omdat hy nie heeltemal gelukkig is met sy situasie nie – al is dit ʼn groot verbetering op hul vorige omstandighede.

Dié boek betrek verskeie aktuele sake wat vir hedendaagse tieners van belang is, sonder om daaroor te preek. Die boelie van Elton se vorige, agtergebelewe buurt herhaal matriek en gebruik vir Elton as bode om steroïdes in die skool te verkoop. Elton se woede-uitbarstings lei tot ʼn draai in die hoof se kantoor en die hulp van tannie Kameel, die skoolsielkundige, word ingeroep.

Elton se vyandigheid met die knorrige Tienie Bakkes, oudsersant-majoor met ʼn reusesnor, wat oorkant hulle in Avondpark woon, sorg vir selfs meer wrywing en woede. Met verloop van die verhaal leer Elton hoe om sy woede te beheer.

Elton die verskriklike April verloor dit (2017) herinner aan die suksesvolle en gewilde reeks Diary for a Wimpy kid deur Jeff Kinney, wat deur Carina Diedericks-Hugo as Dagboek van ʼn wimp (2012) vertaal is. Kinney se boek het selfs op die New York Times se blitsverkoperlys gaan draai.

Die skryfstyl in Elton die verskriklike April verloor dit (2017) boots die skryfstyl na en die taalgebruik is eie aan die karakter. Elton se unieke taalgebruik kom sterk hier na vore. Met woorde en uitdrukkings soos “sy tong het nie brieke nie” omdat hy net ʼn ding sê sonder om mooi te dink. Of sy spelfoute wat deel is van die teks, byvoorbeeld: “jik” (41), “ambielaans” (112) of “ireteer” (120), waarby hy soms notas maak om dit op te soek in die woordeboek. Daar is ook gedeeltes waar hy ʼn woord wil gebruik, maar nie kan spel nie. Dit is dan doodgetrek en eerder omskryf, ʼn algemene praktyk onder dié wat eerder die woord vermy as om dit na te slaan – veral in ʼn eksamenkonteks. Laastens is daar verskeie sketse en “afdrukke” van sy kunswerke, asook notas in die kantlyne. Al hierdie eienskappe herinner aan Diary of a Wimpy kid.

Elton en sy ma woon in Johannesburg en hy sien sy pa baie min, omdat sy pa in die weermag is en op Oudtshoorn gestasioneer is. Dit is interessant om ʼn ander perspektief te kry op die Suid-Afrikaanse Weermag en die invloed van hul werk op hul gesinne.

Die teks is besonder boeiend. Jong lesers en tieners behoort die boek aangenaam te vind, omdat dit omgaan met temas en onderwerpe waarmee hulle gereeld te doen het.

Boeliegedrag het onlangs deur middel van sosiale media baie meer aandag begin geniet. Die tema word hier anders hanteer as in die konvensionele boelieverhale, waar daar teen die boelie opgestaan word en geregtigheid geskied.

Die algemene ervarings van verliefdheid en hoe om jou eie sosiale situasie te hanteer word duidelik op die voorgrond gestel.

Die belangrikste aspek is dat die verhaal uit Elton se perspektief vertel word en in die eerste persoon. Die leser neem al die gebeure slegs uit Elton se perspektief waar, wat dit aan die leser oorlaat om op ʼn onbewuste wyse insig in Elton se omstandighede te verkry.

Dit is beslis ʼn lekker boek en is vir die jonger leser verteerbaar sonder om oppervlakkig of prekerig te wees. Hopelik hoor ons in die toekoms meer oor Elton April.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top