Die geliefde skrywer Elsa Joubert (gebore 19 Oktober 1922) is op Sondag 14 Junie 2020 aan COVID-19 in ’n Mediclinic-hospitaal in Kaapstad oorlede. Sy was 97 jaar oud.
Haar herdenkingsgeleentheid is op Saterdag 4 Julie 2020 aanlyn aangebied. Volg die skakel om na die geleentheid te kyk: https://vimeo.com/435700573/5fa4f63659. LitNet publiseer hiermee sommige van die huldeblyke, wat elk uit eie reg ’n soort tydsdokument is.
Hier onder is Ena Jansen se bydrae by die herdenkingsgeleentheid.

Ena Jansen en Elsa Joubert (Foto: Stef Glen)
…………
“En dís hoe Elsa Joubert se oeuvre opgesom kan word: as onvermydelik, as noodsaaklik, as die vertel van stories wat op ’n noodwendige manier ontvou – myns insiens trouens die raakste definisie van goeie literatuur.”
…………
Elsa Joubert (1922-2020) – herdenkingsbyeenkoms 4 Julie 2020 (Welgemeend, Kaapstad)
Baie dankie Elsabé, Henriette en Nico vir julle uitnodiging om vandag oor Elsa Joubert se skryfwerk te praat. Sy was julle geliefde ma, sy was ouma en oumagrootjie. Sy is ons almal se geliefde skrywer; sy was reisiger, denker, historikus, antropoloog en sosioloog. Sy was bergbeklimmer en Leeukopkyker.
Hoe begin jy om ’n skrywer te gedenk wat meer as ses dekades lank bly skryf en publiseer het, wat wêreldberoemd is vir ’n roman wat die land se politiek verander het.
Wat ek oor Elsa Joubert se werk in agt minute wil sê, is eerstens iets oor die noodsaak van haar skrywerskap en die pad wat sy met haar skryfwerk wou loop; tweedens iets oor die Limietberg en ander grense wat sy wou oorsteek, en derdens iets oor die troos van Leeukop.
- Die noodsaak van haar skrywerskap
As ons die koerantjie wat Elsa in standerd 3 in die Paarl saamgestel het en haar studentepublikasies buite rekening laat, het Elsa Joubert se skrywersloopbaan formeel in 1957 begin toe Water en woestyn oor haar eerste groot reis deur Afrika gepubliseer is. Afrika was van die begin af die een groot inspirasie in haar werk – nie net vir haar reisverhale nie, maar ook vir haar romans.
Elsa Joubert het ontsettend hard gewerk. Op LitNet is haar skrywersprofiel daar vir almal om meer te lees. Ek tel sewe bundels reisverhale, sewe romans, twee bundels met kortverhale en een met novelles, een storieboek vir kinders, en ten slotte haar drie magistrale outobiografiese werke, ’n Wonderlike geweld, Reisiger en Spertyd, toe sy reeds 95 was.
Dis geen wonder dat Elsa in die onderhoud wat ek met haar oor Spertyd gevoer het, met oorgawe verwys het na Sebald se opmerkings oor die ouer skrywer nie. Sy’t dit voorgelees terwyl ons sit aan haar ronde tafel met die vaas oranje speldekusssings voor die venster in Berghof, en ek hoor die ritme van daardie ligte maar nadruklike stem vandag nog duidelik:
There seems no remedy for the vice of literature; those afflicted persist in the habit despite the fact that there is no longer any pleasure to be derived from it.
Joubert het aan die kwelling om te wil skryf blý ly; dit was vir haar ’n roeping. Sebald se woorde was daarom vir haar so ’n “riem onder die hart”. “Want jy weet,” het sy gesê, “ek neem nogal aanstoot as iemand vir my sê: ‘Maar kry jy nie end nie?’” En dis toe dat ek byvoeg: “Ja, of dat hulle seker vra: ‘Skryf jy nóg?’” Dit het haar verontwaardig laat lag. “Ja. Daai ’nóg’ is liederlik. Maar ‘jy kry nie end nie’ is nog erger, want dis soos ’n stout kind wat nie ophou skree nie. Ek het baie vreugde uit Sebald geput.”
Haar humor, nuuskierigheid en wil tot skryf was onblusbaar: “Man, dis sterk, […] ek het so ’n behoefte om in woorde my sin neer te skryf, jy weet, net iets vang. Want dit is die ding met skrywery, jy vang iets, jy probeer iets vang voor die stroom dit wegneem.”
En dis hierdie verwysing na die vasvang voordat die stroom dit wegneem wat my laat besef die beginpunt van Joubert se skrywersloopbaan lê op ’n plek wat ek nie eerder raakgesien het nie. Dis wanneer sy in Desember 1945 op ’n trein klim na die Oranjerivier-eilande tussen Keimoes en Kakamas.
In ’n Wonderlike geweld vertel sy hoe die son sak terwyl sy oor vervaarlike hangbrûe loop tussen die eilande: “Dit voel haar sy’s in een van haar drome. Net met die een hand kan sy vashou aan die handkabel wat weerskante gespan is, sy begin loop, die brug skommel soos sy loop. My pad is self die ding wat trek …” Sy word bang en gaan klop in die skemergrys donkerte aan by ’n witgekalkte steenhuisie. Die ou man waai en beduie met sy kierie: “Die pad is reg, loop maar.”
En dis nét hier waar Elsa Joubert haar pad vind, begin loop as skrywer, haar vrees verloor. As leser voel jy dit aan in die dringendheid van haar beskrywings; haar besef dat sy “’n ander wêreld betree” (335). Die eerste van soveel ander wêrelde wat sy sou betree.
Wanneer haar medestudent Klaas, wat nes sy skryfambisies het, terug in die Kaap vra of sy iets “bereik” het by die eilandmense, antwoord sy:
“Wat praat jy van ‘bereik’? Dit gaan oor iets baie anders as ‘bereik’. Ek kan oor hulle skryf […] Maar ek gaan nie stories oor hulle opmaak nie.” Die sekerheid waarmee sy praat, verbaas haar. Sy het finaal vir haarself uitgevind: skrywe gaan oor meer as stories opmaak. Sy dink aan Sarah [Goldblatt] se vermaning: “A man must to me a plain tale unfold.” Miskien is die sleutelwoord daar “unfold” [dink sy], wat beteken: “Reveal what is already there.” Miskien het Shakespeare se “unfold” te make met wat Katherine Mansfield “inevitable” noem, ’n eie waarheid wat ontvou. (337)
En dís hoe Elsa Joubert se oeuvre opgesom kan word: as onvermydelik, as noodsaaklik, as die vertel van stories wat op ’n noodwendige manier ontvou – myns insiens trouens die raakste definisie van goeie literatuur. Sy het die gawe gehad om ’n “plain tale”, om alledaagse werklikhede, dwingend te vertel; om swaarkry en onreg, pretensie en harteloosheid, angs en liefde aan haar lesers voor te hou.
’n Wonderlike geweld eindig met die konkreetheid van haar vertrek uit Suid-Afrika aan boord van die City of London: “Sy staar na die swart onrustige water wat deur die kiel deurboor word, sy hoor die geluidlose dinge wat in die diep donker water roer” (400).
En so word Elsa Joubert die verpersoonliking van die meisie oor wie Elisabeth Eybers in “Twee kleuters in die Vondelpark” skryf: “Maar sý sien webbe onderwater roer.” Nooit het Elsa Joubert “’n druk slagvaardige mevrou [geword] / met ’n allure van dít-is-soos-dit-is” nie. Elsa se verwondering en teendraadsheid as klein dogtertjie het ’n lewe lank by haar gebly, ondanks baie druk op haar en aanvanklike pogings om te konformeer. Sy was ’n reisiger en skrywer wat gedurf het om die onbekende te betree. Tot met die klein skat, Spertyd, waarin Elsa en Stom-Japie se wedervarings in Berghof sentraal staan.
- Die Limietberge en ander grense
Die Limietberge is nie net ’n Bolandse geografiese gebied nie; dit het alles te make met die persoonlike grense wat Joubert raakgesien en ervaar het, dít wat haar as vrou in die 1940’s gefrustreer het. Trouens, reeds as kind toe haar ma haar verbied het om die grens tusssen hulle huis en die bediendekamer oor te steek. Die tweede deel van haar outobiografie, waarin sy ’n groter wêreld begin verken, heet dan ook uiters gepas Reisiger – die Limietberge oor.
Telkens stel sy ook haar karakters voor die uitdagings van onbekende wêrelde. So begin sy Missionaris skryf om weg te kom van die destydse rumoerige Suid-Afrikaanse politieke problematiek. Die Nederlandse boggelrugmissionaris Aart van der Lingen uit Rotterdam is daarin haar soekende hoofkarakter, ’n “rooigebrande, verlate Hollandertjie”, wat nie weet watter kant toe wanneer hy die Woord wil gaan bedien aan die Griekwas nie.
Byna ’n jaar lank word Van der Lingen oorkant die Limietberge getoets. Hy ervaar Afrika as loog, as aambeeld. “Met Afrika wat beproef tot die limiet. Limiet? Hoeveel van ons ken dit?” (3)
In Missionaris is daar talle tekens dat Aart se worsteling ook Joubert se selfondersoek is, dat die boek ’n verskuilde outobiografie is, dat sý problematiek, sý vrae: “Waarom, waarheen, waartoe?” juis ook háre was. En dit is daardie vraende selfondersoekende vrou wat ons vandag gedenk, die vrou wat berge oorgesteek het: in haar lewe én in haar werk.
- Die troos van Leeukop
Leeukop word gereeld in Spertyd beskryf. Soos op een mistige volmaannag. Elsa gaan alleen na die boonste verdieping van Berghof en kyk “heeltemal gefassineerd, gemesmeraais, bang” weswaarts. “Die wit lig omraam en gee diepte aan die skitterende vorm. Dis ou Leeukop, net die boonste helfte, die onderste helfte is toe onder die mis” (Spertyd, 165).
Hierdie beroemde 670 meter hoë piek met sy unieke bonkige vorm tussen Tafelberg en Vlaeberg word steeds belangriker vir haar, dalk ’n nuwe Limietberg.
Sy skryf oor ’n aand wanneer Leeukop in die donker verdwyn en sy die weerkaatste kamer in haar ruite sien: “Met die skyn van iets, nie met die werklikheid nie.” Ons praat na aanleiding hiervan oor ’n onderwerp wat duidelik vir haar baie belangrik is teen Spertyd se einde. Elsa sê: “Ek het net een dag die versekering gekry dat die Onnoembare en die Onsigbare Krag by was met my geboorte, en dit sal by my wees by my sterfte. Dis waarom die hoofstuk se naam net ‘Stilte’ is. Ek wou eintlik beklemtoon dat jou eie binne-stilte is die deur tot alles: Die natuur is so skoon dat dit seermaak. Mense, en menseverhoudings, word anders. Jou gemoed is anders. Hulle in my, en ek in hulle. Alles is liefde en lig. Alles is soos dit moet wees. Die bestaanheid is genoeg. En die sleutel hiertoe is in jou eie binne-stilte.”
Elsa Joubert het nou ’n nuwe gebied betree. En ek moet dink aan wat sy al gesê het: dat sy die hiernamaals sou wil binnegaan met ’n notaboekie en Bic-pen. Omdat daardie wêreld verby die onsienlike sy eie uitdagings het. Sy was nie bang daarvoor nie en het gesê: “Ek dink dis ’n wonderlike avontuur. Ek sit die ander aand deur my venster en kyk na die sterre en goed. Dis lekker. En ek dog, jinne, well, een van die dae travel ek daar by julle.”
Anderkant die Limietberge, tussen die sterre, hoër as haar dierbare onwrikbare ou Leeukop.
Lees ook
Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Nico Steytler se bydrae
Elsa Joubert-herdenkingsgeleentheid: Annari van der Merwe se bydrae
"Die bestaanheid is genoeg" – ’n onderhoud met Elsa Joubert oor Spertyd