Titel: Elon Musk: Risking it all
Skrywer: Michael Vlismas
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
ISBN 978-1-77619-161-1
eboek ISBN 978-1-77619-162-8
Elon Musk: Risking it all is ’n ongemagtigde biografie van ’n sosiaal-ongemaklike, jong seun wat in Pretoria en Johannesburg grootgeword het, comics en wetenskapfiksie gelees het, voldoen het aan die beskrywing van ’n nerd op skool, en groot gedagdroom het oor die heelal.
Soos so baie kinders in hul vroeë tienerjare het die jong Musk eksistensiële vrae gevra oor die mens, die betekenis van die lewe en die toekoms van die mensdom. Die verskil is dat hy dié soort vrae al op ’n baie jong ouderdom begin vra het.
En soos so baie kinders uit gebroke huwelike het hy gesmag na ouerliefde, aanvaarding en standvastigheid, en griewe opgebou oor sy pa wat sy ma en broer en suster aan hul eie lot oorgelaat het. Hoewel hy sy hoërskooljare in sy pa Errol se huis deurgebring het en ’n baie bevoorregte, voorstedelike bestaan gevoer het, loop hy vandag nog rond met ernstige verwyte teen sy ewe eksentrieke pa. In ’n CBS 60 Minutes-onderhoud verwys hy onder meer na sy pa Errol Musk as “pure evil”. Dié het hom glo gereeld toegesnou dat hy ’n “idioot” is. “It was not a happy childhood. My father has serious issues,” het hy aan CBS se Charlie Rose gesê.
Maar as 51-jarige ingenieur, entrepreneur, sakeman en gesinsman word Elon steeds misverstaan en baie vrae gevra oor sy andersheid, sy visie vir die mensdom en sy sakeryk wat reusenywerhede radikaal ontwrig.
Talle van die vrae oor sy lewensfilosofie, lewenstyl, werkywer, dryfkrag, en, ja, sy vreemde obsessie om soveel moontlik kinders te verwek, kan terug herlei word na daardie gebroke gesinsjare. Ondanks die kritiek op sy pa is daar een ding waarvoor hy hom wel erkenning gee – die welgestelde Errol Musk se bereidwilligheid om vir hom ’n persoonlike rekenaar te koop en vir ’n rekenaarkursus te betaal toe ander kinders nog kleilat gegooi het.
Dit is nie die eerste biografie wat oor die 51-jarige Elon Musk geskryf word nie. Maar Vlismas met sy kennis en insigte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis tydens die onstuimige apartheidsjare van die sewentigs en tagtigs toe die jong Musk in Pretoria op skool was, skets ’n konteks waarbinne die Musks en die jong Elon se lewe verstaan moet word. Want soos hy deurgaans Musk se tienerjare en vroeë twintigs ontleed, word die geniale entrepreneur en ontwrigter se dryfvere duidelik en dui dit die pad aan wat nog in die toekoms van hom verwag kan word.
Die seun wat wetenskapfiksie en comics gelees het, het baie van wat hy gelees het ’n werklikheid gemaak. “Wetenskapfiksie moet nie vir ewig wetenskapfiksie bly nie,” het hy by geleentheid gesê. Hy het in sy kort leeftyd elektriese motors en vuurpyle gebou en is op pad om ’n ruimteskip te lanseer wat in die volgende dekade op Mars moet land en na die Aarde terugkeer.
“From South Africa has emerged one of the greatest minds of our time, and a man shifting the entire focus of humanity with his vision. A man who has made it his life’s mission to turn human beings into a multiplanetary species in the interests of conserving that rarest and most precious thing that appears not to exist anywhere else in the universe – consciousness.”
As daar destyds by sy onderwysers vrae was oor die nerdy, jong Elon agter in die klas, kan daar vandag geen twyfel meer bestaan oor sy super-intelligensie, visie en dryfkrag om die mensdom se bestaan te verander nie.
Vlismas beskryf die lewensreis van ’n uiters-begaafde jong man, ’n werkolis – tot 120 uur per week om sy visie waar te maak en beide Tesla en SpaceX van mislukking te red in die eerste paar jaar van hul bestaan. Die leser word stap-vir-stap deur die hoogte- en laagtepunte van Musk se entrepreneurslewe geneem, van sy eerste sukses in die beginjare van die internet (1995) met Global Link Information Network (later Zip2), PayPal, SpaceX, Tesla, The Boring Company, SolarCity, Neuralink en OpenAI, tot sy onlangse (erg omstrede) aanbod om Twitter vir 44 miljard Amerikaanse dollar (R722 miljard) te koop.
Hy gaan haal die storie by Elon se Kanadese oupa-grootjie, Kanadese oupa, Kanadese ma (een van ’n tweeling), en neem die leser deur ’n familiegeskiedenis van innovasie en pionierswerk tot by sy eksentrieke Suid-Afrikaanse pa. Hoewel mens aanvanklik skepties kan wees oor die feit dat die skrywer nie persoonlike onderhoude met Elon, sy ma Maye of pa Errol kon voer nie, slaag Vlismas daarin om ’n fassinerende lewensverhaal saam te stel oor die geniale jong Pretorianer wat tans die wêreld aan sy voete het.
Musk self het by geleentheid, terwyl hy aan ’n daggazol gesuig het, aan die Amerikaanse potgooier Joe Rogan vertel dat hy op die ouderdom van 11 jaar ’n eksistensiële krisis beleef het: “[A]nd I came to the conclusion that we don’t really know the answer, but if we increase the scope and scale of civilisation then we have a much better chance of understanding the meaning of life and why we’re here or even what are the right questions to ask.”
Mettertyd het hy die antwoord begin verskaf op die vraag hoekom hy so graag die mens Mars toe wil stuur. Hy glo as ons die mens in ’n multiplanetêre spesie kan verander, sal dit die kanse op die oorlewing van die unieke eienskap van “bewussyn” verhoog en uiteindelik verseker. Die alternatief is dat die mensdom uiteindelik (oor ’n paar 100 miljoen jaar) saam met die Aarde vergaan!
Mede-entrepreneurs wat al saam met Musk gewerk het, bied van die antwoorde op sy fenomenale suksesse. Peter Thiel, een van die vroegste beleggers in Musk se maatskappye, som die jong Elon se uniekheid so op: “The far more interesting and fascinating part of Musk’s personality than the genius entrepreneur or the eccentricities of his personality is the complex coordination of the many different working parts and getting them to work together, and the rebooting the traditional supply chain around that product to make it work – therein lies the true genius of men like Steve Jobs or Elon Musk.”
............
Of anders gestel: Musk se sukses is dat hy geniale idees het oor hoe om ’n gevestigde produk of bedryf te verander, dit goedkoper en meer toeganklik te maak, ’n manier te vind om alles in een suksesvolle projek te kombineer en die aptyt (of “vermetelheid”) te hê om die risiko’s te trotseer.
..............
Of anders gestel: Musk se sukses is dat hy geniale idees het oor hoe om ’n gevestigde produk of bedryf te verander, dit goedkoper en meer toeganklik te maak, ’n manier te vind om alles in een suksesvolle projek te kombineer en die aptyt (of “vermetelheid”) te hê om die risiko’s te trotseer.
Die gesegde lui: Hoë bome vang die meeste wind. As die wêreld se rykste mens en ontwrigter van die wêreld se grootste nywerhede is kritiek op Musk – op sy drome, ontwerpe en sakebedrywighede – te wagte. Dis deel van die entrepreneurs- en medialandskap waarin enige grootskaalse ontwrigter hom bevind. Voeg daarby die feit dat Musk al tien kinders by drie vroue verwek het, en jy vind al die bestanddele vir ’n reuse-media frenzy om die Musk-verskynsel te probeer verklaar en sy elke twiet en uitlating te dissekteer.
..............
Die gesegde lui: Hoë bome vang die meeste wind. As die wêreld se rykste mens en ontwrigter van die wêreld se grootste nywerhede is kritiek op Musk – op sy drome, ontwerpe en sakebedrywighede – te wagte. Dis deel van die entrepreneurs- en medialandskap waarin enige grootskaalse ontwrigter hom bevind. Voeg daarby die feit dat Musk al tien kinders by drie vroue verwek het, en jy vind al die bestanddele vir ’n reuse-media frenzy om die Musk-verskynsel te probeer verklaar en sy elke twiet en uitlating te dissekteer.
................
Oor die jare het van die voorste ingenieurs, sakelui, mededingers, en selfs sy pa, die jong Musk se spoedige (of uiteindelike) mislukking voorspel. Onlangs weer verklaar die CNN Business-span in sy daaglikse Nightcap-nuusbrief onder die kriptiese opskrif “Unraveling” aan: “It seems the Elon Musk mystique – whatever combination of wealth, carefully cultivated charm and A-plus lawyers that have helped him emerge unscathed from countless scandals – is starting to unravel.”
En soos so baie kere in die verlede word die voorspelling gemaak dat Musk se SpaceX- en Tesla-sakeryke uiteindelik begin ontrafel: “Part of Elon Musk’s whole idiosyncratic-visionary-mega-billionaire persona (whether you believe in it or not) is that he runs multiple companies with lofty ambitions – like colonizing Mars, in SpaceX’s case. Even if you find his antics – the overpromising, the troll-y tweets, the reckless corporate raiding, naming one of his kids X Æ A-12 – off-putting, you still kinda have to appreciate the audacity. But it now seems like Musk’s bad behavior might finally be catching up to him.”
En dan die finale steek aan die einde: “A month later, a massive SpaceX rocket prototype exploded on launch.” Die probleem is net dat die prototipe-vuurpyl wat uiteindelik die Mars-ruimteskip moet lanseer nie ontplof het nie, en nie gelanseer sou word nie; net statiese toetse van die enjins word gedoen. Brandstof by die lanseerplatform het aan die brand geraak. Die vuurpyl het intussen weer toetse ondergaan. Maar die gryp na vuurpylontploffings (en Tesla-botsings) om die ontrafeling te “bewys”, sal net meer word namate die verwesenliking van Musk se droom van interplanetêre reise al meer realisties blyk te word.
Die gesegde “alle publisiteit is goeie publisiteit” en die Ierse skrywer Oscar Wilde se verklaring: “The only thing worse than being talked about is not being talked about,” is van pas op Musk se lewe. Óf hy glo ook in die gesegde, óf sy lewe tot dusver het dié lewensuitkyk min of meer waar bewys. Want, ongeag die stringe negatiewe voorspellings wat die afgelope meer as 20 jaar oor sy innovasies gemaak is, is hy vandag die rykste mens en noop hy van die wêreld se grootste nywerheidsreuse om hul sakemodelle en produkte radikaal te herdink of te verander.
Vir skeptici sal Musk se versugting om iets goeds te doen vir die mensdom terwyl ons as spesie nog hier op die Aarde besig is om alles om ons met ons geldsug te vernietig, dalk maar effe vreemd opklink. Verbeel jou die audacity as rykste lid van die spesie om “iets nuttigs vir ander mense te doen” en dan miljarde dollars te bestee om ’n vuurpyl na Mars te stuur terwyl tussen 40 en 60 miljoen mense tans onder die broodlyn lewe. Om nie eens sy roekelose bydrae tot die oorbevolkingsgetalle te noem nie!
Maar dalk steek daar tog ’n element van waarheid in die feit dat sy pa se meedoënlose dryfkrag om sy seun ten koste van liefde tot nuwe hoogtes aan te spoor, wel sy oudste seun motiveer om iets goeds en met liefde te doen. Musk sê een van sy grootste motiverings is om iets nuttigs vir ander mense te doen. “Whether it’s a love of ideas, a love of innovation, a love of making the world a better place or a love of humanity, Musk is right on point when he says, ‘Love is the answer.’”
In die boek word elke sakeonderneming wat Musk die afgelope 30 jaar begin het of by betrokke was, behandel en een of twee nuwe insigte word gebied oor die redes vir sy sukses. Ook die kritiek van sommige van sy mededingers op die “onvolhoubaarheid” van sy sakemodelle, veral van Tesla as die wêreld se waardevolste motormaatskappy. Oor sy Mars-missie is daar ook geen tekort aan kritici nie – oor die onmoontlikheid vir die menslike spesie om in die ongenaakbare atmosfeer en terrein van die Rooi Planeet te oorleef.
............
Oor dié onderwerp sou ’n persoonlike onderhoud met Musk van die boek ’n internasionale treffer gemaak het. Dis jammer dat die skrywer op ou onderhoude moes staatmaak om Musk se toekomsvisie te analiseer, veral op die vooraand van die toetslansering van die Starship-prototipe waarop Musk sy hoop vestig om eendag die mens vir die eerste keer na ’n ander planeet te vervoer.
..............
Oor dié onderwerp sou ’n persoonlike onderhoud met Musk van die boek ’n internasionale treffer gemaak het. Dis jammer dat die skrywer op ou onderhoude moes staatmaak om Musk se toekomsvisie te analiseer, veral op die vooraand van die toetslansering van die Starship-prototipe waarop Musk sy hoop vestig om eendag die mens vir die eerste keer na ’n ander planeet te vervoer.
Vlismas slaag egter daarin om konteks te gee aan die rare verskynsel Elon Musk – waar hy vandaan kom en waarheen hy op pad is. Soos sy relatief-jong lewe is dit uiteraard ’n onvolledig prentjie, bloot ’n moment van een van die wêreld se grootste genieë uit die boomryke voorstede van Pretoria.
- Arrie Rossouw, oud-redakteur in die Media24-stal en tans self ’n entrepreneur in Amerika.
Kommentaar
Dankie, Arrie Rossouw. Wat 'n kundige, belangrike resensie waarin jy al die belangrike kwessies aanstip. Die 'rare verskynsel' inderdaad, maar eweneens 'n persoon(likheid) wat ons laat nadink oor die toekoms.
Dankie, Joan.