Elke kraak in die pad

  • 4

Foto: Canva

Elke kraak in die pad

Vrydag 13 Maart 2026, Pretoria Sentraal Gevangenis. 08:12. Die tronk is nog toegesluit en grafstil, soos na ’n tronkmoord. Dit is net die enkelsel langs die kantoor in A-seksie wat oopgesluit is.

Ray Eddie Daniels is ’n geraamte: ingesonke wange, oë diep in sy skedel begrawe. Sy hare en baard is skuurpapierkort. Dit lyk soos as op gebrande hout. Die spieëltjie waarin hy kyk, is gebreek en kleiner as ’n vuurhoutjieboks. Tandepasta is gebruik om dit teen die muur bokant die wasbak vas te plak. Die skerpioentatoeëermerk klim onder sy kraag uit. Die knypers knyp “27” vas.

Hy knak sy nek, eers regs, dan links. Wanneer hy omdraai, gluur ’n golf van Emergency Security Team-bewaarders hom aan. Bulletproof-baadjies, knuppels, skokskilde.

Default settings laat hom sy vuiste bal.

“Red,” die man met die basstem staan ’n aks voor sy kollegas, “is jy reg?” Sy bruin uniform is in die naat gestryk, maar rafel by die broekspype uit. Sy skoene blink, die sole is dun. Die gevangenes het hom Kong gedoop. Sy oë spring nie as hy vir Red kyk nie.

Red knik. Hy is reg. Laat hulle gaan.

Tog vee sy oë ’n laaste keer oor die sel. Hy is gistermiddag, net voor die tronk toegesluit is, na hierdie enkelsel geskuif om sy vrylating sonder bloed te laat geskied. Gewoonlik, wanneer ’n bendeleier vrygelaat word, steek sy manskappe vier gevangenes van ’n vyandige bende dood, sodat almal moet weet dat alhoewel hulle leier vrygelaat word, hulle nie ’n tree terugstaan nie. Hulle is steeds “sterk bene”. Dit is ook sy opvolger se manier om sy stempel af te druk.

Red tree uit sy sel. Hy loop tot in die middel van die gang. Kragdrade klim vanuit die buisligte, soos spinnerakke in selle.

Doodse stilte.

Red staan stil en kyk langer na die tronkdeure as na die son. Skree uit volle bors: “General salute, ouens!”

Bekers en slotte hamer teen deure, gevangenes fluit.

Die honde blaf. Ruk aan hulle halsbande.

Hy ruik die honde. Hulle ruik na angs en aggressie.

’n Jong, gemmerborselkop laat sy Alsatian toe om ’n tree vorentoe te beweeg. Nog ’n tree. Die hond grom. Sy tande blink. Kwyl drup van sy bek af. Land langs ’n kraak in die vloer.

Red loop voor. Sy sole skwiek.

Hy gee ’n lang tree, verby ’n groterige kraak.

Die buislig bo hulle knipoog.

Sy treë is nie gerek nie.

Gevangenes loop nooit langs, of agter, bewaarders nie. Dit verhoed dat hulle ’n bewaarder van agter kan verwurg of doodsteek. En hulle hou altyd links sodat hulle nie contraband kan uitruil of mekaar in die verbyloop kan steek nie. Red loop in die middel.

’n Massa bruin uniforms golf soos die Rooi See voor hom oop.

Hy glimlag nie. Knik in niemand se rigting nie. Hy het gister reeds sy vertrouelinge gegroet.

By elke hek word hy deursoek.

Die meeste bewaarders wens hom sterkte toe. Sommige wil sy hand skud. Maar hy bly tot die laaste minute ’n indoda. ’n Man. En die bewaarders bly sy vyand. Bloed in, bloed uit.

Honderde bewaarders staan in die vierkant wat die voorste drie seksies van mekaar skei. Hulle vorm ’n erewag. Red was ’n waardige teenstander. Hy het nooit gehuil as hulle hom na ’n mesgeveg platgeslaan het nie. Hy het nooit klagtes van aanranding gelê nie. Meestal het hy met ’n mes onder hulle ingeklim en in die hospitaal wakker geskrik.

By die hek wat na die ontvangs lei, draai hy om, knik in hulle rigting. Respek. Waardige teenstanders.

Buite ontvangs se deur staan ’n houtbankie. Hy gaan sit nie daarop nie. Staan en wag. Hande gekruis. Die bankie was altyd vir ander bandiete. Bandiete wat huis toe gaan. Wat weet wie wag buite.

In ontvangs is die maaghoogte toonbank met bakstene in ’n L gebou. Daar is ’n houtblad bo-op. Middeldeur gekraak. Tralies keer dat iemand kan oorspring. Drie lappe hang vanaf die tralies. Die lappe is vir gevangenes om die ink, waarmee hulle vingerafdrukke neem, van hulle vingers af te vryf. Tog is die mure orals vol swart strepe. Tipies bandiet.

Iemand het ink gebruik om 27 teen die muur te skryf. Onderaan sonop. Een van die drie bendes in die tronk.

Langs die graffiti verklaar die “mission and vision” Korrektiewe Dienste se droom in twee kleurvolle A1-plakkate. Plek-plek skilfer die verf af. ’n Kragprop se drade steek tong uit.

’n Bewaarder met ’n Viking-baard vat Red se hand om sy vingerafdrukke te neem.

Red ruk sy hand terug, gluur hom aan. “Wil jy my help piepie ook?”

Viking se rug span so styf, sy mond trek ’n reguit lyn. Hy krap met sy linker-pinkienael aan sy slaap. Skilfers sneeu op sy hemp.

Min ink. Rol die vingers, nie druk nie. Vinger vir vinger, regs, links; dan sy palms.

Viking vergelyk die vingerafdrukke met sy lasbrief. Vra: “Wys my jou linkerduim.”

’n Litteken hardloop oor Red se duim en eindig in die bal van sy palm.

“Ek’t ’n mes gegryp, Pollsmoor, 2007.”

Viking krap sy handtekening in rooi pen, plaas die lasbrieflêer op die ander lêers: CMC, maatskaplik, sielkundig en medies. Die CMC-lêers bestaan uit vier volumes en die ander drie lêers is papierdun. Red het nie ’n godsdienslêer nie.

Viking kyk hom waterpas in die oë. Glimlag. “Ons hou jou sel vir jou oop.”

Red reageer nie. Hy draai om, loop. Wag voor die elektriese draaihek. Kougom hang soos ’n slak onder die interkom. Die hek kraak. Die draaihek kou stadig aan sy lyf voordat dit hom uitspoeg.

Drie trappies af. Politoer lê lykbleek, met ’n besem gevryf.

By die staalhek staan Red opsy. Die staalhek is duifgrys en strek van die vloer na die dak. ’n Judasgat is kophoogte ingesny. In ’n vierkant, klein. Net groot genoeg vir oë om deur te loer. Te klein om ’n boek deur te stoot.

Kong hamer een keer met sy knuppel teen die deur. “Dankie, hek.”

’n Paar oë loer vir hulle. Die slot knars. Die deur word ’n aks oopgetrek. Die wag se liggaam is so gedraai dat niemand die deur kan oopstamp nie.

Red skuur verby, Kong volg.

Die deur donder agter hom toe.

Net voordat die groot houtdeur vir hom oopgesluit word, word Red weer gevisenteer. Wydsbeen, hande in die lug. Onder die kraag, broekband, agter die rug. Tussen die bene, al langs sy bene af.

Die wag klap sy voet. “Kom, jy ken mos.”

Skoene uit, onder die voete. Laaste mond oop. Lig jou tong op.

Die wag is swart, mollig en jonk. “Ek’t nooit gedink Oom Pieter gaan jou vrylaat nie.”

“Ek ook nie,” beaam Red. Dan sagter, vir homself. “Ek ook nie.”

Net voordat hy by die deur uitstap, huiwer hy.

Die son is skerp, gooi sy skaduwee terug in die gebou. Red skreef sy oë. As hy net sy skoene kon uittrek en die gras onder sy voete kon voel.

 

’n Week later skuif Red al die labels in Flamida Spar se rakke na voor. Hy tel almal wat in- en uitgaan. Identifiseer moontlike wapens.

Oor die radio sing Tom Waits “Way down in the hole”.

’n Vrou kug langs hom. Haar kop hang vooroor, haar rug krom – ’n aasvoël wat ’n tafelgebed oor ’n karkas uitspreek. Gesig en hande soos ’n rosyntjie verrimpel. ’n Blikkie hondekos bewe in haar hand. In haar ander hand hang ’n brood. Bruin. Thick slices. “Seun, sê bietjie vir tannie, wanneer is die vervaldatum?”

Sy knieg klap toe hy vanuit sy hurkposisie opstaan. “Die sewe en twintigste ... Mevrou.”

Die lig verhelder die een helfte van haar gesig. Sy kyk na die prys. Skreef haar oë. Tel die munte in haar hand. Haar duimnaels gekou. Munte kleef aan haar palm. ’n Vyftig sent gly uit haar hand, rol teen sy skoen. Sy buk. Die brood swaai teen sy been. Sy tel die munte weer. Weer. Weer. Soos hy sy eerste dag in aanhouding – geld, maar niemand om te bel nie.

Red tel die bokse op, loop na die stoor. Hy druk ’n blikkie bully beef in elke overall-sak. Die deur wat na die asblikke lei, staan oop. Sonstrale gooi tralies oor die teëls. Die een by die trappie is weg.

Die eerste kraak in die sypaadjie loop deur sy skaduwee. Hy trap die bokse plat, gooi dit op die stapel langs die asblikke. Steek ’n sigaret aan. Rook spook hemelwaarts.

’n Polisiebakkie kruie verby. Die blou seil langs die kant is gebrand.

Hy kyk nie oor sy skouer nie. Loop om die gebou, tel die krake teen die muur. Wag langs die oranje AfriForum-asblik. Papiere wapper teen sy bene.

Rosyntjie skuifel na buite. Kug, kug.

“Tannie.” Red laat val die blikkies bully beef in haar inkopiesak. Verbrysel die stompie onder sy hakke, loop weer om die gebou. Hy vang sy weerkaatsing in ’n BMW se venster. Baard. Ingevalle wange. Litteken. Vir ’n oomblik herken hy die man.

Op pad woonstel toe trap hy op elke kraak in die pad. By die derde kraak draai hy om. Niemand volg hom nie.

Teen die lamppale beloof verkiesingsborde hoop. In die slaggat duskant die stopstraat in Langstraat was ’n man sy tekkies.

Sy woonstel is agter in die kompleks, in die hoek. Net soos in die tronk.

Daarna was hy sy overall en pen dit met wasgoedpennetjies teen die diefwering vas. Die muur bo die wasbak het ’n haarlynkraak. Hy tel drie vertakkings. Hy maak seker die badkamer se klein landskapvenster kan oopgaan. Toe hy loop, sit hy nie die badkamerlig af nie.

Die spieël in die gang het hy met koerantpapier toegeplak.

Die slaapkamer se deur is toe. Die vertrek leeg. Geen bed. Geen gordyne. Twee toegeplakte drade steek uit die muur.

Nêrens is enige fotoraam of skildery nie. Ook nie graffiti nie. Die kantgordyne in die sitkamer haal asem. Die buurtwag se ligte flikker groen teen die mure.

Die woonstel is stiller as F-seksie se strafselle. Red sit die ketel aan, net om iets te hoor.

’n Kerriereuk sweef vanaf die bure na binne.

Hy drink water en dop die glas in die wasbak om.

Later die aand sit hy op ’n matras in die sitkamer. Die hoek is op die voetenent afgeskeur. Die matras en ’n rot was in die woonstel toe hy ingetrek het.

Die voordeur open na die linkerkant, sy posisie is regs – buite die lyn van sig. Hy lê op sy sy – rug na die muur gekeer – sodat hy skielike donkerte onder die deurgleuf kan sien.

Knipmes binne armlengte. Die skerp kant weg van sy hand sodat hy dit blindelings kan vat.

Honde blaf in die verte.

As hy nog in die vierhoeke was, het hy nou dagga afgeswaai.

Hy staan op en gooi die ketel in ’n klein wasemmer. Hy gebruik ’n leë lemoensakkie om die mure met Dettol te was. Die vloer droog hy met sy handdoek op. Vryf dit blink.

Nog later knyp hy ’n sigaret tussen sy lippe vas, frommel die pakkie op. Gooi dit in die leë koffieblik wat as sy asblik dien. Hy rol die wieletjie van die aansteker, maar bring nie die vlam nader nie.

Hy pons die tuinhekkie se kode in, loop oor die straat. Sy hand beweeg na sy broeksak voordat hy besef die mes is onnodig.

Die gras en bossies in die parkie staan kniehoogte. Die glyplank is geroes. Sy oë volg die oopgebarste verf tot waar dit verdwyn.

Red lê op die glyplank.

Toe die kerkklok twaalf keer slaan, sny Red drie kepe in die laken, skeur dit in repe. Knoop die repe aanmekaar vas. Die laksmanlus lyk net soos die bos sleutels aan bewaarders se sye.

Vir sewe dae was Ray Eddie Daniels vry.

  • 4

Kommentaar

  • Wow, Stefaans! My hart is nou net so seer soos vir Red in Shawshank Redemption. Ek is so bly hy kon ten minste aan die einde lag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top