
Vanjaar word die Eugène Maraisprys vir Poësie toegeken aan Lynthia Julius vir Kinderlê en aan Alwyn Roux vir Weerskyn. Elize Parker het met Roux gesels.
Die titel Weerskyn suggereer refleksie en weerkaatsing: wat “weerskyn” vir jou persoonlik en poëties in die bundel?
Persoonlik lê die weerskyn van dinge in die poging om gebeure wat in werklikheid plaasgevind het mimeties weer te gee op papier. Hierin poog ek om ’n sekere gevoel vas te vang sodat die werklikheid weer skyn in die hede.
Die gedig “doodsberigte” (28) vertel hoe my pa as kapelaan doodsberigte moes oordra aan polisiebeamptes se naasbetaandes. Aan een ouerpaar het my pa gesê hy is seker Dawid het “ek kyk op na die berge / waar sal my hulp vandaan kom” in die dag geskryf het, want as hy dit in die nag geskryf het, sou hy gesê het “ek kyk op na die sterre”.
Mens moet egter versigtig wees om te dink dat die teks gelyk is aan die werklikheid, want dit is nie. Dit is ’n gemedieerde poging om die werklikheid oor te dra, maar baie maal het die gedig niks eens met die oordrag van die werklikheid te make nie. Gedigte is vir my in die eerste plek ’n taalkonstruksie. ’n Voorbeeld hiervan is “Teken” (9), die openingsgedig van die bundel, waar die spreker sy digterslied gelykgestel aan dié van ’n voël – vergelyk die eerste strofe:
Die dag toe die voëls gesing en heimlik vermom as voëls
gesing het, vanuit die uur wat lank nie vlug nie;
’n digtersfluit wat eendag gebly en vermomde voëls
as voëls besing het soos vlerk en tong die onbewese
voorspel tot die lied gedryf het, vermoedelik geskrywe
in weerklank van drome en verlange.
Watter sentrale temas loop soos ’n goue draad deur die bundel, en hoekom het jy juis dié temas gekies?
Een van die grootste deurlopende temas is die digter se verhouding met sy pa. Dit sluit in oorlogtrauma, die ideologiese juk van apartheid, laasgenoemde wat nie net negatief ingewerk het op sy generasie nie, maar ook intergenerasionele trauma veroorsaak het, sy lering as predikant gedurende die apartheids- en postapartheideras. Kortom sou dit onder die noemer van “vader-seun-verhouding” getipeer kon word. ’n Voorbeeld hiervan is “saalopening” (27):
saalopening
circa 1992
alhoewel ons die laaste ruk
al hoe minder vir mekaar sou sê,
was daar oomblikke
wat ek onwrikbaar in hom geglo het
nie soveel oor dit wat hy sou sê nie,
maar vir wie hy was – my pa –
toe ek op laerskool was, Selectionpark,
en hy die saalopening waargeneem het,
het hy gepraat oor die buitekamer –
dat die hamer nie vir die spyker kan sê
of die saag vir die plank
ek is belangriker as jy nie –
ek onthou nie die teksvers nie,
maar vermoed dit het gegaan oor die kerk
as die liggaam van Christus
ek was tien jaar oud en in standerd twee,
en my oë was vasgenael op hom
net hom
Jou werk raak dikwels aan identiteit en innerlike belewenis: hoe het jou eie lewenspad hierdie bundel beïnvloed?
Gebeurtenisse in my eie lewe was voortdurend vir my ’n bron van inspirasie in die uitskryf van gedigte in Weerskyn. Mens kry natuurlik daardie groot gebeurtenisse, wat jou innerlik noop om ’n gedig van te skryf. Maar ek vermoed as ’n mens innerlik ingestel is, dat daardie innerlike belewenisse self ’n beweegrede is tot die skryf van gedigte. Dit gaan hierin veral oor toonaard op die wyse waarop Tony Hoagloand (2006) dit verduidelik:
To repeat: tone is not just the expression of the immediate feeling, but the expression of the speaker’s knowledge about feelings, the speaker’s knowledge about the history of feelings (Hoagland, 2006:95),
asook:
What we listen for in writing is a way of being in the world, a way of knowing. Skillful use of tone shows that the speaker cares, yes, but also shows how she is careful. How you hold it is what you know: that is tone (Hoagland, 2006:106).
Ek is besonder fyn ingestel op gevoel. My gevoelslewe is dikwels ’n barometer vir die wyse waarop ek my inrig, baie keer tot my eie nadeel. Hoe dit ook al sy, lewenspad met groot gebeure staan hier teenoor gevoelslewe ingebed in my alledaagse handel en wandel. Tog, albei paaie lei na Rome. As ek moet dink aan maniere waarop ek my gevoelslewe lei, dink ek aan ’n gedig soos “openbaring” (61), waarin die spreker hom tot asemhaling wend om ’n plek van kalmte te bereik sodat hy weet wat voorts gedoen moet word:
wat nodig is
bly onbekend
ek wag
soos ’n monnik hom
tot asemhaling
wend
Hoe verskil Weerskyn van jou vorige werk, in terme van styl, toon en inhoud?
Weerskyn is my debuutwerk, maar ek het redelik rondgespring tussen style, toon en inhoud voordat ek my werk as een afgeronde geheel afgehandel het. Dit beteken egter nie dat ek ’n eenheidsbundel geskryf het nie; inteendeel: my bundel vervat steeds ’n wye verskeidenheid invalshoeke. Ek het op skool ’n baie meer liriese aanslag gehad wat meestal op liefdesgedigte gefokus het. Een van daardie gedigte is in Weerskyn opgeneem – “Lief” (57), wat lui:
om jou lief te hê is moeilik nou
jy is te ver om aan te raak
en te na aan my om bloot net los te maak
Hierdeur leer mens inderdaad dat toonaard juis aandui dat mens emosioneel leer uit die verlede, dat mens meer volwasse word. Poësie is in hierdie opsig soos ’n fotoalbum van indrukke oor jou gevoelslewe.
Style het verskil in die jare wat gevolg het. Op universiteit het ek ’n baie vryer styl gehad. Ek het verskeie liedtekste en libretto’s geskryf gedurende my nagraadse jare. Die mees prominente hiervan was Tronkvoël, ’n libretto vir ’n kort opera oor Breyten Breytenbach se gevangesetting, wat Martin Watt verwerk het tot ‘n opera.
Ook het ek ’n skryfkursus by Joan Hambidge geloop in 2013 aan die Universiteit Pretoria, waar sy ons bekendgestel het aan Ottone M. Riccio se skryfhandleiding The intimate art of writing poetry (2000). Daar is dus baie style, toonaarde en registers in Weerskyn, wat verskillende leerfases in die proses van gedigskryf oor twee dekades omvat. Ek glo my tweede bundel sal ’n sterker eenheidsbundel wees.
Ek was ook ingeskryf vir ’n MA-verhandeling by Universiteit Stellenbosch (van 2015 tot 2017), maar het dit ongelukkig nie klaargemaak nie. Hier was ek aan ’n magdom digters bekendgestel en het Marlene van Niekerk en Willem Anker voorgestel ek doen verinheemsings van die werk van Theodore Roethke en Robert Hass.
Voor en gedurende Covid-19, het ek ingeskryf vir Versindaba byderhand, wat die digter Louis Esterhuizen aanbied. Hier het ek ernstig bemoeienis gemaak met vaste versvorme. Dit het gelei tot heelwat gedigte en ’n oortuigende styl wat in die bundel opgeneem is.
In watter mate speel die Suid-Afrikaanse konteks ’n rol in jou poësie, en is daar spesifieke gebeure of ruimtes wat jou werk gevorm het?
Dit speel ’n baie groot rol. Eintlik ’n onontkombare rol, want alles wat geuiter word, kom voort uit die grond van ’n land met soveel kontraste. As mens byvoorbeeld kyk na ’n gedig soos “voor 1994” (29), sien mens hoe ’n sekere ideologiese denkwyses die postkoloniale konstruk van die “self” teenoor die “ander” vooropstel:
voor 1994
ons het in die kar gesit
op die agtersitplek ek en Sus
toe ons van die kerk af kom
Pa het langs die pad gestop
en uitgeklim toe hy
twee swart vroue sien baklei
die een se hemp was uitgetrek
die ander met ’n glasskerf in haar kop
bloed het oor haar lyf geloop
Pa het die polisie ontbied
vir ons gesê
hulle is anderste as ons
Een van die belangrike rolle van die digter wat ek op myself neem, is om krities te staan teenoor die samelewing waarin ons verkeer.
Jou beelde en metafore is dikwels sterk visueel: hoe ontwikkel jy ’n gedig: begin dit by ’n beeld, ’n gevoel, of taal self?
Elke gedig het sy eie begin. Ek skryf afsonderlike gedigte. Ek speel met verskillende vorme – haikoe, cinquain, tanka, tersienes, kwatryne, sonnette en villanelles.
Partymaal sit ek en kyk hoe die dag een spesifieke toneel verskillend daar laat uitsien soos die Wakkerstroom-gedig, getiteld “gewaarwording” (54-55). Party gedigte kom voort uit ’n plek van rou emosie soos die gedigte rondom my pa se dood. Ander gedigte gebeur nadat ek ’n gedig gelees wat my raak. Soos Rilke se vertalings van sy Duino-elegieë wat my geïnspireer het om “’n Vreemdeling se graf” (10-11) te skryf – vergelyk die openingstrofe:
Wonder of dié dag my iets gaan leer van jou skielike afsterwe,
jy wat nog nie eens gedagte of gedigte was nie. Brand elke nag
die maan met jou lyf wanneer jy kaal ondergrond vrugbaar
weer deel word van die aarde. Proe elke wurm sag deur jou
lyf. Ag, om te ontsnap uit die woorde wanneer ek nie eens
weet wie of wat jy is nie, jy vir wie ek skryf, ses voet onder?
As jy as digter kan begin raaksien watter aspekte jou inspireer om verskillende gedigte te skryf, dan word jy ’n ryk geskakeerde digter. Dit is belangrik om jouself as digter te leer ken.
Watter rol speel stilte, leegtes en dit wat nié gesê word nie in jou digkuns?
Ek hou baie van hierdie vraag, en ek vermoed mens sou seker ’n skripsie hieroor kon skryf, want stilte, leegte en dit wat nie gesê word nie, is van dié aspekte wat die meeste gewig dra in ’n gedig.
Die gedig gaan oor asemhaling. Jy moet ’n gedig kan lees en die stilte tussen die woorde moet aan ’n gedig sy konkrete gestalte gee. Dit moet soos ’n beeldhouwerk daar uitsien. Ek het ’n derdejaarslesing bygewoon by die Universiteit van Namibië onder leiding van hulle dosent Annika van der Linde. Die studente het my werk behandel en een van die vrae het juis gegaan oor “nomade” (52), ’n gedig wat op doelbewuste wyse met stilte en leegte speel:
nomade
om ruimte te verbeel
behels die buitelyne te bedink
van ’n denkbeeldige struktuur
op bodemlose grond
(’n tentpen tussen sterre ingeslaan)
Hierin word die leser self gevra om die “nomadiese verbeelding” self te voltooi deur die voorlopigheid van subjektiwiteit te bedink. Ons het ’n bitter beperkte idee van alles wat bestaan. Kyk mens na my Heideggergedigte, sien mens dat ek telkens probeer om die onsêbare te sê, maar telkens faal as gevolg van die feit dat menslike Dasein telkens oorskadu word deur sy eindigheid.
Hoe sien jy die rol van Afrikaanse poësie vandag in Afrikaans se landskap van skrywers en boeke, en waar pas jou stem binne daardie landskap?
Die rol van Afrikaanse poësie is veranderbaar. Ek dink nie daar is net een rol te speel in Afrikaanse poësie vandag nie. Daar is soveel verskillende Afrikaanse variante dat die opstelling van Afrikaanse poësie nie gesien kan word as ’n enkele ding nie.
Ek dink nou aan Karen de Wet se siening in haar PEN-Afrikaans artikel, getiteld “Ná ‘Groot Poskaarteboek’: Gedagtes oor antologieë en die Afrikaanse poësie”, dat daar soveel publikasies is dat die opstel van ’n nuwe Groot Verseboek nie meer in 2025 haalbaar is nie. In plaas van ’n enkele of drieledige of tiendelige nuwe Groot Verseboek, word verteenwoordiging bereik deur talle projekte, insluitend kontrakanon‑inisiatiewe (Ons Klyntji’s), bloemlesings (Merang, Woordenaars, flikker‑gram), digitale en klankprojekte (AVBOB, Vers en klank), fees‑ en podiumprogramme (Woordfees, Tuin van Digters) en individuele versamelings soos Ons Klyntji’s, Merang en AVBOB, sowel as poësie op feeste.
Daar is wel vir my iets baie romanties aan die idee van ’n Groot Verseboek, maar miskien is ek nog effe uit die oude doos!
My stem in hierdie landskap: een van vele wat die veelvuldige poësielandskap uitmaak. Skryfwerk is nie vir my ’n kompetisie nie. Dit is nie ’n spansport nie, alhoewel daar baie inspirasie te vind is in die idee van saamskryf. Dit is baie soos marathonhardloop – een van my gunstelingstokperdjies. Jy doen dit vir jouself, nie vir ander nie. Of soos Haruki Murakami dit stel in sy memoire What I talk about when I talk about running (2008):
What’s crucial is whether your writing attains the standards you’ve set for yourself. Failure to reach that bar is not something you can easily explain away. When it comes to other people, you can always come up with a reasonable explanation but you can’t fool yourself. In this sense, writing novels and running full marathons are very much alike.
Hoe sal ek uitvind wat geskryf moet word? Ek sal skryf. Ek sal kommentaar by skrywersvriende opsoek. Ek sal in wisselwerking met ander digters skryf, byvoorbeeld Unisa-studente of digtersvriende. Ek is baie betrokke as manuskripontwikkelaar, wat baie inspirerend is. Ek skryf gereeld in vir mentorskapprogramme. Ek het nog nie ’n skrywersresidensie aangedurf nie, maar dit klink ook vir my baie verrykend.
Is daar ’n spesifieke gedig in Weerskyn wat vir jou besonders persoonlik of uitdagend was om te skryf? Waarom?
Elke gedig het sy eie uitdagings. Besonder persoonlik is nie noodwendig dieselfde as besonder uitdagend nie. Uitdagend, sou ek sê, was die opdrag toe ek besig was met my MA in Kreatiewe Skryfkunde, om “Two dogs” van die Australiese digter Les Murray te verinheems. Dit het my buite my “comfort zone” geneem, ek was in die diepkant ingegooi en ek moes nuwe maniere van skryf aanleer. Ek moes onder die vel van ander digters inklim en hulle leer namaak. Dit het bygedra tot ’n sterker bewuswording van ander digters se tegnieke, maar die groot taak is natuurlik om uit hierdie vingeroefeninge jou stem te vind. Iets wat uiters belangrik is, en wat ek wil raaksien in die evolusie van my eie skryfwerk, is ’n herkenbare stem. Een gedig wat besonders persoonlilk was, is natuurlik die uitskryf van die gedig toe ek hoor my ouers het albei Covid-19 opgedoen. Dit is al weer ’n gesprekgedig met my pa.
dofverligte poort
28 Oktober 2020
Pa vertel dat pasiënte
afgelaai word by ’n buitedeur
waar ’n suster hom of haar
na ’n ventilatorkamer neem
drie maande gelede
word mense ouer as 55
weggewys
om plek te maak vir jongeres
om Pa af te laai by daardie poort
is nie ondenkbaar nie
ek dink my in al wil ek nie
soos toe ek Ouma by die graf moes groet
maar nie uit die kar kon klim nie
ek maak die kardeur oop
asof Charon se boot
wat is die laaste woorde
voor jy groet?
Wat hoop jy lesers sal “raaksien” of ervaar wanneer hulle Weerskyn lees?
Dat die skryf van gedigte tyd neem om tot vrug te kom. Dat gedigte hulleself aanmeld wanneer die tyd vir hulle reg is.
Ek verbeel my dit is my skoolhoof wat gesê het mens kan nie ’n groenperske ryp druk nie. My goeie kollega Neil Cochrane praat altyd van die “gestasieperiode”, daardie tyd wat ’n gedig moet deurstaan voordat jy kan weet hoeveel daaraan nog verander moet word. En as jy gelukkig is, lewe daar ’n aantal gedigte saam met jou vir die res van jou lewe.
Die projek om weer skyn aan die dinge te gee, is nie sommer maar net ’n tydverdryf nie. Dit is ’n manier van dink oor die wêreld en daardie wêreld weer te gee op papier sodat dit opnuut kan resoneer in die leser se leefwêreld, wat op hulle beurt weer geïnspireer word deur ’n woord, versreël, gedig of digbundel.
Wat hulle daarmee doen, is hulle saak, maar miskien kom daar ’n dag wat jy as digter ’n gedig raaklees, wat iemand êrens geïnspireer het om self hulle hand aan ’n gedig te waag.
Lees ook:
Digters Dreyer en Roux toer Lae Lande met hul bundels Nou in infrarooi en Weerskyn

