Elevation: the rising tide deur Helen Brain: ’n resensie

  • 0

Elevation 2: the rising tide
Helen Brain

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798172288

Helen Brain is die gewilde skrywer van meer as 50 kinder- en jeugboeke, waarvan Tamara in 2001 ’n ATKV-pryswenner was. Sy bied skryfkursusse aan en is ook die skrywer van kortverhale vir volwassenes. Volgens Brain is sy lief daarvoor om stories te vertel en haar jongste pennevrug is ’n postapokaliptiese jeugreeks, Elevation, wat afspeel teen die agtergrond van ’n wateroorspoelde Kaapstad as die laaste oorblywende menslike nedersetting in ’n verwoeste wêreld. Hierdie katastrofe was deel van die eerste “Great Purification”, waartydens die ontevrede god, Prospiroh, almal behalwe ’n uitverkore groep aan die voet van Afrika uitgewis het.

Die reeks is ’n futuristiese drieluik, met Elevation: The thousand steps (2016) as eerste boek. In hierdie eerste werk word die verhaal vertel van Ebba den Eeden, ’n sestienjarige meisie wat afgesonderd as deel van ’n uitgekose groep van 200 kinders onder Tafelberg woon. Hier werk hulle soos slawe en gereeld word van hulle aan Prospiroh geoffer. Ebba word onverwags herken as die erfgenaam van ’n florerende landgoed, Greenhaven, bogronds en sy word na die oppervlak gebring, waar sy ontdek dat daar ’n wêreld bestaan waarvan sy en haar medekoloniste (“the sabenzis”) onbewus was. Dit is egter ’n samelewing wat erg verdeeld is in ’n elitegroep (“the citizens”) en ’n werkersklas (die arbeiders). Ebba is vol komplekse emosies; sy is verward en naïef en maklik manipuleerbaar, maar gou besef sy dat sy spesiaal is, dat sy ’n kragtige kryger is en dat sy ’n roeping het – iets wat te doen het met die geboortevlek op haar linkerhand en die amulet wat sy om haar nek dra. Sy ontdek dat sy ’n afstammeling van die godin Theia is en dat die verantwoordelikheid om ’n tweede ramp af te weer op haar skouers rus.

In boek 2, Elevation: The rising tide (2017), kom Ebba voor nuwe uitdagings, besluite, keuses en beproewinge te staan. Sy word voortdurend daaraan herinner dat sy gewikkel is in ’n stryd teen die tyd. Voor die jaar om is, moet sy al vier die amulette vind en sodoende die poort na Celestia open. Slegs dan sal dit moontlik wees vir Theia om terug te keer, die aarde te kom heel en sodoende ’n tweede verwoesting af te weer.

Ebba vrees aanvanklik dat sy vir die dood van die hoëpriester verantwoordelik gehou sal word, maar tot haar verbasing word sy uitgenooi om ’n Tafeleiland-raadslid te word. Die Prosporiete is uitgeskop, die familie van die hoëpriester is gevange geneem en generaal De Groot en sy trawante het beheer oorgeneem. Maar donker magte is losgelaat; ’n massa-uitwissing van menselewens dreig onder die nuwe bewind. Dinge gaan slegter as ooit en Ebba is al een wat die generaal en sy boosaardige planne kan trotseer.

Dit is vir Ebba moeilik om haar roeping te verstaan. Haar vriende draai teen haar, haar verhouding met die aantreklike, rebelse Micah is onstuimig. Hy maak haar rol as gemerkte, uitverkore nasaat van die godin af as ’n blote feëverhaal en laat haar gevolglik in haarself twyfel. Verder bly sy jaloers op die medeleier van die weerstandsbeweging, die beeldskone Samantha Leë, wat hopeloos te veel tyd saam met Micah deurbring. Ebba verstaan ook nie aldag waarmee hulle besig is nie en sekere ontdekkings oor hulle bedrywighede ontstel haar. Uiteindelik kom sy te staan voor die moeilikste besluit van haar lewe – en sy word oorgehaal tot ’n finale stap van algehele selfopoffering.

Ekologiese kwessies vorm, soos wat tipies die geval is met postapokaliptiese fiksie, ook deel van hierdie verhaalgebeure. Die mens-natuur-verhouding en die katastrofiese gevolge van die vernietiging van natuurlike hulpbronne en die ekologie van die planeet kom ter sprake. As verteenwoordigers van Moeder Natuur as die versorger en koesteraar word Theia en Ebba ontbied.

In wat soms sterk herinner aan verhale soos The Hunger Games (Suzanne Collins) en The Maze Runner (James Dashner) maak Brain die leser deel van die ingewikkelde, aksiebelaaide, soms gewelddadige en ontstellende verhaalgebeure. Die storie is misterieus en mities, die tempo is supervinnig en die leeservaring uiters opwindend; en sentraal in die gebeure staan ’n jong, ontluikende vrou in ’n komplekse wêreld – een wat verantwoordelikheid en verandering eis – en sy dra die sleutel tot die oplossing en tot die redding.

Lesers van jongvolwassene-literatuur en fantasieverhale behoort hierdie reeks as uitdagende, maar opwindende leesstof te ervaar. Ek sien reeds reikhalsend uit na die laaste boek in die drieluik.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top