Elders gesien: Woorde as wapens en bakstene

  • 2

(Foto: Izak de Vries)

...
Ons skryf want ons gebruik woorde as wapens en bakstene. Ons verbou en verbreed en verstel hierdie ongelooflike taal wat aan almal en aan niemand behoort nie. En daarmee tesame die samelewing. Ons plant ’n bom van woorde of idees in jou onderbewussyn. Ons ontplooi ’n mindfuck van “anders dink” tussen die hoofstukke.
...

Sidney Gilroy skryf op Facebook:

Ek vrek daaroor hoe skrywers mekaar ondersteun. Hulle deel mekaar se nuwe boeke. Hulle stel boeke van ander skrywers voor om te lees. Hulle skryf lesersindrukke en resensies. Baie van hierdie mense het mekaar nog nooit ontmoet nie. Steeds support hulle mekaar. Dis dalk die gemeenskaplike besef dat om ’n boek te skryf, blerrie moeilik is. En nog meer só: Om dit uit te gee. Of net die geleentheid te kan kry om dit te doen. Ja. Daar is nyd ook. Holier-than-thou ego’s. Dié wat voorgee hulle skryf in ’n ander “klas” van hogere literêre waarde. Jaloesie. ’n Bakleiery vir ’n plekkie op die gesogte verhoog.

Die waarheid is: Daardie verhoog van Afrikaanse skryfkuns is bitter, bitter klein. En die gehoor krimp by die dag. Jy sien, die mark in Suid-Afrika vir skrywers is ongelooflik klein. ’n Topverkoper skuif ’n paar duisend boeke. Nie honderde duisende. Nie miljoene nie. Skole koop nie meer nie. Biblioteke bestaan nie meer nie, watwou koop boeke aan. Lesers steel en deel PDF’s van boeke oor WhatsApp en Telegram. Die een boekwinkel na die ander sluit sy deure.

Onlangs woon ek ’n fees by. Die aanbod van boeke in die winkel langs die tent waarin ek optree, is ’n skamele weerspieëling van wat verskyn het die afgelope vyf jaar. Nuwe boeke se rakleeftyd het drasties verkort en van die nuutste kortverhale en digbundels is glad nie eers op die rak nie. Buite die winkel kos twee glase wyn, twee klein bakkies slaai en twee roosterkoeke dieselfde as die nuutste “blitsblaaier”. Ek kyk om my rond. Oral sit mense en smul. Van uit die winkel kom ’n enkele koper met ’n boek in sy hand. Hy vra my om dit vir hom te teken. En toe ek vlugtig na die program kyk toe hierdie nuwe leser wegstap: Woordkuns wat verdwyn in ’n swetterjoel aanbiedinge van toneelspel, politieke diskoers-praatjies, celeb appearances en popmusiek shows. Dis net nog ’n fees, besef ek ontnugterd. Geen heimat vir woordkuns nie.

Steeds sal ons skrywers juig as een van ons ’n nuwe werk lewer. Ons bitch en moan oor die gestelery, die eenkantgeskuiwery, die oorsien en die krimpende tantiemes, maar ons klap hande en share die kak uit ’n nuwe voorblad. Hoekom? Want nie een van ons doen dit vir die geld nie. Ons doen dit omdat skryf ’n drif is wat óf in jou are vloei, of nie. Ons skryf want ons gebruik woorde as wapens en bakstene. Ons verbou en verbreed en verstel hierdie ongelooflike taal wat aan almal en aan niemand behoort nie. En daarmee tesame die samelewing. Ons plant ’n bom van woorde of idees in jou onderbewussyn. Ons ontplooi ’n mindfuck van “anders dink” tussen die hoofstukke. Ons verander wat dit op die uiteinde beteken om Afrikaanssprekend in 2022 te wees. Ons doen dit terwyl die taal onder beslag is. Ek verlekker myself in die feit dat Afrikaans gedy, te midde van die shitstorm. Aluta continua!

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Sidney Gilroy oor Middernag

  • 2

Kommentaar

  • Wat ‘n voorreg was dit nie om ‘n straight-talker soos jy by daardie einste rooi windmeultjie op Cradock te ontmoet in lewende lywe nie! En wat jy toé ook gedeel het, het ek die afgelope weke self ervaar! Ek kan regtig getuig ander skrywers gaan uit hul pad om vir my bakstene te wees om te bou aan my geesdrif ... Dis vir my ‘n voorreg om die minste te sê!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top