Elders gesien: Wag voor jou mond

  • 0

Foto: Pixabay.com

Wilna Adriaanse skryf op Facebook:

Ek het nou lank op my hande gesit, my tong geknoop, en probeer om aan ander dinge te dink. Toe ek my egter weer kom kry, het ek klaar my seepkis uitgehaal en nou gaan ek maar opklim.

Ek het gister ’n slegte dag gehad. Ek was vir die hele wêreld moerig, en alles het my irriteer. Vandag voel ek gelukkig weer meer in balans met die wêreld. Hoekom weet ek nie, want niks het eintlik verander nie. Ek het egter onthou dat ek nou die dag gelees het woede/kwaadwees se wortel is dikwels vrees. (Reg of verkeerd – dis nie nou belangrik nie.)

As ek om my kyk, veral na gisteraand se toespraak, is daar baie mense wat kwaad is. En dikwels met rede. Tussen die hand en die mond val daar op die oomblik baie pap op die grond.

Daar is ook baie mense wat bang is – dikwels ook met goeie rede. Niemand verstaan werklik wat presies aan die gang is nie. Selfs die kundiges verskil van mekaar.

My versoek vir wat dit werd is: Voordat jy ook nog ’n bangmaak storie die wêreld instuur of herhaal, dink net eers aan almal wat dit gaan hoor/sien.

Ons hoef nie soos volstruise te wees nie. Vergrype moet aan die lig kom, maar bangmaakstories is gevaarlik. Dink aan kinders wat dit hoor, bejaardes, wat reeds om verskeie redes bang is. Mense wat emosioneel ekstra swaar kry in hierdie tyd.

Ons almal wil terugkeer na ’n tyd wat ons min of meer gaan herken as ons lewe. Ek is seker selfs president Ramaphosa is teen hierdie tyd dalk baie vies vir homself dat hy sy hand vir daai job opgesteek het.

Ek weet nie wat nog alles gaan gebeur nie, maar dis bewys dat hoop en positiewe gedagtes nogal ’n verskil kan maak.

Ons almal beleef op die oomblik dae wat jy alles om jou wil platvee en met jou tong ’n brandpad skroei. Dis jou goeie reg. Maar maak tog maar die wag by jou mond wakker, want jy weet nie wie almal jy dalk gaan skroei as jy die vlamme loslaat nie. My ervaring is dat dit dikwels jyself ook is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top