Elders gesien: “Waar is weg, Mamma?”

  • 25

Estelle Kruger se Facebook-skryfsels:

Dagboek van ’n gemaskerde molshoop-masurka-danser

Dit het alles begin toe daar op Zuma-dag onrus in KZN en Gauteng uitgebreek het. Natuurlik het dit die res van die land diep ontstel – ook vir my. Ek het geweet ek wil nie deel van die probleem wees nie, maar wel deel van die oplossing. Hoe, was nie duidelik nie ...

15 Julie 2021

Dankie tog vir goeie nuus. Ek salueer die opruimers, bravo!

#CleanupSA — picking ourselves up: South Africans show solidarity and community spirit in aftermath

31  Julie 2021

Ek het aanvanklik – sedert ons “vrygelaat” is hier in die aftreeoord (wat eintlik ’n ouetehuis is) in Sedgefield – doelloos begin rondstap in die omgewing Ek was vol hoop dat ek nuwe horisonne sal sien en het intussen sommer so hier en daar rommel opgetel om weg te gooi. Gou het ek agtergekom daar is min vullisdromme en hulle is te ver uitmekaar uit, dat dit my hande dalk vuiler maak as wat ek dit wou hê en sal moet ontsmet as ek tuiskom.

Mag ’n klein blommetjie
wat tussen die rommel deur
vir jou loer –
wanneer jy die strate
en sypaadjies
in jou omgewing
probeer skoonmaak –
nuwe hoop
in jou hart
laat nesskop
en jou herinner
dat nie alles regtig
tevergeefs is nie

My brief aan plaaslike koerant The Edge, 28 Julie 2021

7 Augustus 2021

Mag jy die diamante
sien skitter soos
’n reënboog
wanneer die son skyn
op spinnerakke
in die veld
en dit jou vul met
verwondering

Foto: Izak de Vries

9 Augustus 2021

Mag die trillings
van die vleiloerie
wat met hartstog ululeer
jou uitnooi om dít
wat in jou vibreer
te kommunikeer

10 Augustus 2021

Mag jy ’n Mary Poppins-oomblik beleef
as jy in die reën
jou rondomtalie-stappie maak
en die Kaapse mannetjieswind
gryp jou sambreel vorentoe
en slinger jou boontoe
sodat jy ’n nuwe uitsig
oor berge en dale kry

Mag jy bewus word van
die drup-drup van die reën
wat borrels maak in die poeletjies
waaroor jy spring.

Mag jy die concerto’s
van musiek hoor
soos die water afloop
in die dreine
langs die straat.

Mag jy dit geniet om
die straat-tango te doen
as jy die gespat van motors
probeer vermy.

Mag jy ’n glimlag of twee kry
wanneer motoriste verby jou ry.

Foto: IMDB

11 Augustus 2021

Wat ’n vreemde gesig
om ’n yslike slak
in die veldpaadjie
te sien
wat – seker wanneer hy
van my bewus is –
sy dop oor hom trek.

Nou weet ek nie meer
wat om te dink nie:
ek dog die slak
(soos ek)
kruip in sy dop;
hy kruip egter wel uit
en dan kom die dop
om hom te beskerm

Foto: Izak de Vries

12 Augustus 2021

Dit kan nogal pret wees
om die honde in die straat
se geknor, gegrom
geblaf en gekef
te eggo
met dieselfde akkoorde
sillabes en toonhoogte
– en so jou stembande
te oefen
as jy nie baie kans kry
om te praat nie –
en dan te hoor hoe hulle
meestal (verstom) stil word ...

14 Augustus 2021

Aai aai
mag die witborskraai
wat doerbo hang
in die lug
op vrye vlug
en sweef op die wind
jou daarna laat verlang
om jou eie vlerke te vind

Foto: Izak de Vries

16 Augustus 2021

Wanneer die suikerbekkies
– die mannetjies, let wel –
met hulle helder, veelkleurige pluime
dartel bokant jou kop
in die bome
op soek na iets soets
Kan ’n mens nogal wonder
watter kleure
in jouself nog versluier is
en wag
om geopenbaar te word

Foto: Izak de Vries

18 Augustus 2021

’n Wolkewaaier
laat my vermoed
dat alle materie en vorm
’n oorsprong
van energie het
Nuuskierigheid
oorval my -
dalk omdat ek
deel is daarvan -
en dit laat my soek
om die dans
tussen elemente
in myself te ontdek

Foto: Estelle Kruger

 19 Augustus 2021

Wat my geskok het, was hoeveel rommel daar in die strate gelê het toe ek op pad was na die verlate en vervalle stasie waar die George-Knysna Choe-Choe-trein geloop het. Ek het ’n vriendin (medeprisonier) uitgenooi om saam met my daar te gaan sit en gesels en ’n nartjie elk te eet op ’n romantiese bankie op een van die platforms.

Foto's: Estelle Kruger

Op groen gras
en onder bome
’n ouderwetse bankie
op ’n platform
by ’n vervalle stasie
en toegegroeide treinspore
Hierdie oortreder
word vervolg
nie deur Transnet nie
maar deur nostalgie
na vervloë dae
en ou herinneringe

20 Augustus 2021

Mettertyd het planne in my kop begin loop, ek het gedink en gedroom oor wat nog alles vir my voorlê ...

As jou gedagtetrein
stoom kry
en daar is geen keer
aan jou idees nie ...
Mag daar dan wel
spoorlyne
sinjale en
’n rangeerder
op jou horison verskyn.

23 Augustus 2021

Facebook-herinnering

Gister en vandag – is dit dalk ook eendag se môre?

Jhb na ’n stofstorm laat my nostalgies terugdink aan my kinderjare hier op die Hoëveld.

Foto: Estelle Kruger

4 September 2021

Ek stap deesdae elke dag met ’n veldpaadjie langs die strandmeer en pluk blommetjies vir die tannies in ons kompleks wat invalides is, of heeldag eensaam sit en TV kyk. Soms is dit “pavement specials”. My gediggie en prentjie:

Mag die bossie veldblommetjies
jou daaraan herinner
dat jy uniek is
en pragtig

Foto: Estelle Kruger

18 September 2021

My rondomtaliestappies
rondom middernoendag
verby die strandmeer en vlei
bring telkens vir my
’n Koos Kombuis-moment
met sy lieflike Lisa-lied
want “die hele wêreld
word stil en luister"
na die kwetterende voëltjies
wat in die hoogste takke
baldadig krioel en tjilp
ook die klikkende kikvorsies
in die moerassige riete
en selfs die honde weet:
dis stiltetyd

26 September 2021

In my vorige lewe
was ek ’n swerwer
van nêrens
op pad
na êrens
altyd op soek
na betekenis
Deesdae is ek
’n wandelaar
van hier na daar
om die skatte
wat ek gevind het
uit te deel

“When you regain a sense of your life as a journey of discovery, you return to rhythm with yourself. When you take the time to travel with reverence, a richer life unfolds before you. Moments of beauty begin to braid your days. When your mind becomes more acquainted with reverence, the light, grace and elegance of beauty find you more frequently. When the destination becomes gracious, the journey becomes an adventure of beauty.” © John O’Donohue

5 Oktober 2021

Namiddagstappie
langs die strandmeer
Helder en milddadig
groet die veldblomme
madeliefies en vygies
skakerings van wit
pienk en pers, oranje
ligtegeel en heldergeel
en salueer die son

Sierlik buig en dans
die grashalms
en grassade
wieg en speel
wuiwend
met die wind

Twee swaeltjies
kondig die somer aan
twee kiewiete trippel
agterdogtig en onrustig
om my weg te hou
van hulle nes

Twee Egiptiese eende
waak dapper oor hulle
twaalf kuikentjies
en lei hulle statig
die water in

Selfs die golfies
verwelkom my
kabbel en murmel
ritmies op die maat
van die groot heelal

9 Oktober 2021

Vandag het ek die
molshoop-masurka
gedans
op die maat
van motors wat
heen-en-weer
verbywoer

Gewapen met
tuinhandskoene
en plastieksakke
was my weeklikse
pilates-oefeninge
om op-en-af te buk
gemors te pluk
op die veld
langs die hoofpad
op my missie
om my omgewing
te onbesoedel
vullis op te tel

En môre sal
my rug
dit onthou
en weet
van al die
geswoeg
en gesweet ...

20 Oktober 2021

Brief aan plaaslike koerant, The Edge:

Open letter to communications businesses now operating in Sedgefield

Dear Sir/Madam

Firstly, I applaud the way you create jobs with your effort to bring fibre internet to our village and I want to thank you for the rubbish bins that you have already put in place in the streets.

I have recently – in solidarity with people elsewhere cleaning up after the looting and riots in KZN and Gauteng – begun to clean up the pavements along my daily walks – to and from the shops and the lagoon.

Now I want to request that you – maybe as part of your social responsibility – put some more bins where a lot of people gather, i.e. in front of the fire brigade in Main Street, in front of shops on the other side of Main Street, as well as in front of churches.

I am hoping that my tiresome efforts help to create awareness about pollution and the answers that ordinary citizens can give – I am sure I portray a rather funny picture with my gray hair, stocky figure, garden gloves, mask, sunglasses, big plastic bags which I fill after bending and picking up litter, stretching, jumping over ditches, sinking knee deep in mole holes – but I hope that it makes people aware. It surely keeps some of the pavements cleaner – but I need rubbish bins to be able to throw the litter away.

There you have my commendations and request.

I hope to hear from you in this regard.

Regards

Estelle

28 Oktober 2021

Die rietsanger
wat my bekoor
laat my wens
ek kon só
met woorde toor
dat dit mense sal ontroer
en na verre plekke
met geheimenisse
en diep misterie
ontvoer

21 November 2021

vandag se
opeRation Rubbish Removal
het ek gemaRsjeeR
op die wysie
van die vleiloeRie
wat my gRoet
en in die agteRgRond
ululeeR

Foto: B Alberts

26 November 2021

Vandag het ek dit weer
op straat en sypaadjie gewaag
en die wind was woes
dit het vlaag op vlaag
en laag op laag
my agtertoe gejaag
ek was soos ’n roofdier op jag
maar die wind was woes
en vrouens werk toe het
saam met my lekker gelag
want menige prooi
moes ek skryf op my maag
want die wind was woes
met golf op golf
moes ek die vullis volg
oor molshoopberg
en in molshoopdal
het my gemors geval
ja! die wind was woes

30 November 2021

Terwyl ek vanmôre op my ontbesoedelingsmissie is, mymer ek oor my bedoelings hiermee. Wanneer ek daarvan vertel, kry ek dikwels iets soos die volgende as reaksie: “mense is varke” - dit is beslis nie hoe ek daaroor voel nie.

As ek die omgewing vanuit woede, aggressie of veroordeling probeer skoonmaak, saai ek negatiewe gevoelens. Ek wil dit liewer uit die goedheid van my hart doen, iets wat ek geërf het by my ma. Dit is die enigste rede waarom ek sal aanhou om dit te doen.

Ook word dit soort van ’n lewenswaarheid wat ek uitleef en pas by dit wat ek vir studente, leerders en my eie kinders geleer het: as ek insak of val in ’n molshoop, moet ek maar gewoon uitklim, opstaan, stof afvee en verder aangaan.

’n Jongman wat gister kyk hoe ek struikel, sê later vir my dat hy dit eintlik nie eers gesien het nie - sy gedagtes was dat hy oral mense sien wat goeie dinge doen, dalk moet hy ook begin!

Wat meer wil ek hê ...?

4 Desember 2021

’n Vriendin herinner my aan Peter Snyders se gedig "Ek is oek important" ... ek is nie seker dat dit is hoe ek hieroor dink en voel nie, maar dalk het ons verskillende kontekste:

*

As al julle geldgatte
julle geld gespendit

(...)

en julle borrels en blikkies
in ’n gangetjie gesit het,
en julle visgraatbolle
en vrot vrugte
en stukkende boksies
en papiere
rondgegooi het ...

dan kom ek
en maakie wêreld weer skoon:
soe,
ek is oek important.

(c) Peter Snyders (Verkort)

*

Een buurman sê vir my: “’n Nederige werkie vir so ’n geleerde dame!”

My reaksie: “Hierdie geleerde dame het in ’n nederige gesin grootgeword. Sedert 32 jaar gelede is ek nie meer Mev nie. Ek is wel trots op my nuwe titel want ek het lank en hard daarvoor gewerk. Maar waar en hoe ek grootgeword het, bly in my bloed.” Geleerdes noem dit kontekstuele/sosiale DNS.

 5 Desember 2021

Terugflitse:

Dalk het alles begin toe ek as vrywilliger betrokke was by Fresh Start waar kinders met ’n pragtige projek aangemoedig word om die omgewing skoon te maak sodat afvalmateriaal hersirkuleer kan word.

Of dalk het my sensitiwiteit hiervoor selfs vroeër begin toe ek by Strand gewoon het, daagliks twee maal gaan stap het langs die see en afvalmateriaal opgetel het.

Miskien was dit my lees en geniet van die jeugverhaal Tyd om te skaats van Jacolet van der Berg wat die finale saadjie in my geplant het – die boek handel oor plastiekbesoedeling en omgewingsbewaring. Ek dink wel hierdie boek het die knoop deurgehaak.

8 Desember 2021

Skielik voel ek nie meer so alleen in my missie nie. Ons hekwag het vir my drie groot plastieksakke gebring, ’n oom het my vanmôre gehelp om in die dieptes goed op te tel. Ek lees toe hierdie pragtige artikel in Daily Maverick met foto's van Glen Retief oor George Nyathi wat in Pretoria vullis optel om te hersirkuleer.

Die liedjie wat vandag in my kop draal, klink amper so:

Baba Blacksheep
Have you any trash?
Yes Sir, yes Sir
Three bags, abash!
One for the pavements
And one for the streets
And one for the cooldrink,
the chips and the sweets …

10 Desember 2021

Vandag vertel ek vir my naturalistiese dogter – wat hier naby my woon saam met haar geliefde – van al my wedervaringe, ook dat ek ongemerk een nag ’n ongebruikte groen munisipale vullisdrom wil ontvoer/vervoer na ’n plek tussen twee ver uitmekaar punte, sodat ek nie so sukkel nie en vuilgoed daarin kan weggooi. Sy vra toe ’n vraag wat nog lank in die lug sal hang: “Waar is weg, Mamma?

My slotsom

Mag jy jou innerlike kompas kry
as jy voel jou reis as pelgrim is verby
dat jy koers verloor
en die bestemming bly ’n misterie
terwyl dit ophou om te wink

  • 25

Kommentaar

  • What a fabulous record of generous deeds of service mixed with the appreciation that we are one - working together in gratitude of Life. Thank you Estelle.

  • Liewe Estelle, dankie vir jou woordborduursels, dis pragtig en ek geniet so om dit te lees. Het voor dit ook gereageer maar toe vlieg dit weg voor ek dit vir jou kon stuur. Vrede vir jou!

  • Mary Mattheyse

    Baie dankie, Estelle. Wat jy geskryf het het my diep ontroer.
    'n Geseënde Kersfees vir jou!

  • Jenny Kerchhoff

    Such a beautiful litany - ending with your daughter's question! Very full and rounded and challenging - so beautiful.

  • Salomé Combrink

    Baie baie dankie Estelle. Ek het dit intens baie geniet. Ek is so bly oor wat jy doen en skryf ...!

  • Marianne Strydom

    Baie dankie hiervoor. Het nou heerlik lê en lees. Jy mag maar skryf. Oor rommel optel ook. 😉
    Op die pad wat jy stap terwyl jy skoonmaak, word ook jy weer skoon.

  • Hendrina Gelderblom

    Dis beslis 'n begeesterde stuk skrywe. Bly moeilik om te verstaan hoekom mense goed net neersmyt.
    Ek is hier by 'n groep, Litter Ladies. Maak hier langs Onrus se strand skoon. Veral vislyn op rotse en kondome van perlemoenstropers. Of selfs van hul klere onder bosse.

  • Jou storie klink baie soos wat ek en my man gedoen het toe ons in Newcastle gewoon het. Ek wou selfs vir onderwysstudente leer om dit vir kinders te leer. Hulle reaksie was: "Nee, Mevrou, dit is werkskepping!" Hierdie siening het ek ook voorheen al gehoor.

  • Johannes Slabbert

    Ek het nie die regte komposisie van woorde om hierdie kosbare "dagboek" nie. Dis te veel, te groots, te oorweldigend om dit op een slag te verorber. Dit sal tyd neem om elke stukkie te laat insink en te laat inkubeer. Eers dan sal die rykdom van die betekenis kan blom. Dis ’n langtermyn ding dié. Wees so bietjie geduldig met ons, asseblief.

  • Richard Stanley

    Skitterend. Diep denker. ‘n Fyn aanvoeling. Raak beskrywings. Estelle, jy moet beslis van jou werke publiseer.

  • Juliana Heymans

    'n Mens raak sommer persoonlik betrokke by die dagboek, want die woorde laat jou hoor en sien en voel.
    Mag die swerwer wat nou wandelaar geword het rustig wees in hierdie spesiale tyd.

  • Dankie Estelle. Al jou skrywes het ek gelees en dit só geniet!! Veral die klank en beskrywings en gedagtes. Dit sal 'n goeie bundel maak.
    Ja, waar is weg? Daaroor kan 'n mens filosofeer. Dis relatief ...

  • Estelle Kruger

    Dankie Almal, vir julle bydraes.
    En dankie vir LitNet - die virtuele huis met baie wonings - dat daar 'n kamer is waarin ek my bondel rommelrige skryfsels kon laai.

  • My gunsteling gediggie is sever die ene van 26 Sep.

    In my vorige lewe
    was ek ’n swerwer
    van nêrens
    op pad
    na êrens
    altyd op soek
    na betekenis
    Deesdae is ek
    ’n wandelaar
    van hier na daar
    om die skatte
    wat ek gevind het
    uit te deel

  • Willie van der Waal

    Estelle, dis regtig baie lekker om jou gedigte te lees, met onderwerpe uit hierdie bekende omgewing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top