Elders gesien: Waar is Cyril?

  • 1

Cyril Ramaphosa (Foto: Wikipedia)

Nini Bennett skryf op Facebook:

Die volk wag gretig op Ramaphosa se verskyning, amper soos Moses vir die Jirre op die berg Horeb. Ja, aan die begin van die lockdown het ’n nuwe tendens kop uitgesteek, en dis die skryf van ope briewe aan die prez op Facebook. Maar na NDZ se ommekeer van die lig op die rookverbod onder fase vier het dié lofsange opgedroog.

Good cop, bad cop. Dis ’n strategie wat welbekend is aan speurders, politici, ontvoerders en ander wat weet hoe om met mense se koppe te smokkel.

Good cop: Wanneer die agbare spiets, gryp die anties (meesal wit, hoër middelklas en middeljarig) na hul keyboards om briewe te skryf: Dear Mr President, respect! Hulle tjirp en tierelier oor hoe wonderlik hy is. Ag, hy lyk so moeg en moet nou net nie ’n grappie maak oor sy masker nie... awe, sweet, kyk sy wonderlike sin vir humor! Die snaakse deel is wanneer hierdie briefskrywers se hand-op-die-blaas-gemeenplasigheid verander in skrywes oor "ou Cyril" en "Oom Cyril". Mans skryf nie ope briewe op Facebook nie, hulle kritiseer politici. Om so ’n brief (nogal in Afrikaans) te skryf is net so futiel as om kleilat met jou skaduwee te speel. Selfs al is dit fiktief en bedoel vir ’n sosialemedia-gehoor. Daar was nog nooit so baie briefskrywers soos nou nie - sou isolasie en wanhoop die onderliggende redes wees? Intussen verdwyn die ekonomie dieper in die slyk van rommelstatus; die regering moet al meer bontspring in die red tape van hulle oorregulering, en helaas - laat ons liefs nie vergeet van die bloedige geskiedenis van Marikana wat homself weer (gaan) uitspeel in ’n totalitêre staat met 74 000 soldate in die strate nie. Kritiese en onafhanklike denke was heeltemal afwesig by hierdie briefskrywers – tot onlangs. En steeds moet die president se sjarme en image teen elke prys gepreserveer word.

The bad cop: ’n Nors minister wat worstel om met haar kraakstem deur haar modieuse maskers te praat en lyk of sy enige oomblik gaan collapse. (Tyd vir aftrede, Gogo?) Sy is openlik ongewild. Haar kruisvaart van twee dekades om rook en tabak in al sy gedaantes te uit te roei, kry nou momentum deur die misbruik van haar portefeulje, alles natuurlik netjies verseël onder die Wet op Rampbestuur. Sy het hoeka gedreig dat rook in SA verbied gaan word. Hierdie minister, die bad cop, praat die waarheid. Sy bring die bittere tydings aan rokers, drinkers en ander juvenile deliquents in haar crèche.

Ja, ek skryf ook nou ’n brief. Het in my wildste drome nooit gedink ek sal so desperaat raak nie. Komaan, Cyril, wys jou gesig, bring die gebooie en vertel ons wat in fase drie en met die ekonomie gebeur. En gee asb ook ’n tyd wanneer jy praat, en op watter kanale. Dis bloot protokol en goeie maniere.

Mayday Mayday..?

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Ah, 'n vars bries!! Meer op die man af (wel steeds versigtig want mens weet nie waartoe die spulletjie met nuwe mag in staat is nie) en nie net lofprysings vir iemand wat in die duurste pak klere presidensieël lyk wanneer hy toesprake wat vir hom geskryf is, voorlees nie... En dan vir weke in absentia is terwyl ons deur Me. Zuma en kollega Cele & amp; kie mikro bestuur word.

    Die wyse waarop dinge onder die Covert-19 grendelstaat 'bestuur' word, grens aan die absurde. Intussen moet ons maar verlief neem met jakkals wat sy eie stert prys. Covid gaan vorentoe 'n gerieflike kapstok word van en vír alles wat verkeerd loop. Nooit maar nooit sal enige aanspreeklikheid aanvaar word vir die spulletjie se onvermoë om effektief te regeer nie. Apartheid gaan sterk kompetisie kry van Covid en deur dit saam te gebruik hoop die ANC natuurlik om nog lank die leisels in SA te hou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top