Elders gesien: VSA-verkiesing – hoe ek dinge sien

  • 2

Foto: Canva.com

Wannie Carstens skryf op Facebook:

Vriende

Hiermee ’n effens lang plasing, maar dan is dit verby.

Dit is vir my tyd om die verkiesing in die VSA (die “sirkus” sê Jean Oosthuizen) te laat gaan. Dit het my wel baie pret verskaf! Maar ek was tot verbaas oor die felheid van sommige van die reaksies op my plasings, wat oorwegend uit verskeie publikasies gekom het. 

Enkele opmerkings hieroor en dan swyg ek verder hieroor.

  1. Ek stel belang in dinge in die VSA omdat ek oor jare ’n hele paar maande daar deurgebring het en in die proses ook wyd gereis en wonderlike en uiteenlopende mense ontmoet het. Ek vind dit ’n wonderlike land en ek hoop om weer ’n keer daar te kan reis. My droom is nog steeds om “Route 66” te gaan ry. Maar daarvoor sal ek die Lotto moet wen, waarvoor ek seker eers ’n kaartjie sal moet koop.
  2. Aktiwiteite in die VSA raak die wêreld se finansiële markte. En as die finansiële markte geraak word, raak dit ook my pensioengeld. As jy afgetree is, is dit ’n uiters belangrike saak. Hoop dis nou duidelik.
  3. Ek geniet dit ook om soms net te “stir”, veral rakende aktuele sake. Soos nou in die VSA met Trump (Trompie) wat soveel mense se gal behoorlik opjaag.
  4. Trump het duidelik ’n snaar by soveel van ons geraak, hoofsaaklik weens sy manier van doen en sy baie negatiewe eienskappe as mens. Aan die ander kant is daar weer iemand (Biden) wat ten minste respek vir ander toon en vandaar die steun wat hy by soveel mense, ook by my, getrek het. Natuurlik is hy nie perfek nie omdat hy ook maar net ’n mens soos ons almal is.
  5. Biden is vanselfsprekend nie die beste kandidaat wat die Demokratiese Party as president kon voorgelê het nie. Maar dat hy glo ’n pedofiel, ’n dief en allerhande ander goed is, is darem werklik ook nie waar nie. Ek dink iemand soos goewerneur Andrew Cuomo van New York sou die vloer met Trump gevee het. Maar dit is soos hulle stelsel werk. Die aangewese VP Kamala Harris gaan na alle waarskynlik die DP se kandidaat in 2024 wees en ek glo sy sal met die ervaring van die VP-skap agter haar ’n uitstekende kandidaat wees. En dit is werklik tyd dat die VSA ’n vroulike president kry. Kyk net hoe goed vaar lande waar vroue wel die leiers is – Duitsland, Nieu-Seeland, Finland om net ’n paar te noem.
  6. Wat vir my wel opval, is dat min mense buite (en dalk ook binne) die VSA tot 2016 werklik ’n probleem gehad het wie die president is/was. Demokraat (Clinton, Obama) of Republikein (Reagan, Bush 1 en Bush 2) was om ‘t ewe. Omdat die land goed bestuur is deur betreklik kundige mense. En politici waarskynlik ten spyte van verskille steeds die land hoër as hulself geag het. Maar met Trump het daar ’n enorme kloof in die Amerikaanse samelewing ontstaan, grootliks weens sy manier van doen. (Ek gaan dit nie uitspel dat hy ’n ploert, egoïs, narsis, swak verloorder en allerhande ander goed is nie, maar julle weet waarvan ek praat.) Dit is verstommend dat een mens is so ’n kort tyd soveel skade in gewoon menseverhoudinge kon aanrig. En ek glo die geskiedenis gaan hom oordeel vir wat hy is: die swakste president tot op hede van die VSA. Maar natuurlik het dit niks met my te doen nie, ek neem dit net met belangstelling waar en gee my mening daaroor op my Facebook-blad.
  7. Sy presidentskap het die VSA met ’n groot las gelaat en ook ’n groot politieke kloof tussen mense tot stand gebring. Mense het weens Trump absolute standpunte ingeneem en dit gaan lank neem om die gaping te oorbrug.
  8. Die verkiesing is gekenmerk deur fopnuus en talle samesweringsteorieë – sommige gaan werklik ’n mens se verstand te bowe. Dit wys net weer ons lewe in ’n tyd waarin waarheid min saak maak as dit in die pad van ’n groot leuen staan.
  9. En in die proses het ons mekaar op sosiale media in SA, veral Facebook, omtrent sleggesê. Soms het dit aan waansin en fantasie gegrens. Dat ons mekaar nie die ruimte gun van vrye standpuntstelling gun nie sonder om beledigend te wees nie, sê heelwat van ons as samelewing. Omdat ek grotendeels in die Afrikaanse gemeenskap leef, is ek goed bewus van wat in hierdie samelewing gebeur. Maar weer eens het die kloof tussen ons as Afrikaanssprekendes se siening oor die verkiesing my opgeval. “Ek is altyd reg”, en “jy is altyd verkeerd”, het geblyk die patroon te wees, Miskien kan ons nou ook ’n slag “chill” en wegstap van absolute standpunte.
  10. Op my Facebook-blad het ek die reg om met mense gesprek te voer oor sake wat my interesseer en as iemand enige vorm van rassisme op my blad openbaar (wat sommige wel gedoen het), gaan dit die einde van ons gesprek wees. Ek gaan dus so ’n bietjie skoonmaak.
  11. Facebook is ’n plek waar ons sosiaal verkeer en waar ons kan menings uitruil, kan grappe maak en skerts, kan spog, kan treiter, ens., maar dit behoort darem in ’n goeie gees en gesindheid te wees. Ek verwag nie dat mense soos ek moet dink nie, maar ek verwag wel dat ons tot beskaafd met mekaar omgaan.

En dit is wat ek wou sê. Ek beweeg nou aan na ander onderwerpe alhoewel ek dalk hier en daar tog iets oor die VSA mag kwytraak.

  • 2

Kommentaar

  • Die gevolge van Covid en die Verkiesing is nog lank nie verby nie. Voortdurende onsekerheid is maar een aspek van hierdie drama wat op wêreldverhoog afspeel. Deur daaroor te praat word spanning verlig en opinies afgewys of aanvaar. Soos dit ingeligte mense betaam - sonder woordgevegte

  • Nee, dis nie Trump wat die verdeeldheid geskep het nie. Die haat is teen hom aangeblaas omdat hy nie 'n politikus is nie en nie deel van die stelsel nie. In die VSA is daar twee groot belangegroepe: (i) die superrykes wat genoeg geld het, maar beheer oor die mensdom soek, en (ii) die beroepspolitici wat eintlik net daar is om hulself te verryk (soos die Clintons, Obama, Biden, Bush). Die superrykes sorg dat die politici ook multi-miljoeners word, en dis hoe die stelsel werk. Trump het nie hulle geld nodig nie. Hy het tekortkominge maar hulle kan hom nie koop nie. Daarom die geweldige haat.
    Ek laat my nie vertel dat 'n kandidaat wat kort voor die verkiesing nie eens 200 mense na 'n saamtrek kom trek nie, ewe skielik met die verkiesing met as 70 miljoen ondersteuners het nie. Daar moes grootskaalse bedrog plaasgevind het. Kom ons hoop maar net die bewyse kom vorendag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top